Kerkskeurders, laat God oordeel

Die volgende artikel is geskryf deur Jan-Jan Joubert na aanleiding van NG Kerk ‘gaan skeur’ (13 Des 2020).

Dit is eintlik nie sinvol om in detail hierop kommentaar te lewer nie. As Jan-Jan dink dat die bestaan van die duiwel, homoseksualiteit, seks buite die huwelik en Jesus se maagdelike verwekking randsake in die Christelike geloof is, en as hy dink dat dit regverdig is dat behoudende teologiese studente hulle woorde moet tel uit vrees dat hulle nie gelegitimeer sal word nie, dan is dit seker maar sy opinie. Hy kan egter nie behoudendes oordeel wat wel voel dat dit nie randsake is nie. ’n Mens het eintlik gehoop dat hy homself in behoudendes se skoene sou kon plaas, maar duidelik het hy daarteen besluit.

Die punt is bereik waar behoudendes en liberales nie meer in dieselfde kerk in vrede kan leef nie. Alhoewel die media nie akkuraat is as hulle voorgee dat die MKN Zoom-gesprek ’n beplanningsessie was om te skeur nie, is dit inderdaad tyd dat die paaie in die NG Kerk skei.

Kyk ook Jy kan nie Bybelse huwelik verruim (15 Jan 2021) waarin Dawie de Wet kommentaar lewer oor hierdie berig.

***********

Kerkskeurders, laat God oordeel | Netwerk24

Deur Jan-Jan Joubert

06 Januarie 2021 05:03

Kom ons begin die jaar met ’n vredestyding in eie geledere en ’n versoek uit die hart dat diegene wat so skeuring maak in die NG Kerk, en dit nogal oor ’n kwessie soos gay-huwelike, tog asseblief weer moet dink.

Daar word, so lees ’n mens, kliphard beplan en Zoom-byeenkomste gehou in sowat 60 gemeentes wat nie die besluit wil aanvaar dat elke gemeente na goeddunke moet handel oor ’n kwessie waaroor daar duidelik ’n groot mate van verdeeldheid heers nie.

Dit is duidelik dat aktiviste aan albei kante van die verdelingslyn baie sterk voel oor die saak wat nou al jare in die NG Kerk voortstu, en dat albei kante weinig aptyt het vir diegene wat van hulle verskil.

Maar wanneer die olifante baklei, is dit die gras wat seerkry, lui die Afrikaspreekwoord.

En terwyl diegene wat so seker van hul saak is, planne maak om te vernietig wat hulle nie opgebou het nie, wonder ’n mens of hulle mooi dink oor die gevolge daarvan vir diegene wat nie so sterk voel nie. En ook oor die aanvaarbaarheid daarvan om ’n eng definisie af te dwing oor ’n kwessie wat vir baie mense oor die liefde gaan.

Die NG Kerk, soos enige kerk, het ’n horisontale sowel as ’n vertikale geloofsrol om te speel. Die kerk moet (vertikaal) die Woord en die wil van God probeer interpreteer en (horisontaal) die liefdesdiens aan die naaste verrig.

Albei is eenvoudige opdragte wat nietemin taai is om uit te leef. En só het die NG Kerk al tevore op skeuring gestaan tussen groepe wat die enger definisie van die liefdesgebod voorstaan en diegene wat dit wyer interpreteer. Die mees onlangse was in omtrent 1986 toe die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) die NG Kerk verlaat het oor apartheid.

Wat telkens gebeur, is dat sommige prominente lidmate van die kerk hulself opklits oor ’n spesifieke kwessie wat vir die meeste lidmate godsdienstig gesproke ’n bysaak is; minder belangrik as die werklike groot geloofskwessies. Hulle stoom mekaar dan op en beplan kerkskeuring.

[Kommentaar: Die dinge wat verdeeldheid in die NG Kerk bring is hoegenaamd nie ’n bysaak of randkwessies nie. Dit is dinge wat baie direk teenstrydig is met wat die Bybel sê en daarom gaan dit eerstens oor Skrifgesag.]

Die geskiedenis van die heilige, algemene Christelike kerk leer ons dat die eng, wettiese benadering in die naam van Skriftuurlikheid, die kerk al dikwels suur bekom het. Dink maar aan die gebeure rondom byvoorbeeld Galileo Galilei. Slaan dit bietjie na en hoor die eggo’s daarvan vandag.

[Kommentaar: Ja, baie belangrik om dit te gaan naslaan. Dit was ’n tyd toe die kerk besluit het om eerder die hoofstroomwetenskaplikes te glo (wat verkeerd was) in plaas daarvan om hulle eie gesonde verstand te gebruik. Kyk Het die kerk vir Galileo vervolg oor sy siening dat die aarde om die son draai en nie anders om nie?.]

’n Mens sou dalk kon reken die meningsverskil binne die kerk oor gay mense gaan oor ’n debat oor of dit ’n kwessie van liefde of blote lyflikheid is. In dié sake kan dit help om in gedagte te hou dat spesifiek die Nuwe Testament staan in die teken daarvan dat die liefdesbegrip juis nie eng toegepas word nie.

Om die waarheid te sê skryf Paulus aan die Korintiërs: “(Die liefde) bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Dit behoort enigeen bekommerd te laat om die liefdesgegewe nie te eng te interpreteer nie.

[Kommentaar: Dit is ook dieselfde Paulus wat in 1 Korintiërs 6:9-10 sê dat mense wat homoseksualiteit beoefen nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie en in 1 Korintiërs 5 ’n man aan satan wil oorgee en sê dat jy jouself van sekere “mede gelowiges” in so mate moet distansieer dat jy nie eers saam met hulle moet eet nie. Om nie eers te praat van die dinge wat Jesus self gesê het nie. Jy kan allermins Jesus voorhou as iemand wat slegs liefde en verdraagsaamheid verkondig het – kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade.]

Die wysheid het ek nie in pag nie, maar oor hierdie kwessie het I.D. du Plessis eens as volg gedig:

“As ek my vreemde liefde bloot moes lê
Wat sou die vrome skenders van die skoonheid sê?
Sou hul, met heilige verontwaardiging,
Besoedelende vingers God-waarts steek,
En na dié self-regverdigende reiniging
Hul eer aan my kom wreek?
Of sou ’n sprank van hierdie vuur wat in my gloei
Ook hulle aanraak, sodat hul verstaan
Die liefde neem ’n duisend vorme aan?”

Miskien sal dit die voornemende kerkskeurders baat om hieroor diep na te dink, die vrede te bewaar en die oordeel aan God oor te laat.

En mag die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, met ons wees, nou en vir altyd.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui