Die brief hieronder is op 27 Julie 2013 aan Kerkbode gestuur en weer op 2 September 2013 nadat geen reaksie daarop ontvang is nie. Tot vandag toe het Kerkbode nie hierop reageer nie.
**************
27 Julie 2013
Aan: Kerkbode se redakteur
DRYF KERKBODE ’n EVOLUSIE-AGENDA?
In ’n baie kort tydjie is die volgende drie pro-evolusie artikels in Kerkbode geplaas:
- 5 September 2012: In die artikel Wetenskaplikes wat glo word dr Japie van Zyl aangehaal waar hy sê dat die oerknal en evolusie nie God uitsluit nie.
- 12 Maart 2013: In die artikel Durand se boek ’n openbaringword Jaap Durand se boek Evolusie, wetenskap en geloof aangeprys wat sê dat die wetenskap en geloof geskei moet word.
- 2 Mei 2013: In Christina Landman se resensie Dáárom kan wetenskap en geloof mekaar nie uitlos, word Durand se boek weer gepromoveer.
Kerkbode plaas egter bitter selde (indien enigsins) artikels wat die skeppingsleer/kreasionistiese kant voorstel.
Evolusie is, soos argeologie, historiese wetenskap en kan nie vergelyk word met operasionele wetenskap wat vandag vir ons motors en TV’s gee nie.
Evolusie is nie versoenbaar met die Bybel nie en die negatiewe uitwerking wat dit op baie mense se geloof het, is welbekend. Daar is baie voorbeelde waar mense tot geloof gekom het toe hulle besef het dat evolusie nie ’n feit is nie.
Die Creation Answers book is pas deur (CMI) Creation Ministries International in Afrikaans vrygestel met die titel Antwoorde oor die skepping. Dit is ’n boek wat al die belangrike vrae bespreek soos bv: Kan ’n mens glo dat die aarde in 6 dae geskape is? Bewys koolstofdatering dat die aarde baie oud is? Hoe kan ons sterre in ’n jong heelal sien? Hoe het al die diere op Noag se ark gepas? Wat van dinosourusse?
As Kerkbode enigsins objektief is, sal hulle ’n breedvoerige en objektiewe artikel oor hierdie boek publiseer in Kerkbode.
Groete
Daniel Louw
Secunda