- Opsomming: Moreletapark oorweeg losmaking (2019)
- Moreletapark beraad 25-26 Februarie 2020 (28 Feb 2020, Kerkbode)
- Kairos Netwerk
Kap die heilige boomstamme af, maar verwyder ook die hoogtes | Maroela Media
Maroela Media, 28 Februarie 2020
Deur ds. Schalk Strauss
Op 25 en 26 Februarie het die veelbesproke Moreleta-beraad by die NG kerk Moreletapark plaasgevind.
Tussen 400 en 500 beswaarde lidmate en leiers uit die NG Kerk en breër kerklike gemeenskap het byeengekom om die “pad vorentoe” te bespreek. Hoewel die byeenkoms gevolg het op die Algemene Sinode van die NG Kerk se 2019-besluit oor selfdgeslagverhoudings, gaan dit oor meer.
Die beraad kan inderdaad as die skeurpunt beskou word van twee paaie ten opsigte van Skrifbeskouing wat te ver van mekaar af beweeg het. Die beraad het by meer as een geleentheid erken dat daar nie middelgrond is om mekaar te vind nie en dat versoening nie meer moontlik is nie.
In aanloop tot die beraad is daar heelwat moeite deur liberaal-gesindes binne die NG Kerk gedoen om die beraad binne ’n bepaalde negatiewe lig te stel. In die Kerkbode is briewe geplaas wat pleit dat die eenheid ten alle koste behou moet word en wat vra of die kerk ooit bekommerd is oor dié wat loop omdat die Kerk nie “beweeg” nie. Op die vooraand van die beraad word ’n koerantuitknipsel uit die Kerkbode van Desember 1986 uit die argiewe opgediep waarin berig word oor ’n dreigende kerkskeuring wat uiteindelik tot die stigting van die AP Kerk gelei het. Hierdeur is beraadgangers onmiddellik in bepaalde kategorieë geplaas: eenheidsbrekers, verstoktes en skeurmakers.
Wie egter die beraad bygewoon het, sou hierdie soort etikette vreemd gevind het. Hier was ’n groep gelowiges byeen wat nederig-eerlik na oplossings gesoek het vir die “vasgelooptheid” wat hulle in hul eie kerk beleef. Hoewel die Algemene Sinode by monde van sy algemene sekretaris, dr. Gustav Claassen, die beswaardes gekapittel het omdat hulle kwansuis nie eens die opsie “om te praat” oorweeg het nie, is die vraag tereg gevra: Hoeveel keer moet ons dan nóg praat as ons nie gehoor word nie? Onder beraadgangers was daar die belewenis dat daar van die ander kant af slegs ’n bereidheid is om te luister wanneer daar “gesê word wat ons wil hoor”.
Verskeie opsies is tydens die beraad oorweeg. Uiteindelik is daar saamgestem dat ’n multidimensionele benadering die mees sinvolle en verantwoordelike weg vorentoe is. Gemeentes is aangemoedig om te doleer en leergeskille met die Algemene Sinode te verklaar. As verdere stap is streeksinodes aangemoedig om dit te oorweeg om hul bande met die Algemene Sinode op grond van artikel 37 van die NG Kerk se kerkorde te verbreek en om ook nuwe netwerke met enersdenkende en behoudende kerke te vorm.
By meer as een geleentheid is die byeenkoms as ’n soort hervormingsgeleentheid beskryf. Daar is saamgestem dat daar grondig herbesin sal moet word oor Skrifgesag en Skrifverstaan, aangesien dit ten grondslag van die probleem lê. Daar is bely dat strukturele eenheid ’n afgod binne die NG Kerk geword het en dat daar nuut oor eenheid gedink moet word. Die begeerte na ’n ware, geestelike eenheid gegrond op Skrif en belydenis, is uitgespreek, terwyl die vier pilare van die reformasie, naamlik Soli Christi, Sola Gratia, Sola Fide en Sola Scriptura, herbevestig is.
Ds. Willem Badenhorst het beraadgangers aangemoedig om, diep bewus van hul eie gebrokenheid, tog in gehoorsaamheid aan God die waagmoed aan die dag te lê om die toekoms in die geloof tegemoet te gaan. Dit is ’n oproep tot hervorming en tot hernude gehoorsaamheid aan die Woord van God. Dit is ’n oproep wat wys dat die uitdaging vir beswaarde lidmate binne die NG Kerk, baie groter is as om bloot die regte “opsie” as reaksie te kies.
Die groot vraag is dus: Hoe ver is die beswaardes bereid om te hervorm? Hoe konsekwent is hulle bereid om te wees?
Die gevaar is dat die hervorming kan lyk soos dié van koning Joas oor wie geskryf word: En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die HERE … net die hoogtes is nie afgeskaf nie (2 Kon. 12:2-3). Beswaardes is ideaal geposisioneer om nie net die heilige boomstamme af te kap nie, maar om ook die spreekwoordelike hoogtes te verwyder.
’n Skrifbeskouing wat verskil van dié wat tans deur die Algemene Sinode van die NG Kerk gehandhaaf word, het op baie meer betrekking as net die kwessie van selfdegeslagverhoudings. Daarom is dit nie net nodig om ’n bepaalde standpunt oor Skrifbeskouing in te neem nie, maar sal daar ook grondig besin moet word oor die implikasies van so ’n Skrifbeskouing vir ander aspekte van die teologie en kerkregering. Dit bepaal uiteindelik ook die aard van die “nuwe netwerke” wat gevorm sal word en die wyse waarop daar oor kerkgrense heen na eenheid gesoek sal word.
Hier sal fyngetrap moet word om nie in dieselfde slaggate te beland wat tot die huidige krisis gelei het nie. Hier sal fyn geluister moet word na die Skrif om seker te maak daar word nie net geluister na daardie dinge wat die ander oor streel nie. Paulus se raad aan Timótheüs was dalk nog nooit so aktueel nie: Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus (2 Tim. 3:14-15).
Wat uiteindelik sal gebeur, sal net die toekoms kan leer.
Bid vir jou familie en vriende in die NG Kerk wat hulle te midde van hierdie stryd om die waarheid bevind.