- Die Bybel oor God se geslag
- Skrifgesag
- Die Bybel oor dwaling
- Is God our ‘mother’? (Creation.com, 9 Jan 2021)
- Is it biblical to refer to God as God the mother? (Got questions)
Daar is vandag ’n tendens om na God ook as ’n vrou te verwys. Die hele rede daaragter is politieke korrektheid. Hierdie idee kom glad nie in die Bybel voor nie.
Ek het eenkeer ’n preek hieroor gehoor en haal gedeeltes uit die preek aan met kommentaar. Kyk ook my slotopmerkings aan die einde.
Ek gebruik die skuilnaam, Klaas, om te verwys na die prediker.
*********
Preek: God is ook ’n vrou
As ons stilstaan by wie God is, dan wil ek praat oor die vrouwees van God. Die beeld wat ons van die Here het, is manlike beelde, of ons fokus is alewig op die manlikheid van God. [Kommentaar: Dit is so, omdat God hom as manlik openbaar. Nêrens verwys Jesus (wat self God op aarde was, dus sonder sonde) na God as sy moeder nie. Hy verwys slegs na God as “Vader”. Dit is reeds genoeg rede om aan God as manlik te dink.]
Heilige Gees in die Ou Testament is ’n vroulike begrip. In die Nuwe Testament word die Heilige Gees onsydig uitgebeeld. Twee tekste het my laat stilstaan:
Genesis 1:26-27
(26)Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” (27)God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
Dit is duidelik: in God se wese, in Sy binnekant, in Sy bestaan, is Hy manlik en vroulik.
[Kommentaar: Dit is nie ’n geldige afleiding nie:
- Skrif verklaar Skrif: as jy na die Bybel in geheel kyk, kan ’n mens nie hierdie gedeelte gebruik om te argumenteer dat God beide ’n man en ’n vrou is nie.
- Ons is op baie maniere na God se beeld geskape, maar geslag is nie een van hulle nie.
- Ons bestaan as man of vrou is deel van die geskape werklikheid en nie van die hemelse nie. Ons is manlik en vroulik met die oog op voortplanting en om ons lewens te verryk. God is nie deel van die geskape werklikheid nie. God is gees en nie materieel nie. (Joh 4:24).
- Ons manlikheid en vroulikheid is nie van permanente aard nie. Ons geslagtelikheid is net deel van ons aardse bestaan. In Mat 22:30 het Jesus gesê: “Met die opstanding trou mense nie meer nie, maar hulle is soos engele in die hemel.” As ons manlikheid en vroulikheid dan op ’n stadium opgehef word, beteken dit dat dit nie deel van God se beeld is nie, want God se beeld verander nie.]
Ek het gaan stilstaan en gevra: “Here, is U manlik of is U vroulik? Hoe moet ek U verstaan?”
[Kommentaar: Hierdie skep die indruk dat Klaas sy boodskap by die Here gehoor het. Ek glo nie vir een oomblik dat dit is wat hy by die Here gehoor het nie – dat hy, teenstrydig met die Bybel, vir die gemeentelede moet gaan leer om God ook as vroulik te sien en so aan te spreek nie.]
Vanoggend gaan ek net by een gedeelte stilstaan, en dit is God se vroulikheid in terme van sy moederlikheid. Met ander woorde, God is ons moeder. God is ’n vrou. God is ’n vrou wat ons moeder is.
Die tweede teks waaroor ek veral gedink het is:
(1)Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. (2)Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” (3)Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (4)Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (5)Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. (6)Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. (7)Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. (8)Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
Jesus sê vir hom, Nikodemus, as jy nie weer gebore word nie, van bo af gebore word nie, vanuit God gebore word nie, kan jy nie die Koninkryk van God sien nie.
God gebruik die beeld van homself [dadelik korrigeer hy homself] haarself… God gebruik die beeld van háárself. En dit is moeilik om so te praat [“haarself” in plaas van “homself”], maar ek dink dit is meer stupid om te sê dat God ons baar uit hómself uit. Ek bedoel, hoe dom is dit nou?
[Kommentaar: Wedergeboorte is nie ’n letterlike begrip nie, maar simbolies. Dit is dus nie geldig om te redeneer dat God ook ’n vrou is omdat ons weer uit God gebore moet word nie.
Ons moet onsself afvra of dit is wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy met Nikodemus gepraat het. Het Jesus aan God as ’n moeder gedink wat aan mense geboorte gee, soos hy voorstel? Het Johannes Jesus so verstaan toe hy die woorde neergeskryf het? Ek weet van geen plek waar die kerk sulke gedagtes oor God in hierdie gedeelte ingelees het nie. Ons verstaan hierdie gedeelte so dat God ’n ingrypende geestelike gebeurtenis in ’n mens se lewe wil bewerkstellig. Ons moet die betekenis daarvan gaan soek by dit wat die profete oor die nuwe tyd geprofeteer het in Jeremia 31:33; Jeremia 32:38-40; Esegiël 36:25-27. Kyk ook Efesiërs 4:24.]
Vanuit die baie sterk patriarg, denke, shovinistieste denke van die ou tyd het ons dit so gevorm. As jy daardie teks gaan lees, dan verstaan jy dat God baar soos ’n vrou, en hy gebruik vroulike terme om te sê hy bring… jy sien “hý bring ons in die lewe”. Dis wat ek nou wou gesê het. Sý bring ons in die lewe. Sy gee vir ons geboorte. En vanmôre praat ons oor God as “Sy”, nie as “Hy” nie. God is ook ’n vrou. God is nie net manlik nie.
(18)Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie, die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet.
Die Here sê vir Israel: “Israel, ek wil julle net daaraan herinner wie ek is. Ek is julle moeder. Ek het julle in die lewe ingebring. Julle vergeet my as julle ma.”
[Kommentaar: Vers 19 sê: “Omdat sy seuns en dogters Hom getart het”. Vers 20: “het Hy gesê…” Die Bybel is duidelik oor God se manlikheid. As jy dit bevraagteken, bevraagteken jy die skrywers van die Bybel se siening oor God. Dit is gevaarlike grond om op te beweeg.]
God is ’n vrou. God is ’n moeder.
Man is geskep na God se manlikheid en vrou is geskep na God se beeld in terme van vroulikheid.
Dit is die eerste gedagte.
Die tweede gedagte is dat God ons moeder is wat ons in die wêreld ingebring het.
Nikodemus het Jesus reg gehoor. Hy sê: “Hoe kan ek nou vir die tweede keer in die skoot gaan van my moeder?” En toe sê Jesus vanuit ’n vroulike verstaan, nie vanuit ’n manlike verstaan nie. Jesus sê vir Nikodemus: “Nikodemus, as jy nie uit water uit en uit Gees uit gebore word nie, kan jy die koninkryk nie sien nie.” Met ander woorde as jy nie uit die vrugwater van die vrou gebore word en lang die pad êrens weer deur God gebore word nie, vanuit God se ma-wees, moederwees, vroulikheid wees, kan jy nie die koninkryk van God sien nie.
[Kommentaar: Soos ek reeds gesê het, is wedergeboorte figuurlik of simbolies. Jy kan niks van God se geslag hieruit aflei nie. Hy gaan sover om die woorde in Johannes 3:5, dat mens “uit water en Gees gebore word”, toe te pas op die vrugwater van ’n vrou.]
Die derde gedagte kom uit:
(12)Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser met ’n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het’?
En dan praat Moses met haar. Die Here, met háár…
En Moses herinner die Here. Hy sê: “Here, U het hierdie kinders gebaar. Nou verwag U van my om vir hulle te sorg. U is ons moeder. Dit is uit U wat ons tot wese gekom het. Here, en U verwag van my om hulle moeder te wees. U is ons moeder. Nie ek nie. Here, U het swanger geword en U het hierdie volk in die wêreld gebring en U is die een wat ons as ’n moeder aan U bors geneem het soos suigelinge. En ons het aan U bors gedrink.”
[Kommentaar: Moet ’n mens ook hieruit verstaan dat die hele volk letterlik uit God gebore is? Nee, natuurlik nie. Hierdie is duidelik ’n metafoor. ’n Metafoor is nie bedoel om letterlik opgeneem te word nie.]
Daar is baie tekste in die Bybel van God se vrouwees wat uit die diereryk uitkom, byvoorbeeld God as die moeder arend wat na haar kuikentjies omsien. [Kommentaar: Hierdie is weereens ’n vergelyking. Die woordjie “as” wat dieselfde as “soos” beteken moet vir ’n mens sê dat hierdie ’n vergelyking is. As ek sê die son het my so rooi soos ’n tamatie gebrand, dan is ek nog bitter ver daarvan om werklik ’n tamatie te wees. As jy Klaas se logika konsekwent toepas, moet jy tot die gevolgtrekking kom dat God ook ’n arend is. Jesus het ook gesê dat Hy sy volk wou bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens bymekaar maak (Mat 23:37). Maak dit nou van Jesus ’n hen? Die Bybel is vol sulke metafore vir God. God is byvoorbeeld ’n “herder” (Ps 23:1), ’n “rots” (Ps 29:1), ’n “skuilplek” (Deut 33:27), ’n “leeu” (Jes 31:4) en ’n “leëraanvoerder” (Jos 5:14).] Ek gaan by ’n volgende geleetheid hieroor praat, want ek het fantastiese goed hieroor gelees. Ek is skoon opgewonde. Feite is, die Here voed ons. Sy voed ons as haar kinders met haar woord.
Die vierde:
(14)Sion sê: “Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.” (15)Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.
Hier sê die Here self: “Ek is julle moeder.”
Jesus, Vader, Seun en Gees, is ook in Homself ’n Haarself. ’n Haarself, wat as ’n moeder na ons toe kom.
[Kommentaar: Hierdie is weer ’n metafoor: soos ’n vrou nie haar baba kan vergeet nie, so sal God jou nie vergeet nie.]
Punt 5:
Die Here sê Hy is ook… Sy is ook, die moeder wat troos. Hoor jy hoe ek telkens van ’n moeder praat en dan sê ek “hy”?
(7) Bring ’n vrou ’n kind in die wêreld voordat sy geboortepyne het? Kry sy ’n kind voordat die pyne haar oorval?
(11) Julle sal aan haar drink totdat julle genoeg het, totdat julle veilig voel; julle sal drink van die oorvloed wat sy het, en dit geniet. (12) So sê die Here: Ek laat vrede na haar toe aankom soos ’n rivier, Ek laat die rykdom van die nasies na haar toe troom. Julle sal aan haar drink, aan haar bors gedra word en op haar skoot getroetel word. (13)Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel. Julle sal veilig voel in Jerusalem. (14)Julle sal dit beleef en julle sal bly wees; julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit. So sal die mag van die Here geopenbaar word aan sy dienaars, en sal Hy sy vyande straf.
[Kommentaar: Jesaja 66:1 lui “So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete.” Moet ons aflei dat ons God se voete êrens op aarde gaan sien? Nee, want dit is ’n metafoor.
As ’n mens op hierdie trant wil redeneer, moet ’n mens ook Jesaja 66:9 inreken: “Sou Ek die moederskoot laat oopgaan en nie ’n geboorte laat plaasvind nie? vra die Here. Of sou Ek wat geboortes laat plaasvind, die moederskoot toesluit? vra jou God.” Hier sê God duidelik dat dit nie Hy self is wat geboorte skenk nie, maar wel geboortes láát plaasvind.
Jesaja 66:10-11 moet saamgelees word: (10)Wees bly saam met Jerusalem en juig saam met haar, almal wat haar liefhet. Wees vrolik saam met haar almal wat oor haar getreur het. (11)Julle sal aan haar drink totdat julle genoeg het, totdat julle veilig voel; julle sal drink van die oorvloed wat sy het, en dit geniet.
Kan ’n mens aan Jerusalem drink? Nee, want Jerusalem is ’n stad, nie ’n letterlike vrou nie. Dit is ’n metafoor.
Vers 13 bevat ook die woord “soos”, wat dit as ’n vergelyking klassifiseer.]
(3)Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. (4)Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.
(1)Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.
(3)Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie. (4)Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, (5)want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.
[Kommentaar: Hosea 11 verwys eerder na die manlikheid van God. Baie pa’s leer hulle kinders loop, pa’s dra hulle kinders op hulle arms en sorg vir hulle, dit is mans wat die juk oplig – dit is nie ’n vrou se werk nie.]
Miskien moet ek julle iets sê van myself: In my gesprekke met die Here, wanneer ek bid, het hierdie ding my begin pla. Dat ek elke keer met God praat as ’n pa, as ’n Vader. Weet julle wat begin gebeur? In my eie gees het ek hierdie hardheid in terme van wie God is van ’n pa, want ons verwys elke keer as ons oor hierdie pa dink, dan dink ons aan straf. Nie dat my pa ons ooit gestraf het nie. My ma het ons pak gegee, ja. Boetie, dan seil ons onder daardie bed in dan kan sy nie daar agter bykom nie. Dan trek sy die bed weg, dan slaan sy van bo af… [Kommentaar: Dit is ’n gruwelike veralgemening om te sê dat indien ’n mens aan ’n pa dink, dan dink jy aan straf of dat alle mans hard is. Onthou, Jesus was ’n man. Dink Klaas ook aan Jesus as ’n harde man wat net wil straf? Ek dink nie so nie.] Iets van God se sagtheid het by my verlore gegaan. Iets van wie God is, in terme van haar vroulikheid, het by my gesterf. Iets van God se moederlikheid het begin verdof… al hierdie beelde van ’n moeder, al hierdie inhoud van ’n moeder het vervaag in my hart en God het hierdie beelde gekry in my hart van klip, rots, harde beelde. En vanmôre wil die Here vir ons kom sê: “My kinders, ek is nie manlik of vroulik nie.” God het nie ’n geslag nie. Die Here wat neerbuig na ons toe, die Here wat afkom na ons toe, die Here wat deurgebreek het na ons toe, hierdie Here, hierdie man en hierdie vrou het geen fisiese liggaam nie. Sy is Hy en Hy is Sy. Maar omdat ons beperk is in ons koppe om te verstaan, moes Sy, moes Hy, beelde gebruik om ons te akkommodeer. Sy moes beelde gebruik om ons te kom akkommodeer sodat ons ook haar kan verstaan. Ons is so gefokus op Sy hy-wees, dat Haar haar-wees skade gely het. Sy het Haarself aan ons openbaar deur fisies na ons om te sien, deur te kyk na ons verhoudings, deur haarself te ontsluit aan ons, ook die moeder van ons. Dat sy ons gebaar het. Dat sy oor ons voel soos ’n moeder en sy is vir ons ons moeder. Dat sy ons nie vergeet het nie. Dat sy as ons moeder haar ontferm oor ons en vir ons sorg en vir ons kos gee. Dat sy vertroos soos ’n moeder. Dat dit sy is wat ons beskerm. Wat vir ons roep, wat vir ons vashou, wat vir ons leer, wat vir ons genees en ons voed soos ’n moeder. Gaan lees dit. Alles waarvan ek nou praat staan in Hosea 11. [Kommentaar: Soos reeds gesê verwys Hosea 11 eerder na God se manlike karakter en nie vroulike karakter nie.]
[Kommentaar: Nou bid hy:] Moeder Here, baie dankie dat ons vanmôre verstaan dat u ons moeder is. Moeder Here, dankie dat ons verstaan, vanmôre, dat U vrou is. God, Moeder, ons kom aanbid U. Ons kom aanbid U as ons Moeder. Ons is geskep na U beeld. U het vir ons voortgebring na U beeld. U het vir ons gesorg soos ’n moeder in uself, want U is ons moeder. U troos ons en u ontferm ons en u skrywe ons naam in u handpalm. U leer ons en laat ons drink uit u bors, want u is ons moeder. U sorg vir ons. Ons is u kinders. Amen.
Slotopmerkings
Nog ’n paar punte:
- Natuurlik het God ook vroulike karaktereienskappe (oor wat presies die verskil tussen manlike en vroulike karaktereienskappe is, kan ’n mens seker ook redeneer), maar jy hoef nie aan God as ’n vrou te dink om ook Sy sagter eienskappe te aanvaar nie. Alle mans het ook tot ’n mindere of meerdere mate ’n sagter kant en dan kry ’n mens ook vroue wat harder as mans is.
- Klaas is reg as hy opmerk dat daar in sekere tale manlike, vroulike en onsydige vorme voorkom. Dit is egter nutteloos om in die taalkunde te soek na die geslagtelikheid van woorde wat verwys na God. In sekere tale kry ons naamwoorde wat manlik, vroulik of onsydig aangedui word. Daar is egter nie altyd ’n rasionaal agter die geslagtelikheid van voorwerpe nie. By die Duitsers is ’n motorkar der wagen (manlik), maar hulle praat van das auto (onsydig). Dit is ’n algemene verskynsel by verskillende tale.
- God is bo menslike geslagtelikheid verhewe. By die afgode van die mense kry ons manlike en vroulike gode. Dit is gewoonlik ’n weerspieëling van wellus wat in die harte van die mense gelewe het. Dit sou dus baie gevaarlik vir die kerk wees om op ’n pad te begin beweeg waar ons anders oor God begin praat en dink as wat Hy Homself aan ons geopenbaar het.
- In die Bybel lees ons dat die skrywers onder leiding van die Gees in verhewe terme oor God gepraat het. God is aangespreek as die Almagtige of die Heilige. Daar is oor Hom gepraat in die manlike.
- Jesus het konstant van God as sy Vader gepraat, nooit as sy Moeder nie. Hy het ons ook pertinent geleer om God as Vader aan te spreek.
- Die prediking in die kerk word gesien as die verkondiging van die Woord van die Here. Mense kom kerk toe om die Woord van die Here te hoor. Wanneer ’n leraar dus, soos in hierdie geval ’n preek hou en voorgee dat hy by God gehoor het(!), dat God ’n vrou is en so aangespreek moet word, is dit ’n ernstige saak wat nie ongesiens kan verbygaan nie. Dit het die potensiaal om verwarring onder lidmate te skep en die integriteit van die prediking in hierdie gemeente onder verdenking te bring.
- Is dit belangrik hoe ons oor God dink? Kan ons nie ook maar aan God as ’n vrou dink nie? Die groot probleem daarmee is dat dit nie is hoe God Homself deur die Bybel aan ons openbaar nie. As ons meer soos Jesus wil word, moet ons aan God dink as “Vader”, soos Jesus.
- Dit is baie duidelik dat ’n mens verkeerd met die Bybel omgaan om daarin te lees dat God ook ’n vrou is. Dit is net bloot verkeerde eksegese en hermeneutiek. Dit is onverskillig om so met die Bybel om te gaan. Indien jy so met die Bybel werk, dan kan jy feitlik enigiets in die Bybel lees wat jy wil.
- Indien sy doel was om God se vroulike, sagte eienskappe uit te lig, was daar baie beter maniere: Hy kon byvoorbeeld in die algemeee wys hoe verskillend ’n pa en ’n ma kinders grootmaak of hoe hulle teenoor hulle kinders optree en dan kon hy daarop wys dat God die beste van beide is en nog meer. Dit is egter absoluut verkeerd om verse uit die Bybel totaal buite hulle konteks te gebruik om te probeer redeneer dat God ook ’n vrou is.
Iemand het die volgende baie treffende ding gesê:
“As ek reg onthou gebruik liberales die vertaling van ELOHIM as God wat omgee soos ’n moeder om hierdie standpunt van God as vrou mee te begin. Dan word die argument nog verder verdraai na: “’n moeder is iemand met borste.” Dus het God ook borste waarmee “sy” ons voed. As jy eers op hierdie paadjie is word dit erg glibberig. Nou word God as Koning (van hemel en aarde) skielik die “koningin van die hemel”. As jy dit op Google intik, is jy baie vinnig by Isis – die koningin van die hemel. Dan is jy in pront Afrikaans – in jou moer in. Die argument kan dan nog een stappie verder gevat word naamlik – godin van liefde – en dan is jy vierkanting binne-in pornografie en uiteindelik tempelprostitusie.”
Bybelverse oor God se geslag
(19)Ek het gesê: Hoe graag wil Ek jou ’n seun van My maak en aan jou ’n lieflike land gee, ’n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het. Ek het gesê: Noem My “Vader”, en moet nooit weer van My af wegdraai nie. (20)Maar soos ’n vrou wat ontrou is aan haar man, so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here.