Kommentaar: Dubois du Toit in gesprek met Frederick Marais

Op 7 September 2021 het Dubois du Toit, ’n jong predikant in Namibië, ’n onderhoud met Frederick Marais, voorsitter van die algemene kuratorium van die NG Kerk, gehad:

‘Ons is ’n Belydeniskerk’: In gesprek met Frederick Marais (7 Sep 2021)

Die algemene kuratorium is oorhoofs verantwoordelik vir teologiese opleiding in die NG Kerk.

Hierdie video is die laaste video van ’n reeks van vier videos. Hier volg die vorige drie videos:

  1. Ons is ’n Belydeniskerk – Hoekom dan die fragmentering? (17 Aug 2021)
  2. ‘Ons is ’n Belydeniskerk’: Weet die teologiese fakulteite dit? (25 Aug 2021)
  3. ‘Ons is ’n Belydeniskerk’: Sosiale geregtigheid of God s’n? (2 Sep 2021)

Hierdie onderhoud moet veral in die lig van die tweede video op 25 Augustus 2021 gekyk word (13 dae voor hierdie onderhoud) waar Dubois getuienisse van teologiese studente voorlees (kyk bylaag) wat ’n goeie idee gee wat sommiges se ervaring is by die teologiese fakulteite.

Daar moet ook genoem word dat Frederick Marais in April hierdie jaar vir ds Melanie Thirion baie sterk verdedig het toe sy tydens ’n legitimasiediens na God verwys het in die vroulike vorm (kyk Voorsitter van kuratorium: God kan ook ‘n vrou wees).

Kyk ook Teologiese opleiding: Gesprek tussen dominee en voorsitter van algemene kuratorium waarin Kerkbode vir Dubois du Toit ’n paar vrae gevra het ná hierdie onderhoud.

Ongeveer twee weke later verskyn daar ’n artikel oor Frederick in Kerkbode waar hy basies dieselfde sê as in hierdie onderhoud (kyk #innovasie: Die meeste ooit kan teologiese opleiding kry (22 Sep 2021)).

Hier volg sommige dele uit die onderhoud met kommentaar in rooibruin blokhakies:

******

Dubois: (1:41) Ons het ’n vorige keer bietjie saam gepraat, ’n verkennende gesprek gehad en nou na afloop van die reeksie oor die belydeniskerk het hy (Frederick) gesê hy sal van die punte aanspreek.

Dubois: (4:57) Ek weet nie of jy (Frederick) al drie die videos gekyk het wat ek in die reeksie gedoen het nie?

Frederick: Ek het so twee en ’n half gekyk. So ek het ’n goeie idee.

[Kommentaar: Dit is belangrik om hiervan kennis te neem. ’n Mens neem dus aan dat hy dan wel die getuienisse van die studente in die tweede video onder oë gehad het.]

Frederick begin deur die volgende vier punte van bespreking te lys:

  1. Kan mens predikante effektief oplei in ’n sekulêre universiteit?
  2. Fakulteite gee nie genoeg aandag aan die geloof nie. Liberale teologie kalf die geloof weg.
  3. Fakulteite bedryf akademiese teologie. Studente word blootgestel aan kritiese denke.
  4. Kan die kerk toesig hou oor NG dosente wat aan die univerteit verantwoording doen?

Frederick: (14:40) Ek onthou in ons vorige gesprek het jy (Dubois) vir my verduidelik hoedat jy in ’n klas gesit het en daar is goed oor die Bybel gesê en jou woorde was: “En ek het niemand gehad met wie ek dit kon deurpraat nie.” En ek het onmiddellik vir jou gesê: ons skuld jou ’n verskoning.

[Kommentaar: Dit is ’n baie mooi gebaar, maar dit gebeur vandag steeds met behoudende teologiese studente. Trouens, behoudende studente ervaar blatante diskriminasie teen hulle (kyk getuienisse [37]-[41]). Daarom hou hulle ’n lae profiel uit vrees dat hulle nie gelegitimeer sal word nie. Ek sien dus met verlange uit om te sien of dit gaan verander ná hierdie onderhoud.]

Teologiese fakulteite verander na ekumeniese fakulteit (15:00)

Frederick: (15:00) In die vorige eeu (1960-2000) was die drie teologiese fakulteite in volledige beheer van die NG Kerk. Geen ander kerk het dit gehad nie. Dit was moontlik [gemaak] as gevolg van die kerk se verhouding met die destydse regering wat ingesluit het die kondonering en die ondersteuning van apartheid. Met die koms van demokrasie was hierdie verhouding nie volhoubaar nie en het die drie fakulteite stelselmatig ekumeniese fakulteite geword … In daardie tyd is studente nie goed genoeg begelei nie, want die kerk het toe nog nie ’n kerkeie, of ’n seminarium, ontwikkel waar studente binne verhoudings kon tuiskom en waar hulle hierdie soort vra kon vra nie.

[Kommentaar: Dit is alles goed en wel, maar dit kan tog beswaarlik as ’n verskoning aangebied word vir enigiets. Ons is 21 jaar later en daar is kwansuis nou kerkeie seminariums by die fakulteite (kyk later), maar as jy na die getuienisse kyk (wat Frederick wel gesien het), dan is dit baie duidelik dat niks in wese verander het nie. Behoudende studente voel steeds (of selfs meer) bedreig en dat daar nie eers vryheid van spraak vir hulle is nie.]

Frederick gee ’n verdere vier punte van bespreking (17:30)

Kriteria van die algemene kuratorium in die akkreditasie van Sentra vir Teologiese opleiding

  1. Wat is die sentrum se algemene teologiese oriëntasie geskiedenis ens ten opsigte van gereformeerde teologie en die Belydenisgrondslag van die NG Kerk.
  2. Wat is die sentrum se kapasiteit ten opsigte van bestuur en personeel om kurrikula te ontwikkel, kursusse te doseer en te assesseer.
  3. Wat is die presensie van NG Kerk dosente by die instellings en die inspraak van die NG Kerk by die aanstelling van dosente.
  4. Is die sentrum geakkrediteer by die Departement van Hoër Onderwys – met ander woorde het hulle die lisensie om onderrig te kan gee en wettige kwalifikasies aan te bied op die NQF-vlakke soos deur die kerk vereis.
  5. Is daar ruimte vir die kerk se program vir bedieningsvorming soortgelyk aan dié van die seminarium?

Frederick: (19:20) Kerke moet hulself die vraag afvra: wil hulle hê hulle opleiding moet akademies geakkrediteer wees? Wil hulle hê daar moet in hulle kerk mense opgelei word wat eendag kan doseer aan ons fakulteite of elders in die wêreld? As jy dit wil hê dan moet jou instelling geakkrediteer wees by Hoër Onderwys. Jy moet op die sogenaamde NQF-vlakke kan oplei. Die NG Kerk het baie hoë standaarde – ons lei mense op tot NQF-vlak nommer 9.

[Kommentaar: ’n Mens kan verstaan dat predikante ’n graad wil hê wat deur universiteite erken word – vir sommige lidmate in die kerk is dit selfs amper ’n voorvereiste anders het hulle minder respek vir die predikant, maar indien dit beteken dat jy instansies moet ondersteun waar die Bybel afgebreek word en waar studente hulle geloof verloor, dan moet ’n mens mooi dink. ’n Mens moet Johannes 7:14-15 in gedagte hou: (14)Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. (15)Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!” Hieruit lei ’n mens af dat Jesus self nie hoogs geleerd was nie, tog het Hy ’n reuse impak gemaak. Die vraag is, hoe belanglik is ’n graad, veral as jou opleiding jou nie versterk in jou geloof nie?]

Frederick: (21:39) By Stellenbosch is daar tans 10 dosente wat by die fakulteit doseer. Daardie dosente is almal lid van die dosenteraad van die kuratorium van die NG Kerk. Hulle is ook almal geordende leraars van die kerk en tans gekoppel aan gemeentes. Soos jy en soos ek en alle leraars van die kerk staan hulle onder dieselfde toesig en kontrole as enige ander leraar. ’n Mens sou eintlik kon sê in ’n sin is die kuratorium hulle kerkraad. As mense probleme het met wat jy preek of oor jou leer of jou lewe, soos wat ons formulier sê, dan sou hulle waarskynlik eers met die kerkraad in gesprek tree en in hierdie geval dieselfde met ’n dosent met die kuratorium in gesprek tree. Indien dit ernstiger raak en mense voel hulle kry nie antwoorde nie kan die proses aan die kerklike tug kant gevolg word soos met enige ander leraar in die kerk.

[Kommentaar: Eerstens, kom ons kyk wie is hierdie 10 dosente:

  1. Louis Jonker: Uit ’n onderhoud op RSG wil hy ruimte maak daarvoor dat Moslems gered kan word. Hy beweer wel dat hy in Jesus se liggaamlike opstanding glo, maar daar is altyd ’n “maar” ter sprake wanneer hy hierop antwoord.
  2. Peter Nagel: In die artikel Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus Is Not θεός in 2019 bevraagteken hy openlik die godheid van Jesus en uit ’n onderhoud op RSG is dit baie duidelik dat hy ’n universalis is en dat die Bybel nie werklik gesag dra nie.
  3. Nadia Marais: Op 13 September 2021 (minder as ’n week ná hierdie onderhoud) het sy op RSG haar steun gegee vir aborsie en gesê dat dit nie die kerk se plek is om aan ’n vrou voor te skryf wat sy met haar liggaam mag maak nie.
  4. Cas Wepener: Vir hom is die Bybel ’n “kultiese boek” vol “mites”.
  5. Julie Claassens: Sy is ’n medeskrywer van die boek Kan ons maar nie net saambly nie? waarin daar reeds in 2010 die vraag gevra word of die huwelik die enigste struktuur is waarin ’n man en meisie mag saamwoon.
  6. Robert Vosloo (Julie Claassens se man)
  7. Ian Nell
  8. Marius Nel (Hierdie is nie die medeskrywer van die boek Homoseksualiteit en die Bybel (Sep 2016) nie.)
  9. Christo Thesnaar
  10. Johan Cilliers

Al hierdie teoloë staan onder toesig van Frederick Marais en ten spyte van sommige van hulle openbare uitsprake, word niks aan hulle gedoen nie.

Tweedens, hy praat van die kerklike tug kant. Dit blyk om ’n futiele oefening te wees – kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap.]

(25:27) As enige dosent van die NG Kerk wat ’n geordende leraar is (of hy aangestel is deur die fakulteit en of hy aangestel is deur die kerk, maak nie saak nie) hom of haar sou skuldig maak, soos enige predikant, van leerdwaling, sal die dosent se legitimasie in die kerk in gedrang kom indien die dosent in ’n uiterste geval, skuldig bevind word. Soos met my en jou, sal dit dieselfde wees. Indien dit sou gebeur dat daar argumentshalwe ’n dosent van die NG Kerk aan ’n fakulteit skuldig bevind word aan leerdwaling dan sal daardie kuratorium nie anders kan, op grond van die kriteria wat ek vir jou hier wys, om te sê nou moet ons weer dink oor ons verhouding met hierdie fakulteit.

(26:45) Ek is daagliks in gesprek met dekane en dosente. Lank voordat ons by so ’n punt kom sal ’n kuratorium waarskynlik self sê hier is ’n probleem en ons moet aandag hieraan gee. En ons doen dit ook. Ek sal later vir jou voorbeelde wys waar direk oor die kurrikulum en oor kursusse met die fakulteit in gesprek getree het.

[Kommentaar: Soos reeds gesê: die feit dat Frederick nie teen sommige van hierdie 10 dosente optree nie, beteken dat hy hulle uitsprake kondoneer.]

(27:35) Ek weet daar is mense wat met die leertugsake wat daar in Pretoria was verskillende ervarings gehad het. Ek was glad nie daarby betrokke nie. Ek kan uit die aard van die saak glad nie daarop kommentaar lewer nie.

[Kommentaar: Dubois het vroeër verwys (24:03) na die leertugsake in 2006 by Pretoria waarvan niks gekom het nie, dus is dit baie voor die handliggend dat Frederick hier verwys na Ferdie Mulder se saak. Hieroor sê Frederick dat hy nie daarop kommentaar kan lewer nie omdat hy nie daarby betrokke was nie. Is dit hoe min hy belangstel in wat by die teologiese fakulteite gebeur? Het hy dus nie eers Ferdie se boek, Opgestaan, gelees nie? Het hy geen opinie daaroor nie, omdat hy “nie daarby betrokke was nie”? Ek vind dit uiters moeilik om te glo, veral as jy in ag neem dat hy later in die onderhoud sê: “Dubois, ek eet, slaap, leef, drink teologiese opleiding, 24/7. Ek praat hieroor, ek skryf hieroor.”]

Dubois: (32:06) Dubois verwys na die nuwe embleem van die teologiese fakulteit by Pretoria en die besluit om nie net interdenominasioneel te gaan nie maar ook intergodsdienstig. [Kyk UP Fakulteit Teologie stel godsdienste gelyk (Nov 2019) en UP stel hulle kurrikulum transformasie bekend (18 Aug 2021).] Hy vra aan Frederick wat sou gebeur as hierdie tendens ook by Stellenbosch posvat.

Frederick: (33:22) Ek gaan wel vir jou sê: ons akkrediteer opleiding by ’n instansie waar die belydenisgrondslag van die kerk onverbloemd geleer mag word binne ’n ekonomiese sisteem. As ons by ’n punt sou kom waar dit nie meer kan gebeur nie en selfs waar die etos van die instelling nie meer Christelik is nie, het ek persoonlik ’n probleem daarmee. Ek verstaan dat daar ’n behoefte kan wees vir teologiese opleiding van mense van al die verskillende godsdienste in ons land. Ons moet daardie regte vir almal gee…. Dit sal nie net ’n probleem wees vir die NG Kerk nie, maar dit sal ’n probleem wees vir al ons lidkerke hier op Stellenbosch, want ons is Christelike kerke. Ons staan nie in vyandskap met ander godsdienste nie, maar ons is nie Moslems nie. Ons is Christene. Daar is grense. Ons is nie op hierdie stadium by daardie grense nie. Ons kyk baie noukeurig saam met die fakulteit dat ons binne die institusionele ruimte wat die staat ons gee as kerk en kerke, ons eie partikuliere soort opleiding kan doen.

Dubois: (35:20) Dus monitor julle die situasie en as dit op ’n stadium lyk of ons gereformeerde teologie in gedrang kom dan kyk julle hoe ’n mens dit kan aanspreek.

Frederick: (35:36) Dit is van alle kerke waar. Ons het ’n ooreenkoms. Die ooreenkoms is gebaseer op ’n bepaalde teologiese aanslag en op ’n bepaalde etos. As dit radikaal sou verander moet ons weer na die ooreenkoms kyk en dan kan daar by ’n punt gekom waar ons sê: dit raak nou vir ons baie moeilik. Ons is egter glad nie by so punt op hierdie stadium nie.

[Kommentaar: Frederick sê hiermee dat hy nie bekommerd is dat ons gereformeerde teologie in gedrang is nie. Dit is ten spyte van die onlangse getuienisse in Dubois se video ‘Ons is ’n Belydeniskerk’: Weet die teologiese fakulteite dit? 13 dae voor hierdie onderhoud, wat hy self onder oë gehad het. In plaas daarvan dat hierdie getuienisse hom regop laat sit, hou hy steeds aan om die teologiese fakulteite te verdeding.]

Ek wil nie nou kommentaar lewer oor Tukkies se nuwe goed nie. Ek het vir jou gesê ons sal dit bestudeer en by die algemene kuratorium daaroor praat.

[Kommentaar: Soos vroeër met Ferdie Mulder se saak, vermy hy die moeilike gesprekke. Die boodskap van die dekaan van die teologiese fakulteit van UP, Prof Jerry Pillay (kyk UP stel hulle kurrikulum transformasie bekend, 18 Aug 2021) behoort vir Frederick slapelose nagte te gee. ’n Mens kry egter nie die idee dat dit hom bekommer nie.

Oor die logo van die studentekomitee: Intussen het Dubois vir Hannes Windell gekontak wat tans die voorsitter van die kuratorium van Tukkies is. Hy het basies dieselfde gesê as wat Prof Ernest van Eck in 2019 gesê het: Die logo behoort tot die Studentekomitee. Dit is nie die logo van die Fakulteit nie. Dit is egter nou amper twee jaar later en daardie logo word steeds gebruik. Is dit hoe min die kuratorium omgee oor die feit dat die studentekomitee intergodsdiens promoveer?]

Waaroor is Frederick bekommerd?

Dubois: Dubois vra vir Frederick oor die kommer wat hyself en ander het oor wat by die fakulteite oorgedra word en vra of Frederick hierdie bekommernis deel.

Frederick: (36:58) Waaroor is ’n mens bekommerd? Dubois, ek eet, slaap, leef, drink teologiese opleiding, 24/7. Ek praat hieroor, ek skryf hieroor. As jy vra of ek bekommerd is – die hele tyd! Ek is die hele tyd hiermee besig. En so al my ander kollegas by die ander kuratoria, insluitende by julle in Windhoek. … Ons is diep, diep, diep geïnvesteer hierin. Ek wil ook sê my kollegas wat doseer. Ons het maandeliks, weekliks, gesprekke oor spesifieke studente oor leerinhoud, oor die verbetering daarvan, oor God se roeping vir ons in hierdie wêreld. Dit is wie ons is.

Eerste bekommernis: (38:15) Ek moet sê die gesprekke wat ek met jou oor ’n tyd lank het en ook met ander studente maak my toenemend bewus van die kompleksiteit van die samelewing en as ’n 18-jarige student by ’n fakulteit teologie opdaag nadat hy of sy deur ’n kategese proses is en belydenis van geloof afgelê het en beland by ’n fakulteit en die blootstelling kry aan problematieke van ons samelewing… Ek sou te jonk gewees het om dit te hanteer. So, ek is bekommerd daaroor. … Die algemene kuratorium kyk hierna. Ons is besig om intensief hierna te kyk. Ek is nie seker of ons nie te vinnig studente te veel blootstel aan te veel kritiese nadenke nie. En ek gaan net sê: kritiese nadenke is nie ’n probleem nie maar jy moet dit op ’n tyd en manier neersit dat dit nie geloof ondergrawe nie. …

[Kommentaar: In Wie moet by wie in SA leer? (9 Feb 2019) bevestig Cas Wepener hierdie kwessie self met die volgende woorde:

“Vir ’n klompie tref dít wat hulle in die lesinglokale kry soos ’n landmyn. Hulle word uit hul bestaande sekerhede losgeruk. Dié wat ’n paar van die stukke kan optel, registreer ná ’n tyd vir ’n ander kursus, en dié wat nie kan nie, staak hul studies.”

Frederick is heeltemal verkeerd as hy dink dat kritiese denke die probleem nie. Om krities te dink is goed – dit is uiters belangrik om te weet watter argumente liberaliste, Nuwe Hervormers en ateïste gebruik. Die probleem is, die argumente van hierdie groepe word as feite aan studente aangebied. Hoekom leer studente nooit die teenargumente nie? Dit is ’n feit dat apologetiek nie deel van die kurrikulum is nie. Daar word nie eers ruimte gelaat daarvoor nie (kyk byvoorbeeld UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit). Hoekom nie? Ateïste en liberaliste se argumente word meestal as feite aangebied aan goedgelowige, naïewe studente wat oor die algemeen hulle dosente se kennis vertrou. Kyk byvoorbeeld Thomas Römer vergiftig teologiese studente by Tukkies. Frederick sê dat die algemene kuratorium kyk hoe en wanneer kritiese denke aan studente aangebied word, maar wat gaan dit help as die kursus inherent verdoem is om studente se geloof in die Bybel af te breek?]

Tweede bekommernis: (40:32) (Frederick lees dit af) wanneer ons in teologie onsself blootstel aan die ingewikkelde sosiale probleme – nou praat ons van ekonomie, van gender, seksualiteit, gesondheid, dit is komplekse goed – is ek bekommerd dat dit nie genoeg verband hou met ons verstaan van God en die inhoud van ons geloof nie. Dit is hoekom jy teoloë wil hê by openbare universiteite dat hulle die visie van die evangelie kan dra binne die fakulteit ekonomie… Ek voel dikwels dat wanneer ons dit doen ons nie teoloë bly nie, en ek sluit myself in. Ons sal moet leer om in ’n sekulere samelewing, waar geloof van enigiemand nie ’n voorkeur het bo ander nie, om te kan getuig oor Jesus Christus binne die onregte van die samelewing op só ’n manier dat ons trou bly aan die kernwaarhede van die Evangelie.

[Kommentaar: ’n Mens wonder wat hy sien as die kernwaarhede van die Evangelie. Is Jesus se maagdelike verwekking en liggaamlike opstanding nog deel daarvan?]

Derde bekommernis: (42:20) My derde bekommernis is ons beoefen teologie vakkundig. ’n Student kom die vakke deur, maar die student het nie ’n verstaan van die “plot” nie van die Evangelie nie. Skepping, die geskiedenis, die verlossing, Jesus Christus, kruisiging, opstanding, wederkoms, die kerk. Hoe pas hierdie goed bymekaar in?

[Kommentaar: Dit raak veral moeilik as jy geleer word dat die Bybel deur sogenaamde voorwetenskaplike mense geskryf is en dat hulle nie eintlik bedoel het wat ons uit ’n eenvoudige lees van die Bybel verstaan nie.]

Vierde bekommernis: (43:22) Ek is bekommerd dat… toe ek ’n student was, was Coenie Burger my studenteleraar. Ek het ure by hom gesit en hom gepeper met vrae. Dit was nog in die tyd toe die fakulteit in beheer van die kerk was. Om te praat oor die integrasie van teologie en geloof. Dit is nie ’n maklike ding nie en ek is nie altyd seker dat ons prosesse in plek het dat ons mentors werklik verstaan hoe belangrik hulle werk is nie.

Vyfde bekommernis: (44:15) Ek is bekommerd dat daar ’n agterdog is teenoor akademiese teologie. Ek verstaan dit: die gewone lidmaat het spesifieke geloofsbelewenisse en kom kerk toe om hulle geloof te voed en uitgestuur te word in die wêreld in. Vir hulle om te verstaan hoekom daar teologie is en wat die belangrikheid daarvan is, is moeilik, veral as hulle beleef dat dit oor hulle kop gaan of dat teoloë hulle met iets besig hou wat met niks konnekteer in hulle wêreld nie. Ek verstaan dit, maar ek is bekommerd dat ons ’n anti-akademiese stem hoor in die kerk wat sê ons moet net naïef glo en dan sal alles regkom. Hierdie goed staan nie teenoor mekaar nie. Die Here het vir ons ’n kop gegee en hy het vir ons verstand gegee en ons moet dit ontwikkel en ons moet “rigorously” akademiese debat kan voer, maar as dit nie geaard is binne ’n etos van kinderlike geloof nie is dit ’n probleem. Ek dink daardie spanningsveld het nou te wyd geraak en ons moet hom nou nader aanmekaar kry.

[Kommentaar: Weereens is Frederick verkeerd: Hy wil voorgee dat mense wat iets teen die teologiese fakulteite het naïef is, anti-akademies is en dat die teologie oor hulle koppe gaan. Dit is hoegenaamd nie die probleem nie. Die lidmate wat iets teen die teologiese fakulteite het is juis denkende mense wat goed besef dat die fakulteite besig is om ’n eensydige liberale teologie aan jongmense as die waarheid aan te bied.]

Sesde bekommernis: (48:00) My laaste een is: ek is bekommerd daaroor dat jy die vakke kan deurkom maar jy kan nie bid nie. In my tweede jaar het die kuratorium besluit die studente bid nie genoeg nie. Hoe hulle dit agtergekom het weet ek nie maar ek dink dit was redelik waar. Wat dink jy doen die kuratorium toe? Ons het lesings gehad oor gebed en ek kan nie onthou of ons tydens daardie lesings gebid het nie.

Dubois: (49:36) Ek dink ek het ook vir jou gesê, ek het op ’n stadium in ’n klas gesit … nou open ons die klas in gebed en jy kry die ervaring: maar wie is hierdie God na wie toe ek bid nadat Sy Woord so gedekonstrueer is?

[Kommentaar: Dubois sê dit tereg: As daar so krities en skepties na die Bybel gekyk word, dan beteken dit ook dat jy eintlik niks van die God in daardie Bybel weet nie. Hoe kan jy dan tot Hom bid?

Verder, onlangs was daar ’n video oor die Universiteit van Pretoria se kurrikulum transformasie (kyk UP stel hulle kurrikulum transformasie bekend). Die idee wat ’n mens kry as jy luister na die dekaan van die teologiese fakulteit, Jerry Pillay, is dat daar meer gefokus word op dekolonialisering, diversiteit, transformasie en ’n aksie teen apartheid en Afrikaner nasionalisme eerder as dat daar gefokus word op gereformeerde teologie. Frederick moet tog sekerlik hiervan kennis dra. Noem hy dit nie ook as ’n bekommernis nie?]

Oor die seminariumprogram

Frederick: (50:30) Ons het besef ons moet naas die fakulteit ook ’n kerkeie program hê waar die toe-eiening van die geloofsinhoude en die akademiese inhoude kan plaasvind. In ons geval en ook by Bloemfontein is daar ’n seminarium ontwikkel en by Tukkies noem hulle dit kerkeie opleiding. Studente skryf in vir hulle akademiese grade, maar hulle skryf ook in as studente by die seminaria. En daai twee goed loop gelyktydig en studente moet altwee hierdie komponente voltooi om gelegitimeer te word. … En dit gebeur. Volgende week het ons weer gesprekke met studente.

[Kommentaar: As jy na die getuienisse van studente luister is dit baie duidelik dat hierdie seminariums nie veel help nie.]

Ekologie van opleiding (vier fokus areas)

Frederick wys ’n prentjie met die opskrif “Missionale bedieningskapasiteite”. Daar is drie subopskrifte:

  1. Wie ek is en word
  2. Wat en hoe ek glo
  3. Wie en hoe ek dien

1. Etos: Wie is ek en word ek?

(53:04) Doen ons genoeg om studente te help om ’n bepaalde etos te ontwikkel?

Verdiep die studente hulle ten spyte van ’n tydsgees van selfverheerliking en selfvervulling in hulle geloof dat hulle dapper genoeg is om hulle verderf en sondigheid te kan bely en kan getuig van hulle verlossing in Jesus Christus? In nederigheid hulle roeping opneem en kan bely dat die drie-enige God hulle geroep het en stuur na die wêreld en beoefen hulle gewoontes van die geloof om hierdie roeping in stand te hou?

2. Logos: wat en hoe ek glo

(56:31) Is hierdie student vanweë die totale ekologie van opleiding, verdiep in die radikaliteit en die skoonheid van die volle omvang van die Evangelie? Is hulle geoefende studente van die Woord omdat die Woord in alle opsigte betroubaar is (1 Timoteus 4)? Is hulle nederige, vreeslose verkondigers van die Evangelie, tydig en ontydig? Is hulle geanker in die tradisie van die gereformeerde leer en die belydenis van genade alleen, geloof alleen, Woord alleen, net Christus en aan God alleen die eer? Is hulle gegryp deur die vrye genade en verlossing en die gelykwaardigheid van alle mense soos die Dordtse Leerreëls ons leer? Aanvaar hulle en leef hulle vanuit die geloof in die drie-enige god soos geopenbaar in Jesus Christus, met die wonder van die menswording van God in Christus? Die wonder van die selfopofferende lewe van Christus soos finaal geopenbaar aan die kruis? Die wonderbaarlike liggaamlike opstanding van Jesus Christus soos die Skrif daarvan getuig. Die hemelvaart en die regering van Christus oor die ganse skepping en die ganse geskiedenis van waar Hy weer kom om die koninkryk finaal te laat deurbreek? Glo ons dat ons as twee of drie in sy naam vergader Christus lewend teenwoordig is en sy kerk regeer?

[Kommentaar: Wat ’n pragtige belydenis. Die vraag aan Frederick is: moet studente wat hierdie dinge (soos die liggaamlike opstanding) nie glo nie gelegitimeer word? Of deel Frederick ook die ruim huis benadering, soos Jan Lubbe, waarmee ek onlangs ’n gesprek gevoer het?

Volgens een van die getuienisse glo 80% van die fakulteit nie in die opstanding of maagdelike verwekking van Jesus nie (kyk [02], [07], [25], [36]).

En word die vak Nuwe Testament aangebied “om ’n groep dominees op te lei wat nie in sonde of die bonatuurlike glo nie.” (kyk [11], [12]).

Verder word die Dordtse Leerreëls gebruik om te redeneer vir gelykwaardigheid van alle mense. Nadia Marais het egter in Jesus diskrimineer nié (3 Sep 2018) presies dieselfde fout gemaak. Chris van Wyk het haar in Die Dordtse Leerreëls in gedrang reggehelp, maar die kuratorium het vir Nadia verdedig (kyk Kuratorium vra respekvolle gesprek (20 Sep 2018)). Frederick gaan egter voort met hierdie gedagtegang.

Al hierdie dinge in ag geneem, bly hierdie belydenisse bloot dolleë woorde, ‘n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal…]

(59:50) Nou sit die student in ’n klas. Die dosent verduidelik verskillende leerstellige posisies oor die openbaringsleer. Hoe mense dink oor die Bybel. Aan ’n ekumeniese fakulteit is dit wat gaan gebeur. Die student gaan blootstelling hê. Die kuratorium gaan bekommerd raak as die betrokke dosent wat dit doen neer kyk op die gereformeerde hermeneutiek en die gereformeerde skrifbeskouing. Die kuratorium gaan nie sê: moenie die ander teorië verduidelik nie. Dit is eintlik al lankal so. Maar nou moet ons verder gaan. Nou moet ons sê hoe verpraktiseer jy dit in die bediening en in jou eie lewe? Wat sê die Skrif: ons eie almal buig voor die gesag van die Skrif: hoe lyk dit? Wat doen ons as ons dit doen?

[Kommentaar: Weereens, dit is goed om aan verskillende standpunte blootgestel te word, maar dit raak ’n reuse probleem as ons eie NG dosente dit nie weerlê nie, maar saamstem daarmee.]

Dubois: (1:01:58) Hierdie goed lyk verskriklik mooi soos wat jy dit vir my daar gegee het. Met kan 100% daarmee saamstem wanneer jy jou eie verstaan van dit daar inlees, maar op die ou end is julle behoudend teenoor die ruim huis siening van die NG Kerk wat ’n probleem is vir behoudende ouens. Daarom, so mooi soos hierdie lyk, soveel soos ’n mens daarmee kan saamstem kan hierdie nogsteeds problematies wees.

Frederick antwoord nie op hierdie stelling nie.

Frederick: Ek wil hê jy moet weet wat is die kriteria wat die kuratorium ooreengekom het met die kerk. Ek haal aan uit die beleid van die algemene kuratorium soos goedgekeur deur die Algemene Sinode. Baklei hiermee. Moenie baklei met ’n uitspraak van ’n dosent hier of ’n boek wat ’n student daar gelees het nie.

[Kommentaar: Dit is verstommend dat Frederick dít van behoudendes verwag. In Reëls help niks as jy dit nie toepas word gewys dat jy nie vrygespreek sal word bloot op grond van die reëls wat op papier staan nie. Jy sal aan ’n hof moet bewys dat jy ook die reëls afdwing anders is die reëls nie eers die papier werd waarop dit geskryf is nie. En weereens ignoreer Frederick al die studente se getuienisse wat Dubois twee weke tevore uitgelig het.]

(1:03:22) Wie en hoe dien ek?

(1:04:10) Hierdie geloof wat hierbo bely is, sal beliggaam in grenslose diens en pastorale liefde aan hulle wat sonder hoop in die gemeenskap leef. Dat ons in navolging van Christus ons amp sal opneem en vreesloos sal getuig teen enige vorm van onreg en ongeloof. Dat ons sal bou aan brue om die mure van selfsug en eiebelang te oorstyg en af te breek. Dat ons die grammatika van die evangelie, daardie woordeskat vir ons ’n grammatika sal gee om brue te bou sodat mense in hierdie gruwelike tyd van onreg en van korrupsie en verdeling, verenig sal word onder Jesus Christus ons here en ons hoof. Hier getuig en sing ons in eredienste. ons doen dit uit die geloof dat god ons nie verlaat het nie maar lewend teenwoordig is. Ons nooi om deel te neem in die inbraak van die Koninkryk.

Dit is baie ambisieus. Dit is nie net “kom die kursus deur” nie. Ons wil mense vorm wat vanuit hierdie grondbelydenis met dapperheid en oortuiging in die samelewing kan leef.

1:06:32 Ek sê nie ons kry dit reg nie. Ek wil regtig herhaal en in nederigheid sê: dit voel soms na ’n onmoontlik taak.

[Kommentaar: Hier is niks oor Die Groot Opdrag nie. Hier is niks oor geestelike armoede nie. Dit gaan alles oor onreg, korrupsie en verdeling. Dit is dinge waaroor Jesus eintlik baie min gesê het.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui