Kyk ook:
In die onderstaande artikel verdedig Neels Jackson vir Peter Nagel, ‘n teologiese dosent wat Jesus se Godheid bevraagteken (verwerp?).
As daar enige twyfel was waar Jackson teologies staan, dan behoort hierdie artikel alle onsekerhede uit die weg te ruim. Hy is in dieselfde liberale kamp as Julian Müller, Jurie le Roux, Louis Jonker, ens.
*******
Laat sak swaard van vergelding | Rapport
Neels Jackson
Sondag, 29 Januarie 2023
Om ’n intelligente gesprek te voer oor dr. Peter Nagel se omstrede artikel is moeilik as daar ’n swaard oor sy kop hang, skryf Neels Jackson.
Daar word vertel dat Augustinus, die kerkvader uit Noord-Afrika wat van 354 n.C. tot 430 n.C. geleef het, iets in die volgende trant sou gesê het: “Die vaders het gesê wat hulle gesê het, net omdat hulle nie niks wou sê nie.”
Dit was ’n verwysing na die kerkvaders wat in die vierde eeu die leer oor die Drie-eenheid en oor die twee nature van Jesus Christus geformuleer het.
Deur sy opmerking wou Augustinus die aandag vestig op die misterie, die onbegryplikheid van God waaroor ’n mens eintlik nie taal het om te praat nie.
Maar terselfdertyd is mense se belewenis van God só dat hulle voel hulle kan nie stilbly oor God nie. Die gevolg is dat hulle dan oor God praat, maar met die wete dat dit wat hulle sê, altyd sal tekort skiet.
Hierdie anekdote is opnuut relevant met die saak waarin die Nuwe Testamentikus dr. Peter Nagel nou onder skoot kom oor sy akademiese artikel getitel “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus Is Not Theos.” (Die Griekse Theos/God – in die oorspronklike artikel boonop geskryf in Griekse letters – word spesifiek gebruik omdat Nagel glo daar iets verlore gaan in vertalings).
Die agtergrond tot Augustinus se opmerking was dat die kerk in die eerste paar eeue ná Jesus se aardse lewe in ’n dilemma was. Aan die een kant wou hulle ’n voortsetting wees van die godsdiens van Abraham, Isak en Jakob, van Moses en koning Dawid. En dit was ’n sterk monoteïstiese godsdiens. Dit was ’n kernbelydenis dat daar net één God is.
En tog, het hulle gevoel, in hierdie mens, Jesus van Nasaret, het hulle iets van God raakgesien. Hy was, het hulle geglo, meer as ’n gewone mens. En boonop was daar nog die uitstorting van die Heilige Gees.
’n Paar eeue lank het die vroeë kerk geblom sonder dat hulle duidelik kon sê hoe hulle die eenheid en die drieheid saam verstaan. Hulle het as ’n gemeenskap gefunksioneer waarin almal welkom was, waar hulle mense se nood raakgesien het en hulp verleen het, en waarin hulle as navolgers van Christus kon leef.
Maar uiteindelik, teen die vierde eeu, is daar versigtig geformuleer wat die kerk glo.
In die geloofsbelydenis van Nicéa word onder meer gesê dat die kerk glo “in een God, die Almagtige Vader . . .” en “ . . .in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; (God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader . . .” en “in die Heilige Gees, die Heer en lewendmaker . . .”
Later sou die geloofsbelydenis van Athanasius onder meer oor die kerk se algemene geloof sê: “ . . . dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer, sonder om die persone te vermeng of die substansie te deel; want die persoon van die Vader is ’n ander, van die seun ’n ander (en) van die Heilige Gees ’n ander; maar die Vader, die Seun en die Heilige Gees is een Godheid. . . ”
Dis oor sulke versigtige en selfs paradoksale formuleringe van ’n oortuiging wat moeilik onder woorde te bring is, dat Augustinus gesê het dat die kerkvaders dit so gestel het omdat hulle nie niks wou sê nie.
Wat egter in die eeue daarna gebeur het, is dat hierdie versigtige formuleringe gestol het tot klinkklare en vaste waarhede, met sommige gelowiges wat voel dit sê presies wat die kerk glo terwyl ’n begrip van die kompleksiteit in die hele saak by baie gelowiges minder geword het. In hul oortuigings het hulle God in kanne en kruike gehad.
[Kommentaar: Met ‘n “vroom nederigheid” oor sekerhede verdedig Neels Jackson vir Peter Nagel, wat ‘n baie eenvoudige waarheid, dat Jesus God is, verwerp. Dit terwyl Peter Nagel die persoon is waaroor Paulus sê: “Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.” (1 Korintiërs 5:9-12) en waarvan Johannes sê: “…moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie” (2 Johannes 1:7-11)]
Verder gebruik party mense hierdie harde waarhede om ander te oordeel en te veroordeel selfs al is die Bybel duidelik dat die oordeel God toekom.
[Kommentaar: Hierdie argument word al soveel jare liederlik misbruik. Kyk Die Bybel oor oordeel.]
In die NG Kerk is daar ’n slegte geskiedenis van teologiedosente wat op hierdie manier vervolg is. Die bekendste voorbeeld is seker dié van prof. Johannes du Plessis in Stellenbosch sowat ’n eeu gelede. Dekades later het die kweekskool op Stellenbosch erken dat Du Plessis ’n onreg aangedoen is en nou staan sy standbeeld in hul tuin.
In die afgelope jare is daar ook ’n veldtog van verdagmaking gevoer, eers net teen enkele dosente en in die afgelope tyd sommer teen fakulteite in die geheel.
Een van die dosente wat beskuldig is daarvan dat hy die opstanding van Christus sou ontken het, was prof. Jurie le Roux, Ou Testamentikus van Tukkies. Hy en van sy kollegas is formeel aangekla en onskuldig bevind, maar dit het nie ’n einde gemaak aan die heksejag teen hom en ander nie.
Later, kort voor sy dood, het Le Roux teenoor ’n kollega oor die pynlike ervaring wat dit vir hom was, opgemerk: “En dat hulle my kon aankla dat ek die opstanding ontken, terwyl dit al is wat my nou dra.”
[Kommentaar: Hoekom noem Neels nie ook sommer die “lyding” wat Julian Müller moes ondergaan nie?]
Waar laat dit alles vir Nagel en die artikel wat hy geskryf het?
Formeel is die situasie volgens ’n verklaring van die dagbestuur van die kuratorium dat ’n ring-tugliggaam bevind het dat Nagel se artikel sy persoonlike standpunt oor die Godheid van Christus weerspieël en dat dit strydig is met die belydenis van die kerk en sy legitimasie-eed. Daarom is Nagel se legitimasie tydelik opgeskort terwyl daar met hom in gesprek gebly word om hom “tyd te gun om sy akademiese integriteit te belyn met sy kerklike integriteit”, met ander woorde om sy geloofstandpunt in ooreenstemming met dié van die kerk te bring.
[Kommentaar: Ek moedig lesers aan om te gaan kyk wat Peter Nagel tydens sy legitimasie-eed belowe het (kyk Legitimasie-eed van NG Kerk predikante). Hy het dit baie duidelik verbreek en verdien wat hom toekom.]
Hoe sou die gesprekke tussen kerklike verteenwoordigers en Nagel kon verloop?
Op een vlak sou dit ’n akademiese gesprek kon wees. Nagel bespreek in sy artikel ses teksgedeeltes. Soms word dit baie tegnies, soos waar dit gaan oor hoe ’n Griekse voornaamwoord in ’n spesifieke teks verstaan moet word. Op ’n punt is die vraag hoe die laaste deel van Titus 2:13 verstaan en vertaal moet word. Wil die teks iets sê soos “ons groot God en redder, Jesus Christus” of liewer “groot God, en ons redder Jesus Christus”? Die hele vraag oor waarna die woord “Theos” in die tekste verwys, sou aan die orde kon kom.
Daar sou ’n gesprek kon wees oor die gaping tussen Bybeltaal en geloofstaal. In hierdie geval kom die Bybeltaal uit die eerste eeu, toe die kerklike leer nog nie geformaliseer is nie, terwyl die geloofstaal eers in die vierde eeu geformuleer is. Sou dit billik wees om Nagel se ontleding van Bybeltaal te toets aan geloofstaal wat eeue later ontwikkel het?
Wat sê Nagel nou eintlik in die artikel? Is dit bloot dat dit nie so eenvoudig is om ’n is-gelyk-aan-teken tussen God die Vader en die mens Jesus te plaas nie? Of ontken hy inderdaad die goddelikheid van Jesus? In die artikel word self gevra wat dit beteken as ’n mens sê dat Jesus nie Theos is nie. ’n Paar moontlikhede word genoem, maar ’n direkte antwoord word nie gegee nie.
[Kommentaar: Volgens studente is dit presies wat Nagel in die klas verkondig: “Jesus ≠ The Logos”]
As ’n mens vra of die klag teen Nagel berus op vertolking van die belydenis wat te min van die misterie van God maak, is die vraag ook of Nagel in sy gevolgtrekkings nie te duidelik wil wees nie? Maar dan moet ’n mens ook in ag neem dat sy artikel ’n akademiese oefening is waarin duidelikheid in die interpretasie van die teks die oogmerk is. Dis wanneer ’n mens daarvan oorgaan na geloofstaal oor God, dat die misterie ter sprake kom.
Uiteindelik sou ’n mens kon hoop dat kerk en teoloog mekaar sou kon vind, dat die gesprek sy uitgesproke doel bereik. Dit is nie vervolging of vergelding nie, maar “die welwese van die persoon sowel as die geloofsgemeenskap”.
Dalk help die hele omstredenheid nog die kerk om met minder stelligheid en met meer waardering vir die misterie oor God te praat.
Maar dit is natuurlik moeilik om so ’n gesprek te voer terwyl daar duidelik ’n swaard oor ’n persoon se kop hang. En die geskiedenis toon dat sulke sake waarin daar openbare belangstelling is, dikwels nie goed verloop nie. En dan is daar nie wenners nie. Almal is verloorders. Want ’n mens verdedig nie God se eer as jy mense verniel nie.
[Kommentaar: Regtig? Waar kom Neels hieraan? Miskien moet hy herinner word aan Pinehas, Samuel en Jehu. Of sal hy hierdie afmaak as “Ou Testament”? Indien wel, sal mens hom ook graag wil herinner aan God se onveranderlikheid.]
- Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in geloofsake.