Kerkbode sê nee vir Woordfees

Die artikel “Kerkbode sê nee vir Woordfees” is van Die Burger gekopieer. Hierdie kwessie het ook gelei tot Jean Oosthuizen se skorsing (kyk Kerkbode se nuushoof geskors (Jean Oosthuizen)) en sy afdanking (kyk Jean Oosthuizen afgedank).

Verwante artikels:

Inhoudsopgawe

Let ook op die manier hoe Danie Mouton na Kerkbode verwys in die artikel “Kerkbode gee redes”:

  • “Die reëlings is nie langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie.”
  • “Die borg van meer teoretiese godsdienstige gesprekke van hierdie aard behoort nie tot die kernbesigheid van Kerkbode nie.”
  • “Die beste belange van Kerkbode as kerklike koerant en gefokusde handelsnaam staan voorop.”

Dit is nie verkeerd om gesonde besigheidsbegisels in die kerk toe te pas nie, maar ’n mens kry tog die indruk dat Kerkbode ’n maatskappy is met wins as hoofdoel.

En kyk wat is volgens Danie Mouton Kerkbode se kernbesigheid:

Volgens Mouton is die koerant se kernbesigheid om vanuit die evangelie van Jesus Christus ’n bydrae tot die genesing van Suid-Afrika te lewer.
“Praktiese sake wat sentraal staan is misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus.”

Wat sou Jesus hieroor sê? Is dít waarvoor Jesus aarde toe gekom het? Ek sien niks van die sendingopdrag nie. Ek sien niks oor die waarheid nie. Ek sien nie werklik Matteus 6:33 nie: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Onder lig Lina Spies en Abel Pienaar hulle menings.

**************

Kerkbode sê nee vir Woordfees

2013-02-13 04:00

(Van Die Burger gekopieer)

Verwante skakels

Malani Venter

STELLENBOSCH. – Kerkbode, die amptelike koerant van die NG Kerk, het homself as donateur vir gesprekke oor godsdiens by vanjaar se Woordfees van die Universiteit Stellenbosch (US) onttrek.

Die rede vir dié stap is onbekend, maar volgens gerugte is dit weens die “omstrede” sprekers wat aan die gesprekke gaan deelneem.

Van die deelnemers sluit in die digter Lina Spies, ds. Chris Jones, ’n teoloog aan die US, en dr. Abel Pienaar, ’n eertydse NG predikant en medestigter van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit.

Die gesprekke met die titels “Net een God?” en “Hemel en hel?” handel oor onder meer of daar een God is of meer, en of mense nog ’n beeld van ’n fisieke hemel met goue strate het of nie.

Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode wat dié gesprekke sou aanbied, het gister bevestig dat dié koerant onttrek het.

Hy het gesê hy is teleurgesteld, maar kon nie ’n rede vir die besluit gee nie en het navrae na ds. Danie Mouton, direksievoorsitter van Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode, verwys.

Mouton het gister nie op ’n telefoonboodskap om kommentaar gereageer nie.

Melt Myburgh, projekbestuurder van die Woordfees, het gesê die gesprekke gaan voort, met of sonder Kerkbode.

Kerkbode het geen rede vir sy besluit verskaf nie. Daar heers reeds groot belangstelling in die gesprekke en kaartjies daarvoor verkoop baie goed.

“Ons glo dat dit ook belangrike gesprekke is waarvoor die Woordfees die ideale platform is,” het Myburgh bygevoeg.

Jones het gister sy skrywe aan Oosthuizen oor hierdie kwessie met Die Burger gedeel. Hy het onder meer geskryf: “Uiteraard is ek baie teleurgesteld … Dis goed om te weet dat feeste, in hierdie spesifieke geval die US Woordfees, nog plek maak vir gesprekke van godsdienstige aard. Solank dít gebeur, moet ’n mens die geleentheid aangryp.

“… sóú Kerkbode hierdie belangrike, aktuele gesprekke aangebied het, wonder ek net of dít mense nie weer ’n slag nuut na die kerk sou laat kyk het nie? Sou dit vir sommige nie tog weer moed gegee het nie?”

  • Die gesprekke vind op 7 Maart om 11:00 (“Net een God?”
  • en op 8 Maart om 10:00 (“Hemel en hel?”) in die Boektent op Stellenbosch plaas.

– Die Burger

********

Kerkbode gee redes

(Van Die Burger gekopieer.)

2013-02-14 08:39

STELLENBOSCH. – Omstrede sprekers is glad nie die rede vir Kerkbode se onttrekking as donateur van die godsdiensgesprekke by die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees nie.

Die eintlike rede is dat die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode en deel van Bybel-Media, onbewus was daarvan dat dié amptelike koerant van die NG Kerk as donateur sou optree.

Maar volgens Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode, is dít onwaar.

Gister is berig die koerant het hom as donateur onttrek aan twee gesprekke – “Net een God?” en “Hemel en hel?” – by vanjaar se Woordfees, wat van 1 tot 10 Maart plaasvind.

Die gesprekke gaan egter steeds by die Woordfees aangebied word.

Die donateurskap van “teoretiese godsdienstige gesprekke van hierdie aard behoort ook nie tot die kernbesigheid van Kerkbode nie”, is ook as ’n rede vir dié stap aangevoer.

Ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, het gister gesê dit spyt Kerkbode dat die koerant as donateur moes onttrek.

“Die reëlings is nie langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie. Daarmee is groot verleentheid vir Kerkbode geskep. Ons stel ondersoek in na die redes hiervoor, en wil verseker dat dit nie weer gebeur nie.”

Oosthuizen het hierop gesê: “Ek het die idee dat Kerkbode by Woordfees 2013 betrokke raak kort ná verlede jaar se Woordfees met my redakteur, Adri-Louise van Reenen, bespreek. Later in die jaar is dit in ’n groter vergadering bespreek waar TM en Bybel-Media se uitvoerende hoof, dr. Pieter Fourie, en ons bemarkingsbestuurder, Minette Jansen van Veuren, en ander personeel ook betrokke was. Dit is geesdriftig goedgekeur.

“Hoe anders sou die donateurskap aan die Woordfees betaal gewees het as dit nie deur die regte kanale geskied het nie?”

Hy het bygevoeg dat die temas en die gespreksgenote later deur hom en die toe waarnemende redakteur, dr. Barend Vos, gefinaliseer is.

Volgens Mouton het die direksie besluit om te onttrek nadat Kerkbode se betrokkenheid twee weke gelede op bestuursvlak bekend geword het.

“Die borg van meer teoretiese godsdienstige gesprekke van hierdie aard behoort nie tot die kernbesigheid van Kerkbode nie.

“Die beste belange van Kerkbode as kerklike koerant en gefokusde handelsnaam staan voorop.”

Volgens Mouton is die koerant se kernbesigheid om vanuit die evangelie van Jesus Christus ’n bydrae tot die genesing van Suid-Afrika te lewer.

“Praktiese sake wat sentraal staan is misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus. Daarom handel die inhoud van Kerkbode, soos sy lesers weet, gereeld oor dié aktuele sake,” het hy gesê.

Oor gerugte dat “omstrede” sprekers tot die optrede gelei het, het Mouton gesê: “Dié sprekers en hul standpunte word in Kerkbode weerspieël. Die blad deins nie terug vir sake wat selfs omstrede kan wees nie.

“Dit geniet Kerkbode se respek en waardering wanneer ander godsdienste in Suid-Afrika ook ’n positiewe rol in die genesing van ons land speel.”

VSpotprent bl. 16

– Die Burger

*******************

http://blogs.litnet.co.za/feeswoord/2013/02/13/woordfees-gesprek-nie-sy-kernbesigheid-se-kerkbode/

***************

Kerkbode en US-Woordfees

(Van Facebook/kerkbode gekopieer.)

Die direksie van Tydskriftemaatskappy, uitgewer van Kerkbode, het op 13 Feb 2013 ’n mediaverklaring uitgereik nadat Kerkbode sy borgskap van twee godsdiensgesprekke by die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees teruggetrek het:

Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode, het sy borgskap van twee gesprekke in die Boektent by die US-Woordfees op Stellenbosch onttrek. Die temas van die gesprekke is:
1. Hoe verskil die God van die Christen, die Jood en die Moslem, of is dit dalk dieselfde God?
2. Hemel en hel?

Teen hierdie agtergrond die volgende opmerkings:

Een:
Dit spyt Kerkbode van harte dat die koerant as borg moes onttrek. Ons teken verskoning aan teenoor almal wat moontlik daardeur verontrief word.

Twee:
Die uitvoerende bestuur en direksie van TM was nie bewus van reëlings dat Kerkbode as donateur en borg van godsdiensgesprekke by die Woordfees optree nie. Die reëlings is nie langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie. Daarmee is groot verleentheid vir Kerkbode geskep. Ons stel ondersoek in na die redes hiervoor, en wil verseker dat dit nie weer gebeur nie.

Drie:
Toe Kerkbode se betrokkenheid twee weke gelede op bestuursvlak bekend word, het die direksie besluit om die borgskap te onttrek. Die borg van meer teoretiese godsdienstige gesprekke van hierdie aard behoort nie tot die kernbesigheid van Kerkbode nie. Die beste belange van Kerkbode as kerklike koerant en gefokusde handelsnaam staan voorop.

Vier:
Kerkbode se kernbesigheid is om (soos die NG Kerk waarvan dit die mondstuk en spieël is) vanuit die evangelie van Jesus Christus ’n bydrae tot die genesing van ons land te lewer. Praktiese sake wat sentraal staan, is misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus. Daarom handel die inhoud van Kerkbode, soos sy lesers weet, gereeld oor dié aktuele sake.

Vyf:
In die berig op Die Burger se voorblad (13 Februarie 2013) word gespekuleer dat “omstrede” sprekers die rede vir die optrede is. Dié sprekers en hulle standpunte word in Kerkbode gereflekteer. Die blad deins nie terug vir sake wat selfs omstrede kan wees nie.

Ses:
Dit geniet Kerkbode se respek en waardering wanneer ander godsdienste in Suid-Afrika ook ’n positiewe rol in die genesing van ons land speel.

************

Selfs NGK kan nie oop gesprek keer nie

(Van Die Burger gekopieer.)

deur Lina Spies

2013-02-17 21:43

Ds. Danie Mouton gee in sy betoog oor Kerkbode se onttrekking as donateur van die godsdiensgesprekke by die Woordfees (“Kerkbode gee redes”; DB, 14.02) gedwonge toe dat die eintlike rede daarvoor is dat Kerkbode nie geassosieer wil wees met die gesprekstemas nie: “Net een God?” en “Hemel en hel?”

Mouton se verskoning oor die laat onttrekking, naamlik dat die temas nie bekend was tot met die direksievergadering twee weke gelede nie, is onoortuigend.

Volgens Melt Myburg is die Woordfees-programboekie vir verspreiding saam met Lig reeds middel Desember by Bybel Media in Wellington afgelewer.

Volgens Mouton is die temas “godsdienstig-teoreties” van aard en as sodanig nie die “kernbesigheid” van die Kerkbode nie; die “kernbesigheid” synde “praktiese sake” om ’n “bydrae tot die genesing van Suid-Afrika te lewer”.

Die implikasie dat Suid-Afrika unieke probleme het wat plaaslik in isolasie opgelos moet word en sy onderskeiding tussen “prakties” en “teoreties”, skrei ten hemel. Besef Mouton nog nie dat Suid-Afrika nie meer ’n geïsoleerde land is nie, maar deel van ons globale werklikheid? Hy noem as een van die “praktiese sake” die “aantasting van menswaardigheid”, terwyl die twee ander sake, “misdaad” en “seksuele geweld”, uiteraard ten nouste daarmee saamhang.

Weet hy nie dat ná die Tweede Wêreldoorlog die kerk in Europa en die wêreld intens met die probleem van menswaardigheid worstel nie? Aan die grond van dié oorlog het die ideologie (= “teorie”) van Ariese meerderwaardigheid gelê waarvan die “praktiese” uitvoering die uitwissing van miljoene op slagvelde en in gebombardeerde stede en van ses miljoen Jode in die Nazi-helkampe was.

Menswaardigheid verdwyn onder invloed van meerderwaardigheid, individueel of kollektief, as die individu hom beter ag as ander omrede van begaafdheid, prestasies of geslag en die volk omrede van ras, kultuur of godsdiens.

Met die wete van die onsekerheid verbonde aan wat anderkant die kenbare werklikheid lê, kan mense wat verskillend glo oor God en die hiernamaals oor grense heen mekaar ontmoet.

Die vraagstellende en grensoorskrydende aard van die temas van die Woordfees se godsdiensgesprekke het Kerkbode kennelik ontgaan.

Dié gesprekke gaan voort met ’n nuwe borg, want die oop gesprek kan nie meer in die nuwe Suid-Afrika onderdruk word nie, ook nie deur die eens magtige NG Kerk nie.

Lina Spies

Stellenbosch

***********

Kerk mis weer kans vir ope gesprek

(Van Beeld gekopieer.)

deur Dr. Abel Pienaar van Moreletapark skryf

2013-02-19 23:13

Die berig “Kerkbode-joernalis geskors ná sy uitlatings” (19 Februarie) het betrekking.

Ek is een van die “sprekers” wat in Maart by die Woordfees in Stellenbosch se ope gesprekke oor godsdienskwessies gaan optree.

Dit was en is vir my dus ’n groot hartseer om na al die verwikkelinge rondom die (in my geval die “Hemel en Hel?”) gesprek te sien.

Nie net het die direksie van die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk besluit om Kerkbode se borgskap van die twee gesprekke in ’n laat stadium te onttrek nie, hulle het ook besluit om Jean Oosthuizen, joernalis van Kerkbode, te skors.

Jean sou ook as gesprekleier opgetree het.

Hoe kan dit in vandag se tyd nog moontlik wees? Die kerk mis weer ’n gulde geleentheid tot ope gesprek.

Waarvoor is hulle bang? Besef hulle werklik nie dat die kerke in Suid-Afrika voor ’n kruispad staan nie?

Almal weet dat die tradisionele kerke se getalle drasties minder word en een van die redes is juis omdat hulle wal gooi en laertrek, eerder as om geleenthede soos nou met die Woordfees aan te gryp.

Want die werklikheid van die saak is dat mense – hul lidmate – al hoe meer nuwe vrae stel. En eerlike, oop, verantwoordbare en eietydse gesprekke rakende God, godsdiens, politiek, samelewing, wetenskap, filosofie en vele ander, is die weg vir die kerk om weer vir hierdie mense relevant te word.

Op alle terreine is daar vooruitgang en ’n vrye mark van idees – behalwe in die kerk.

En mense sien raak dat die kerk agterbly.

Dit bring mee dat mense buite die kerk begin soek na antwoorde.

Dit is egter vir my baie duidelik dat die soeke en “nuut dink” beteken nie dat mense minder gelowig word nie. Mense “glo” net nie meer op die ou manier nie.

En as die kerk enigsins relevant wil bly, sal hy dit besef en weer eerlik gaan kyk hoe hy sy lidmate kan help om eietydse waarde te vind in hul geloof.

Maar met uitsprake soos: “Die meeste NG lidmate is teologies konserwatief … ” gaan hulle vir seker die bus mis.

Die kerk sal moet in ag neem dat daar vele eerlike, soekende en oop mense is wat anders dink oor God, hemel en hel. En baie van hierdie mense sit tans nog in die kerkbanke.

Hulle is eerlike, spirituele en morele mense.

En die meeste van hulle is vir seker nie bang om oop en eerlik te soek en dink nie.

****************

Wynand Louw van www.hierstaanek.com het soos volg hierop gereageer:

Lina Spies se brief van 18 Februarie en die Kerkbode Woordfees debakel verwys.

Spies is skynbaar ongelukkig omdat die NG Kerk “oop gesprek” wil keer.

Dit gaan egter hier om ’n heel ander beginsel.

Abel Pienaar en Lina Spies is bekend vir hulle verwerping van die evangelie.

Met Spies het ek nie ’n groot probleem nie. Sy is eerlik oor haar verwerping van die evangelie. In dit is haar reg om haar teologie wyd en syd te bemark.

Pienaar gee egter voor om ’n Christen te wees. As jy sy teologie ontleed kom jy egter agter dat daar absoluut niks “Christelik” daarin is nie behalwe die terme. Hy glo, soos enige New Ager, dat die mens in wese god is. Sy gebruik van Chrtistelike terme is bloot om homself voor te kan doen as ’n “Christen” sodat hy mense vanuit die Christelike tradisie, en veral die NG Kerk (sy eie agtergrond) kan mislei en vang. Pienaar is oneerlik soos enige verkoopsman wat die “bait and switch” tegniek gebruik. Hy adeverteer die Christelike godsdiens, maar sy kliënte kry New Age Buddhisme.

Dr Chris Jones is bekend vir sy liberale teologie. Hy is een van die voorstanders vir die relativering van die huwelik, en is positief oor seker buite egtelike saamwoonverhoudings en ook selfde geslag verhoudings. Hy is ook bekend daarvoor dat hy, as ’n mens sy uitsprake oor Islam reg interpreteer, voel dat die Evangelie nie regtig in konflik met Islam as godsdiens is nie.

Die vraag is nou: Is oop gesprek moontlik met drie sulke gespreksgenote? Waarom is daar nie ’n spreker wat die konserwatiewe, evangeliese standpunt kan gee nie?

Moet mens van Toyota verwag om advertensies vir Chrysler te borg? Kan mens van die Kerk van Christus verwag om ’n advertensie vir ’n grotendeels antichristelike teologie (Spies en Pienaar) te borg?

Dit is verblydend dat Kerkbode hom van dié ding onttrek het. Die kerk kan eenvoudig nie die bespotting van Christus en Sy Evangelie borg nie.

Maar hierdie is te min en te laat. Kerkbode adverteer al vir jare Abel Pienaar se antichristelike boeke op sy webwerf (via Boekblik), publiseer Pienaar se “ekspert opinies” in die papier koerant. So verskaf Kerkbode legitimiteit en die NG Kerk se Nihil Obstat en Imprimatur aan ’n wolf in skaapsklere.

Dit is absoluut onverskoonbaar.

Ek glo die hele bestuur van Kerkbode, en nie net Jean Oosthuizen nie, behoort aangespreek te word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui