Kerk se gewete staan in ’n tuin in Stellenbosch

*******

Kerk se gewete staan in ’n tuin in Stellenbosch | Netwerk24

Wilhelm Jordaan

6 April 2022

Dr. Leslie van Rooi, die Universiteit Stellenbosch se senior direkteur van sosiale impak en transformasie, se rubriek op Netwerk24 dat die NG Kerk veel te leer het by “Pienk Piet” (die spotnaam vir ’n standbeeld van die teoloog prof. Johannes du Plessis, 1868-1935), oor hoe geloof verruim kan word, verdien verdere toeligting.

In 1931 is Du Plessis van die Stellenbosse Kweekskool sinodaal skuldig bevind aan “onregsinnigheid” (’n sagte woord vir kettery). Hy het ’n letterlike verstaan van byvoorbeeld die skeppingsverhaal en dié oor Adam en Eva en oor Jona teengestaan en op ander moontlikhede gewys.

Hoewel die hofbeslissing in sy guns was, is Du Plessis in 1932 deur die NG Kerk ontslaan. Toe hy in 1935 oorlede is, is hy in Stellenbosch teen Papegaaiberg begrawe en vriende het ’n standbeeld van rooskleurige marmer vir hom opgerig.

In die beeld is hy geklee in ’n toga, met ’n Bybel oop in sy hand.

Dié beeld het ’n bietjie in die dorp “rondgeswerf” en later staanplek gekry in die Sasol-kunsmuseum. In 2006 het die beeld “tot rus” gekom in die tuin by die Kweekskool se ingang.

Van Rooi se opmerking het te doen daarmee dat die kerksaak teen Du Plessis ’n demper geplaas het op die onderrig en prediking van omvattender Bybelteksvertolkings. Dosente aan teologiese fakulteite en predikante het ná die saak dit nie gewaag om in lesings en in preke eksegetiese vernuwing te opper nie.

Só het ’n eksegetiese “vakuum” ontstaan. Dit is eers in die vroeë 1970’s effens opgehef toe die hermeneutiese teologiese praktyk waarop Du Plessis se standpunt berus het, erkenning begin kry het – naamlik om Bybeltekste ruimer te verstaan in tydgenootlike lewenskontekste.

Om dié praktyk se vertolkingskrag te illustreer het ’n veelbeduidende anekdote oor die Du Plessis-saak ontstaan. Een van die regters het glo aan Du Plessis gevra: “Professor, maar sê my nou, het die slang met Eva gepraat of nie?”

Hierop was Du Plessis se veelseggende antwoord: “Edelagbare, die vraag is nie of die slang gepraat het nie, maar wat het die slang gesê?”

Tradisie sê die slang hét gepraat, want die Bybel (God se Woord) sê so. Vernuwende eksegese vra watter betekenis(se) het die oorspronklike teks as ons aanneem slange praat nie. Wat “sê” die tekste vandag vir gelowige mense.

Die NG Kerk het meer onlangs sinodaal besluit “om die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg”. Luister ’n mens egter na die uitmergelende sinodale debatte oor goed soos selfdegeslagverhoudings, gay predikante, rusies in kerklike kringe, die geskinder en beswaddering, die praatjies oor en redes vir afstigting en dolering, dan roep, nee, smeek, die besluit oor kritiese debat om werklik waar gemaak te word.

Juis daarom, miskien, het Johannes du Plessis se standbeeld nie by die Kweekskool “tot rus” gekom nie. Hy staan daar, kiertsregop en waaksaam, met ’n oop Bybel in die hand – die kerk se gewete om steeds geloof te vernuwe met behoud van respek vir tradisionele geloofsuitings.

  • Jordaan is ’n emeritus professor in sielkunde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui