Kyk ook: |
In Mei 2008 het prof Harm Moraal (Skool vir Fisies-Chemiese Wetenskappe, Noordwes-Universiteit) die artikel “Om God te geniet … op grond van die oorsprong van die heelal” geskryf. Hier volg die artikel met my kommentaar tussenin:
********************
Om God te geniet … op grond van die oorsprong van die heelal
Deur prof Harm Moraal
Mei 2008
Binne ’n skrale 100 jaar het die aarde van 6000 jaar tot vier miljard jaar verouder. Die heelal self is nog meer as drie keer ouer ongeveer 14 miljard jaar. Wetenskaplikes aanvaar dat alles met ’n oerknal (“big bang”) begin het. Na ongeveer 400 000 jaar het materie in die vorm van ligte atome (waterstof en helium) begin om sterre te vorm. Die sterre het soos koolstof, stikstof, en suurstof. Uiteindelik het hierdie sterre as supernovas ontplof. Hulle het die asse van die swaarder atome in die ruimte uitgespoeg, en nuwe sterre het weer daaruit gevorm. Die nuwe generasie sterre – soos ons eie son – verbrand die materie verder tot steeds swaarder atome om sonlig en warmte te gee. Klein hoeveelhede van hierdie materie het in plante beland. Op aarde het hierdie materie tot lewe gelei. Intussen sit die heelal steeds uit, vanaf kleiner as ’n speldekop met die oerknal, tot die miljarde ligjare van vandag. Seders 1991 is meer as 200 ander planete buite ons eie sonnestelsel ontdek. Die groot vraag is: ls daar ook lewe? |
Te groots om te kan verwerk?
Dit is die standaard wêreldbeeld van ons bestaan. In nie-wetenskaplike kringe, ook in die Christendom, is dit kontroversieel. Naas hierdie groot wêreld- (makro-kosmologiese) model is daar op ’n kleiner skaal ook nog die geskiedenis van die aarde self, met teorieë – en bewyse – vir kontinentale dryf, geologiese evolusie, en veral die verskynsel van biologiese evolusie. Die grootsheid van dit alles het binne die bestek van 100 jaar te vinnig gekom om behoorlik te kan verwerk. So het ons verval in ’n nimmereindigende siklus van kritiek op die wetenskap op geloofsgrondslag, en afwysing van geloof op wetenskaplike argumente (“The God Delusion”, Richard Dawkins, 2006).
[Baie interessant dat prof Harm vir Richard Dawkins, wat ’n ateïs is, gebruik word teen mense (hoofsaaklik Christene) wat teen evolusie is. Ek sal later bietjie meer sê oor hierdie sogenaamde “wetenskap” wat gekritiseer word.]
Ek verlustig my daarin
As gelowige wetenskaplike het ek egter die vermoë gekry om die komplementêre waarhede van geloof en wetenskap bymekaar te bring. Daarom kan ek my net so voluit en onvoorwaardelik in die wetenskap verwonder as wat ek my geloof uitleef. Die eenvoud van die oerknalmodel is so oortuigend dat daar geen wetenskaplike gelyke daarvoor is nie. Sy elegansie blyk eers duidelik as jy dit in terme van die wette van die fisika ontleed.
[Hierdie stelling oor die oerknal is vreemd: Dit is nie net skeppingsleerders wat probleme sien met die oerknal nie – selfs sekulêre wetenskaplikes besef dat daar groot probleme met die oerknal is. Kyk:
- Big bang never happened
- Aussie researchers rewrite big bang theory en Big bang theory under threat from quantum graphity breakthrough.
- Cosmologists can’t agree and are still in doubt (Cosmology statement)
- Secular scientists blast the big bang
- Donkermaterie, ’n knoeifaktor (Daniel Louw)
- Has dark matter really been proven
- Hubble, hubble big bang in trouble
- Crisis in cosmology continues with conference of big bang dissidents
Dr Brian Greene het bv die volgende gesê oor die oerknal:
“Maar daar was nog altyd ’n paar probleme met die oerknalteorie. Eerstens, wanneer jy die hele heelal in ’n oneindig klein, maar wonderbaarlik digte pakkie druk, breek ons wette van fisika op ’n sekere punt eenvoudig af. Hulle maak net nie meer sin nie.”
Kyk ook Aanhalings – Kosmologie. Verder is dinge soos donkermaterie, donkerenergie en die horisonprobleem baie groot probleme vir die oerknalteorie (kyk ook Probleme met die oerknal).]
- Dis byvoorbeeld insiggewend om te begryp dat die bekende koolstof 14-horlosie waarmee ons ouderdomsbepalings doen, op dieselfde wette van die kernfisika berus as stralingsterapie teen kanker. As die horlosie betwyfel word, moet ek ook skepties teenoor stralingsterapie staan.
- Die feit dat ek met ’n teleskoop 10 milard ligjaar ver, en daarom 10 miljard jaar in die verlede kan terugkyk, berus op dieselfde wette van elektromagnetisme as GPS- en kommunikasietegnolgie. As ek die teleskoop nie wil glo nie, kan ek my selfoon ook maar teruggee.
- Een van my kollegas bestudeer stervorming deur middel van masers, die langer-golflengte broers van lasers. As ek sy resultate oor stervorming nie kan glo nie, dan moet ek ook aanvaar dat die rooi laserkolletjie van die supermark se skandeerder, my laserdrukker, en die beeld uit my DVD-speler maar net ’n hersenskim is.
[Die redenasiefout van prof Harm maak in die drie stellings hierbo is dat hy operasionele wetenskap met historiese wetenskap vergelyk (kyk Operasionele vs historiese wetenskap). Ek wonder of hy byvoorbeeld weet dat koolstof-14 in diamante en dinosourusbene gekry word? Dit beperk die ouderdom daarvan tot 250000 jaar en daarom krap dit die evolusionêre tydslyne totaal deurmekaar omdat dinosourusse volgens die evolusieteorie reeds 65 miljoen jaar gelede uitgesterf het (kyk Diamonds: a creationist’s best friend en Radiocarbon in dino bones).]
Die wetenskap vorm ’n baie sterk samehangende geheel. Die nie-wetenskaplike aanslag besef gewoonlik nie dat as jy hier torring, jy daar breek nie. Die Nederlandse uitdrukking is dat dit byna onmoontlik is om ’n mes daartussen te kry.
Dis ’n voorreg om ’n beroep te kan beoefen waarin jy hierdie dinge op grond van fundamentele wette kan verstaan, en jou telkens weer daaroor kan verwonder. By hierdie grootse konsepte kom daar nog klein wonders ook. Die data waarmee ek daagliks werk, kom van die Voyager 1 en 2-ruimtetuie, wat tans 15 miljard km van ons af weg is (100 keer verder as die son), maar dit kom van skamele 35 watt radiosendertjies aan boord. Dis so sterk (so swak) soos ’n skamele yskasliggie!
In ’n ander projek meet ons die konsentrasie van berillium-10 in Antarktiese ys. Dit leer ons iets van die intensiteit van kosmiese strale miljoene jare gelede en die tegniek is soortgelyk aan koolstof-14 datering. Die analises is so verfynd dat ’n mens konsentrasies van so laag as 1000 atome per gram kan meet. Dit is die ekwivalent van een suikerkorrel opgelos in die Vaaldam!
[Dit is alles weer pragtige voorbeelde van operasionele wetenskap. Hy kan nie hierdie voorbeelde gebruik om aan die oerknal, wat historiese wetenskap is, integriteit te gee nie.]
Dis nie volmaak of finaal nie
Maar die mooi samehangende wêreldbeeldmodel is nie volmaak of finaal nie. Galaksies (sterrestelsels) roteer vinniger as wat hulle behoort. Die verklaring daarvoor is dat daar, behalwe sigbare materie in sterre, ook donker (onwaarneembare) materie moet wees wat sterker aantrekking, en daarom vinniger rotasie veroorsaak. Die heelal sit vinniger uit as wat hy behoort te doen. Ons skryf dit toe aan donker (onwaarneembare) energie.
[Net vroeër is die oerknal se lof toegesing met woorde soos “eenvoudig”, “oortuigend” en “elegant”. En ook: “…die oerknalmodel is so oortuigend dat daar geen wetenskaplike gelyke daarvoor is nie.” Nou word die probleme met die oerknal erken, maar op so ’n manier asof dit glad nie ’n probleem vir die oerknal is nie. Besef mense wat donkermaterie is en hoe groot probleem dit vir die oerknal is? Donkermaterie is denkbeeldige materie wat geskep word sodat die somme klop (dit word ’n knoeifaktor, of in engels ’n “fudge factor“. Donkerenergie is ook so ’n knoeifaktor. Beide is eintlik ’n REUSE probleem vir die oerknalteorie. Hierdie probleme moet eers opgelos word voor die oerknal se lof toegesing kan word.]
Weet prof Harm van Humphreys en Hartnett se skeppingsleermodel, wat nie donkermaterie of donkerenergie nodig het nie? Kyk Ver-sterlig-jong-aarde-probleem.]
Om te sê dat die heelal vir soveel as 90% uit donkermaterie en donkerenergie bestaan, grens egter aan ’n erkenning van onkunde. Ons weet dus beslis nie alles nie en die wetenskaplike wêreldbeeld is nie finaal nie. [Hier poog hy om ’n beeld van nederigheid te skep – dat wetenskaplikes nederig is omdat hulle weet dat hulle nie alles weet nie. Maar dit is slegs gedeeltelik nederig. Is dit te veel gevra van wetenskaplikes om hulle “wetenskap” met hulle aannames opsy te skuif en die Bybel met respek te hanteer? (kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?). Ek glo dat werklike nederigheid sou gewees het om te erken dat die oerknal historiese wetenskap is en die knie te buig voor God en Sy Woord te glo oor die skepping van die aarde. Dit is so dat die Bybel ons nie in detail vertel hoe God geskep het nie, maar dit is duidelik dat dit nie met ’n oerknal was 15 miljard jaar gelede nie en ook sonder evolusie.] Kennis is soos die inhoud van ’n ballon. As die kennis binne sit, dan sit die onbekende op die oppervlak. Hoe stywer jy die ballon met kennis opblaas. hoe meer word die onbekende op sy oppervlak.
Job het al die Orion en ander sterrebeelde geken (Job 38:31) en ander persone in die Ou Testament was ook onderlê in die sterrekunde. Maar hulle het nog min geweet en daarom was hulle onbekende horison ook maar klein. Omdat ons so baie weet, is ons onbekende horison soveel groter. Die wiskundig aangelegde leser sal wel opmerk dat die volume van die ballon soos die derdemag van sy straal, en sy oppervlak maar soos die kwadraat groei . Die verhouding van die onbekende tot die bekende word dus steeds kleiner. Maar word dit ooit nul?
Hawking, Dawkins en Collins
Die gefaamde Stephen Hawking glo dat dit wel kan. Hy beklee Isaac Newton se leerstoel in Cambridge, is reeds 40 jaar ’n volslae invalide weens die Lou Gehrig-siekte, en is outeur van “A Brief History of Time”, die beste verkoper in populêre wêreldbeelde ooit. Die veelgeroemde laaste paragraaf lees “However, if we discover a complete theory, it should in time be understandable to everyone, not just by a few scientists. Then we shall all, philosophers, scientists and just ordinary people, be able to take part in the discussion of the question of why it is that we and the universe exist. If we find the answer to that, it would be the ultimate triumph of human reason – for then we should know the mind of God. (Hawking gee op 12 Mei 2008 ’n voordrag in Kaapstad.) Met sulke rasionele denke, gegrond op die beperkende metodes van die wetenskap, het hy en Dawkins geen Skepper-God nodig nie. Nog minder ’n persoonlike een.
Maar Hawking en Dawkins glo dit. Hulle het geen wetenskaplike bewys daarvoor nie, want dis nie meer wetenskap nie. Ek, aan die ander kant, kan my nie voorstel hoe ek oor die onbekende op die rand kan kom nie. Niemand sal tog ooit buite die heelal kan gaan staan om hom in volle wetenskaplike perspektief te sien nie? En almal, Hawking en Dawkins ingesluit, erken dat daar voor die oerknal geen fisika was nie. Ek sal dus nooit alles deur middel van die wetenskap alleen kan weet nie.
Daar is meer. God staan buite die heelal. In Job se taal kan ek daarom steeds nie die Orion se gordel losknoop nie. Wetenskap leer ons “hoe” en “wat”, maar nie “waarom” nie. [Van die verlede leer die wetenskap ons ook nie noodwendig veel nie. Kyk Om geloof en wetenskap te skei.] Francis Collins, die bioloog wat die menslike genoom agt jaar gelede gekarteer het, glo dit saam met my. In sy boek “The Language of God: A Scientist Presents Evidence for Belief” (2006), argumenteer hy dat Genesis 1 nie ’n wetenskaplike artikel is nie, maar iets vertel oor die aard van die Skepper-God, en daarom oor my aard as sy skepsel. [Niemand het ooit beweer dat Genesis as wetenskap gelees moet word nie. Dit is geskiedenis. Dieselfde soort geskiedenis wat ons leer van Julius Caesar en Jan van Riebeeck en wat ons nie ’n probleem het om te glo nie. Kyk Die verskillende genres van die Bybel.] Saam met hom – en skynbaar tot soveel as 40% van alle praktiserende wetenskaplikes – ervaar ek “… a wonderful harmony in the complementary truths of science and faith. The God of the Bible is also the God of the genome. God can be found in the cathedral or in the laboratory. By investigating God’s majestic and awesome creation, science can actually be a means of worship.”