Kerkleiers vergader met Cyril: Wil band tussen kerk en owerheid versterk

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kerkleiers vergader met Cyril: Wil band tussen kerk en owerheid versterk | Rapport

Magdel Louw

Sondag, 20 April 2025

Kerke kan ’n sterk invloed oor die regering uitoefen deur aanspreeklikheid van die land se leiers te eis, sê dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk.

Daarom was korrupsie verlede week hoog op die agenda in die gesprekke tussen kerkleiers en die presidensie.

Die vergadering waarop pres. Cyril Ramaphosa en kabinetslede met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) samesprekings gevoer het, was die eerste in sy soort sedert 2019.

Die gesprekke was “brutaal eerlik”, met spesifieke verwysing na klagte teen en ondersoeke na korrupsie teen senior regeringslui.

“Biskop Sithembele Sipuka, president van die SARK, het onder meer die kwessie oor Phala Phala reeds in sy openingswoorde aan die president by die naam genoem en die president het dit aangehoor. Daar is ook krities gevra waarom daar nog nie genoeg gedoen is ten opsigte van die Zondo-kommissie se aanbevelings nie en harde vrae is gevra oor die hoë misdaadsyfers,” sê Venter.

Ramaphosa sê onder meer die land het die kerke nodig “om ons nasie te resussiteer”. Hy het ook gepraat van die “herverbintenis tussen die kerk en die owerheid”.

Venter sê die SARK is ’n belangrike, kritiese stem. “ ’n Beduidende deel van die Suid-Afrikaanse samelewing identifiseer as Christene. Die regeringsleiers sal daarom moeilik die morele gewig wat so ’n gesamentlike stem van kerke dra, kan ignoreer,” sê sy.

“Ja, politiek en kerk moenie gemeng word nie, want elkeen het sy eie roeping. Maar dis twee instellings wat met mekaar in gesprek móét wees. Regeringsleiers behoort raak te sien dat die netwerk van kerke in Suid-Afrika baie naby aan grondvlak leef en daarom eerstehandse inligting oor gewone burgers se uitdagings kan oordra. Ons het daarom ook oor swak dienslewering gepraat en hoe dit die moreel van ons gemeenskappe afbreek en mense se lewensgehalte inperk.”

Die beloofde nasionale dialoog, waarvan nog niks gekom het nie, en die verswakking van waardes en verontmensliking wat deur armoede en ongelykheid veroorsaak word, is ook bespreek.

“Soos baie Suid-Afrikaners is ons as kerkleiers en gemeentelede diep besorg oor die politieke spel in die RNE wanneer dringende nasionale uitdagings – veral dit wat die arm en weerlose mense raak – ernstige en verenigde aandag vereis,” sê Sipuka.

Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, het spesifiek oor “genesing en versoening” met Ramaphosa gepraat.

Hy het daarna verwys dat versoening net kan gebeur waar daar ’n oop, veilige ruimte is vir almal om hul verwondheid te deel. “Dat ons die waarheid kan vasstel van wat voor 1994 gebeur het, maar ook wat die afgelope drie dekades ná 1994 gebeur het,” sê Lubbe.

“In so ’n ruimte kan ’n mens dan sê ek is jammer oor my aandeel, daar kan ’n skulderkenning wees en vergifnis gegee word, en dan moet uit so ’n ruimte opgestaan en reggehelp word wat verkeerd gegaan het,” sê Lubbe.

“Kritici kan hier vinger wys na die NG Kerk en selfs sê ‘kyk wie praat’, maar hy (Lubbe) het nie in dié gesprek voorgegee om op enigiets te roem, anders as om suiwer te verkondig wat God se woord ons leer, nie,” sê Venter.

Tien kerkleiers het die 30 denominasies wat deel van die SARK vorm by die gesprekke verteenwoordig, en die vergadering het twee uur geduur. Die president het onderneem om die relevante departemente te vra om oor spesifieke kwessies met kerkleiers in gesprek te tree. Reeds die volgende dag het die eerste kerkleier ’n uitnodiging vir so ’n vergadering ontvang.

Venter sê hulle hoop dat kerke genooi sal word om te dien in adviesrade en werkgroepe wat beleidsinvloed het en diskoers kan beïnvloed.

Ramaphosa het by navraag gesê die regering waardeer die bereidheid en vasbeslotenheid van die SARK om saam met hulle te werk om die bekommernisse aan te pak.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui