Kyk ook:
*******
Lesersreaksie op rubrieke wys hoe Landman haar stem vind | Netwerk24
Johanna van Eeden
14 September 2024
Christina Landman is ‘Beeld’ se langsdienende rubriekskrywer. Oor die jare het sy haar eie stem gevind, maar lesers het nie altyd met haar saamgestem nie, skryf Johanna van Eeden.
Op 27 Desember 1994 het Christina Landman se eerste bydrae in Beeld verskyn onder die balkie “Godsdiens-aktueel” – ’n ruimte waarin sy steeds gereeld skryf oor veral die kerk se hantering van eietydse maatskaplike kwessies. Dit word weerspieël in opskrifte soos “Kan kerke iets doen om brose tieners te help?”, “Wat doen kerke om gebroke vroue te help?”, “Wat kan kerke doen in stryd teen dwelms?” en aan die einde van verlede jaar selfs “Sal die kerk ons gelukkig kan maak in 2023?”
Maar die standpunte wat sy in haar eerste rubrieke ingeneem het, is dikwels as omstrede ervaar – nie net oor wat sy geskryf het nie, maar ook oor ander publikasies wat in dieselfde tyd onder haar naam verskyn het of uitsprake wat sy in die openbaar gemaak het.
In ’n navorsingsartikel wat sy verlede jaar in die joernaal HTS Teologiese Studies gepubliseer het, bekyk Landman hoe lesers van 1994 tot 2002 op haar rubrieke gereageer het – hoe hulle haar as ’n “alternatiewe stem” gesien het. Die reaksies is nie net beduidend van die lesers nie, maar hoe dit oor die jare verander het, strook op ’n manier ook met die pad wat Landman in haar loopbaan gestap het.
Landman het vir die doel van die navorsingsartikel gefokus op die eerste 57 rubrieke wat sy oor ’n tydperk van agt jaar vir Beeld geskryf het. Een van haar bevindings is dat die inhoud en verwysings daarin en lesers se reaksies daarop verander het namate haar eie lewensverhaal ontvou het en die land se politiek en gemeenskap verander het ná die eerste demokratiese verkiesing.
Aanvanklik het sy by lesers ’n “reaksionêre respons” ontlok deur hulle as ’n gender- en politieke aktivis in haar rubrieke aan te spreek. Maar sedert 2000 het die toon van haar bydraes verander en het sy al hoe meer op genesing begin fokus.
Dis teen dié agtergrond dat sy na lesersbriewe gekyk het – sommige daarvan beskuldigend en ander daarvan ontvanklik vir die idee van genesing. Haar metodologie vir die navorsing is een van “gehoor-ontvangs” – ’n benadering “wat die fokus van navorsing nie (net) op die skrywer en sy boodskap plaas nie, maar primêr op die manier waarop die boodskap deur die gehoor ontvang word”.
Sy verwys in die artikel na navorsing deur prof. B.C. Lategan en ’n gesprek wat sy in November 1989 met dr. Lilian Portefaix gehad het waarin die kwessie van “gehoor-ontvangs” onder die loep gekom het. Veral die gesprek met Portefaix, skrywer van Sister’s Rejoice: Paul’s Letter to the Philippians and Luke-Acts as Received by First-Century Philippian Women het ’n diep indruk op Landman gehad en ’n invloed op haar werk. Die kern daarvan is dat lees “baie meer is as ’n passiewe aanvaarding van die boodskap”.
Invloede en etikette
Prof. Johan Heyns was destyds een van die gereelde skrywers van die Godsdiens-aktueel-rubriek. In daardie stadium is die rubriekruimte deur ses wit mans gedeel – vyf van hoofstroomkerke en een van die Apostoliese Geloofsending.
Toe Heyns op 5 November 1994 in sy huis in Pretoria vermoor is, het ’n “vakature” in dié ruimte ontstaan. Dit was Neels Jackson, daardie jare kerkverslaggewer van Beeld, wat aanbeveel het dat Landman vir die koerant begin skryf. Die koerant wou “vars stemme” kry uit ’n meer diverse groep – en Landman was die eerste van dié nuwe skrywers.
