Klagtes oor kerk gewoon onsin

Kyk ook:

Kyk die volgende artikels wat geskryf is in reaksie op hierdie een:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Klagtes oor kerk gewoon onsin | Netwerk24

Jan Lubbe, Bloemfontein

27 September 2024

Gert Lange herhaal in sy brief “Bly binne raamwerk van Woord” (23.09) dieselfde ongegronde beweringe wat hy tevore al in Volksblad teen die algemene sinode van die NG Kerk se moderamen gemaak het (“ASM keur afgryslike dinge goed”, 02.08).

Kan hy dit staaf met enige dokumentasie of besluite van die ASM? Op grond waarvan beweer hy dat “die moderator buite die veilige ruimte van die Woord gesprek (wil) voer” en “ontken (dat) Jesus die enigste verlosser is”? Het hy die betrokke RSG-onderhoud deurgeluister of verlaat hy hom op hoorsê?

Die algemene sinode in 2023 het onomwonde bely dat die Bybel God se Woord is, en dit só gelees. Die Skrif het nie uit die hemel geval as ’n versameling los tekste wat ons na willekeur op allerlei sake kan toepas nie, maar is uit antieke kontekste en kulture byeengebring, van sinagoge na klooster aangegee, deur die Kerk as gesagvol erken en in verskillende tradisies vertolk.

Die Gees van God verlewendig dit in ons binneste en roep ons primêr op tot ’n verhouding met Christus, die vleesgeworde Woord. Hý is die hart van God se liefdevolle, genadige openbaring; Hý red ons, nie óns spesifieke Skrifverstaan of eie wetsgehoorsaamheid nie; in Hóm vind ons die weg en waarheid waarin ons eenheid geleë is.

Die uiteindelike vraag vir ons elkeen, in elke eeu en ten opsigte van alle kwessies – ook oor huwelik, homoseksualiteit of hoe ons kerklike meningsverskille hanteer – is dít: Wat sou Jesus nou teenoor hierdie naaste sê of doen?

Dít maak ons versigtiger in ons oordele oor ander, verhoed ons om selfvoldaan van mekaar af weg te stap (terwyl Jesus vir die eenheid van sy Liggaam bid), en roep ons op om in vrede met almal te leef.

Dís die gesindheid waarmee daar deur die afgelope jare in verskeie kerklike konferensies, ringsvergaderings en sinodesittings na standpunte uit Kairos Netwerk of Koinonia-geledere geluister is; volgende week in Bloemfontein wéér.

En dít is die nederige en opregte intensie van elk van die vyf verteenwoordigers uit elk van die tien NG sinodes wat die ASM vorm – Lange se bewering dat “die ASM hulle nie eens aan God se Woord steur nie” is gewoon onwaar.

Kommentaar

Daniel Louw

Jan Lubbe verskil met Gert dat hy ontken het dat Jesus die enigste verlosser is.

Gaan kyk gerus self wat hy tydens die onderhoud gesê het

In ‘n eposgesprek met Jan Lubbe het ek hom ook gevra of ‘n mens ruimte kan maak binne die kerk vir verskillende sieninge oor of redding slegs moontlik deur Jesus Christus is (kyk Gesprek tussen Jan Lubbe en Daniel Louw (Aug 2021)).

In sy antwoord (antwoord 3, punt 6) sê hy dat Jesus nie net gekom het om redding te preek nie, maar dat dit ook gaan oor ‘n geseënde lewe hier op aarde:

Dus, nie (net) die redding en saligheid van my siel met die oog op eendag nie, maar ’n geseënde lewe hier in die teenwoordigheid en ligkring van God

Verder het hy gesê dat hy ook soos Paulus oor hierdie kwessie worstel:

Oor die lotgevalle van die ganse mensdom … antwoord ek dan soos Paulus ook daarmee geworstel het…

Paulus het egter nie oor hierdie kwessie geworstel nie. Indien Paulus oor iets geworstel het, het hy oor die uitverkiesing geworstel: Met ander woorde, of dit die mens is wat die besluit neem om Jesus as verlosser aan te neem, of is dit God wat uit die staanspoor besluit wie gered word en wie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui