Kommentaar op NGK skrifbeskouing 2011

{jcomments on}Deur Daniel Louw

Die bylaag oor skrifbeskouing hieronder kom uit die agenda van die 2011 Algemene Sinode van die NG Kerk. Dit was in opdrag van die 2007 Algemene Sinode gedoen. Die aanbevelings is deur die sinode van 2011 aanvaar.

Dit is jammer om te sê en mag dalk harde woorde wees, maar hierdie dokument is nutteloos: Dit is uiters moeilik om algemene riglyne daar te stel, want algemene riglyne kan maklik verskillend geïnterpreteer word. Die kommentaar in blokhakies hieronder wys duidelik hierdie probleem. Dit sou amper beter gewees het om slegs die volgende te sê oor skrifbeskouing:

Die Bybel bevat verskillende genres wat die volgende insluit:

  • Wet: Levitikus en Deuteronomium. Hierdie boeke is egter ook geskiedenis én het ten doel om God se karakter aan ons te openbaar.
  • Geskiedenis: Genesis, Eksodus, Numeri, Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia, Ester, Jona en Handelinge.
  • Wysheid: Job, Spreuke en Prediker. Spreuke en Prediker is suiwer wysheid, terwyl Job egter ook geskiedenis is.
  • Poësie: Psalms en Klaagliedere. Daar is egter selfs in die Psalms geskiedenis opgeteken – Ps 78 bevat ’n opsomming van die geskiedenis van die uittog uit Egipte.
  • Evangelie: Matteus tot Johannes. Die Evangelies is eintlik ook geskiedenis omdat dit Jesus se geskiedenis op aarde weergee.
  • Briewe: Romeine tot Judas.
  • Profesieë: Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël, Hosea, Joël, Amos, Obadja, Miga, Nahum, Habakkuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi. ’n Mens moet egter onthou dat hierdie boeke soms selfs meer geskiedenis bevat as net profesieë.
  • Apokaliptiek (handel oor die wederkoms): Dele van Daniël en Openbaring.
  • Gelykenisse: Vervat in die Evangelies, Matteus tot Johannes.
  • Romans: Die Bybel bevat selfs romans soos Hooglied.

Die reël is: lees geskiedenis as geskiedenis, poësie as poësie, ens. Kyk ook, Die verskillende genres van die Bybel, Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word? en Bible Questions and Answers.

Die probleem met hierdie voorgestelde benadering is dat ’n groot aantal van die NG Kerk leierskap nie noodwendig daarmee sal saamstem nie:

  • James Kirkpatrick, die voorsitter van ATLAS (Algemene sinode se Taakgroep vir Leer en Aktuele Sake) glo nie aan die duiwel nie en glo nie dat saamwoon en homoseks sonde is nie.
  • Nelus Niemandt, die moderator van die NG Kerk, glo heel waarskynlik dieselfde as James Kirkpatrick.
  • Ben du Toit, die hoof van kommunikasie van die NG Kerk glo openlik nie aan die duiwel nie en is in werklikheid ’n panenteïs.

Daar is ook bitter min leiers in die NG Kerk wat nie evolusie aanhang nie, dus sal hulle ’n probleem hê om Genesis 1-11 as akkurate (nie noodwendig volledige) geskiedenis te lees.

Hier volg die bylaag oor skrifbeskouing:

********

Van Kerkweb.org gekopieer.

ATLAS BYLAAG 3

SKRIFBESKOUING

1. OPDRAG

Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n eenvoudige en prinsipiële samevatting te maak van al die besluite van Algemene Sinodes van 1986, 2002 en 2004 oor Skrifbeskouing en Skrifgesag.

2. AGTERGROND

ATLAS het ’n versoek van die Algemene Sinode ontvang om ’n eenvoudige prinsipiële samevatting te maak van die NG Kerk se Skrifbeskouing soos verwoord in die verskillende verslae wat vanaf 1986 by die Algemene Sinode gedien het.

Daar is in hierdie verband vier verslae ter sprake:

2.1 SKRIFGESAG EN SKRIFGEBRUIK (Algemene Sinode 1986)

Die verslag het ontstaan na ’n versoek van die destydse AJK [Algemene Jeugkommissie] aan die Breë Moderatuur om, in die konteks van teenoorstaande uitsprake en standpunte, duidelike leiding oor die saak te gee. Hierdie was ’n studiestuk waaraan die Breë Moderatuur, die destydse TKK-verteenwoordigers (Tussenkerklike Kommissie) en die dosente van die drie Teologiese Fakulteite saamgewerk het. Die stuk is uiteindelik deur prof PC Potgieter gefinaliseer en verwoord die tradisioneel Gereformeerde standpunt oor die gesag en gebruik van die Skrif. Dis as riglyn vir ampsdraers en lidmate deur die Algemene Sinode aanvaar.

2.2 SKRIFBEROEP IN ETIESE SAKE (Algemene Sinode 1990)

Die 1986 Sinode het aan AKLAS [Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake] opdrag gegee om ’n studie te doen waar die klem meer op die hantering en uitleg van die Skrif val. Die verslag is opgestel om aanvullend tot die 1986 verslag te wees. Die verslag het grotendeels gebruik gemaak van ’n rapport oor die saak wat reeds in 1979 voor Wes-en-Suid-Kaapland gedien het. Die verslag is deur die Algemene Sinode aanvaar in opvolg van die 1986 verslag as riglyn by die Skrifberoep in etiese sake.

2.3 GESAG VAN DIE SKRIF (Algemene Sinode 2002)

AKLAS het hierdie verslag opgestel in opdrag van die Algemene Sinode (1990) om te dien as aanvulling en verdere verduideliking van die 1986 verslag. Die klem val hoofsaaklik op die worsteling met die “menslike” en “Goddelike” aspekte in die inspirasie van die Skrif en verteenwoordig ’n ruimer omgang met die Skrif met inagneming van historiese konteks, literatuursoort, bedoeling van die teks en die leiding van die Gees, nie net in die totstandkoming nie maar ook in die gebruik van en omgang met die Skrif.

Die aanbevelings by hierdie verslag bevat ’n sewe punt verklaring en standpuntstelling van die Algemene Sinode oor die gesag en gebruik van die Skrif. Dit word volledigheidshalwe hierby ingesluit [2.3.1 tot 2.3.7]:

2.3.1 Die Algemene Sinode verklaar dat die gesag van die Bybel as God se Woord nie ’n dwingelandy is wat ons geestelik verslaaf nie, maar dat God se waarheid ons vrymaak (Joh 8:32). Daarom verg die aanvaarding van die gesag van die Woord nie die opoffering van ons denke wat immers ’n gawe van God is nie, maar wel die kruisiging van ons afvallige, afgodiese denke wat geen grense wil erken nie. [Hierdie is waar, solank daar nie gesuggereer word dat jy nie jou logiese denke gebruik as jy die Bybel letterlik interpreteer waar die skrywers dit letterlik bedoel het nie, soos bv ’n skepping in ses dae, die sondeval, sondvloed, die Israeliete se wonderbaarlike trek deur die woestyn uit Egipte, profesieë in die Ou Testament, Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke, opstanding, ens. Kyk bv Loving God with all your mind: logic and creation.]

2.3.2 Die Algemene Sinode verklaar dat die menslike aard van die Skrif geen bedreiging vorm vir die goddelike karakter daarvan nie, maar dat laasgenoemde juis tot uitdrukking kom in eersgenoemde. Juis in die menslikheid van die Skrif kom die neerbuigende en genadige neerdaling van God, wat kulmineer in die kruis van sy Seun, na vore (Hebr 1:1). Daarom is die Skrif ook nie aan ons gegee as ’n onfeilbare bron van eksakte natuurwetenskaplike en historiese informasie nie, maar om ons die kennis by te bring “wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim 3:15). [Hierdie stelling laat gevaarligte flikker! Wat word bedoel met “menslike aard van die Skrif”? Word hier gesuggereer dat die Bybel foute het? Indien wel, sal dit ’n gruwelike fout wees om so te dink. Kyk bv Answering Bible skeptics en Errors in the Bible? Verder is dit so dat die Bybel nie ’n volledige geskiedenisboek is nie, maar die geskiedenis wat wel genoem word, moet tog aanvaar word as die (eksakte) waarheid. Die Bybel is ook glad nie ’n wetenskapshandboek nie, maar daar moet duidelik onderskei word tussen operasionele en historiese wetenskappe. Dit beteken nie dat sekulêre historiese wetenskappe soos bv evolusie en argeologie verhewe is bo die Bybel nie.]

2.3.3 Die Algemene Sinode verklaar dat dit uit die Bybel self duidelik is dat die inspirasie van die Skrif nie op ’n eenvormige wyse plaasgevind het nie. Daarom is die aard van die gesag van die Skrif ook nie oral dieselfde nie. Ons kan onderskei tussen die hart van die boodskap van die Skrif en sake wat meer op die rand lê, hoewel die rand en hart nie van mekaar losgemaak kan word nie, maar juis in hulle samehang as Woord van God funksioneer. Die geheimenis van die Goddelike inspirasie van swakke menslike instrumente kan ons nie deurgrond nie, maar omgekeerd deurgrond hierdie inspirasie vir ons en die totale werklikheid waarvan ons deel is, en lê sodoende gesagvol beslag op ons hele lewe. [Hierdie is nie ’n aanvaarbare siening nie! Dit is teenstrydig met 1 Tim 3:16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.” Die vraag is ook hoe ’n mens bepaal watter dele in die Bybel geïnspireer is en watter dele nie.]

2.3.4 Die Algemene Sinode verklaar dat die gesag van die Skrif nie gesetel is in geïsoleerde Skrifgedeeltes op sigself nie, maar dat die gesag van elke onderdeel van die Skrif funksioneer binne die geheel van die Skrif en die gesag van die geheel tot uitdrukking kom in die onderdele. Die eenheid van die Skrif is geleë in die eenheid van God (Deut 6:4) wat as die Drie-enige tot ons neerdaal in die Bybelse geskiedenis.

2.3.5 Die Algemene Sinode bely dat ons met God in aanraking kom deur middel van die geskiedenis wat Hy met die mense gemaak het soos deur die Skrif vertolk. Hierdie geskiedenis bereik ’n klimaks in die koms van Jesus Christus sy Seun, wat in die volheid van die tyd deur die Vader gestuur is as Verlosser van die wêreld. Ook die vertolking op velerlei wyses deur woord en daad, maak deel uit van hierdie geskiedenis. Deur die Gees as die eintlike Tolk en (daarom) Trooster, word ons ten spyte van ons onvolkomenheid en sondigheid, toegerus om nou reeds deur woord en daad binne hierdie gebroke werklikheid, iets te laat blyk van God se genadige neerdaling tot sy skepping.

2.3.6 Die Algemene Sinode verklaar dat hoewel God sy Gees aan die kerk gegee het om ons in die volle waarheid te lei (Joh 16:13), die gesag van die Skrif nie primêr berus op die bloot formele feit dat die kerk dit as kanon aanvaar het nie. In die Skrif self word reeds duidelik dat die kerk as gevolg van ons sondigheid nog steeds blootgestel is aan dwaling. Daarom is die gesag van die Skrif in die eerste instansie geleë in die inhoud van die Gees se boodskap naamlik God se genade in Christus (Joh 16:14). Hierdie boodskap het die kerk in die kanon gehoor as die kritiese maatstaf vir die verkondiging waardeur ook tussen die geeste onderskei word. [Dit is nie duidelik wat hiermee bedoel word nie. Die Bybel moet egter as basis gebruik word juis sodat ons nie moet dwaal nie.]

2.3.7 Die Algemene Sinode verklaar dat die vonnis en vryspraak wat God in die vleesgeworde Woord oor ons uitgespreek het op Goeie Vrydag en Paassondag (Rom 4:25), met gesag deur die Gees by die lees en verkondiging van die Woord oor ons uitgespreek word. In sy Woord gee God ons “sy Woord” deur al sy beloftes, waarop ons met vrymoedigheid ons durf verlaat vir tyd en ewigheid, aan ons toe te sê. Hierdie gesag is dinamies want die Woord is skeppingsmagtig. Dit bring ons in ’n nuwe verhouding met God en lei ons tot lewensverandering

Die Algemene Sinode het hierdie verslag as riglyn goedgekeur.

2.4 SKRIFGEBRUIK EN SKRIFGESAG (Algemene Sinode 2004)

Hierdie verslag vloei voort uit die opdrag wat in 2002 aan AKLAS gegee is om kommentaar op die vorige verslag te verwerk en ’n verdere verslag op te stel. AKLAS het geoordeel om nie ’n nuwe of meer omvattende stuk te probeer opstel nie. Met enkele opmerkings oor die kompleksiteit en selfs krisis van die huidige besinning oor Skrifgesag en Skrifgebruik en die proses van verandering wat in die denke daar rondom in die laaste jare plaasvind, het hulle gekies om eerder ’n verklaring en belydenis op te stel wat die grense stel waarbinne die Kerk vanuit die Gereformeerde verstaan van die saak, steeds vernuwend en verantwoordelik, voortgaande oor die saak kan besin. Hierdie verklaring/belydenis is in vyf punte verwoord. Die Algemene Sinode het dit goedgekeur met die versoek dat dit vir bespreking aan Ringe en gemeentes deurgegee word.

3. BEVINDING

3.1 Dit is duidelik uit die bestudering van die verskillende verslae en die aanvullende perspektiewe, nuanses en klemtone wat telkens in ’n volgende verslag ter sprake kom, dat daar sedert 1986 (selfs al vroeër?) ’n proses van nadenke en besinning oor Skrifbeskouing, Skrifgesag en Skrifgebruik binne die Kerk plaasvind. Die proses is waarskynlik nog nie afgehandel nie en sal heel moontlik in die toekoms voortgaan.

3.2 Dit is dus in ’n sin moeilik om uitvoering aan die opdrag te gee dat ’n eenvoudige en prinsipiële samevatting van die standpunte oor Skrifbeskouing opgestel word juis omdat daar in die besinning oor die saak so ’n verskeidenheid van perspektiewe en aanvullings in die verslae verwoord word. Dit is verder ook duidelik by elke verslag dat die Algemene Sinode dit as riglyne (eerder as standpunte) goedkeur wat daarop dui dat die Algemene Sinode self oor hierdie saak self nie meer so sterk werk met met vaste, dogmatiese uitsprake nie.

3.3 ATLAS het geoordeel dat daar twee moontlikhede is om aan die opdrag uitvoering te gee:

3.3.1 Die eerste moontlikheid is dat uit al die verslae die hoofpunte saamgevat en verwerk word in een opsommende verslag. Dan sal die 1986 verslag waarskynlik die meer prinsipiële uitgangspunte verwoord en sal die aanvullende perspektiewe uit die volgende verslae daarby verreken moet word. Dit sal moeilik in ’n eenvoudige, bondige verslag saamgevat kan word.

3.3.2 Die ander moontlikheid is dat ATLAS gebruik maak van die verklaring en belydenis in die laaste verslag van AKLAS (2004). Dit blyk daaruit dat presies dit wat nou van ATLAS gevra word daarin verwoord is. Dit is bondig, prinsipieel, aktueel en verwoord die standpuntstelling en perspektiewe van die hele proses van besinning sedert 1986. Dit het die verdere voordeel dat dit reeds as amptelike verklaring deur die Algemene Sinode goedgekeur is en bring dus nie weer ’n verdere of ’n nuwe verslag op die tafel nie.

3.3.3 Dit word volledig hierby ingesluit met die aanbeveling dat die Algemene Sinode hiermee volstaan as ’n eenvoudige prinsipiële samevatting van die Kerk se Skrifbeskouing:

4. SKRIFGEBRUIK EN SKRIFGESAG

4.1 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk bely, as kerk wat in die Gereformeerde tradisie staan, dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom:

* gesag het oor ons hele lewe, omdat dit aan ons betuig dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here, sodat ons geroep word om in vertroue op Hom en in gehoorsaamheid aan Hom te leef;

* betroubaar is, omdat ons vas glo dat God werklik is soos Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak: die Vader, Seun en Gees wat uit genade ons God is;

* duidelik is, omdat die kerk hierin die helderheid van die evangelie van God se liefde en genade hoor;

* voldoende is, omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons hoef te weet om in God te glo en om sy wil te gehoorsaam (vlg NGB Artikel 7).

Daarom bely ons steeds gelowig dat dié waarheid bo alles is.

4.2 Soos nog altyd vir die Gereformeerde tradisie, beteken hierdie belydenis vir ons nié:

* dat die Bybel vereis dat ons ons denkvermoë, wat ’n gawe van God is, moet opoffer nie; [Kyk kommentaar by 2.3.1]

* dat die Bybel gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie; [Kyk kommentaar by punt 2.3.2.]

* dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie; [Dit is waar, tensy hierdie stelling gebruik word om dinge wat duidelik en eenvoudig in die Bybel gesê word, te begin bevraagteken. Presies wat bv Openbaring alles vir ons wil sê is nie alles glashelder nie, maar dit is duidelik dat die Bybel bv die volgende sê: God het in 6 dae geskape, homoseks en saamwoon is sonde, Jesus het wonderwerke gedoen en het letterlik opgestaan wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie, daar is ’n fisiese hemel en hel, alhoewel niemand weet waar dit is nie.]

* dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee sodat geen verdere menslike nadenke of navorsing nodig is nie. [Dit is definitief so, maar weereens is historiese wetenskappe soos evolusie en argeologie ondergeskik aan die Bybel.]

4.3 Ons bely verder dat God deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord lei. [Solank dit nie teenstrydig is met wat die Bybel duidelik sê nie.]

Dit beteken vir ons dat ons die Skrif as die lewende Woord van God hoor in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar. Daarom was die kerke in die Gereformeerde tradisie nog altyd oortuig van die belangrikheid van ’n verantwoordelike interpretasie van die Skrif waardeur die kerk as geloofsgemeenskap onder leiding van die Heilige Gees soek na die waarheid, geregtigheid en barmhartigheid wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie oortuiging dat die kerk die Skrif moet interpreteer, blyk onder meer uit:

* die klem wat van die begin af gelê is op ’n grondige kennis van die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) waarin die Bybel geskryf is, asook die soeke na die beste metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg; [Hierdie is waar, maar word soms misbruik. Vandag redeneer sommiges dat as jy die oorspronklike teks lees, dan sê die Bybel nie noodwendig dat homoseksualiteit sonde is nie. Hierdie is nie geldig nie. Kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit.]

* die beklemtoning dat die hele Skrif gelees moet word in die lig van die konteks waarin dit ontstaan het sodat die tyd- en kultuurbetrokkenheid daarvan verreken kan word in die uitleg; [Daar steek waarheid in hierdie stelling: die kwessie van vrouens wat hoede moet dra is ’n goeie voorbeeld (kyk Vrouens en hoede en Die Bybel oor slawe). Mense het in die verlede ook baie makliker oorlog gemaak. Maar hierdie stelling word vandag misbruik op die volgende maniere:

  • Party redeneer dat die siening oor homoseksualiteit in die Bybel bloot kultuurgebonde is en dat dit verander kan word.
  • Jesus se maagdelike geboorte en wonderwerke word afgemaak as ’n gebrek aan wetenskaplike kennis in daardie tyd.

Kyk ook hoe Andries van Aarde hierdie beginsel misbruik in Kommentaar op Jurie le Roux se artikel “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”.]

* die soeke na reëls vir die uitleg van die Skrif (voorbeelde van sulke uitlegreëls uit ons tradisie is: dat die Skrif as totaliteit gelees moet word, dat Skrif met Skrif vergelyk moet word en dat die moeiliker dele in die lig van die makliker dele vertolk moet word en dat die Skrif uit sy hart, die evangelie van Jesus Christus, verstaan moet word); [Absoluut! Maar as mense duidelike waarhede verwerp soos dat homoseksualiteit en saamwoon sonde is, dat daar nie ’n duiwel bestaan nie, dat Jesus nie letterlik opgestaan het nie, dan word hierdie reël nie toegepas nie.]

* die onderskeid wat in die uitleg van die Skrif gemaak is tussen verskillende dele van die Skrif wat ’n verskillende soort gesag het (byvoorbeeld die onderskeid tussen die historiese en normatiewe dele van die Skrif, asook die onderskeid tussen die kultiese en morele wetgewing);

* die dankbare, maar kritiese luister na die manier waarop die Skrif in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en in ons eie tyd deur medegelowiges in ons eie kerk en ander kerke uitgelê word; [Dit hang alles af wie hierdie medegelowiges is. Ek gaan bv iemand soos John Piper baie meer ernstig opneem as Julian Müller of Jurie le Roux.]

* die vestiging van kerklike praktyke vir die interpretasie van die Skrif, soos veral die prediking, maar ook kategese, Bybelstudie, teologiese studie en andere;

* en veral ook in die daarstel van belydenisskrifte waarin die kerk streef om die hart van die Skrifboodskap duidelik te vertolk en gehoorsaam te aanvaar.

4.4 Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg, bly dit vir ons ’n basiese oortuiging dat die belydenis van die Skrif as Woord van God nooit teenoor verantwoordelike Skrifuitleg staan nie. Die belydenis roep ons juis op om onsself, in gemeenskap met mekaar en met al die gawes wat God vir sy kerk gegee het, toe te lê op die soeke na die waarheid. [Die woorde “verantwoordelike Skrifuitleg” word soms deur liberaliste gebruik in die saamwoon en homoseksuele debat. Hulle punt is dat dit nie verantwoordelik is om vir mense wat saamwoon of homoseksualiteit beoefen te probeer oortuig dat hulle sonde doen nie.]

4.5 In die lig van hierdie belydenis glo ons dat God ook in die uitdagende tye waarin ons leef, sy kerk deur sy Woord en Gees in die waarheid sal lei. As Gereformeerdes verbind ons ons daartoe om, ook wat die komplekse leerstellige en etiese kwessies van ons tyd betref, in hierdie oortuiging saam te soek na waarheid, geregtigheid en barmhartigheid. Ons glo dat hierdie soeke ’n ekumeniese strewe is, in verbondenheid met die kerk van alle eeue en die kerk dwarsoor die wêreld. Waar ons van mekaar verskil, glo ons dat ons in gesprek met mekaar moet bly, in die gebed dat God ons liefde al meer sal laat toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9-10). [Die woorde “soeke na waarheid” klink baie mooi, maar dikwels kry ’n mens die idee dat dit mooi woorde is om te sê dat ons maniere soek om van wat die Bybel duidelik sê af te wyk, bv om saamwoon en homoseksualiteit nie as sonde te sien nie.

Elke ding het ook ’n konteks: dit is so dat Paulus gesê het dat ons begrip en fyn aanvoeling moet hê, maar dit is teenoor nuwe gelowiges. In ander dele in die Bybel slaan Paulus en ander (selfs Jesus) ’n totaal onverdraagsame houding teenoor dwaling in (kyk Die Bybel oor dwaling).]

5. AANBEVELINGS: SKRIFBESKOUING

5.1 Die Algemene Sinode herbevestig die verklaring Skrifgebruik en Skrifgesag, soos aanvaar by die Sinode van 2004, as ’n eenvoudige en prinsipiële samevatting van die NG Kerk se Skrifbeskouing.

5.2 Die Algemene Sinode wys daarop dat vir ’n meer volledige uiteensetting van die saak, die verslae soos goedgekeur in 1986, 1990 en 2002 hiermee saam gelees behoort te word.

5.3 Die Algemene Sinode besluit om al die dokumente oor Skrifverstaan in een bundel aan al die sinodes te stuur met die versoek om dit aan leraars en gemeentes in hulle sinodale gebiede deur te stuur en gesprek daaroor te fasiliteer.

Kyk ook:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui