Kyk ook:
- Wie is Jan Lubbe?
- Teologiese Opleiding: Só maak mens voorts met navrae (27 Mei 2022)
- Verslag van die Algemene Kuratorium aan ASM Mei 2022 (17-20 Mei 2022)
Kyk my kommentaar in rooibruin blokhakies.
*******
Kuratorium: Feite, liefde moet vrye sê steun | Netwerk24
Jan Lubbe, Bloemfontein
13 Junie 2022
Die NG Kerk se algemene kuratorium (AK) het nie ’n “afdwingbare beleid oor sosiale media” nie, maar is wel in gesprek oor hoe sosialemediariglyne soos dié van die NG Kerk Vrystaat (2017) toegepas kan word.
Daarin is nie “strafmaatreëls” vervat wat dr. Bernhard Ficker en “diakens, diakonesse, ouderlinge, dominees” (08.06) hoef te vrees nie: Die gesprek oor teologiese opleiding is oop.
Só begin die verslag waaruit dr. Ficker aanhaal: “Elke lidmaat (is) welkom om navraag te doen oor hoe teologiese opleiding werk of oor bekommernisse wat hulle graag wil uitklaar.”
Dit stel ’n proses voor van hoe so ’n navraag kan verloop en dr. Ficker en ander kan dit gerus gebruik.
Sowel die Vrystaatse as die Noord-Kaapse sinode het gewys dat konstruktiewe gesprek moontlik is en almal help. [Kommentaar: Ek sou dit beswaarlik konstruktiewe gesprek genoem het. Die Vrystaatse sinode is erg verdeel oor die kwessies in die kerk en die Noord-Kaapse sinode praat die algemene sinode na sonder enige begrip vir behoudendes se standpunt nie.] Dít was ook die belewenis op die vergadering tussen die Namibiese sinode en die moderamen van die algemene sinode in Mei – “die Jesus-pad” (Matt. 18), soos hulle dit genoem het. [Kommentaar: Die ASM het hoegenaamd nie aan die Namibiese sinode se eise gehoor gegee nie. Dus, indien die Namibiese sinode hulle woord gestand hou, dan is Artikel 37 hulle voorland.]
Waarteen die AK beswaar aanteken, is dat teologiese opleiding en dosente in briewekolomme van koerante, op webwerwe of in YouTube-video’s onder die vrye sê van iedereen deurloop sónder dat feite geverifieer word.
[Kommentaar: Jan sal baie duidelike voorbeelde hiervan moet gee, anders staan hý die gevaar om besig te wees met verdagmakery.]
Nét soos wat ons Grondwet vryheid van spraak verskans – waarna dr. Henrietta Klaasing in háár brief (03.06) verwys – stel dit óók dat ons mekaar billik sal hanteer en dat diskriminasie op grond van ras, taal, geslag of godsdienstige oortuiging onaanvaarbaar is. Daarom het skole en ondernemings soortgelyke “beleid oor sosiale media” vir hul leerlinge en werknemers ingestel.
Méér nog. Die AK se versoek dat ons ons sal hou aan ordelike gespreksreëls berus op die uitleg van die Heidelbergse Kategismus oor die negende gebod: “Ek mag nie teen iemand valse getuienis aflê, iemand se woorde verdraai, nie ’n kwaadsteker of lasteraar wees nie, niemand onverhoord of ligtelik help veroordeel nie” (Sondag 43).
[Kommentaar: Weereens, voorbeelde asseblief. As jy nie bereid is om voorbeelde van hierdie sogenaamde valse getuienis te gee nie, dan is jy besig met verdagmakery.]
Dít is niks anders as die Bybelse boodskap van om jou naaste lief te hê, selfs al gaan dit om ’n “vyand” (Mattheus 5:43-45); iemand van wie jy mag verskil – in koerante of op kansels, op Facebook of iewers in ’n WhatsApp-groep.
[Kommentaar: ’n Kommentaar wat in die openbaar gemaak is, kan, of moet selfs, in die openbaar gekritiseer word. Kyk Mag Christene mekaar in die publiek oordeel of teregwys?]
Ons almal moet onsself gereeld daaraan herinner en ons gewete ondersoek.