Kyk ook: |
Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn.
Dit was reeds baie vroeg duidelik dat die NG Kerk leierskap nie ’n klip ongeroerd sal laat voordat eenheid met die VGK nie bewerkstellig is nie.
Nou lyk dit het hulle dit op een of ander kreatiewe manier reggekry. Die detail is egter nie bekend nie.
Die VGK het baie duidelik die voorvereiste gestel vir kerkeenheid: die NG Kerk sou die Belydenis van Belhar moes aanvaar. Om dit te doen moes die NG Kerk dit met ’n twee-derde meerderheid aanvaar. Dit is egter nie reggekry nie (kyk NGK Belhar stemresultate 2015). Dus, die enigste manier vir kerkeenheid is dat die VGK hulle voorvereiste laat vaar het. Nêrens word egter iets hiervan gesê in die artikel hieronder nie.
*******
16 May 2017 | Neels Jackson | Nuus
Na dekades se gesukkel kan kerkhereniging nou konkrete gestalte begin kry.
Boonop kan dit gebeur sander om enigiemand te dwing wat nie gereed is daarvoor nie, maar met ruimte om te beweeg vir die wat wil. Dit kan oak nou “van onder af” gebeur soos wat soms in die verlede gevra is, maar wat nie vroeer moontlik was nie.
Die moontlikheid daarvoor is geopen deurdat die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk albei die voorgestelde tussenorde tussen die twee kerke goedgekeur het. Die NG Kerk se Algemene Sinode het dit in 2015 gedoen en die VGK s’n in 2016. Die tussenorde maak ruimte vir kerkordelike reelings om strukture tussen die twee kerke op te rig.
Dit is gebaseer op die proses wat drie kerke in Nederland gevolg het om te verenig tot die Protestantse Kerk in Nederland (PKN). Die proses is dus reeds getoets en suksesvol gebruik om kerke te help om te verenig.
Die gesamentlike strukture wat deur die proses gevorm kan word, kan verenigde gemeentes, verenigde ringe of selfs verenigde sinodes wees.
Sulke gesamentlike strukture sal die NG Kerk se huidige belydenisse sowel as die Belydenis van Belhar as grondslag neem, bepaal die tussenorde. Ook dit is nie heeltemal ’n nuwe ding nie. Die gesamentlike getuienisaksie en die barmhartigheidsdiens van die NG Kerk in Wes-Kaapland en die VGKSA se Kaapse Sinode aanvaar ook Belhar as deel van die belydenisgrondslag waarop hulle funksioneer.
Die moderature van die twee kerke se Algemene Sinodes het onlangs vergader en die stand van sake ten opsigte van kerkeenheid bespreek. Die twee moderators, ds Nelis Janse van Rensburg en prof Leepo Madise, het ’n gesamentlike pastorale brief aan die kerke geskryf. Die volledige teks is hier[onder] beskikbaar.
In die brief word gesê die twee moderature het besef dat ’n behoefte bestaan om die energievlakke vir eenheid in die twee kerke te toets. Die moderature wil die tussenorde wat deur die Algemene Sinodes goedgekeur is, implementeer.
Daar word onder meer beplan om ’n vergadering van die voorsitters van al die twee kerke se deelnemende sinodes te belê om die pad vorentoe te bespreek. Die gedagte is dat gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is om met die proses te begin, as loods- of proefstudie sal dien vir breër eenheid tussen die twee kerke. Daar sal ook langs kerklike kanale terugvoer gegee word oor die vordering met eenheid.
Daarby word ook steeds voortgegaan om met die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa te praat oor hulle deelname aan so ’n gesamentlike reis na kerkeenheid.
Die moderators se brief plaas die proses van eenwording in die konteks van versoening. “Ons word deur Christus gestuur om boodskappers van versoening en eenheid te wees,” skryf hulle. Hulle haal ook die inleiding van die tussenorde aan wat onder meer sê: “Ons visualiseer gevolglik ’n nuwe verenigde kerk in die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie, wat missionaal is, verbind aan die Bybelse eise van liefde, versoening, geregtigheid en vrede.”
Dr Danie Nel, predikant van die NG gemeente Wynberg, het by navraag gesê hy is baie dankbaar. Hulle gemeente en die VGK se gemeente Wynberg was in 2008 gereed om een te word. Hulle het gedink dit is kerkregtelik moontlik. Hulle sou ook die PKN se model gebruik. Die proses kon egter nie deurgevoer word nie.
Die goedkeuring van die tussenorde deur albei kerke maak nou nuwe deure oop, maar Nel sê die momentum wat hulle destyds gehad het, het intussen verlore gegaan. Hulle sal nou van voor af ’n gesprek tussen die twee gemeentes op dreef moet kry.
******
PASTORALE BRIEF VAN NGK EN VGKSA OOR KERKHERENIGING
8 Mei 2017 | Kerkbode | Nuus
Die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk se Algemene Sinodes het albei ’n tussenorde goedgekeur wat dit moontlik maak vir gemeentes, ringe en sinodes van die twee kerke om te verenig. Hieroor skryf ds Nelis Janse van Rensburg van die NG kerk en prof Leepo Modise van die VGK die volgende gesamentlike brief aan die twee kerke:
PASTORALE BRIEF VAN DIE MODERATURE VAN DIE VGKSA EN NG KERK AAN ALLE LIDMATE VAN DIE HELE KERK
Liewe broer/suster
Inleiding
Die moderature van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika (VGKSA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) het op 25 en 26 April 2017 by Le Chateau in Kemptonpark vergader om oor die stand van sake in die kerk en die samelewing na te dink. Die spiritualiteit van die vergadering het gefokus op Joh 20:19-23 en Joh 17:10 ev. Die klem het geval op vrede en eenheid. Daarom groet ons u met die woorde: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Ons word deur Christus gestuur om boodskappers van versoening en vrede te wees. Die vergadering het ook nagedink oor die geskiedenis van die proses rondom kerkeenheid vanuit beide die VGKSA en die NG Kerk se oogpunte. Die onderskeie besluite van die kerke oor kerkeenheid en die Belydenis van Belhar is ook hersien. Die aanvaarding van ’n Tussenorde deur die algemene sinodes van beide kerke (2015 & 2016) was ’n historiese mylpaal. Die twee moderature is geïnspireer deur die woorde van die Tussenorde se inleiding:
“Ons as die vier kerke het besluit om saam te reis, geroep deur die drie-enige God om deel te he aan sy opdrag aan die wereld, sodat die wereld kan glo dat God Jesus as Redder na die wereld gestuur het. Ons visualiseer gevolglik ’n nuwe verenigde kerk in die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie, wat missionaal is, verbind aan die Bybelse eise van liefde, versoening, geregtigheid en vrede. Ons besef dat hierdie proses heelwat uitdagings sal hied, sowel as sake om mee rekening te hou, maar ons aanvaar die uitdagings in gehoorsaamheid aan ons Here en sy Woord. Ons word geroep tot ’n lewe en ekklesiologie van gehoorsaamheid en opoffering. Met die wete dat hierdie pad van ons gaan vereis om alle selfsugtige ambisie tersyde te stel en dat ons onsself gee soos Christus het, doen ons dit in doelbewuste reaksie op die evangelie wat Christus in sy genade aan ons uitgestort het. Ons reageer op Christus se liefde en Gees wat ons in ’n diep en ewige verbond met Hom verenig. Ons erken dat Christus reeds die oorwinning oor alle opponerende magte behaal het sodat ons hoopvol vorentoe kan kyk na daardie dag wanneer elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is (Fil 1:27 – 2:18). Ons verbind ons daartoe om alle gawes te aanvaar wat deur die vier kerke gebring word vir die versoenings-, herstel- en herenigingsproses.”
Die twee kerke se moderature het besef dat ’n behoefte bestaan om die energievlakke vir kerkeenheid in die onderskeie kerke onderling te toets. Ons het oak oar die pad vorentoe en die huidige politieke en sosio-ekonomiese klimaat in Suidelike Afrika nagedink.
Die pad vorentoe
Die gesamentlike vergadering het besluit om die Tussenorde as wettige dokument vir die eenheidsproses te implementeer. Ons het ook aanvaar dat punt 3.3 van die Memorandum van Ooreenkoms (MVO) tussen die twee kerke as vertrekpunt vir die praktiese eenheidsproses op plaaslike gemeentevlak sal dien. Die ooreenkoms van beide kerke in 2012 in die MVO bepaal dat:
“As Gereformeerde kerke glo ons dat die plaaslike gemeente die uitdrukking van die kerk van Christus in ’n plaaslike gemeenskap is, maar ons glo ook dat plaaslike gemeentes in verbondenheid met mekaar lewe en dat hierdie verbondenheid uitdrukking vind op verskeie wyses, bv :ringe, sinodes. Die twee kerke onderneem om maniere te identifiseer waarop die plaaslike kerke se eenheid met mekaar tot uitdrukking kan kom deur onder andere die vorm van verenigende gemeentes, deur leraars oor kultuurgrense heen te ontvang, kommissies en projekte te begin en gemeentes met hul volle instemming te herbelyn om wyke van ander kulture te inkorporeer.”
Daar sal uitdagings wees in die implementering van hierdie proses, maar die twee kerke het reeds hierdie uitdagings soos volg in punt 5.2.2 van die MVO uitgelig:
“Ons aanvaar die werklikheid dat konflik, bitterheid, haat, rassisme, etnisiteit, klassediskriminasie, seksisme en heelwat emosionele pyn ongetwyfeld steeds deel van die samelewing is. Ons moet sommige van die kernkwessies wat tot konflik lei, aanspreek, bv: misverstande en swak kommunikasie, swak en korrupte leierskap, taal, kultuur en geloof, ideologiee en politieke magsug, onregverdigheid, persoonlikhede, skaars hulpbronne en wanbalanse in die samelewing.”
Die vergadering het die Seisoen van Menswaardigheid (http://menswaardigheid.eo.za/) geïdentifiseer as die voertuig wat ons kan bystaan om hierdie uitdagings aan te spreek wanneer ons die reis vanaf plaaslike gemeentes (ringe en sinodes ingesluit) begin as die vertrekpunt vir praktiese kerkhereniging.
Hiermee die stappe wat deur die moderature gevolg moet word om al die doelwitte en oogmerke om die kerk te verenig, te verwesenlik.
- Die pastorale brief geskryf en versprei na al die gemeentes om hulle in te lig oor die reis na praktiese kerkeenheid vanaf plaaslike gemeentevlak.
- Die moderature sal ’n groter vergadering van die kerkleierskap van beide die VGKSA en die NG Kerk belê. Die vergadering sal saamgestel word deur die voorsitters van al die deelnemende sinodes van die NG Kerk en die moderators van streeksinodes van die VGKSA as implementerende sinodes, om deel te wees van die reis na praktiese kerkeenheid en om mekaar aan te moedig om die proses in plaaslike gemeentes, ringe en sinodes te fasiliteer.
- Beide kerke moet aan hul onderskeie algemene sinodale kommissies en streeks-(deelnemende) sinodale kommissies terugvoer gee oor die vordering rakende kerkeenheid.
- Gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is om met die proses te begin, sal dien as loods-(proef)studie vir die breër kerkeenheid van die twee kerke.
- Die moderature van beide kerke bly steeds in gesprek met die ander lidkerke van die NG Kerk-familie om saam te reis na hierdie praktiese kerkeenheid.
Die moderature van beide kerke erken dat hulle groter passie en wilskrag sal moet ontwikkel om werklik ’n verskil te maak. Ons sal die konflikareas moet identifiseer, dit aanspreek en betrokke raak. Ons kan dit egter nie alleen regkry nie. Ons het die ondersteuning en direkte betrokkenheid van elke lidmaat van die twee kerke nodig in die proses na volkome eenheid.
Huidige sosio-ekonomiese en politieke situasie in Suidelike Afrika
Dit sou onverantwoordelik van die leierskap van die twee kerke wees om nie na te dink oor die politieke situasie in die land en Suidelike Afrika nie. Die moderature het erkenning gegee daaraan dat ons lede van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) is en dat alle uitsprake wat deur die SARK gemaak word, die inklusiewe stem van die lidkerke is. Ons het onsself gesamentlik daartoe verbind om deeglik met plaaslike en internasionale politieke kwessies bemoeienis te maak alvorens ons voortaan in staat sal wees om ingeligte profetiese leiding te bied. Ons doen desnieteenstaande op hierdie stadium ’n beroep op al ons lede vanuit die uithoeke van Suidelike Afrika om te bid vir die sosio-ekonomiese en politieke situasie in beide lande en om deel te neem aan die aktiwiteite wat stabiliteit en vrede aan ons almal sal besorg.
Ons glo dat die almagtige God (die God van Jesus van Nasaret, en nie die vals god wat slawerny, apartheid, korrupsie, nepotisme, volksmoord, uitsluiting, sowel as geïnternaliseerde oorheersing en onderdrukking seën nie), ’n God van geregtigheid is, en daardie God roep die kerk om geregtigheid vir al sy mense na te streef.
Ds. Prof. Dr. Leepo J Modise (VGKSA Moderator)
Ds. Nelis Janse van Renshurg (NG Kerk Voorsitter van die moderamen)