What does God think of us SABC2 – episode 3
Deur Coert Welman
Op Sondag 17 April 2011 het die derde episode in die reeks What does God think of us op SABC2 gewys, getiteld The Virgin Birth.
Onderhoude is met “normale mense” (volgens Theo Geyser, die aanbieder) gevoer in Campus Square en die reaksies is nogal interessant. Daar was ’n paar mense wat geglo het in die maagdelike geboorte en ons sal later weer terugkom na hulle toe. Een vrou het met tipiese New Age argumente vorendag gekom. Maar die beste reaksie het van ’n man gekom wat gesê het: “I don’t know what to believe anymore, there are so many theories.” Dit is dalk iets wat die kerk van kennis moet neem, want hierdie baie verskillende teorieë kom vanuit die “kerk”.
Sommer vroeg-vroeg al word die “Copycat Saviour” teorie uitgepluk en voorgehou as feit. Die “Copycat Saviour” teorie sê basies dat Jesus Christus gebaseer is op ander, meer antieke, “gode” wat ook uit maagde gebore is en dies meer. Volgens die verteller is Boeddha, Krishna, Horus en Adonis almal vanuit maagde gebore en almal eeue voor Christus. Dit word voorgehou as feit. ’n Doodgewone soektog op die internet het aangedui dat die stellings rakende die ander maagdelike geboortes loutere twak is. Daar is selfs ’n uitdaging met prysgeld van $1000 vir iemand wat die Copycat Saviour teorie of selfs net aspekte daarvan korrek kan bewys.
Die vervaardigers se vier voorbeelde:
1. Boeddha
In die narratief van die agtergrondskets word daar genoem: “Buddha’s mother Maya became pregnant after the Holy Ghost descended on her”. Daar is verskillende verhale rondom Boeddha se geboorte en daar is inderdaad party wat noem dat hy gebore is sonder dat daar gemeenskap was (bonatuurlik, maar nie noodwendig maagdelik nie, soos ons later sal sien by Krishna), maar die enigste plek wat ek kon vind waar die Heilige Gees enigsins genoem word as deel van die baba-maak oefening is by ’n sekte wat Christenskap en Boeddhisme met mekaar probeer versoen. Hierdie groep beskou Boeddha as die Heilige Gees wat self sy ma (Maya, nie Maria nie) swanger gemaak het. ’n Verdere probleem vir die vervaardigers is dat Boeddha min of meer in die 5e eeu vC geleef het (daar is onsekerheid oor presies wanneer hy geleef het en sy geboortedatum wissel soveel as tussen 624vC en 400vC), maar die eerste geskrifte wat na hom verwys is meer as 400 jaar later, rondom die tyd van Christus, eers neergepen. Die eerste volledige biografie dateer uit die 2e eeu nC en dis dan boonop nog in digvorm ook (amper soos Raka van ouds). Op daardie stadium was die grootste deel van die Nuwe Testament alreeds lankal geskryf en in omloop. Nou is die vraag: was Boeddha regtig bekend genoeg rondom die Middellandse See in die tyd van Jesus en ’n eeu of so later dat dit redelik is om te dink dat Boeddhistiese denke die evangelie-skrywers beïnvloed het? Ons moet waak om in die strik te trap dat dinge nog altyd was soos dit nou is. Net omdat Boeddhistiese filosofie hoogty vier in Hollywood beteken nie dat dit nog altyd so wydverspreid was nie. Hoe op dees aarde is dit moontlik dat die navorsers sulke basiese feitefoute kon begaan? Dit is vir my onmoontlik om te kan indink dat enigiemand sonder meer sulke foute kon begaan het terwyl hulle besig was met eerlike navorsing.
Dit sou dalk ook goed wees om ’n bron soos Tektonics te raadpleeg wat uitgebreide navorsing hieroor gedoen het. Hulle Boeddha artikel is besonders insiggewend.
2. Horus
Die groot gunsteling van Religulous en Zeitgeist-faam en ook onderskryf deur almal se troetel-ateïs Richard Dawkins. Hy het immers vir Bill Maher ’n prys met sy naam op oorhandig vir Maher se werk op Religulous. Wel, Horus se geboorte was effe aan die komplekse kant. Sy ma Isis, wat nogal ’n pragtige eiland-tempel het wat aan haar toegewy is net buite Luxor, het al die dele van Horus se pa, Osiris, se uitmekaargekapte lyk van oral oor bymekaar gemaak, behalwe vir daardie klein, dog belangrike manlike deeltjie wat nodig is vir voortplanting. Dié is klaarblyklik in die Nyl gegooi en opgeëet deur ’n baber (catfish). (Hulle sal ook enigiets eet.) Toe maak Isis ’n goue fallus, sit dit saam met die res van die lyf se stukke aanmekaar en maak haarself swanger deur seksuele omgang te hê met die goud-bedeelde Frankenstein-agtige gedoente (wat in elk geval onmiddellik haar maagdelikheid gekanselleer het) en baar vir klein Horussie. Dis nekrofilie (necrophylia in Engels), nie maagdelike geboorte nie. Maar tog word dit wyd en suid verkondig as maagdelik.
In my opinie word hierdie teorieë rakende Horus geheel en al die nek in geslaan deur Dr Zahi Hawass, Egipte se Minister of State for Antiquities, wat absoluut niks hiervan noem in sy artikel oor Horus nie. Volgens hom is Horus doodeenvoudig Osiris se seun. Niks oor maagdelike geboortes of enige ander vergelykings met Jesus nie. Ek en my vrou was in Egipte by onder andere Horus se tempel in Edfu (waar ons eers ’n video moes kyk oor Horus en die spesifieke tempel) en selfs daar is niks hiervan genoem nie. “Opgekapte Osiris en Isis het Horus tot gevolg gehad”, was die enigste boodskap wat ons gekry het. Die enigste mense wat hierdie boodskap bly verkondig is sogenaamde “Christ-mythers” en ander soortgelyke mense wat antagonisties is teenoor die Christelike geloof. En natuurlik die vervaardigers van What does God think of us? Die Horus-is-Christus-storie word nogal goed weerlê deur Tektonics.
3. Krishna
Krishna was die AGTSTE seun van die prinses Devaki (mamma was lankal nie meer ’n onskuldige meisie toe hy gebore is nie) en haar man Vasudeva. Blykbaar het Vasudeva vir Devaki swanger gedink met ’n vuil gedagte of iets in dier voege. (Dit klink veel eerder soos die verskonings wat mens hoor elke jaar na Jool en Lentedag.) In ieder geval, die geboorte is gemeenskaploos ten beste. Maar maagdelik? Nie eens amper nie, tog vertel hulle in die program Krishna is “Born of the virgin Devaki”. Met alle respek, ’n vrou wat dit al reggekry het om sewe kinders te baar is laaaankal nie meer ’n maagd nie. Dalk moet ek Dr Jan van Elfen se Wat seuns/meisies wil weet by die vervaardigers se kantore en by Kletskerk (die navorsingskonsultant is immers meneer Swetskerk homself) gaan aflaai. Dit klink of daar ’n bietjie seksvoorligting nodig is.
Soos gewoonlik is hierdie twak baie deeglik aangespreek in verskeieartikels.
4. Adonis
In geen van die bronne wat ek geraadpleeg het word daar genoem dat Adonis die resultaat van ’n maagdelike geboorte was nie. Daar is ’n klomp verskillende weergawes van waar hy vandaan kom, maar nie een van hulle dui op ’n maagdelike geboorte nie. Maar dan kom hierdie klomp en lieg blatant in die openbaar daaroor. Dit laat mens met reg wonder oor die motiewe van die vervaardigers met hierdie program. Tektonics blaas dit ook met min moeite uit die water.
Met navorsers (konsultant ingesluit) en vervaardigers wat sulke swak navorsing doen, of met ’n duidelike agenda werk, hoe kan mens enigiets in die res van die program ernstig of geloofwaardig opneem?
Die gesprek
Dr Ben du Toit en vader Rowan Smith is die geleerde persone wat geraadpleeg word in die gesprek, met NG emeritus-predikant Sarah-Jane Wessels wat ook insette lewer. Ek was regtig beïndruk met Ds Wessels se insette. Sy het gereageer soos wat mens van ’n predikant sou verwag. Sy gebruik die Bybel as die fondasie van haar bespreking en haar beredenering.
Du Toit is iemand wat bekend is daarvoor dat hy ’n redelik liberale teologie aanhang en ten spyte daarvan was hy nogal konserwatief en ingetoë in sy antwoorde. Waar ek wel ’n ding of wat wil aanspreek is dat dit klink of hy van mening is dat die kerk aan mense verkondig dat hulle voorwetenskaplik moet wees in hulle denke wanneer hulle die geloofslewe binnetree. Wetenskaplik in die wêreld, voorwetenskaplik in die kerk. Dis nie ’n boodskap wat ek juis opgetel het in kerke nie. Die gemeente waaraan ek verbonde is, is ’n meer behoudende tipe gemeente (aanhangers van die liberale teologie sal dit selfs fundamentalisties noem), tog is daar ’n baie moderne inslag in die kerk om die evangelieboodskap juis verteerbaar te maak in ons huidige milieu. Skeppingsorganisasies soos CMI het juis die teenoorgestelde benadering as wat Du Toit op die tafel plaas. Hennie Mouton het dit ook baie duidelik gesê in die debat teen Piet Croucamp op 10 April 2011. Dalk het ek Du Toit se boodskap verkeerd geïnterpreteer.
Een van die verdere boodskappe van Du Toit is dat die Bybel interpretasie nodig het omdat ons in die 21e eeu nie die wêreldkonteks verstaan waarin die Bybel geskryf is nie. Dit is waar en dit is presies waar die grammaties-historiese metode van Skrif interpretasie inkom. Daar skuil wel gevaar daarin dat die “interpretasie” kan begin hand uitruk en die interpreteerder dan ook self kan begin besluit wat is metafories en wat nie en dan eindig mens op met iets soos die Nuwe Hervorming of Jesus Seminaar. ’n Artikel wat skitterend hierby aansluit is een wat baie jare gelede geskryf is deur CS Lewis getiteld Fern Seeds and Elephants. Dit is ’n artikel wat die vervaardigers van hierdie reeks dringend moet lees. Ek sal selfs so ver gaan om Lewis se boekie Mere Christianity ook aan te beveel.
Laastens, iets wat ietwat kommerwekkend is, is dat nie Du Toit of Smith vir Theo Geyser reggehelp het toe hy die “Copycat Saviour” aspekte inbring in hulle gesprek onder die bome nie. Hulle is beide teoloë en behoort te weet dat dit loutere twak is.
Smith stel sy posisie versigtig, tog onomwonde, dat hy die maagdelike geboorte as poëties sien. Hy lê ook baie klem daarop dat die woord wat in Jesaja gebruik is om hierdie te profeteer nie maagd beteken nie. Dis alles goed en wel, maar die leek in my is nuuskierig om te weet hoe so baie teoloë en Hebreeuse en Griekse kenners dit vir so lank verkeerd kon gehad het. ’n Jong vrou van hubare ouderdom is destyds gestenig as dit uitkom dat sy nie meer ’n maagd is nie (onthou Maria, ma van Jesus?). Dus is jong vrou en maagd effektief sinonieme in hierdie konteks.
Geyser konfronteer op ’n stadium van die studente in die parkeerarea by Campus Square in Melville wat belydende Christene is en in die maagdelike geboorte glo met die stelling dat ons nie die hele Bybel het nie en dat daar hoofstukke weg is en dat daardie verlore dele dalk daarop mag dui dat die maagdelike geboorte nie werklik was nie. Ekskuus? Is dit die tipe stelling wat jy wil hoor vanuit die mond van ’n aanbieder van ’n program wat onder ’n Christelike vaandel uitgesaai word? Iemand wat volgens die navorsingskonsultant ’n belydende Christen is (“Selfs die programleier Theo Geyser wat ʼn belydende Christen is”).
Ds Wessels het in haar insetsel genoem dat daar twee gedeeltes in die Bybel is wat spesifiek daarop dui dat Jesus uit ’n maagd gebore is. Hierdie punt is gegryp en mee gehardloop. Dwarsdeur die program in die onderhoude in Campus Square word daar gehamer op die feit dat dit SLEGS twee versies is wat aandui dat Jesus vanuit ’n maagd gebore is en diegene wat die maagdelike geboorte aanvaar word daarmee gebombardeer. Daar word ook gehamer deur Geyser dat ons hele teologie hierop gebou is. Wat is die punt daarmee? Teïstiese evolusioniste het ook net twee versies wat hulle gebruik om “miljoene en miljarde jare” mee te versoen met die Bybel. Hoekom is dit aanvaarbaar en hierdie nie?
Dit blyk selfs of Geyser een jong dame sover gekry het om te aanvaar dat die maagdelike geboorte tóg mities van aard kan wees. Dit is skokkende optrede en geheel en al onaanvaarbaar.
In sy opsomming maak Theo Geyser die verhaal van Adam en Eva af as mite en sluit dan sommer ook die maagdelike geboorte in by die sogenaamde skeppingsmites. In sy opsomming is hy baie duidelik daaroor dat die maagdelike geboorte ’n mite is. Elemente van waarheid en selfs ’n goeie boodskap, maar ’n mite nietemin.
Dit in kort my opmerkings oor die program. Ek eggo my opmerkings in episode 2 se resensie oor die doelwit van hierdie reeks. Wat kan dit wees, anders as om Christene in hulle geloof te laat twyfel of ’n baie liberale teologie aan te hang? Die narratief is deurspek met leuens en foute en dit lyk werklik of die groot oorhoofse boodskap die post-moderne boodskap van onsekerheid is. Ons moet onseker wees oor God se bestaan, onseker wees oor die maagdelike geboorte, onseker wees oor die akkuraatheid van die Bybel, en so aan. Ek staan steeds verstom dat hierdie onder ’n klaarblyklike Christelike vaandel uitgesaai word.