Kerk in die jaar wat nie was nie

Hierdie artikel is geskryf na aanleiding van die volgende:

************

Kerk in die jaar wat nie was nie | Netwerk24

Deur Christina Landman

29 Desember 2020 05:02

Covid-19 het in 2020 ook die geloofsgemeenskap geraak. Christina Landman kyk hoe kerke op die pandemie gereageer het, en ook hoe kerke self bygekom is.

Kerke was meestal in staat om hul tasbare bates in die Covid-19-tyd uit te bou na die sosiale media. Maar ’n kerk moet ook aandag gee aan sy ontasbare waardes: Sy teologie van hoop, sy boodskap van sosiale aanspreeklikheid. En daarin het kerke nie goed geslaag in die pandemie nie.

‘Die Here is my masker,” sê ’n man my nou die dag. Dis ’n professionele man. Ek wonder toe watter kerk se teologie hom geleer het om nie ’n masker te dra nie. Hy sê toe, nee, hy het in grendeltyd sy eie “kerk” op sosiale media begin vir mense wat glo as jy ’n masker dra, steek jy God in die oog. As jy ’n masker dra, sê jy daarmee dat jy God nie vertrou om jou gesond te hou nie. En nou is sy “kerk” groot. Ek gaan kyk, en sowaar, dis ’n paar duisend lede sterk.

Ek kyk toe ook hoe mense hulself hierdie jaar oor Covid-19 uitgedruk het op sosiale media, so van geloof se kant af. Daar is toe vier reaksies. Die grootste groep glo Covid-19 kom van God af. Daar bestaan nie toeval nie. Met Covid-19 leer en straf God ons, en dwing God ons om verantwoordelikheid vir mekaar te vat.

’n Tweede reaksie is dat Covid-19 niks met God te doen het nie. Dis waarskynlik ’n politieke sameswering om mense te beheer. Maar al is dit nie polities nie, dan val dit pens en pootjies in die gebied van die wetenskap en nie die godsdiens nie. Godsdiens kan nie ’n antwoord op Covid-19 gee nie.

’n Derde groep kla dat God en godsdienstige leiers afwesig was hierdie jaar. En dat hulle glad nie rigting gekry het oor hoe om gelowig oor Covid-19 te dink nie.

’n Vierde groep voel weer dat Covid-19 nie van God af kom nie, maar dat God in beheer daarvan is. En dat die kerk in ’n tyd toe alles toe en donker was, nuwe maniere gebring het om oor hoop te praat. En die kerk het ook hoop gedoen, deur hulle grond oop te stel vir wegneem-etes vir mense wat baie, baie honger was.

Virus lê teologie lam

Ek gaan toe nou op ’n soektog om te kyk of kerke gesonde teologieë kon aanbied in ’n tyd toe Covid-19 ons ongesond gemaak het. Sien, ’n kerk het tasbare en ontasbare bates. ’n Kerk se tasbare bates is ’n kerkgebou, sorgsentrums, en nou ook sosiale platforms.

Kerke was meestal in staat om hul tasbare bates in die Covid-19-tyd uit te bou na die sosiale media. Maar ’n kerk moet ook aandag gee aan sy ontasbare waardes: sy teologie van hoop, sy boodskap van sosiale aanspreeklikheid. En daarin dink ek het kerke nie goed geslaag in die pandemie nie.

Hulle het briewe gestuur na hul lede oor hoe om by die staat se regulasies te hou. Maar waar was die teologie?

Ek het ’n paar gelees, soos die Metodistekerk wat gefokus het op “You are your brother’s keeper”, wat vroue insluit. Meestal was die teologie maar lamgelê deur die virus hierdie jaar.

As ek dan op die jaar moet terugkyk, en kyk wat was die kerk se nalatenskap hierdie jaar, dan sou ek dit eerste noem. Die hoofstroom-kerke werk nog met ’n teologie van ewige waarhede wat deur wit mans in die vorige eeue neergepen is nadat hulle in Abraham Kuyper se Nederland gaan studeer het.

Hierdie teologie werk met goed versus kwaad, sleg versus reg, God versus mens. Hierdie teologie neem ook aan dat iets net een oorsaak, en dus net een oplossing, het. So ’n teologie is te arm vir ’n pandemie. Die virus het kerke spraakloos met die broek op die knieë gevang.

Dis hierdie selfde soort teologie wat hierdie jaar nie ruimtes kon oopmaak om oor gays en huishoudelike geweld en die probleme wat vroueleiers in die kerk ervaar, te praat nie. Want as jy dink elke ding het net een oorsaak en daar is net een oplossing daarvoor en iets is net goed of sleg, dan is jy net in een rigting op pad, en dit is om mense te mislei – en hul geloofkoppe te onderdruk en te verarm.

Die kerk is gewiks

Dit gesê, was daar ’n tweede tendens hierdie jaar op die kerklike front. En dit is church bash­ing. Ek soek “bashing” op vir ’n Afrikaanse vertaling en kry toe die woord “moer”. Die kerk is inderdaad goed gemoer hierdie jaar in enkele koerante en in boeke van mense wat die kerk verlaat het, maar skynbaar ewig daaraan verbonde sal bly.

Ek moet egter by sendeling-Afrikaans bly, en sal maar sê die kerk is gewiks hierdie jaar. Dis nou veral die NG Kerk oor sy interne gay-stryde, en die (“Bushiri”-)bekeerkerke vir hul rykdom. Daar is ook reaksie teen ’n bekende sendingstasie, maar al hierdie sake is sub judiceen nie vir bespreking hier nie.

Natuurlik moet die publiek krities wees oor kerke se doen en late, maar ek het tog twee vrae hieroor.

Die een is: Wat is die fiksasie op die NG Kerk? Die NG Kerk verteenwoordig nie eens 3% van die Christene in Suid-Afrika nie. Dit is lank nie meer die staatskerk nie. Dit het lank nie meer die invloed op die samelewing wat die wiksers hulle gee nie. Los hulle nou maar om intern hul siel en hul teologie uit te sorteer. Dis nie vir koerante om dit uit te sorteer nie.

En wat is die patologiese belangstelling in die ryk bekeerkerke soos dié van Bushiri? Eintlik is daar maar relatief min van hulle in Suid-Afrika.

Veertig jaar gelede het Pippin Oosthuysen, ’n groot kenner van die Onafhanklike Kerke in Suid-Afrika, geskat daar was meer as 10 000 kerke in Suid-Afrika. Hy het probeer om ’n lys op te stel, maar die geweldige groei in nuwe kerke het dit onmoontlik gemaak. Boonop hoef kerke in Suid-Afrika nie te registreer nie. En het die aantal kerke in Suid-Afrika ernstig toegeneem ná die grense in 1994 hiervoor oopgestel is. Vandag meen kenners dat daar tussen 40 000 en 50 000 kerke in Suid-Afrika is.

En nou is daar sommer nuwe kerke op sosiale media ook. En boonop behoort ’n meerderheid Suid-Afrikaners aan meer as een kerk tegelykertyd! Die een kerk gee kospakkies en die ander gee geloofsgenesing. Of watter combojy nou in elk geval verkies.

So, om ryk te word uit jou kerk is waarskynlik maar vir 1% kerkleiers beskore. Die meeste dominees en pastore het hard gewerk hierdie jaar vir die helfte of geen salaris nie.

Kerkeenheid

Hoe kan alle kerke oor een kam geskeer word? En as dit nou deur sommige koerante gedoen word, dan doen hulle dieselfde eenrigting-ding wat die kerke self doen. As jy publiseer dat “die kerk” net goed of sleg is, en dat alles in “die kerk” veroorsaak word deur dom kerkleiers wat lidmate mislei, dan het jy nog ’n bietjie baie navorsing nodig oor wat kerke regtig in die samelewing vermag.

Ek vind ook dat kerke nie die vaardighede het om hulleself teen hierdie bashing te verdedig nie. Want daar is verwarring oor wie nou “die kerk” se openbare stem is.

Is dit die amptelike leierskap, wat regtig baie stil was in 2020 of nie aangehaal word nie, terwyl mense voel hul geestelike leiers is gewoon afwesig? Is dit die lidmate op sosiale media? Is dit die hoofregter? Is dit ’n joernalis? Aan wie behoort die openbare ruimte?

En dan kyk jy ook nog terug op die jaar en jy wonder wat van kerkeenheid geword het. Miskien iets wonderliks. Jy sien hoe kerke met mekaar saamgewerk het om noodsaaklike goedere by mense uit te kry. Op die doen-vlak was daar meer kerkeenheid as enige tyd voorheen. Maar op die dink-vlak het kerkleiers min gedoen om nader na mekaar te beweeg, veral oor rassegrense heen.

Vroue geteiken

En uiteindelik sluit ons met die vroue af. Op 18 Mei vanjaar is Mary-Anne Plaatjies van Huffel oorlede. Sy was reeds aangestel as die eerste swart vrou wat ’n professor sou word in die teologiese fakulteit van Stellenbosch Universiteit. Sy was ook Afrika se verteenwoordiger op die Wêreldraad van Kerke. Sy het ’n hele klomp eerstes as kerklike vroueleier gehad.

Met haar dood het haar stem, en ander vroue s’n, op die tafel gekom en is daar tereg gevra: Hoe behandel kerke hul vroueleiers?

Die vraag of vroue georden moet word as dominees, en hoekom daar so min vroueleiers is, is verby. Die vraag is nou waarom kerke se vroueleiers oop teikens is op wie daar jag gemaak word.

Want as ’n vrou gekies word tot ’n leiersposisie, vat sy ’n man se plek wat dink dat daardie posisie hom toekom. En gou vergader hy eendersdenkendes om haar te teiken.

En só word kerke ’n nuwe aandeelhouer in ’n nuwe soort femicide, waarvoor daar volgens die elektroniese woordeboek nog nie ’n aanvaarde Afrikaanse woord bestaan nie.

En so, dan sal ’n mens maar net vir 2021 kan hoop: Dat kerke maskers sal dra – maar ook sekere maskers sal afhaal, veral wat betref vroueleiers, gays en kerkeenheid.

  • Landman is ’n professor in teologie aan Unisa.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui