Kerkeenheid

In tye van ongelooflike verdeeldheid in veral die NG Kerk, kom die term kerkeenheid weer onder die kalklig.

In wesenlike sake eenheid,
in alledaagse sake vryheid,
in alle sake liefde.

Oor die algemeen is dit liberales wat pleit vir eenheid met woorde soos “ons moet aan mekaar vashou.” en “diep is ons aan mekaar verbonde“.

Die Bybel is duidelik dat daar eenheid tussen gelowiges moet wees. Byvoorbeeld Efesiërs 4: (3)Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

En in 1 Korintiërs 1: (10)Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

En Johannes 17: (21)Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Hoekom is eenheid belangrik?

Die rede is eenvoudig: Sodat byeenkomste ‘n positiewe en vreugdevolle ervaring is. As samekomste van die gemeente gedurig opgaan in ’n stryery kan daar nie geestelike groei en gemeenskap van gelowiges plaasvind nie.

Hoe kry mens eenheid?

As jy vir niks staan nie, sal jy vir enigiets val.

Mense verskil vandag oor baie dinge: Gunsteling rugbyspan, politiek, of ’n mens die Covid-inenting moet neem of nie, die doop, of daar ’n wegraping is of nie, ensovoort. Dit is alles dinge wat ’n mens voel nie verdeeldheid onder mense moet bring nie, en tog bring dit soms op só manier verdeeldheid tussen mense dat daar ’n ongemaklikheid tussen mense ontstaan en dat hulle mekaar selfs probeer vermy. Die ideaal is dat mense hierdie tipe verskille moet verdra – om ooreen te kom om te verskil, sodat die vriendskap nie skade ly nie. Jy kan dit egter net met randsake doen. Jy kan dit nie met belangrike kwessies doen nie.

False doctrine cries the loudest about unity. Listen carefully when you hear the cry for unity because it may be the cover of false doctrine encroaching. ~ John MacArthur

Postmoderniste/liberales glo dat daar nie vaste waarhede is nie (behalwe natuurlik hierdie stelling). Daarom is dit vir hierdie mense maklik om te pleit vir kerkeenheid ten alle koste, want volgens hulle grens alle verskille aan onbenullig.

Wat maak ’n mens egter as behoudendes dinge soos die sondeval, die historisiteit van die Ou- en Nuwe Testament, Jesus se maagdelike verwekking, die bestaan van Satan en die hel, ensovoorts (daar is ’n lang lys) as belangrike Bybelse kernwaarhede sien? ’n Mens kan nie van behoudendes verwag om oor hierdie sake ooreen te kom om te verskil, ter wille van vrede, nie.

Hoe kry ’n mens dus eenheid?

Eerder ’n kort oorlog en ewige rus as valse vrede en ewige pyniging. ~ Charles Spurgeon

Die enigste manier om ware eenheid te bewerkstellig is om eksklusief te wees. Om slegs mense in die gemeente toe te laat wat eenders as jy dink. Waar daar dus oor belangrike Christen doktrines verskil word, sal paaie dus moet skei. Dit beteken nie dat jy vir enige klein dingetjie vriendskappe moet verbreek of jou gemeente moet verlaat nie, maar indien daar belangrike sake is wat spanning tussen mense bring, moet paaie op ’n stadium skei.

Dieselfde Paulus wat vir kerkeenheid gepleit het, was ook uiters eksklusief wanneer dit by mense gekom het “wat ’n ander Evangelie gebring het”:

  • Rom 16: (17)Bly weg van hulle af.
  • 1 Kor 11: (19)Daar moet trouens partyskappe onder julle wees sodat dit bekend kan word wie van julle die toets kan deurstaan.
  • Gal 1: (9)…die vloek van God sal hom tref!
  • Ef 5: (7)Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.
Meermale kan vrede slegs verkry word deur paaie te skei

Dit is interessant dat Paulus paaie met Barnabas geskei het op grond van ’n blote meningsverskil oor Markus wat hulle in Pamfilië verlaat het (Handelinge 15:36-41).

Ook Jesus self sê in Matteus 10:34-39 dat Hy gekom het om verdeeldheid te bring. Sy saak is altyd belangriker as om goeie verhoudings met mense te hê.

Dit is duidelik dat die kwessie van kerkeenheid soms hopeloos oordryf word.

Liberales sal moet verstaan dat behoudendes nie in ’n kerk kan aanbly waar die kern Christelike doktrines nie streng afgedwing word nie. Dit sal immers ongehoorsaam wees van behoudendes om dit te doen (Kyk Die Bybel oor dwaling/Moet niks met dwaalleraars te doen hê nie).

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui