Kyk ook:
Prof Johan Janse van Rensburg het die volgende artikel geskryf na aanleiding van hoe die NG Kerk die afgelope 10 jaar die pad byster geraak het en daartoe gelei het die dat die Kairos Netwerk gestig is.
********
Kerklike integriteit | Maroela Media
Deur prof. Johan Janse van Rensburg
5 Maart 2021
Die Christengemeenskap is die afgelope tyd geskok deur berigte van immorele seksuele bedrywighede deur ʼn wêreldbekende evangelis. ʼn Ander evangelis is voor die hof gedaag omdat hy na bewering bedrog gepleeg het. Nog ʼn ander het voorgegee dat hy ʼn dooie weer lewendig gemaak het.
Telkens is daar berigte van onbybelse gedrag deur predikante. Die prominente teoloog Karl Barth het ʼn jare lange buite-egtelike verhouding gehad. Dit is nie ʼn nuwe verskynsel dat dergelike immoraliteit onder gelowiges en kerkleiers plaasvind nie. Die Bybel vertel ook skokkende verhale van onheilige gedrag deur gelowige mense. Natuurlik vind die wêreld veel vreugde in sulke berigte. Die implikasie is duidelik: as die Christelike boodskap van wet en selfbeheersing dan so belangrik is, hoe kan Christene aan sulke skandelike gedrag skuldig wees? Dit bewys mos, word beweer, dat die Bybel, die kerk en die prediking te vergeefs is.
Kan die boodskap van die kerk nog geglo word? Die volgende kommentaar kan help om perspektief te bring. Mense wat deur God geroep word om diensknegte en boodskappers te wees, is nie super heiliges nie, maar gewone mense met swakhede, sondes en foute. God is egter onaantasbaar in sy heiligheid, regverdigheid en integriteit. Omdat Hy is wie Hy is, verwag hy dat ons ook integriteit moet hê. Daarom is die Bybel eweneens onaantasbaar omdat sulke onbeheersde gedrag nie deur die Skrif verswyg word nie, maar juis openbaar gemaak en veroordeel word.
Dit is duidelik dat integriteit vir God belangrik is. Daar moet integriteit in geloof wees. Om voor te gee dat jy ʼn gelowige is terwyl jy nie sekerheid in die geloof het nie, of nie in die Woord glo wat jy verkondig nie, kom op oneerlikheid neer. Dit sou egter ʼn fout wees om die beginsel van integriteit tot immorele handelinge te beperk. ʼn Kerk of gemeente moet, net soos ʼn leraar of ʼn lidmaat, geloofwaardig wees. ʼn Kerklike denominasie word deur ʼn bepaalde en duidelik omskryfde stel van beginsels of geloofsoortuigings onderskei. Mense wat hierdie belydenis as hulle eie kan omarm en onderskryf, sluit hulle by daardie kerk aan. Hulle kan slegs lidmate word as hulle openlik verklaar dat hulle dit alles glo en aanvaar.
Wat word dan van kerklike integriteit wanneer ʼn kerk se leer en handelinge nie met die belydenisgrondslag ooreenstem nie? ʼn Katolieke kerk kan nie voorgee om katoliek te wees sonder die kernbeginsels van die katolieke geloof nie. Pentakostalistiese kerke kan nie as sodanig bekend staan as hulle nie leer en praktiseer wat die naam verteenwoordig nie. Hoe is dit dan moontlik dat ʼn kerk as ʼn gereformeerde kerk bekend kan staan, maar aan die mees basiese beginsels van die gereformeerde leer ontrou kan wees? Watter verstaan van integriteit verteenwoordig dit wanneer ʼn kerk afwyk van die beleid wat wetlik omskryf en publiek bekend gemaak word?
Volgens artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk is die kerk in die onfeilbare Woord van God en die belydenisskrifte gefundeer. Dit is die “grondwet” van die kerk. Die wêreldlike hof beoordeel ʼn kerk volgens getrouheid aan die eie “grondwet”. Lidmate verbind hulle aan hierdie grondbeginsels. Tóg is daar die afgelope dekades talle voorbeelde waar besluitnemingsprosesse van hierdie gestelde belydenisgrondslag afwyk. Die Bybel word in teologiese gesprekke nie meer as onfeilbaar beskou nie al sê artikel 1 só, en word ook nie as Woord van God aanvaar nie, maar as mensewoorde oor God. Verder dra die belydenisskrifte weinige gesag in die besluitnemingsprosesse van die kerk. Daar is talle voorbeelde waar die amptelike besluite van die NG Kerk van die Belydenisskrifte afwyk of dit weerspreek. Daarbenewens word teologiese uitsprake deur professore en kerkleiers gemaak wat van die belydenisskrifte verskil sonder dat hulle tot orde geroep word. Geen standpunt word as dwaalleer beskou nie omdat die algemene sinode van die NG Kerk besluit het om die beginsel van diversiteit te aanvaar. As gevolg daarvan, het leertug in die kerk verval terwyl dit volgens artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) een van die kenmerke van ʼn ware kerk is. Artikel 28 van die NGB stel dit duidelik dat die eenheid deur die leer van die kerk en die tug bewaar word. Dit is volgens artikel 28 die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van dié wat nie aan die ware kerk behoort nie. Dit staan in skrille kontras teenoor die beginsel van “eenheid in verskeidenheid” wat deesdae die towerwoord in sinodale debatte geword het. Dit spreek vanself dat nie alle kerke die belydenisskrifte aanvaar nie, maar as ʼn kerk dit as deel van die belydenisgrondslag verklaar, beteken kerklike integriteit om dit in alle opsigte te eerbiedig.
Ek word daarvan beskuldig dat my jare lange standpunt hieroor liefdeloos en ʼn aanval op die Here se kerk is. Net die Here weet hoe lief ek die kerk het waarin ek grootgeword het. Dit is die kerk wat my in die teologie opgelei het. Dit is die kerk wat ek meer as 47 jaar aktief as VDM[1] kon bedien. Ek wil nie die kerk verlaat om my eie kerk te stig nie, soos iemand my van beskuldig het. Ek treur oor die gebrek aan integriteit by die kerk waaraan ek my verbind het. Laat die kerk dan sy “grondwet”, soos dit in artikel 1 geskryf staan, verander as dit nie meer geglo word of van toepassing is nie. Dan sal ek ook weet wat om met my lidmaatskap van die NG Kerk te doen. Maar tot dan dring ek en duisende ander lidmate eenvoudig aan op die gereformeerde belydenis wat die kerk voorgee om te verkondig. Jesus Christus is Here van die Kerk.
- Prof. Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n predikant van die NG Kerk. In 1994 het hy ook ’n pos aan die fakulteit teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.
Voetnotas
[1] Verbi Divini Minister: Bedienaar van die Goddelike Woord