Kyk ook: |
Die volgende nuusbrief is in Junie 2002 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.
**************
Terwyl ek aan hierdie brief skryf is my gesinslede almal in London. My jongste seun is ’n jaar gelede soontoe met ’n “working holiday visum”. Dit is deur sy toedoen dat Amor, my vrou, ook nou weg is om te gaan kyk hoe dit met hom gaan en my ander seun is toe ook sommer saam. Nou is almal in London, my oudste, my jongste en my beste.
Dit is nogal ’n ervaring om skielik te besef, almal is weg. Jy sien hulle af by die lughawe met hulle paspoorte en “moonbags” en ander afgeweegde uitrusting en daar vertrek hulle na ’n onbekende wêreld. Hulle verdwyn in onbekende gange waar hulle nog nooit in geloop het nie. Jy kan nou maar huistoe gaan. Jy kan hulle nie volg nie en hulle kan nie na jou toe kom nie. Een of ander tyd is daar ’n vliegtuig wat hulle ver gaan wegvat. Jy kan hulle nie eens sien vertrek nie want die aanloopbaan is buite sig en dit is in elk geval nag.
Jy staan die volgende môre op en stuur ’n SMS vir jou seun wat jy ’n jaar laas gesien het: “Laat asb. weet as jy Ma gekry het. “ Daar is geen antwoord nie. Later stuur jy maar weer hoopvol ’n tweede SMS. Teen die aand as dit goedkoper is bel jy. Jy hoor die opgewondenheid daar anderkant, van al die wonderlike ervaringe op die vliegtuig en die vreemde land. Dankie vir die telefoon. Jy kan nie lank praat nie, want die oproepkoste is duur, maar jy kan darem kontak maak.
Dit het my nogal laat dink aan ons verhouding met God. Deur die sondeval is ons verhouding met God geskend. God het Adam en Eva uit die tuin uit weggestuur as gevolg van hulle sonde. God se kontak met ons is verbreek, maar ons kontak met God is ook verbreek. Dit is seker een van slegste gevolge van die sondeval. God se teenwoordigheid is nie meer vanselfsprekend nie. Ons moet sy teenwoordigheid soek. Ons sing daarvan: Soos ’n wildsbok wat smag na water, smag my siel na U o Heer! (Ps 42)
Toe ek ’n SMS met die selfoon stuur en dit word nie beantwoord nie, het by myself gedink: Stuur God nie ook soms vir ons ’n SMS wat nie beantwoord word nie? Ervaar Hy nie ook soms die teleurstelling dat die kontak wat hy met sy kinders soek, nie beantwoord word nie? Hy is ons hemelse Vader en daarom is hy seker baie meer geïnteresseerd in ons lewens as wat ons in mekaar se lewens geïnteresseerd is. Is God voortdurend in ons gedagtes, soos ons in sy gedagtes is? Respekteer ons Hom genoeg om met Hom kontak te hou? Is dit vir ons belangrik om kontak met Hom te maak deur ons Bybels en ons gebede en ons kerkgang.
Van ons kant af wens ons ook baie keer dat ons makliker met God kon kontak maak. Paulus sê in 2 Kor 5:7: Ons lewe deur geloof en nie deur sien nie. Dit voel vir ons of God ver is al is Hy nie ver nie. Die Israeliete was ongelukkig met die situasie daar in die woestyn. Dit was vir hulle ’n groot barre en ongerieflike wêreld. Hulle het God nie daar belewe nie en tog was God daar met hulle. God was op ’n baie spesiale wyse saam met hulle in die woestyn. Hy het vir hulle elke dag kos gegee. Hulle het bedags in die skaduwee van sy wolk geleef en snags in die lig van sy vuurkolom. God was by hulle, maar dit het nie vir hulle betekenis gehad nie, want hulle was ingestel op ander dinge.
In Jes 57:15 is daar ’n belangrike woord. God sê daar: “Ek woon in ’n hoë en heilige plek en ek is by hom wat verdruk en nederig is.” God is ver, maar Hy is ook naby. Deur Christus Jesus het Hy naby aan ons gekom. Jesus het opgevaar na die hemel, maar Hy is nie weg nie. Ons kan met Hom praat. Ons moet met Hom praat. Jy hoef nie ’n telefoon te soek nie. Die telefoon is by jou, in jou hart. Die oproepkoste is wel baie duur, maar jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Jesus het reeds vir die oproepkoste betaal. Hy het ’n kaart gekoop waarmee ons onbeperkte tyd gekry het om te praat. Hy het met sy bloed vir daardie kaart betaal. Ons moet dit net glo en benut.
Dit is die dinge waaraan ’n mens dink as jou dierbares ver van jou af is. Daar is egter ook iets anders waaraan ek dink: Die telefoon is regtig ’n wonderlike ding. Gebruik ons dit genoeg om kontak te hou met ons dierbares. Ons verfoei die telefoon dikwels omdat dit deel van ons werk geword het. As die telefoon lui moet ons opstaan. Dit onderbreek ons in ons werk en gesprekke, maar dit bly ’n wonderlike manier om met jou familie en vriende kontak te hou. Is daar nie iemand in jou lewe wat ’n oproep sal waardeer nie? Sit jou telefoon op ’n gemaklike plek of kry een van die koordlose telefone. Dit maak dit makliker om te bel en met jou mense kontak te hou.
Moet veral nie vergeet om met God kontak te hou nie. Laat ons Hom nie hartseer maak nie. Hy verlang na elkeen van ons en het baie om vir ons te sê!
Ds Jan Louw