Kerke is te stil oor huwelikswet se vele vergrype

*******

Brief: Kerke is te stil oor huwelikswet se vele vergrype | Rapport

Sondag, 15 Maart 2025

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Henrietta Klaasing se skrywe “Hoekom is NG Kerk nou skielik begaan oor huwelik?” beklemtoon ’n baie belangrike vraag.

Met die NG Kerk se besluit dat elke gemeente nou self kan besluit hoe, of met wie, ’n mens kan trou, kan die vraag gevra word of hulle al klarigheid gekry het wat die nuwe wet betref, of in hul eie gemoed, met hoeveel mense elkeen mag trou? Of gaan dit ook aan elke kerkraad oorgelaat word?

Die nuwe voorgestelde wet maak daarvoor voorsiening dat ’n man met enige ander aantal vroue kan trou. Blykbaar is daar ook nie ’n beperking op die aantal mans met wie ’n man kan trou nie. Net só hef die wet ook nie enige beperkings op die aantal mans (of vroue) met wie ’n vrou kan trou nie. Met die NG Kerk se lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), wat die volle wet steun, blyk dit dat die NG Kerk by implikasie ook die volle wet steun.

Ek weet die NG dolerendes ondersteun nie die nuwe wet nie en aanvaar ook nie die huwelik of verbintenis tussen gays nie. Watter ander Christelike kerke of kerkgenootskappe is daar nog oor wat nie gay-verbintenisse of gay-huwelike ondersteun nie?

Moslems aanvaar nie die voorgestelde huwelikswet nie en teken beswaar daarteen aan. Maar die afvallige Christelike kerke teken nie beswaar aan nie. Weet die Protestantse kerke dan nie meer hoe om te protesteer nie, of wat gaan aan?

Die wet maak verder daarvoor voorsiening dat die staat se huweliksbevestigers verplig sal word om sulke bevestigings uit te voer, ondanks moontlike gewetensbesware en kan gedagvaar en afgedank word as hulle weier. Predikante sal beskerm word met ’n enkele sin [S11(4)], wat maklik geskrap kan word soos wat met staatshuwelikbevestigers in 2019 gebeur het. Eienaars van trouvenues wat weier om sulke huwelike op hul terrein toe te laat, sal geen beskerming hê nie.

Hoekom is dit dat ChristianView Netwerk en Freedom of Religion SA (FOR SA), wat niekerklike instellings is, mense op groot skaal opkommandeer om besware per e-pos aan te teken, asook persoonlik op te daag en beswaar aan te teken en verbeterde voorstelle by die openbare verhore oor die wet in te dien, maar die afvallige Christelike kerke aanvaar dit goedsmoeds en doen niks? Waar is al die dominees, pastore en priesters wat dié rol moet vervul? Of het hulle almal afvallig geraak en loop nou geduldig, gedienstig en gedwee agter die SARK aan?

briewe@rapport.co.za

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui