Kommentaar op Jurie le Roux se “Pase en ’n verlede wat weg is”

Kommentaar verskyn in bruin tussen die oorspronklike artikel.

Kommentaar deur ds Gideon Aggenbag, Daniel Louw en Sarel van der Merwe.

****************************

Pase en ’n verlede wat weg is

Deur Jurie le Roux

(Oorspronklike artikel by http://teo.co.za/artikel/articles/461/1/Pase-en-n-verlede-wat-weg-is/Bladsy1.html)

Die kerk se pad vanaf die begin tot vandag toe is verstommend. Hoe het dit gebeur dat ’n klein groepie in ’n afgeleë en moeilike Romeinse provinsie in die eerste eeu die boodskap van Jesus van Nasaret so verinnerlik en uitgeleef het dat dit na 310 staatsgodsdiens geword het. Volgens die Duitse kerkhistorikus, Adolf von Harnack, was eenvoud ’n belangrike rede hiervoor. Mense wat deur die evangelie geroer is, kon in eenvoudige woorde dié ervaring verwoord. Geen teologiese opgesmuktheid nie, maar eenvoudige woorde waarmee hulle hulle geloof kon bely geloof (Von Harnack 1924:110-124). In Rome moes dopelinge net sê ‘Ek glo in God, die Vader en in Jesus Christus en die Heilige Gees’. Verder moes hulle net die vergewing van sondes, die wedersopstanding van die liggaam, die ewige lewe, ensovoorts bely. Doodeenvoudige woorde wat die geloof helder en duidelik verwoord het.

Dalk is daar ook nog ’n ander rede vir die kerk se groei en voortbestaan: die vermoë om die verlede altyd nader te bring, dit te herleef, en dit altyd nuut en eksistensieel te interpreteer en te herinterpreteer. Om die krag hiervan te verstaan, let ons eers op die opkoms van die historiese bewussyn aan die einde van agtiende eeu en die ewige gesukkel om die geskiedenis vas te vat en te beskryf (vgl Barash 2003:1-65).

[Die belangrikste rede vir die groei van die eerste kerk word geïgnoreer, naamlik die werking van die Heilige Gees in mense se harte.]

Die verlede is weg

Aan die einde van die agtiende eeu het die westerse mens al hoe meer ’n breuk met die geskiedenis beleef. Die Franse Rewo[l]usie van 1789 en die daaropvolgende gebeure was so ingrypend dat die hede nie meer as ’n voortsetting van die verlede ervaar is nie. [Hoekom kon die mense daarna nie meer die verlede onthou en dit met die hede verbind nie? Die ganse mensdom se koppe was tog nie tydens die Franse Rewolusie afgekap nie. Die sonvloed en die 10 plae en uittog uit Egipte was groter historiese gebeurtenisse as die Franse Rewolusie. Hoekom kon die Jode na die holocaust die verlede onthou tot vandag toe en vandaar af verder gaan? Die twee wêreld-oorloë en die koms van die internet is net so “ingrypend”, maar het ons tog nie van ons verlede vervreem nie. Hoekom glo hy vir kerkhistorikus Von Harnack hierbo en beskryf in detail hoe die Christene van die 1ste eeue geleef en hul geloof bely het maar glo nie eerstehands wat die Bybelskrywers geskryf het nie? Dit waaroor von Harnack skryf was tog ook voor die Franse Rewolusie.] Te veel het net verander en die verlede en hede kon net nie meer bymekaarkom nie. Anders gestel: die kloof tussen gister en vandag was so groot dat van die ‘pastness of the past’ gepraat is (vgl Thiselton 1980:1-110).

Deel van hierdie dissonansie met die verlede was ook die ontdekking dat historiese gebeure ontoeganklik is. Elke gebeurtenis (sêmaar die lewe van Abraham) het ’n baie spesifieke individuele moment gehad wat eie aan die lewe en tyd van Abraham was, maar wat weg is en wat ons nie kan vasvat nie (Derrida 1997:102-107). Kortom: al wil ons hoe graag die historiese Abraham ontmoet en sy wêreld binnestap, kan ons nie. Al wat ons ervaar, is ’n gevoel van verlies aan historiese werklikheid (Le Roux 1999:477-486). [Dit is belangrik om te weet dat Le Roux nie glo dat Abraham histories was nie. Kyk Kommentaar op Jurie le Roux se studienotas oor Abraham.]

Volgens die Franse filosoof Jacques Derrida is hierdie verlies so erg dat ons ewiglik daaroor kan rou en ween. Dit is ’n verlies wat nooit weer omgekeer kan word nie en daarom die oorheersende gevoel van rou. Omdat die verlies absoluut is, is die rou ook absoluut. Niks kan daaraan gedoen word nie. Ons kan net ‘huil oor die onvervangbare verlies en (ons) eie onmag ten opsigte daarvan, oor die (vuur-)as wat die singuliere as getuie van haar vlugtige aanwesigheid agtergelaat het’ (Goosen 1998:70).

‘n Ander omgang met die verlede

Alhoewel Israel hierdie gevoel nie kon verwoord nie, moes hulle tog ook op ’n manier hierdie afstand, die kloof tussen ‘toe’ en ‘nou’ ervaar het. Die skrywers van die Ou Testament het ook nie oor ‘oorspronklike’ bronne beskik nie. Met ander woorde, daar was nie oorspronklike bronne oor die lewe en werk van byvoorbeeld Abraham nie en daar was ook geen manier om die historiese Abraham te kon ‘ken’ nie. [Hiermee word die inspirasie van die Heilige Gees summier ontken en “bronne” word ’n deurslaggewende faktor. Verder, as ’n mens volgens Le Roux moet ween en rou oor die verlies in die wete oor wat in die verlede gebeur het, hoe kan Le Roux met soveel sekerheid sê dat die oorspronklike bronne nie beskikbaar was nie? As hy glo dat die OT vir die heel eerste keer eers in ballingskap ~600 vC opgeskryf is, dan maak dit sin, maar dit is baie duidelik dat dit nie die geval is nie – kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.] Vir baie het dit teologiese armoede beteken. Omdat Abraham nie histories ‘gevat’ kan word nie, is die Ou Testament bloot as ’n storieboek beskou. Mooi stories vir kinders voor slapenstyd. [Hierdie is ’n duidelike ontkenning (lastering?) van die inspirasie van die Heilige Gees. Le Roux probeer hierdeur sê dat die Israeliete van die era vóór Christus aan die OT gedink het bloot as kinderstories. Dit was definitief nie die geval nie. Jesus self het ook nie so oor die OT gevoel nie – Hy verwys telkemale na die OT en sê ook spesifiek dat Hy gekom het om die OT te vervul. As Le Roux enigiets van Jesus dink, sou hy dieselfde siening oor die OT gehad het as Jesus. Jesus het definitief aan die OT gedink as ’n storieboek nie.
En wat glo Le Roux oor die NT vandag? Is die NT vandag ook “ontoeganklik” sodat ons dit nie kan “vasvat” nie? Indien wel, dan bring dit die hele Christelike geloof in gedrang, wat gebaseer is op die antieke geskrif, nl die Bybel.]

Israel het egter ’n merkwaardige omkeerstrategie gehad: daar is nie gepoog om Abraham binne ’n bepaalde tyd te verstaan nie, maar om hom vanuit hulle eie tyd sin en betekenis te gee. In elke era in Israel se geskiedenis is Abraham nuut geïnterpreteer. Nie die presiese historiese feite nie want dit het hulle nie geken nie, maar die voortdurende ontdekking van nuwe geloofsdimensies in die figuur van Abraham. [Le Roux maak hier asof Israel ook, soos die postmoderne teoloë, ’n obsessie gehad het om die Bybel “nuut te interpreteer”. Dit is inlegkunde.]

Die soeke na ’n historiese minimum in die lewe van Abraham is dus eintlik sinloos. Dit is onmoontlik om ’n minimum aantal historiese feite te kry en dit is ook onnodig. [Hoekom ween hy dan saam met Derrida oor die verlies van histories feite as dit eintlik “onnodig” is?] Ons moet eerder na die maksimum teologiese betekenis soek.

Maar om na die afstand tussen ‘toe’ en ‘nou’ terug te keer: Israel het telkens probeer om hulle gisters in hulle eie tyd in te trek; om die verlede relevant vir die hier en die nou te maak. En daarin het die krag van hulle historiese verstaan gelê (vgl Perdue 2005:1-24).

‘n Eietydse interpretasie

Deur die gawe van verbeelding moes Israel hulle so in die verlede inleef dat hulle alles weer herbeleef het. [Volgens Le Roux is die OT dus op verbeelding geskryf. Net die Heilige Gees kan die Woord lewend maak (2 Kor 3:6). Nelus Niemandt gebruik weer wat hy noem “Biblical Imagination” om ’n beter hoopvolle toekoms vir die wêreld te visualiseer!] ’n Voorbeeld hiervan is die herbelewing van die uittog tydens pase. Die verlede is so intens herleef dat die ‘toe’ en ‘nou’ as ‘t ware saamgeval het. In Egipte het die ‘Egiptenaars … die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei … en deur … werk in die lande’ en dít moes Israel as’t ware telkens weer binne-in hulle-self her-ervaar het (Eks 1:14). Tydens pase moes Israel alles weer so intens beleef dat hulle die tamheid, uitputting en kragloosheid van hulle voorvaders binne-in hulle-self gevoel het. Eeue na die uittog was hierdie herinnering nog so sterk en teenwoordig in hulle dat mense in die eerste persoon meervoud daaroor gepraat het: ‘Ons was in Egipte … die Here het ons … bevry toe Hy voor ons oë tekens … gedoen het’ (Dt 6:20-22). Israel se herinnering was so intens dat dit die veraf-gebeure as’t ware nadergetrek het. [Dit is alles waar as die OT werklik eers in ballingskap geskryf is. En as dit waar is, het dit groot gevolge op die integriteit van die OT. Soos egter reeds gesê is dit HOOGS onwaarskynlik dat dit wel die geval was.]

Deur die geloof, die herinnering en die verbeelding het verskillende mense van verskillende tye in die geskiedenis één geword en het die ervaring van voorgeslagte die geloofsgoed van almal geword. Dít is waarom die Ou Testament ’n boek van eindelose herinterpretasie is. Dit wat gister en eergister gebeur het, moes telkens deur die herinnering nadergebring, verinnig en herbeleef word. Anders gesê: dit moes telkens in nuwe kontekste nuut en anders verstaan word. Sonder dié herinterpretasies het die geloof gekwyn en is die groot gebeure van die verlede gou vergeet.

Hierdie eietydse belewing van die verlede en die voortdurende proses van herinterpretasie was ’n merkwaardige manier om die historiese afstand te oorkom; om die verskriklike gaping tussen hede en verlede met ryke teologiese interpretasies te vul.

[Dit is doodeenvoudig nie waar dat die OT “’n boek van eindelose herinterpretasie” is nie. Die OT gee ’n groot gedeelte van die geskiedenis van die Christelike geloof weer. Geskiedenis word oor die algemeen nie herinterpreteer nie, tensy nuwe inligting gevind word wat geskiedenis duideliker maak. Ek sou graag voorbeelde wou sien van dele in die OT wat Le Roux herinterpreteer. Abraham is nie ’n geldige voorbeeld nie.]

Die goue draad loop deur

Israel se eksistensiële omgang met die verlede [bv dat Abraham ’n mite is wat maar net in hulle verbeelding geleef het?] was ook deel van die vroeë kerk se verstaan van die geskiedenis. So was pase in die vroeë kerk ook ’n tyd van intense herinnering en herbelewing. Die gebeure by die kruis en die opstanding was nie bloot veraf gebeure nie, maar het deur die herinnering lewend geword en is intens herbeleef. [Probeer Le Roux die kruis en opstanding gelyk stel met “verbeelding” – soos dat Israel hulle net verbeel het dat Abraham werklik geleef het?] Elke Sondag het die ‘ingewydes’, die wat klaar gekatkiseer het, of soos ons dit noem: ‘voorgestel en aangeneem’ is, aan die einde van die diens die eucharistie, die nagmaal gevier en ’n kenmerk hiervan was die intense ervaring van Christus se teenwoordigheid. Paasfees was eintlik dan net ’n intensifering, ’n verdieping van die weeklikse prediking en viering van die eucharistie (Lies 2005:83-107).

‘n Baie bekende voorbeeld van so ’n verdiepte ervaring kry ons in een van die heel vroegste reisbeskrywings na Palestina en Jerusalem. Dit is deur ’n Spaanse non in die vierde eeu met die naam van Aetheria geskryf. Sy vertel van die historiese plekke (volgens vierde-eeuse siening) wat hulle in Jerusalem besoek het. Bybelgedeeltes wat na dié plekke verwys, is hardop voorgelees, dan is daar gebid en gesing en weer verder getrek. Skuins voor pase in die jaar 381 het hulle in Jerusalem aangekom en vir Aetheria was alles oorweldigend. Sy het ’n jaar of twee daar gebly, het deel van die gemeente geword en ook oor haar ervaringe beskryf (Le Roux 1976:26-44).

Aangrypend is haar vertelling oor die plekke rondom Jerusalem wat hulle die week voor pase besoek het (Aetheria, Peregrinatio, 46). Al die plekke wat Jesus ook tydens daardie dae voor pase besoek het, het hulle aangedoen. By elke plek het hulle eers die betrokke gedeeltes in die evangelies gelees, stil geword en aan Jesus se lyding teruggedink; al sy pyn is herbeleef en hulle het dit hulle eie gemaak het. [Hierdie is wat hulle noem Imaginative Christian Prayer waarmee jy deur visualisasie elke detail van die Bybelverhaal in verbeelding probeer herskep en beleef. Hier sien ons dubbele standaarde – wanneer jy visualisie wil doen, dan is die Bybelse gegewens korrek, maar wanneer jy leerstellings uit die teks wil formuleer, dan is daar ’n onoorbrugbare “afgrond” tussen jou en die historiese teks.] So aangrypend was dit dat hulle kort-kort in trane was. So intens was hierdie herinnering en herbelewenis dat hulle voortdurend deur intense emosies oorweldig is. Tydens daardie laaste week het Jesus deur die herinnering naby aan hulle gekom en het hulle Hom eksistensieel ervaar (Aetheria, Peregrinatio, 27). 


Tussen die paasgebeure in die eerste eeu en Aetheria se tyd was daar geen afgryslike afgrond nie. Dit is met die herbelewenis van die oorspronklike gebeure en nuwe interpretasies daarvan gevul.

[Ek is nie seker wat Le Roux se punt met hierdie voorbeeld is nie. Gaan ons geloof vandag slegs oor ’n geestelike ervaring? Dit is dus nie belangrik of die Bybel geskiedkundig korrek is nie? Sou Aetheria se belewenis egter so intens wees as die gebeure nie werklik gebeur het nie? En hoekom is nuwe interpretasies nodig?]

Slot

Deur geloof, herinnering en verbeelding is die verlede [al is dit dan mites/stories, soos Le Roux meen] híér en nóú weer beleef; het mense uit verskillende ‘tydsones’ één geword en het die ervaring van voorgeslagte die geloofsgoed van almal geword. Ons kan dit ook so stel: die geskiedenis was vir Israel en die vroeë kerk soos ’n fyn membraan waardeur hulle in die verlede ‘ingekyk’ het en daardeur versterk is. [Versterk deur kinder/slapenstyd-stories?]

En dit is ook wat pase ons aanmoedig om te doen.

[Nee! Wat pase ons aanmoedig om te doen is om die werklike gebeure van Jesus se kruisiging en opstanding te vier en opnuut te besef waar ons redding vandaan kom.]

 

[Slotkommentaar:

Dit ís seker so dat die geskiedenis soos dit in die Bybel vir ons opgeteken is, nie 100% volledig in alle opsigte is nie (soos alle geskiedenis maar in ’n mate is). Dit ís ook seker so dat geskiedenis in ’n (kleinerige) mate herinterpreteer kan word, maar daar is ’n groot verskil tussen om geskiedenis te herinterpreteer en om dit te bevraagteken. In Hand 26:29 sê Paulus bv: “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie.” Daar is baie wat ’n mens verskillend kan interpreteer in hierdie gedeelte: bv, het Paulus die laaste gedeelte grappenderwys gesê en hoe het boeie gelyk in daardie tyd: was dit ’n hout blok of was dit staalringe om die arms met ’n ketting tussenin. Feite waarvan ’n mens egter nié kan afwyk nie is dat Paulus dit werklik aan Agrippa gesê het en dat hy werklik in boeie was. Mense soos Le Roux gooi die baba met die badwater uit as hulle van herinterpretasie praat – hulle het meermale die vermetelheid om die feite te bevraagteken soos hulle wil. Dit is hierdie benadering wat teoloë die reg gee om ander feite in die Bybel ook te bevraagteken soos: Jesus se fisiese opstanding, Sy godheid, homoseksualiteit, seks buite die huwelik, die bose, ens. Dit is onder andere die probleem wat Ferdie Mulder ook met Le Roux en ander gehad het (kyk Opgestaan).

Dit is baie gepas om hierdie kommentaar af te sluit met ’n aanhaling uit Johan Kriel se boek Terug na die Bybel:

“Opsommend kan ons met groot stelligheid sê dat die Bybel ’n boek is wat histories uitstekend geattesteer is. Die verhale waarvan die Bybel getuig, word aan werklike historiese gebeurtenisse gekoppel. Dit beteken dat dié verhale verifieerbaar was, en nog steeds is, gegewe genoegsame argeologiese fondse. Dis nie net los verhale wat in die lug hang, of uit die duim gesuig is nie en dra duidelik die karakter van werklikheidsgetroue en betroubare historiese geskrifte. Dit onderskei die Bybel van die mites, sages en legendes van ander godsdienste.”]

Kyk ook:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui