*******
Brief: Kerkraadslid, let op! Jy is nie net daar om mooi te lyk nie | Netwerk24
27 April 2025
Lidmaat skryf:
Rapport berig op 3 September 2023 op Netwerk24 (“Skelm skriba se man in vee-herrie”) oor die voormalige skriba van die NG gemeente Verkeerdevlei wat skuldig bevind is op 38 aanklagte van diefstal waarby meer as R200 000 betrokke is.
Die destydse leraar het ’n rekenmeester en kerkraadslid gevra om die kerk se geldsake te ondersoek. Dié het met die eerste oogopslag gesien die state is nie deur die kerk se ouditeure onderteken nie. Die ouditeure bevestig dat hulle in vyf jaar geen dokumentasie van die skriba ontvang het nie.
Die gebeure bevat al die elemente wat nodig is om enige struktuur te vernietig soos waaroor die media daagliks berig: pligsversuim en growwe nalatigheid deur die betaalde hoof- rekenpligtige amptenaar, betaalde amptenare en lede van besluitneming- en toesigstrukture; leuens en wanvoorstellings; diefstal en plundering; inmenging en pogings om die skuldige skotvry te laat gaan; en viktimisering van ’n rekenmeester wat net haar werk gedoen het.
Ek het gedink dit gaan net in munisipaliteite, staatsdepartemente en staatsondernemings só! Maar ek is sowaar verkeerd!
Swaarverdiende bydraes is gemaak en daar is verwag dat die hoof- rekenpligtige amptenaar, betaalde amptenare en die gemeentestrukture hul rol, verantwoordelikheid en mandaat sou nakom. Dit het nie gebeur nie.
Kerkraadslede wat dink dat hulle slegs ’n seremoniële pos beklee, kan gerus maar na hul “pligstaat” en verwante wetgewing kyk, hulle kan net moontlik ook tot verantwoording geroep word.
Dit is naïef om te dink jou geld gaan altyd reg aangewend word. Vergewis jou maar van die aankoopbeleid, bemakings en skenkings (veral vaste eiendom en goedere), die korrektheid van notules, agendas, begrotings, inventarisse en kontrakte, asook die korrekte uitvoering van genoemde, anders staan jy een Sondag voor dooiemansdeur en sonder toegang tot jou reeds betaalde nis/gedenkmuur en dié van jou geliefdes.
En nee, jy gaan nie gestraf word as jy genoemde aanvra en bestudeer nie; trouens, jy kan moontlik jou gemeente van ondergang red.
*******
Skelm skriba se man in vee-herrie | Netwerk24
Magdel Louw
02 September 2023
Wat ds. Rikus Botha, leraar van die NG gemeente Verkeerdevlei, betref, is die sage van die oudskriba wat derduisende rande se kollektegeld en skenkings by die kerk gesteel het, nou afgehandel.
Rita Bornman is skuldig bevind op 38 aanklagte van diefstal van meer as R200 000 en dis nou tyd om aan te beweeg. Dit is die boodskap wat Botha vandag aan sy gemeente wil oordra.
Maar dié klein boeregemeenskap is opnuut verdeeld nadat die bakkie van Rita se man, Andries, onlangs midde-in ’n veelbesproke veediefstal-drama glo net buite Verkeerdevlei gesien is.
Die gemeenskap se sonde met die Bornmans het in 2018 begin toe die destydse leraar, ds. Sanri Malan, vir Lanie Els, rekenmeester en kerkraadslid, gevra het om die kerk se finansies te ondersoek. Die kerk se koffers was in daardie stadium byna leeg. “Ek het met die eerste oogopslag gesien die state is nie eens deur die kerk se ouditeure onderteken nie,” onthou Els.
Rita kon geen brondokumente verskaf waardeur die kerk se inkomste en uitgawes vergelyk kon word nie. Sy het aangevoer “dit is by die ouditeure”.
“Toe ons (die ouditeure) hieroor vra, het hulle gesê hulle het in 2013 laas ons gemeente se boeke gedoen. Tot en met 2018 het hulle geen dokumentasie van die skriba ontvang nie.
“Die dokumentasie wat die kerkraad by haar kon kry, het net tot en met 2012 gestrek. Ons vermoed sy het alles daarna vernietig. Haar rekenaar was skoongevee en alle wagwoorde vir Finkerk, die kerk se finansiële stelsel, asook die kerk se bankrekening wat sy verskaf het, was foutief.”
Els se ondersoek het gewys Rita het onder meer in 2017 nie die meer as R100 000 kollekte wat volgens die konsistorieboek ingesamel is, in die kerk se rekening gedeponeer nie.
“Geld wat die kerk jaarliks vir Brandfort se aftreeoord en Winburg se ouetehuis geskenk het, is ook net so in Rita se rekening inbetaal. Sy het letterlik van die oumense gesteel. Dit het die kerkraad só ontstel,” sê Els.
Elke jaar het die bedrag geld wat van die kerk se rekening na Rita se rekening oorbetaal is, net meer geword.
Die eerste jaar was dit sowat R20 000, en teen die laaste jaar bykans R165 000. Volgens Els het Rita in 2018 aan die kerkraad erken “dit was maklik” om te doen.
Die kerkraad het op grond van Els se finale verslag die saak by die polisie aangemeld en Rita geskors. Hulle kon toe eers die kerk se bankstate bekom en ’n forensiese oudit laat doen.
Benewens die betalings na haar eie bankrekening, het Rita volgens Els onder meer ook haar deelname aan perdryuithouritte met die kerk se geld gefinansier, die Bornmans se mediese fonds daaruit betaal en selfs daarmee ’n woonwa aangeskaf. In dié tyd was haar gesin ook op ’n luukse MSC-skeepsreis na Mauritius.
Die diefstal het destyds groot verdeeldheid in die kerk veroorsaak, met sommige mense wat gemeen het Rita moenie vervolg word nie, terwyl ander weer gevoel het sy móét verantwoordbaar gehou word, sê Els.
Els het oplaas in 2019 die gemeente verlaat nadat sommige lede van die nuwe kerkraad dit vir haar as “fluitjieblaser” onhoudbaar gemaak het om aan te bly. ’n Ander kerkraadslid met kennis van die saak het aan Rapport gesê Rita was geliefd in die gemeenskap.
“Daarom was die diefstal vir almal ’n gróót skok. Sy het in die hof jammer gesê en gepleit om genade, maar sy het niks aan ons as gemeente erken of om verskoning gevra nie.
“In ’n klein dorpie soos dié, het ons net mekaar. Ons is aangewese op mekaar, so ons vertrou mekaar.”
Dieselfde kerkraadslid het vertel die kerkraad het ná vonnisoplegging vergader en saam besluit hulle aanvaar die hofuitspraak.
Maar die stof het nog nie gaan lê nie.
Rapport het vandeesmaand berig dat Janné Smith, haar suster, Lize-Marie, en Hendrik Steyn, nog ’n boer van Verkeerdevlei, aangekla is van onder meer poging tot moord, roof en aanranding. Dit was ná ’n voorval waarin hulle drie vermeende skaapdiewe – ’n pa en sy twee seuns – wou aankeer op hul plaas, wat grens aan Andries se plaas.
Veediefstal is ’n groot probleem in die omgewing. Die susters het die Sondagaand ondersoek gaan instel na onrustigheid by een van hul skaapkrale.
Janné het aan Rapport vertel op pad soontoe het ’n bakkie sonder ligte by hulle verbygery, en toe weer omgedraai. Die susters het die bakkie herken as dié van Andries Bornman.
Hulle het die insittendes gekonfronteer omdat hulle glo dat hulle skaap wou steel. Die susters is later aangekla daarvan dat hulle hulle aangerand of op hulle geskiet het, maar hulle ontken die aantygings.
Andries het die afgelope week bevestig die betrokke Toyota Hilux behoort aan sy boerdery. Hy hou egter vol daar is niks vreemds aan nie.
“Een van my plaaswerkers het my bakkie bestuur en sy twee kinders het saamgery omdat ek hom nie kliniek toe kon vat die dag nie,” sê Andries. “Dit is al.”
• Bornman is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Die hof het haar ook beveel om R147 000 aan die kerk terug te betaal.