Koinonia Sinode 2024

Koinonia Sinode het die volgende nuusbrief uitgereik wat ‘n opsomming gee van die tweede Koinonia Sinode.

*******

Koinonia Sinode nuusbrief – Vrydag 20 September 2024

Hiermee ‘n kort samevatting van die tweede Koinonia Sinode van NG Gemeentes wat in Vanderbijlpark gehou is op 4 en 5 September. NG gemeentes wat volgens kerkorde artikel 1 bely dat alles gebou moet word op die Skrif voel toenemend ontuis en word as vreemdelinge in hul eie kerk behandel. Daarom is besluit om weereens vir hierdie gemeentes ‘n byeenkoms te reël vir onderlinge versorging en waar verbondenheid kan plaasvind.

Die formaat

Soos verwag, was die program gestruktureer volgens ‘n agenda wat opgestel was volgens verslae van die sinodale diensgroepe en taakspanne rondom opdragte wat tydens verlede jaar se sitting uitgedeel was. Die kern hiervan het gesentreer rondom die opdrag dat hoofskap van Christus gestalte moet verkry in ‘n gesekulariseerde wereld. Dit is duidelik dat daar relevante uitdagings is vir behoudende gemeentes om die beginsels van die Skrif neerslag te laat vind in ons situasie.

Teenwoordigheid

Daar was ongeveer 70 gemeentes verteenwoordig hetsy deur afgevaardigdes of waarnemers uit feitlik al die streeksinodes. Hierdie opkoms op twee weeksdae is opsigself ‘n sterk aanduiding dat die leierskap
van die NG kerk nie rekening hou met die groeiende behoefte onder lidmate om getrou te bly aan hul
oortuigings en lidmaatsbeloftes nie.

Die term “sinode”

Daar was in die verlede gevoelens dat om as ‘n sinode byeen te kom en die term van “sinode” aan ‘n kerkvergadering te gee omstrede kan wees omdat dit die indruk kan skep van ‘n stelsel binne ‘n stelsel.
Omdat ons geen behoefte het om omstrede te wees nie en eerder net ons reg oor godsdiensvryheid uit te leef is daar tydens die sinode ruim tyd gegee om tydens tafelgesprekke daaroor te besin of die naam “Sinode” behou moet word. Die konsensus besluite was dat dit behou moet word aangesien dit ‘n kategoriale sinode is en nie die plek van enige ander sinode inneem nie. ‘n Kategoriale sinode beteken dat gemeentes spontaan byeen kom omdat dieselfde oortuigings rondom die Skrif, ons gereformeerde erfenis, asook die uitdagings oor bv teologiese opleiding ens gedeel word. Om ‘n vergadering as ‘n sinode te hou is ook nie vreemd aan die tradissie van die NG kerk nie. Daar was al dikwels in die verlede soortgelyke vergadering met bv die benaming jeugsinode gehou. Die vergadering het verder gevoel dat dit die enigste ruimte is vir gemeentes om hul oortuigings en ondersteuning amptelik te kan bevestig.

Aanpassing van die Kerkorde

Een van die belangrike sake waarna gekyk is was hoe die Kerkorde aangepas en verander is om as ‘n instrument gebruik te word om gemeentes wat nie met die Algemene Sinode se besluite saamstem nie, stil te maak. Hierdie is ‘n verontrustende saak veral as gekyk word na die aanpassings wat vanaf 2019 tot
2023 gemaak is en daar is stemme wat dit duidelik stel dat van hierdie aanpassings en veranderings nie
versoenbaar is met dit wat deur arbeidswetgewing bepaal word nie. Daar is ook uitgewys dat tot voor
2023, enige lidmaat direk beswaarskrifte oor ‘n omstrede saak aan die AS kon rig. Dit is nou egter so verander dat dit eers deur streeksinodes moet gaan. As so ‘n beswaarskrif deur ‘n lidmaat of kerkraad opgestel word en eers na die plaaslike sinode gaan, is die probleem/ risiko dat die kommentaar van die
ligaam die objektiewe ontvangs kan beïnvloed. Hierdie is nie ‘n denkbeeldige gevaar nie want sinodes
het al in die verlede baie omstrede en verkeerde besluite geneem. Die stem van gelowige lidmate en gemeentes kan nie so hanteer word nie.

Teologiese opleiding

‘n Volgende saak op die agenda het gehandel oor teologiese opleiding. Hierdie is ‘n ernstige besorgdheid want in die lig van die groot aantal predikante wat emeriteer en die feit dat baie min nuwe predikante afstudeer is dit ‘n vraag waar gemeentes predikante gaan kry. Skrifbehoudende gemeentes neem hierdie saak baie ernstig op want dit lyk asof die pad na die bediening tans veral deur die verkorte kursus in Wellington loop en die stelsel het afgesien van voordele, ook ernstige nadele. Daarmee saam gaan die behoefte om Skrifbehoudende predikant ook toe te rus met voortgesette teologiese opleiding of VTO. Daar is alreeds toestemming verkry vir punte-erkenning vir sulke leraars wat hierdie opleiding deurloop en hierdie geleenthede word uitgebrei.

KLIK HIER om meer te lees oor die VTO geleentheid wat op 9 Oktober 2024 aangebied word.

Viktimisasie

‘n Saak van groot omstredenheid vir die Koinonia sinode is waar gemeentes en predikante wat nie met die besluite van die AS saamstem nie toenemend vervolging en viktimisasie beleef. Verskeie voorbeelde is tydens die vergadering genoem en op ‘n stadium het die Sinode net soos in die vroeë kerk spontaan tot voorbidding oorgegaan. Daar was ‘n beskrywingspunt aanvaar om die AS te versoek om hierdie vervolging en boelietegniek te staak.

Mediasie

Daar was ook weer kennis geneem van die weiering deur die leierskap van die NG Kerk oor gespreksvoering. Die vergadering moes met hartseer kennis neem dat die tyd om te praat waarskynlik verby is en dat Koinonia Sinode gedwing word om toenemend verantwoordelikheid vir die huishoudelike sake te neem. Die deur is egter nie in ongeloof toegemaak asof die moontlikheid van ware bekering en die uitnodiging tot die proses van mediasie nie meer bestaan nie.

Die pad vorentoe

Elke gemeente is volledig liggaam van Christus (ekklesia completa). Dit beteken dat elke gemeente eie besluite neem in die lig van wat die beste vir hul in hul eie omstandighede is.

Hoogtepunte

Van die hoogtepunte sluit in die besonderse toewydingsgeleentheid wat vanjaar deur Prof Dolf Brits hanteer was en gefokus het op Jesus Christus as die Een wat was en is en wat kom en die verteenwoordigers van Veritas en die moontlikheid om die leraarskorps te ondersteun. Die Sinode was afgesluit deur Dr Brian de Vries, senior dosent aan die Mukhanyo Teologiese Kollege. Hy het gemeentes uitgedaag om as plaaslike gereformeerde gemeentes hul getuienistaak in die wereld uit te leef.

Seënwense

Anton Knoetze

(nms KSDG)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui