Klein groepering? Nee, Christene getuig wêreldwyd

Die volgende brief is geskryf in reaksie op Godsdiensvryheid verkeerd verstaan (Amos van der Westhuizen, 26 Nov 2023).

*******

BRIEF | Klein groepering? Nee, Christene getuig wêreldwyd | Rapport

Rapport, Sondag, 3 Desember 2023

Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein, skryf:

Amos van der Westhuizen (26.11) probeer bewys dat ek die wet op godsdiensvryheid verkeerd verstaan. Nee, dis nie ek wat verkeerd verstaan nie.

Dit is nogal teleurstellend dat Amos, wat ’n skrywer is, opsigtelike gapings in sy beredenering ooplaat. Ek wys kortliks op die volgende:

• Hy suggereer dat ek moedswillig die betrokke wetgewing misbruik. My antwoord is ’n Latynse spreekwoord: “Oor die innerlike motiewe van ’n ander kan jy jou nie uitlaat nie.” Hoe kry jy dit reg om die jaar lange eerlike stryd wat ek binne my geloofsgemeenskap voer, van “male fides” te beskuldig?

• Hy verwys na my kerklike en geloofsverbintenis as ’n “eng geloofsgroepering.”

Dan weet hy klaarblyklik nie dat die Christelike bevolking in Suid-Afrika en die res van die wêreld allesbehalwe ’n klein groepering is nie. Die Gereformeerde tradisie waarin ek staan, word ook in die meeste Westerse lande gevind.

Al die Christelike denominasies het formeel hul kommer oor die haatspraak-wetgewing uitgespreek;

• Nog meer teleurstellend is dat hy sy aksioma berus op die feit dat ek alleen my stryd voer en my as individu op die Skrif en wetgewing beroep, asof die wet op godsdiensvryheid net vir “die breë bevolking” bedoel is. Tóg gebruik hy sy eie individuele reg op vryheid om sy openlike stryd teen die Bybel en die Christelike geloof aan te bied. Hierdie flagrante fout bestaan daarin dat dit nie net ek is wat oor die verhouding tussen godsdiensvryheid en die wet op haatspraak nadink nie.

Dié vraagstuk het inderdaad tot hewige debatte in die regering se kommissievergaderings en die parlement gelei en duisende besware teen die haatspraak-wetgewing is ontvang, op grond waarvan die beoogde wetgewing telkens terugverwys is;

•Dit is jammer dat Amos toegelaat het dat sy emosies by die lees van my skrywe die oorhand gekry het. Anders sou hy gesien het dat ek begin het deur te verwys na ’n prokureur se opsomming van die begrip “haatspraak”; en

• Die spreekwoordelike kersie op die koek is dat hy sy beredenering afsluit met die vraag: ”Het ons hoegenaamd wetgewing oor haatspraak nodig of beperk dit vryheid van spraak onnodig?” Ekskuus, maar dit was dan die motivering vir my skrywe waarteen hy so beswaar het.

Verder bevestig Amos met hierdie aanhaling dat ek die vryheid het (gehad het) om my standpunt te stel. Waarom dan sy onnodige hewige reaksie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui