Kerk betwis nie appèlle se ongeldigheid nie

Kyk ook:

Die volgende artikel het in kerkbode.christians.co.za verskyn.

Die progay gemeenskap in die NG Kerk probeer lyk my die grondwet te gebruik om hulle sin te kry. As die kerk egter nie ’n mate van vryheid het om van die Grondwet af te wyk nie, dan word godsdiensvryheid beperk. As die grondwet vereis dat gay predikante op die kansel toegelaat móét word, dan het die kerk ’n probleem, want wat is volgende? Volgens die grondwet het ’n mens die reg om ’n pornografiese winkel te besit of om ’n sekswerker (prostituut) te wees of om te dobbel. As die staat bepaal dat kerke nie hiervolgens teen hulle lidmate mag diskrimineer nie, dan is dit vanselfsprekend ’n reuse probleem.

***********

Kerk betwis nie appèlle se ongeldigheid nie

9 Februarie 2018

Neels Jackson

Die NG Kerk se verdediging van sy besluite van die buitengewone Algemene Sinode van 2016 berus nie daarop dat appèlproses teen 2015 se besluite kerkordelik ’n geldige proses was nie.

Dit blyk uit die hofstukke wat die kerk opgestel het in reaksie op stukke van vier lidmate wat vra dat die hof die besluite van 2016 nietig verklaar. Teenoor die besluite van die Algemene Sinode van 2015, wat kerklike goedkeuring gegee het aan gay burgerlike verbintenisse, het die 2016-besluite slegs ruimte gelaat vir heteroseksuele huwelike.

Een van die lidmate se belangrikste prosedurele argumente, is dat die appèlproses waardeur die besluite van 2015 nietig verklaar is, onkerkordelik was.

Die Algemene Taakspan Regte het aanvanklik gewerk met regsadvies dat die appèlproses geldig is.

Deur die loop van 2016 was daar verskeie regsadviese wat ook gemeen het dat die kerkorde nie appèlle teen besluite van die Algemene Sinode toelaat nie. Daaronder was ’n advies wat deur die lidmate aan die kerk gestuur is, en regsadvies wat die kerk self ingewin het.

Die Algemene Taakspan Regte het egter deurgaans besluit om nie die adviese te volg nie, maar het volgehou dat die appèlproses tog binne die kerkreg geldig was.

Nou het die kerk in sy regstukke ’n ander koers ingeslaan. Die kerk betwis nou nie die lidmate se stelling dat die appèlproses onkerkordelik was nie. Die kerk voer egter aan dat die besluite van 2016 nie direk voortvloei uit die uitkoms van die appèlproses nie.

Volgens die kerk se argument het die sinode van 2016 ’n onafhanklike besluit geneem, losstaande van die appèlproses, om die hele saak van voor af teologies te beredeneer. Die besluite van 2016 is ’n uitkoms van daardie proses.

Dít, sê die kerk nou, beteken dat selfs al sou die appèlproses ongeldig wees, staan die besluite van 2016 steeds.

Die kerk ontken ook in sy stukke die stelling van die lidmate dat die besluite van 2016 bots met die Grondwet van Suid-Afrika of met die Handves van Godsdienstige Regte en Vryhede wat deur die NG Kerk onderskryf is.

Die kerk se stukke verwys onder meer na ’n beslissing van die Konstitusionele Hof. Daarvolgens bots die staat se erkenning dat paartjies van dieselfde geslag dieselfde regte het as wat die Huwelikswet aan heteroseksuele paartjies toeken, nie met godsdienstige groepe se regte om te weier om selfdegeslagverbintenisse te bevestig nie.

Die kerk ontken ook spesifiek ’n stelling van die lidmate dat die besluite van 2016 hulle reg op vryheid van assosiasie aantas. Hieroor sê die kerk se hofstukke verder: “They are free to join any Christian church that interprets the Bible in the way that they do, or to start their own. I acknowledge that this may be difficult for them. But they must, in turn, acknowledge the impact the church has in obeying the Word as it understands it.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui