Kyk ook: |
Hierdie volgende artikel het in Beeld verskyn en impliseer dat mense wat teen Belhar is, rassisties is.
*********
Leraar: ‘Belhar onbybels’ | Beeld
1 groep kan God nie kaap, hoor sinode
Deur Neels Jackson, Dinsdag 18 Junie 2013 00:33
Bothaville. – As daar ’n arm mens by die sinode instap en skree: “Julle f****n Christene…”, dan moet bekering aan hom verkondig word. Dan is God nie aan sy kant nie.
So het ds. Pieter Prinsloo van die gemeente Môrewag in Kroonstad aan die sinode van die NG Kerk in die Vrystaat gesê.
Prinsloo het dié argument gebruik om aan te voer dat dit onbybels is as die Belydenis van Belhar sê dat God “op ’n besondere wyse die God van die noodlydendes, die arme en die verontregte is”. God kan nie so vir een samelewingsgroep gekaap word nie.
Dr. Gideon van der Watt van die sinode se eenheid vir vennote in getuienis het Prinsloo gewys op Psalm 146, wat onder meer sê God “laat reg geskied aan verdruktes”.
Ook prof. Johan Janse van Rensburg, vorige assessor van die sinode, het gesê Belhar se inhoud is ooreenstemmig met die Bybel. Hy het onder meer verwys na Jesaja 1, waar die volk bestraf word en die opdrag van God kom om die verdrukker teen te gaan en dat reg aan die weduwees en weeskinders gedoen moet word.
Janse van Rensburg het oor die stelling in Belhar gesê: “Ons kan dit nie ontken nie, dan ontken ons wat in die Skrif staan.”
Dié skermutseling was deel van ’n debat in die sinode waarin sterk standpunte vir en teen Belhar gestel is.
Die sinode het besluit om nie nou ’n besluit oor Belhar te neem nie, maar die kerkordelike besluitnemingsproses te volg.
Dié proses kan nog ’n paar jaar duur.
* ’n Beskuldiging van liefdeloosheid teenoor die sinodes van die Wes- en Suid-Kaap en die Oos-Kaap het ’n bitter smaak in die mond gelaat.
Ds. Pieter Prinsloo van die gemeente Môrewag in Kroonstad het dié beskuldiging gerig nadat hy die twee Kaapse sinodes daarvan beskuldig het dat hulle die kerkordelike besluitnemingsproses oor Belhar geïgnoreer het.
Ds. Marius Maree van Welkom-Wes het beswaar gemaak teen Prinsloo se “kwetsende opmerkings” en gesê dit pas nie by die gees van luister en onderlinge liefde nie.
Hy het gevra dat ds. Jan Lubbe, moderator, Prinsloo repudieer, hom vra om dit terug te trek en om verskoning te vra.
Prinsloo wou sy woorde nie terugtrek nie. Hy het gesê as hy nie die waarheid gepraat het nie, sal hy dit terugtrek, maar hy wou weet waarom hy dit moet terugtrek as dit die waarheid is. Hy het ook aangebied om die vergadering te verlaat.
Lubbe het aan Prinsloo gesê hy moenie loop nie en hom gewys op ’n deel in die Bybel wat sê die waarheid en liefde kan nie van mekaar losgemaak word nie. Prinsloo is geregtig op sy standpunt, maar woorde soos “liefdeloosheid” pas nie in die sinode nie. Prinsloo het egter by sy standpunt gebly.
Dr. Braam Hanekom, Wes- en Suid-Kaapse moderator, het by navraag gesê hulle het nie die kerkordelike proses geïgnoreer nie – hulle het dit aan die gang gesit. Die proses wat deur die kerkorde voorgeskryf word, sal ten volle in die Wes- en Suid-Kaap gevolg word.
***
Besluitnemingsproses verloop só
Art. 1 van die kerkorde handel oor die belydenisgrondslag van die kerk en moet sê hoe Belhar daarin opgeneem kan word. Om die artikel te verander, moet die kerkordelike besluitnemingsproses gevolg word:
- Die algemene sinode moet in Oktober ’n voorgestelde nuwe formulering van art. 1 opstel en met ’n tweederdemeerderheid goedkeur;
- Lidmate moet dit daarna met ’n tweederdemeerderheid goedkeur;
- Die kerkraad moet dit daarna met ’n tweederdemeerderheid goedkeur;
- As minstens twee derdes van die kerkrade en al die streeksinodes dit met ’n tweederdemeerderheid goedkeur, gaan dit terug na die algemene sinode; en
- Dan moet die algemene sinode die verandering van die kerk se belydenisgrondslag finaal met ’n tweederdemeerderheid goedkeur.
Kommentaar
Annie Georgia
Hoekom moet ’n politieke dokument in die Kerk hoegenaamd aanvaar word, nogal as ’n belydenisskrif? Die agenda’s agter die dokument gaan nie oor naasteliefde nie, maar ’n “stok” om ander te slaan en te laat “skuldig ” voel. Belhar het meer vernietiging in die kerk veroorsaak as enige aspek ooit tevore.