Laaste sê moet lê by Woord en kerk se belydenisskrifte

Die volgende artikel is geskryf na aanleiding van die artikel Gays ‘nog meer onveilig’ in kerk (22 Aug 2021).

*****

Laaste sê moet lê by Woord en kerk se belydenisskrifte | Netwerk24

Deur Helgard Janse van Rensburg

05 September 2021

Die NG Kerk se algemene sinode maak telkens dieselfde fout as dit by die besluite oor gays in die kerk kom, skryf Helgard Janse van Rensburg.

In die boek #liefdeisliefde deur Laurie Gaum en Chris Jones word die stem van LGBTQI-mense en progressiewe lidmate gehoor.

Dit is egter nodig dat die stemme van behoudende lidmate wat met die absolute gesag van die Bybel as die Woord van God, die drie formuliere van eenheid en die kerkorde erns wil maak, ook gehoor word.

Die NG Kerk (NGK) se Kerkorde bepaal “kerkvergaderinge behandel sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord en op kerklike wyse”.

Dit beteken om in die regte gesindheid na die wil van God in sy Woord aan die hand van die belydenisskrifte op ’n kerkordelike wyse te soek. As die algemene sinode (AS) en die groep van 12 wat die hooggeregshof genader het, dit maar net gedoen het!

Die AS van 2007 het ná deeglike eksegetiese en teologiese studie sy besluite van 2004 bevestig, onder meer dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word en dat homoseksuele verbintenisse nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

Die sinode van 2013 het dié besluite bevestig en opdrag aan die AS se moderamen (ASM) gegee om “in voortsetting van die 2007-verslag oor homoseksualiteit ’n studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie”.

In die aanloop tot die sinode van 2015 het die sub-taakspan sy verslag aan die ASM voorgelê.

Die verslag het volledig gesteun op menings ingewin op streekbyeenkomste en op die sosiale en geesteswetenskappe, maar benewens ’n sin of twee in dié verband op geen verdere studie in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie nie.

Daar was toe algemene konsensus by die ASM dat sy opdrag nie afgehandel is nie en dat die verslag slegs as ’n vorderingsverslag aan die AS van 2015 voorgelê sal word, met die aanbeveling dat die sinode die opdrag van 2013 herhaal.

Daar is ook ooreengekom dat alle ander kommentaar wat intussen ontvang is, nie aan die sinode voorgelê sal word nie, maar dat dit die nodige aandag sal geniet wanneer die studie voortgesit word.

Daarna word aan vele fronte kerkordelik gefouteer:

Die sinode van 2015 het, sonder om oor die ASM se aanbeveling te stem, en sonder kennis van revisie van besluite geneem in 2007 en 2013, en sonder enige verdere studie in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie, besluit om erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van mense van dieselfde geslag en daarvoor voorsiening te maak dat dié verbintenisse kerklik bevestig kan word.

Dit het gelei tot ’n ongekende reaksie deurdat ’n groot getal lidmate, kerkrade en ringe op die korrekte kerkordelike wyse die besluite amptelik verwerp het, bykans 20 appèlle ingedien het, en uiteindelik ongeveer 600 bladsye beswaarskrifte, gravamina en beskrywingspunte aan die AS gerig het.

Die sinode se appèlliggaam het op grond van die prosedurele foute wat begaan is, die 2015-besluite ongeldig verklaar.

Die appèlliggaam het die besware op grond van die Skrif en belydenis na die volle AS vir verdere hantering verwys.

Die bevindinge van die appèlliggaam het beteken dat die 2007- en 2013-besluite in daardie stadium die geldige besluite was.

’n Buitengewone vergadering van die AS is in 2016 byeengeroep en in ooreenstemming met die sinodes van 2007 en 2013 is selfdegeslagverhoudinge weer eens afgewys.

Ongeag die kerkordelike reëling dat kerklike middele eers aangewend en uitgeput moet word, het die groep van 12 hulle in hul ongelukkigheid direk tot die hof gewend.

In dié hofsaak het hulle die AS se kerkordelike appèlprosedures betwis en versoek dat die hooggeregshof regsekerheid oor die regte van gay lidmate gee.

Teen die Algemene Taakspan Regte (ATR) se advies in is die AS se kerkordelike appèlprosedures nie in die hof verdedig nie.

Dit het daartoe gelei dat die hooggeregshof beslis het dat die appèlliggaam nie die 2015-besluite ongeldig kon verklaar nie, dat die 2015-besluite dus steeds die geldige was en dat die sinode van 2016 nie sonder kennis van revisie nuwe besluite kon neem nie.

Die 2019-sinode het daarna die hof se beslissing aanvaar en toe die 2015- én 2016-besluite op dieselfde beginselgronde ongeldig verklaar. Die oomblik toe dit gebeur het, was die 2007- en 2013-besluite weer die enigste geldige besluite. Besluite lynreg daarteenoor kon nie geneem word sonder kennis van revisie, sonder verdere studie in die lig van die Skrif en die Gereformeerde tradisie, en sonder dat die ongeveer 600 bladsye besware, beswaarskrifte en gravamina eers ordelik hanteer is nie.

Dit is nie gedoen nie en die 2019-besluite wat daarna geneem is, is dus weer eens (ten minste) prosedureel ongeldig!

Die AS maak herhaaldelik dieselfde prosedurele foute en slegs die sinode kan sy eie foute regstel. Sinode-besluite behoort ook nie “op die skouers van ons Grondwet te staan” nie, maar alleen op die Woord en die kerk se belydenisskrifte.

Dit is oor bogenoemde foute dat behoudende lidmate, gemeentes en ringe doleer (treur).

Die Kairos Netwerk beywer hom daarvoor dat die AS sy huis in orde moet kry deur kerklike sake op ’n kerklike wyse te hanteer.

Dit beteken om by die Woord, die belydenisskrifte en die korrekte kerkordelike prosedures te hou; die ongeveer 600 bladsye appèlle, beswaarskrifte, beskrywingspunte en gravamina deeglik onder die loep te neem; die geskille wat reeds verklaar is, te hanteer; en soos wat die AS self besluit het, die saak wat reeds tot groot verdeeldheid gelei het, na die tien samestellende sinodes vir besinning en konsultasie te verwys.

* Ds. Helgard Janse van Rensburg is ’n voormalige moderator van die Vrystaatse Sinode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui