‘Kreatiewe spanning’ tussen akademiese teologie en kerklike teologie is noodsaaklik, sê dosente by Maties

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Kreatiewe spanning’ tussen akademiese teologie en kerklike teologie is noodsaaklik, sê dosente by Maties | Kerkbode

15 Februarie 2023

Prof Louis C Jonker, namens die NG Kerk Dosenteraad, Fakulteit Teologie, Stellenbosch, skryf

Ons as die NG dosente verbonde aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch, wil hiermee graag ons perspektief op die kerklike en publieke woelinge van die afgelope tyd oor teologiese opleiding en navorsing stel.

Ons is bekommerd dat daar dikwels eensydig en ongenuanseerd (van alle kante af) op hierdie kwessie gereageer word. Die volgende perspektiewe – so hoop ons – kan die openbare en kerklike gesprek oor die saak dien:

Eerstens, ons as NG Dosenteraad erken volledig die reg en verantwoordelikheid van die NG Kerkverband, deur middel van die NG Kuratorium, om toesig te hou oor die leer en lewe van NG dosente verbonde aan die fakulteit. Dit beteken enersyds dat hierdie liggaam – sou dit nodig en geregverdig wees – hulle taak sou versaak as hulle nie sou optree deur middel van gesprekvoering en/of amptelike klagtes by die tersaaklike ring nie. Dit beklemtoon ook die groot verantwoordelikheid wat die kuratorium het om kritiese gesprekke wat oor NG dosente in die openbaar gevoer word, verantwoordelik en volgens die NG Kerk se amptelike standpunte (insluitend die belydenisskrifte) te fasiliteer. Dit sluit onder andere in dat die kuratorium ook die navraer(s)/klaer(s) se standpunt(e) in die lig van die NG Kerk se amptelike standpunte (wat geformuleer is, en word, deur deeglike en verantwoordelike Skrifstudie, nadenke, en debat) moet beoordeel.

Aansluitend by bogenoemde, meen die NG Dosenteraad dat dit buite orde sou wees as die kuratorium ontvanklik sou wees vir klagtes wat vanuit ander kerklike of sekulêre omgewings sou kom. Met betrekking tot die lewenswyse van NG dosente, het enigiemand (ongeag kerkverband of affiliasie) uiteraard die reg om onetiese gedrag onder die aandag van kerklike amptenare of liggame te bring. Wanneer dit oor leerkwessies gaan, verstaan ons dat die kuratorium slegs skriftelike navrae of klagtes vanuit NG Kerkgeledere (individuele lidmate, gemeentes of kerkvergaderings) ontvang waarvan die geldigheid dan aan die hand van die belydenisskrifte en standpunte van die kerk beoordeel word alvorens enige ondersoek gedoen word. Dit impliseer dat klagtes vanuit die geledere van kerke wie se leer radikaal van die NG Kerk s’n verskil, of van persone (selfs ook binne die NG Kerk) wat sélf nie in lyn is met die amptelike kerklike standpunte nie, afgewys sal word. Dit sluit veral ook die kwessie van Skrifgesag en Skrifuitleg in.

Die NG Kerk het helder standpunte hieroor wat geformuleer is met inagneming van die nuutste uitlegkundige navorsing. Indien iemand, of ’n instansie, ’n klag sou lê of ’n navraag sou hê vanuit ’n verstaansraamwerk wat drasties van die NG Kerk s’n verskil, behoort die kuratorium nie ontvanklik daarvoor te wees nie. Trouens, dit sou selfs die verantwoordelikheid wees van die kuratorium om die klaer/navraer daarop te wys dat hy/sy/hulle nie die NG Kerk se standpunte verteenwoordig nie. Ons as dosente is dankbaar dat die kuratorium ook ’n beskermende funksie het teen die soms venynige en ongeregverdigde kritiek en verkettering van NG dosente wat dikwels in die pers en op sosiale media plaasvind – oor onder meer Bybelinterpretasie, die interpretasie van die belydenisskrifte, tradisie en liturgie.

Dit is verder ons standpunt dat ons roeping juis behels om die NG Kerk met goeie en verantwoordelike navorsing te dien – oor die uitleg van die Bybel, of oor enige ander teologiese kwessie. Die Gereformeerde tradisie, waarop ons onsself beroep, gaan juis uit van die voorlopigheid van ons kennis oor God. Daarom is dit die taak van die kerk, ook die NG Kerk, om voortdurend ons verstaan van God en die wêreld te herondersoek, te herbelig, te hersien en te herinterpreteer in die lig van nuwe insigte en kennis, en voortdurend veranderende kontekste. Daartoe kan (en wil) teologiese dosente graag ’n bydrae lewer. Trouens, ons beskou dit as ons roeping.

Laastens, Bybelwetenskaplikes van die NG Dosenteraad bestudeer die tekste van die Ou en Nuwe Testament met akademiese en teologiese integriteit. Hulle taak is nie net om die tekste goed te bestudeer nie, maar om ook die wêrelde waarin hierdie tekste tot stand gekom het, deeglik in spel te bring in die interpretasieproses. Dit behels onder andere dat ander geskrifte wat in die tyd van die totstandkoming van die Bybel in sirkulasie was (en daar is baie!) ook bestudeer moet word om beter begrip te kry vir die godsdienstige en teologiese debatte en ontwikkelings van die antieke tyd. Ons is deeglik bewus daarvan dat die oorgang tussen die Judaïsme en die Christendom nie ’n eensklapse en duidelik onderskeibare verandering was nie. Die vroeë Christendom het vir eeue lank geworstel met die vraag oor of, en hoe, Jesus van Nasaret mense se denke oor God help verander het, en wat die status van hierdie Jesus dus sou wees. Die konsensus-sienings het later (meestal in die vierde eeu na Christus) in ’n aantal belydenisskrifte uitgemond. Tussen die Christusgebeure en die finalisering van hierdie belydenisskrifte lê ’n uitgestrekte wêreld en tyd van worsteling, nadenke, herevaluering en herinterpretasie. Ons merk reeds iets van hierdie worstelingsproses wanneer die boek Handelinge en die briewe van Paulus en andere laat blyk dat daar verskillende menings oor kwessies soos die besnydenis, die eet van offervleis, en ja, selfs oor die goddelikheid van Jesus was.

Dit is die taak van Bybelwetenskaplikes en ander teoloë om hierdie “oorgangstyd” deeglik te bestudeer deur middel van die talle buite-Bybelse tekste wat getuig van hoe die teologiese debatte verloop het. Trouens, die bestudering van hierdie fassinerende debatte sou selfs ook vir ons, in die NG Kerk vandag, van nut kon wees as ons diep nadink oor hoe ons God in oorgangstye bely. Tegelykertyd behels dit dat die belydenisskrifte gesien moet word teen die agtergrond waarteen dit geformuleer is. Die standpunte van die Christelike kerk is geformuleer binne die verstaansraamwerke van hulle tyd, na eeuelange worstelinge oor die kwessies wat hierbo genoem word. Belydenisskrifte verwoord dus nie die sogenaamde “finale antwoorde” nie – trouens, dan sou die kerk reeds lankal gestagneer het. Dit verwoord eerder die insigte wat stamelend deur Christene bely word, gegewe die ontwikkelings oor eeue heen, en in die konteks van ’n bepaalde historiese tydsgewrig. Belydenisvorming bly ’n dinamiese proses – soos die bekende voorbeeld van die Belhar-belydenis illustreer. ’n Lewende geloofstradisie worstel dus voortdurend met die vraag wat dit beteken om opnuut die evangelie hier en nou te bely en uit te leef.

Ten slotte, ons as NG dosente van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch stel onsself graag in diens van hierdie navorsing, maar ook in diens van ons kerklike roeping. Ons meen nie dat ons akademiese werk in isolasie plaasvind (onder die vaandel van akademiese vryheid) en dat die NG Kerk niks daaroor te sê mag hê nie. En ons meen ook nie dat ons betrokkenheid by die kerklike debatte van ons eie tyd ons diskwalifiseer vir ons akademiese taak nie. Hierdie noodsaaklike en kreatiewe spanning tussen akademiese teologie en kerklike teologie is niks nuuts nie, en moet volgehou word ter wille van beide die akademie en die NG Kerk. ’n Kerk wat vervlak in terme van teologiese navorsing, staan helaas ook die gevaar om bloot hulle eie sienings en oortuigings te dien.

Kommentaar

Daniel Louw

‘n Mens kan nie help om te wonder hoekom Louis Jonker hierdie blatante dwalings van Peter Nagel verdedig nie. Is dit dalk omdat Jonker weet dat hy baie dieselfde geloofsoortuigings as Peter Nagel het en dat hy bang is dat hy volgende is om onder tug geplaas te word?

Dit is verder baie interessant dat Louis Jonker redeneer dat:

“dit buite orde sou wees as die kuratorium ontvanklik sou wees vir klagtes wat vanuit ander kerklike of sekulêre omgewings sou kom.”

Volgens André van Niekerk (2 Mar 2023) was dit onder andere iemand uit die Shofar-kerk wat Peter Nagel aangegee het. Daar is egter hoegenaamd geen sin in hierdie argument nie. Beteken dit dus as ek in Amerika gaan vakansie hou, mag ek nie iemand wat ingebreek het tydens my besoek by die Amerikaanse polisie gaan aankla nie? Van wanneer af maak dit saak wie die misdaad onder die aandag van owerhede bring?

En:

“Dit impliseer dat klagtes vanuit die geledere van kerke wie se leer radikaal van die NG Kerk s’n verskil, of van persone (selfs ook binne die NG Kerk) wat sélf nie in lyn is met die amptelike kerklike standpunte nie, afgewys sal word. Dit sluit veral ook die kwessie van Skrifgesag en Skrifuitleg in.”

Met “selfs [persone] ook binne die NG Kerk” verwys Louis Jonker waarskynlik na Chris van Wyk. Die beskrywing pas hom soos ‘n handskoen: Uit vorige berigte lei ‘n mens lei af dat Chris van Wyk, wat behoudend is en ook ‘n lid van die Kairos Netwerk is, oorspronklik vir Peter Nagel aangekla het. Of eerder, dat Chris sy sieninge onder die kuratorium se aandag gebring het.

Let ook op dat Louis Jonker spesifiek hier na die NG Kerk se amptelike standpunt oor Skrifgesag verwys – ook iets wat Chris van Wyk nie ondersteun nie. Dit is hierdie einste standpunte wat gemaak het dat prof Jurie le Roux en prof Julian Müller vrygespreek is van Ferdie Mulder se klagtes van leerdwaling. Die volgende is daaroor gedokumenteer:

“Dit was vir die kommissie duidelik dat prof Le Roux nie van die hermeneutiese verstaanraamwerk, soos neergelê deur die Algemene Sinode (1998, 2000 en 2002) rakende: Die Gesag Van Die Skrif, Belydenisskrifte As Historiese Dokumente, Die Messiaanse Tekste, Die Verstaan En Funksie Van Die Ou Testament In Die Kerk, afgewyk het nie”

(Uit Ring van Pretoria-Oos Bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen Prof. Jurie Le Roux (2006))

“Die kommissie het … deurlopend rekening gehou met die besluite van die Algemene Sinodes (1998, 2000, 2002) rakende die gesag van die Skrif en die Belydenisskrifte … Die kommissie is van oordeel dat prof Müller in sy taak as teoloog hom kan beroep op die uitsprake van die Algemene Sinode. Dit is duidelik dat die Sinode in sy uitsprake oor skrifgesag en belydenisskrifte ‘n brug bou tussen “die tradisie” en “kritiese geloofsverantwoording.”

(Uit Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen prof Julian Müller (2006))

Wat sê hulle altyd: “Benoude katte maak benoude spronge…”

1 thought on “‘Kreatiewe spanning’ tussen akademiese teologie en kerklike teologie is noodsaaklik, sê dosente by Maties”

  1. Met verwysing na, “Ons is deeglik bewus daarvan dat die oorgang tussen die Judaïsme en die Christendom nie ’n eensklapse en duidelik onderskeibare verandering was nie.”

    In Lukas 24 met Christus se gesprek met die Emmausgangers, verwys Hyself dat die Antieke Skrifte na Hom verwys. In die merkwaardige gebeurtenis kon mens ook bespeur dit is waarlik net die Gees wat die verstand kon en kan open tot insig in die Skrif.

    Tydens ‘n besoek aan Israel in 2010, met ‘n kort blootstelling aan ‘n gesprek met ou Messiaanse Jodin by die ‘Moses Tabernakel’-voorstelling in die suide van Israel, het ek iets bespeur hiervan. Haar woorde was ‘n draer van lig en krag soos min leraars en ook ‘gewone’ christene, mysef ingesluit. Die besef het tot my deurgedring: die kennis van die Ou Testament by haar was diep en intens, en in ewe maat, die Beeld van Christus en die werk van God die Vader en Sy Gees, kon sy sien in die Ou Testament op ‘n ‘vlak’ wat mens tot skaamte bring, by wyse van vergelyking. Om in Engels die woord te gebruik: die ‘veil’ was gelig van haar hoof, en inderdaad, dit was my grootste geroep tot die Here: laat die ‘veil’ ook van my hoof gelig word sodat ek Christus kan sien en beleef, sodat Hy as’t ware stap vanuit die woorde vanuit die Skrif tot ‘n Persoon in die hart. Ons dink ons ken Christus diep en intens, maar dan ontmoet mens sulke persone soos sy en besef: ek het Hom nog nooit waarlik geken nie, al praat ek van wedergeboorte by myself en Bybellees en bid.

    Ek is bevrees, dat ons ook self “die oorgang tussen die Judaïsme en die Christendom’ in die moderne tyd nie oorbrug het nie, al dink ons so. Ons leef ‘fake’ lewens teenoor hul in die Antieke tye, en dink selfs ons ‘vrees die Here’, maar dit is ‘n leuen. Dit is waarom kerke, selfs die konserwatiewe kerke’, nie waarlik in die Krag van God se Gees meer funksioneer nie, want die ‘self’ preek vanaf die platvorms van mense se lewens, en nie vanuit ‘n totaal oorgelewerde lewe nie. Ons spot eintlik met ander, maar onsself, is absolute leuenaars.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui