Koinonia Sinode reageer op NG Kerk Namibië wat wegbreek

Donderdag 27 Maart 2025

Dankie NG Kerk Namibië.

Ons as Koinonia Sinodale Diensgroep (KSDG) eer julle vir die styl waarin julle gesprek gevoer het met die Algemene Sinode en die ASM.

Dit was van meet af duidelik dat God se onfeilbare Woord julle gelei het in julle besluite. Julle het moeite gedoen om die AS en ASM tot bekering te roep en terug te roep tot ‘n gereformeerde verstaan en uitleg van die Bybel. Saam met julle bely ons dat hierdie gereformeerde verstaan van die Bybel uitgedruk is in die Drie Formuliere van eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Dordtse Leerreëls en Heidelbergse Kategismus).

Ons betreur, dat optrede en besluite van die AS en teologiese opleiding in die kweekskole dit nodig gemaak het vir julle om ‘n Matteus 18 pad van tug te loop met die AS en die ASM.

Ons is dankbaar dat julle in ‘n gesindheid van liefde en vriendelikheid die gesprekke gevoer het. Ons eer julle vir julle geloofsmoed. Julle het gekies om eerder aan God as aan mense gehoorsaam te wees (Handelinge 4:19-20).

Die besluit om artikel 37 in werking te stel was ‘n besluit wat julle biddend voor God en in die lig van Sy Woord geneem het. Ons besef dat dit primér vir NG Kerk

Namibië gegaan het oor ‘n ernstige gehoorsaamheid aan God se Woord.

Ons is oortuig julle dapper geloofsbesluit was nie eerstens soos sommige nou in die media probeer voorgee, maar net om te kies “om in hulle eie konteks nuut te soek na wie hulle is” nie.

Ons is saam opgewonde juis omdat ons kan sien dat Namibië Sinode mos deeglik bewus is van julle identiteit in Christus en Sy Woord. NG Kerk Namibië het met erns gekies vir God se Woord.

Ons wens julle voorspoed toe op julle pad en wil vir julle Sagaria 4 en veral verse 6 en 10 gee. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige”. En: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie”.

Ons sal baie graag met julle persoonlik in gesprek wil gaan.

Seënwense

Anton Knoetze namens uitgebreide KSDG

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui