Die volgende artikel is gekopieer van Rapport.
***********
Kerkleiers verskil oor Jesus se herrysenis | Rapport
2010-03-20 23:29
Johannes de Villiers
’n Meningsverskil oor Jesus se opstanding uit die graf is besig om in ’n langdurige debat onder van die mees senior leiers in die NG Kerk te verander.
Dr. Johann Ernst, aktuarius van dié kerkverband, het pas weer eens sterk standpunt ingeneem teen sienings wat volgens hom op ’n verdraaiing van die Bybel en kerkgeskrifte neerkom. Dit volg nadat senior kerklui al maande lank verskil oor of die woorde “fisiek” en “histories” gebruik kan word om Jesus se opstanding mee te beskryf.
Ernst, wat as aktuarius een van die mees senior kerkposte beklee en lid van die moderatuur is, het verlede jaar tot die debat toegetree toe hy gesê het ’n vorige verklaring deur die kerk se streeksmoderators dat Jesus “fisiek” opgestaan het, is onvanpas. Die woord “fisiek” is nie gepas om die opstanding mee te beskryf nie, meen Ernst.
In reaksie hierop het prof. Johan Janse van Rensburg, ondervoorsitter van die Vrystaatse moderamen, in November in die Kerkbode teen Ernst standpunt ingeneem. Die wyse waarop die aktuarius se standpunt van die moderator s’n (dat Jesus se opstanding wel “fisiek” was) afwyk, “laat die gevaarligte flikker”, het Janse van Rensburg geskryf.
Nou het Ernst in die jongste uitgawe van die Kerkbode weer gereageer en sy spyt uitgespreek dat daar mense is wat “’n wig tussen moderator en aktuarius indryf”.
Hy ontken nie Jesus se opstanding nie, hoewel party mense hom daarvan beskuldig, maar hy meen tog Paulus onderskei in die Bybel tussen ’n geestelike liggaam (waarmee Jesus opgestaan het) en ’n fisieke liggaam.
In die moderators se destydse verklaring en in Janse van Rensburg se artikel word die feit volgens Ernst geïgnoreer dat daar ook ’n “radikale breuk tussen die dood van die natuurlike liggaam van die lydende mens Jesus en die opstanding van die geestelike liggaam van die verheerlikte mens Jesus” was.
“Die aardse lewe word met die tydelike asem (gees) van die verganklike lewe geleef; die hemelse lewe word met die ewige Asem van God (Gees) in die onverganklikheid geleef.
Dit is met hierdie Asem van God wat Jesus uit die dood opgestaan het/opgewek is,” skryf Ernst.
“Nóg in die Bybel nóg in enige amptelike kerklike geskrif word gesê dat Jesus fisiek-liggaamlik uit die dood opgestaan het en daarom vir altyd nou so is of lyk.”
Ernst het Vrydag aan Rapport gesê sy skrywe is maar die jongste aflewering in ’n gesprek wat nou geruime tyd aan die gang is. Op sy sienings wat vroeër gepubliseer is, het hy net positiewe terugvoering gekry. Hy probeer ’n middeweg vind tussen enersyds diegene wat Jesus se opgestane liggaam aan sy fisiese liggaam gelyk wil stel en andersyds diegene wat sê Jesus het nie regtig opgestaan nie, sê Ernst.
– Rapport