Vir die navorsingsartikel het Landman nie alleen gekyk na die reaksie van Beeld-lesers op haar rubriek nie, maar ook na lesers se kommentaar in publikasies soos Insig, Volksblad en Die Burger.
Oor die agt jaar se rubrieke wat ter sprake is, skryf Landman was daar veranderings in die wyses waarop sy haarself uitgedruk het, “sowel as in die wyse waarop Afrikaanse lesers oor godsdienstige kwessies gedink het”.
Hoewel lesers aan ’n “nuwe stem” bekend gestel is, was Landman nie heeltemal onbekend nie. Om te verduidelik in watter stadium van haar loopbaan sy die rubrieke begin skryf het, gee Landman ’n oorsig oor haar loopbaan.
Sy is in 1980 as dosent by Unisa se teologiese fakulteit aangestel in die departement kerkgeskiedenis “op ’n tyd toe daar nie ander akademies opgeleide vroue-teoloë in die land was nie”. Sy het twee meestersgrade agter die blad gehad, maar kon nie ’n pos kry by die Universiteit van Pretoria se kweekskool nie omdat die NG Kerk nie destyds vroue tot die preekstoel toegelaat het nie.
In dieselfde jaar wat Landman haar by Unisa aangesluit het, het die universiteit sy eerste swart professore in teologie aangestel, onder wie Simon Maimela. Landman skryf sy is derhalwe “sterk beïnvloed deur die swart bevrydingsteologie” – maar terselfdertyd ook deur kollegas soos Willem Vorster en Ferdinand Deist “wat die Bybel redelik liberaal gelees het”.
Dit is dus “ironies” dat sy juis “uit ’n (swart) bevryding en ’n (wit) liberale standpunt” haar rubrieke vir Beeld geskryf het.
Haar denke is verder beïnvloed toe Unisa in 1984 sy eerste teologiese konferensie oor gender aangebied het. Daarvoor het sy ’n bydrae gelewer wat opgeneem is in die boek Sexism and feminism in theological perspective. Daarna het Landman nóg ’n etiket om haar nek gevind: dié van feminis “sonder dat dit die doel van my navorsing was en terwyl ek in daardie stadium kerkgeskiedenis doseer het”.
Steeds was het einde niet. Landman het deel geword van die Circle of African Women Theologians – ’n organisasie vir pan-Afrikaanse vroue-teoloë wat in 1989 gestig is. Landman het aan die organisasie se byeenkomste deelgeneem en was tot 2013 “een van net twee wit vroue – die ander een is Denise Ackermann – om as lid van die kring toegelaat te word”. Dit, skryf sy, het haar “gevestig as ’n teoloog met ’n fokus op vroue, nie as ’n feminis nie, maar as ’n Afrika-vroue-teoloog”.
Wat haar egter veral in die openbare oog geplaas het, was die publikasie van haar boek The piety of Afrikaans women in 1994 – kort voor sy haar eerste Beeld-rubriek sou skryf. Ná uitgebreide navorsing in Nederland het sy die boek geskryf “om aan te dui dat die Calvinistiese teologie waarop die NG kerk in daardie stadium apartheid gegrond het, net so seksisties was as wat dit rassisties was”.
Sy het hiervoor dagboeke van Hollands-Afrikaanse vroue geraadpleeg wat tot 1652 gestrek het, toe die Gereformeerde teologie deur kolonisasie na Suid-Afrika gebring is. Maar al haar navorsing ten spyt, is die boek uiteindelik net vir een enkele verwysing onthou… “nie weens sy bedoeling om Afrikaanse vroue te bevry nie, maar weens ’n verwysing in die boek na die Vrouemonument in Bloemfontein”. Sonder dat sy “eksplisiet na die falliese vorm” van die monument verwys het, het Landman geskryf oor die “ereksie van die monument” en dat dit volgens haar nie opgerig (“erected”) is “om hulde te bring aan die Afrikaanse vroue wat in konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog gesterf het nie, maar om die aandag te vestig op die politieke kwessies van die Afrikanervolk, waarin vroue ’n onderdanige kulturele rol vertolk het – en in 1994 steeds die rol gespeel het”.
Die duiwel was behoorlik los hieroor. In Beeld, Die Burger en Volksblad is hieroor berig onder die opskrif “Ereksie-etiket is swak smaak en skokkend”.
Dit was teen hierdie agtergrond dat Landman haar eerste rubriek gepubliseer het. En die lesers se reaksie daarop was “soos te verwagte, uiters negatief”.
Ses temas
Vir haar navorsing identifiseer Landman ses temas, waarvolgens sy lesers se reaksies op haar bydraes ingedeel het, naamlik:
1. Vroue se rol word in die Bybel voorgeskryf en daardie rol is nie feministies nie.
Die grootste reaksie onder Afrikaanse lesers, skryf Landman, was om haar na haar rubrieke terug te verwys na die Bybel. “Vir lesers het die Bybel ’n romantiese blik gehad op vroue se onderdanigheid.” Talle lesers het ook gemeen hulle “ontbloot haar as ’n feminis”, terwyl ’n minderheid gemeen het “Afrikaanse vroue kon net hulself blameer omdat hulle onderdanigheid geïnternaliseer het” en dat Landman korrek was om dit uit te wys.
2. Kritiek teen Afrikaanse vroue se rol is ’n aanval op Afrikaner-identiteit en dit word net gedoen deur feministe, lesbiërs en ander manne-haters.
Hierdie tema, asook die vorige een, is volgens Landman gevestig nog vóór sy vir Beeld begin skryf het en is gegrond op die omstrede ontvangs van The piety of Afrikaans women. Lesers het haar ook terugverwys na die Afrikaner-geskiedenis “waarin vroue… prominent en sterk voorgekom het terwyl hulle steeds hul Bybelse rolle vervul het”. Kritiek wat onder hierdie tema val, sluit in “binêre naamgewing” waarvolgens “goeie Afrikaanse vroue gelowig, vriendelik en smaakvol was in hul uitsprake en hoe hulle aangetrek het. Alternatiewe stemme was lesbies, feministies en het manne gehaat”.
3. Haar sienings dat God geslagloos is en haar standpunte oor goddelike straf en aborsie is on-Bybels.
In hul reaksie op dié soort standpunte het lesers Landman terugverwys “na wat ’n professor in teologie behoort te wees, naamlik een wat aangestel is om met die stem van die kerk te praat, en wat ware teologie is. In die een, ware teologie was God ’n man, aborsie was ’n sonde en God het diegene gestraf wat nie sy Woord gehoorsaam nie”.
Lesers het ook gemeen dat Landman “as ’n ware feminis, probeer het om die Bybel te verander”.
4. Die leke-teologie van die pienk dames is meer spiritueel as Landman se feminisme.
In reaksie op Landman se kritiek oor die publikasie van wat sy “pienk boekies” genoem het – die opkoms in die 1990’s van boeke deur leke-vroue in die populêre Christen-mark wat hoofsaaklik gemik was op wit, middelklas, Afrikaanse vroue, het lesers aangedui hulle verkies die “leke” se werk bo Landman se teologie, wat volgens hulle dié van ’n “ongelowige” was.
Daar was diegene wat haar siening ondersteun het; “vroue wat ’n stem gevind het en verklaar het dat hulle nie meer koeksisters gevoer wil word nie”.
5. Vroue se stemme van weerstand het buite beheer geraak en moet geïgnoreer word.
Landman skryf sy het “vryheid van uitdrukking” in die 1990’s ervaar omdat sy nie aan ’n spesifieke kerk verbonde was nie. Sy het “tong in die kies” in ’n artikel voorgestel dat Afrikaanse paartjies poligamie begin beoefen. Sy skryf sy was glad nie voorbereid op die reaksie wat haar bydrae onder die opskrif “Poligamie, ditsem!” ontlok het nie.
Lesers het gemeen Landman ruk handuit met haar standpunte omdat sy “poligamie en buite-egtelike seks bevorder het”.
6. Lesers het met omsigtigheid gereageer op Landman se woorde van genesing.
Landman het in 2000 Woorde wat heel maak gepubliseer, ’n boek waarin die stories vervat is van vroue wat verbaal misbruik is, met verhale van heling uit die Bybel.
In haar onderhoudvoering het sy besef mense wat trauma beleef het, word weer getraumatiseer indien hulle daarvan praat. Wat sal help, is indien die ondervraer opgelei is in berading. Dit het gelei tot haar tweede doktorsgraad in praktiese terapie.
Dit het haar laat besef “liberale teologie is nutteloos wanneer mense ly”. Sy wou iets daarvan in haar rubrieke weergee “omdat wit lesers ook heling nodig gehad het”.
Haar pogings tot heling is volgens haar navorsingsartikel ondermyn deur twee voorvalle. Jackson het op Beeld se voorblad berig Landman het by die NG gemeente Andrew Murray gesê “seks voor die huwelik behoort verpligtend te wees”. Drie dae later was sy weer op die voorblad. Sy het in ’n preek in Bloemfontein verwys na gevalle van verbale misbruik in verhoudings, “waar vroue senu-ineenstortings kry weens die name wat hul mans hul noem”. Landman is daarna beskuldig dat sy “aanstootlike taal van die preekstoel af gebruik het”.
’n Stortvloed briewe hieroor het gevolg. Landman het in haar Beeld-rubrieke voortgegaan om te skryf oor genesing. “Lesers het dalk nie hierdie genesende stem vertrou nie, en reaksies op haar rubriek het skaars geword.”
Landman meen “lesers het haar stem en die teologie van genesing geïgnoreer”.
Toe vind sy haar stem
Tot watter slotsom kom sy? Lesers, verduidelik Landman uit die response, het tussen 1994 en 2002 met “verrassing en afgryse” op haar “alternatiewe stem” gereageer en wou selfs hê dat dit stilgemaak word.
Uit haar navorsing is die parallelle duidelik tussen lesers se reaksies op haar artikel en die pad wat sy in haar loopbaan moes stap om uiteindelik haar stem te vind: ’n vrou in ’n manlike gedomineerde omgewing, waarin die Bybel – waarvan sy ’n kenner is – gebruik word om patriargie in stand te hou; in ’n tyd van bevryding en demokratisering en in ’n stadium waarin ook die Afrikaanse leser homself/haarself stadig maar seker ook begin loswikkel het uit ’n borstrok (of twee).
Op 18 November 2006 is sy deur die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) in Suider-Afrika gelegitimeer. Op 18 Mei 2008 is sy beroep tot ’n gemeente in Sakhelwe, Dullstroom.
Hiermee, sluit Landman haar navorsingsartikel af, het haar stem verander.
In my interaksie as joernalis met Landman bly twee opmerkings wat sy oor die jare gemaak het my tot vandag toe by. By ’n lesing wat sy in 2001 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gegee het oor die onderwerp “Hoe lees ’n mens die Bybel vandag?” het sy verwys na ’n aanhaling: “Die huwelik is heilig, maar dis nie altyd veilig nie.” Dalk is dit haar vermoë om te sê wat gesê móét word wat lesers oor die jare omgekrap het. Maar hopelik ook laat dink het.
En dan was daar die keer in ’n gesprek waarin ek die woord “nogtans” opgehaal het. Sy het toe na die “nogtans-profeet” verwys. Habakuk. “Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”
• Van Eeden is Stemme-redakteur van Netwerk24 en Afrikaanse dagblaaie.