Lewendige Kerkdebat in BEELD November-Desember 2012
Hierdie debat het waarskynlik begin met prof Wilhelm Jordaan se rubriek 28 November 2012 in Beeld, Kerkspanning tussen tradisie en vernuwing (of in Beeld). In hierdie stuk teken hy twee godsdienstige groepe: ’n tradisionele groep wat geloofsekerheid het en ’n andersdenkende “geloofstwyfelende” groep. Hy sien hy homself en ander “ twyfelaars” wat anders dink oor geloofsake as “ballinge” – mense wat nie welkom voel in tradisionele kerke nie. Hy bepleit ’n meer akkommoderende houding.
Hier is van die briewe wat in reaksie daarop verskyn het:
- Dié wat geloof anders beleef, kort plek (of in Beeld) – Koot Bosman
- Ons luister eerder na Woord as mense (of in Beeld) – Henrietta Klaasing
- Staan op en waak in geloof, NG leiers (of in Beeld) – hierdie brief van Jan Vermaak is deur meer as 3000 mense in BEELD gelees!
- Eenheid van geloof gaan ten gronde (of in Beeld) – Alpegro
Kort daarna het Julian Müller ’n stuk in dieselfde “twyfelende” trant geskryf en vra hy dat mense toegelaat moet word om in nuwe “geloofstaal” te vorm: Verander bo, maar los ons uit (of in Beeld).
Nog ’n dag of wat later, lewer prof Wilhelm Jordaan repliek saam met twee ander mense, Ds Jaco Strydom en Dr Willem Pretorius: Kerkdebat in twyfel (of in Beeld).
Beeld het seker ’n hele paar briewe in reaksie gekry, want kort daarna is die debat oopgegooi en is mense genooi om in 500 woorde hul menings te lug.
Ds Koos Mouton, ’n leraar in die Gereformeerde kerk Potchefstroom Mooirivier, was die eerste om op die uitnodiging te reageer: Kerkdebat (of in Beeld).
Die volgende bydrae van Henrietta Klaasing is nie elektronies geplaas nie en het net in die gedrukte BEELD verskyn: Bydrae tot Kerkdebat
Ook op hulle blogs, reageer mense, bv Dr Tommie Breitenbach: God, nie teoloë, spreek die finale woord (of op Waters waar rus is).
Ander volg – Dr Wynand Louw in Kerkdebat (of in Beeld). (Kyk Ferdie Mulder se kommentaar hierop: Kerkdebat – ’n derde weg: Waarheid in liefde?)
Ook Oud-min. Pik Botha neem deel in Kerkdebat (of in Beeld). Kyk Daniel Louw se antwoord op Pik Botha in Kerkdebat: Fout as jy nie Bybel ernstig opneem (of in Beeld) en ds Gideon Aggenbag se reaksie.
Die NG Kerk se Moderator Prof Nelus Niemandt in Kerkdebat: Die waarde van liefde vir ander mense (of in Beeld). Kyk ook ds Gideon Aggenbag se reaksie daarop in Reaksie op Nelus Niemandt. Terwyl hierdie debat aan die gang is, skryf prof Nelus Niemandt waarderend oor “andersdenkendes” in Kerbode Aanlyn en staan daar onder andere: “Prof Niemandt het die groeiende aantal vernuwende denkers verseker dat daar inderdaad ’n plek vir hulle in die NG Kerk is. “Die NG Kerk bly ’n ruim huis waar baie mense kan tuis voel. Die kerk se kernwaardes is sterk genoeg om mense met verskillende sienings maar wat dieselfde waardes deel, te akkommodeer. Ons kry dit goed reg om mense met verskillende spiritualiteite te omhels.” (Lees verder op Glo die Bybel of Kerkbode.)
Gerhard Bothma: Liefde vir almal is waaroor dit gaan
Artikels
Kerkspanning tussen tradisie en vernuwing
(Van Beeld gekopieer.)
deur Wilhem Jordaan
2012-11-27 22:15
Wat doen die kerk om met die groeiende aantal Christene in “ballingskap” in gesprek te tree?
Dié vraag na aanleiding van wat ’n mens gereeld hoor by mense vir wie die tradisionele abstrakte kerkspraak sy eens rigtinggewende betekenis verloor het en wat dit nou beleef as verwarrend, irrelevant en geloofsverskralend.
Onder hulle is mense wat ná baie persoonlike worsteling en verguising, selfs viktimisering, in tradisionele geloofsgeledere die ingeburgerde (en dikwels ingebulderde!) vrees vir God besweer het. En wat nou spirituele vrede vind in die onvoltooide lewensprojek van altyd soekende verwondering oor ’n onpeilbare Godsgeheim en skuiwende perspektiewe rondom Christus se betekenis.
Diesulkes se “ballingskap” lê daarin dat hul behoefte aan gesprek oor geloofstwyfel nie in gemeenteverband tereg kom nie; dat hulle as lastig beskou word én nie te welkom in die kerk voel nie. Hulle het buitestanders geword.
Dit is of die kerk aan hulle sê: “Ons aanvaar mense twyfel. Dis ’n natuurlike fase in geloofsontwikkeling. Maar as jy nou klaar getwyfel het en ons jou vrae netjies en noukeurig beantwoord het, keer jy terug na ontwyfelbare geloof. Dis mos wat God van jou vra.”
Die indruk wat gelaat word, is dat twyfel net tydelik kan wees. Kom jy nie tot die voorgeskrewe insig nie, is die ewige verdoemenis jou voorland.
In dié verband hoor en lees ’n mens gereeld van predikante en teoloë wat sê die kerk moet versigtig met die “oop gesprek” wees, want dit kan klink of die kerk twyfel sanksioneer en nuwe geloofsbeginsels en -uitings omhels. Boonop gee dit aanstoot aan diep gelowige lidmate se tradisievastheid en geloofsekerheid.
Die ironie is dat die gebrek aan deernis met twyfelaars en oorversigtigheid met die oop gesprek ook aanstoot gee – aan baie andersdenkende gelowiges wat smag na eietydse, singewende kritiese geloofsverantwoording en wat weinig aanmoediging daarvoor in gemeenteverband kry.
Daar is ’n verdere ironie. In sommige gemeentes is geloofstwyfel en die moontlikheid van ’n andersoortige, soekende geloofstaal al jare deel van “gemeentetaal” tydens Bybelstudie, in die prediking en in die pastoraat.
Dit geskied in die veilige ruimte van volstrekte verdraagsaamheid sodat bedenkings oor tradisie-teologie, eeue oue kerklike leerstellings en geloofspraktyke vrylik uitgespreek kan word. Sonder om dit sonder meer te etiketteer as duiwelswerk, kettery, verraderlike geloof, ongeloof of bygeloof.
Ironieë soos dié getuig van ’n enorme groeiende spanning in kerklike geledere: dié tussen tradisie en vernuwing. Soos wat dit in predikante se opleiding en in die prediking en pastoraat aan die bod kom.
Die kerk sal opnuut moet besin oor hoe hy as organisasie die oop gesprek oor dié spanning meer akkommoderend gaan laat verloop.
Dié wat geloof anders beleef, kort plek
(Van Beeld gekopieer.)
deur Koot Bosman van Pretoria skryf:
2012-11-28 22:38
Wilhelm Jordaan se pleidooi in sy rubriek “Kerkspanning tussen tradisie en vernuwing” (28 November) verdien ernstige besinning, van gewone lidmaatvlak tot die hoogste kerkgesag.
Jordaan verwoord daarmee die versugting van ’n toenemende getal hoofsaaklik onsigbare lidmate vir wie die inhoud van hul gegewe geloofsopset ’n saak van intense persoonlike spanning geword het.
Dié spanning weens geloofstwyfel spruit juis uit wat Jordaan die “tradisionele abstrakte kerkspraak” noem en het in baie gevalle inderdaad reeds vir hulle ’n persoonlike “geloofsballingskap” meegebring.
Is dit werklik nodig dat ’n gelowige ’n “buitestander” moet word as die God waarin hy glo vir hom persoonlik, op grond van sy Skrif- en wyer studievertolking anders, maar veel groter, ryker en meer misterievol is as waarvoor die tradisionele, menslik Skrifvertolkte dogma en kerktaal van die hoofsaaklik eerste vyf eeue en daarna voorsiening maak?
Dit het inderdaad tyd geword dat die kerk ruimte skep vir gesprek en belydenis vir diegene wat hulle geloofsoortuiging anders ervaar.
Ook op gemeentevlak. Daar is tans gemeentes waar dit reeds met groot vrug en bevrydende ervaring plaasvind.
Daarvan kan die skrywer hiervan getuig, net jammer dat hy dit elders, in ’n ander gemeente, moet ervaar en nie in sy eie gemeente nie.
Ons luister eerder na Woord as mense
(Van Beeld gekopieer.)
deur Dr. Henrietta Klaasing van Groblersdal skryf:
2012-11-28 22:38
Wilhelm Jordaan se stuk “Kerkspanning tussen tradisie en vernuwing” (Beeld, 28 November) het betrekking.
Dit is waar dat daar in verskillende denominasies groeiende spanning is tussen twee hoofgroeperinge (met grade tussenin): die een groep “in ‘ballingskap’?” en die ander “in tradisionele geloofsgeledere”, om sy terminologie te gebruik.
Die stryd woed in alle denkbare media en word veral op die internet gevoer. Selfs boeke word geskryf en DVD’s word gemaak. In die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het dit selfs daartoe gelei dat ’n beduidende getal gemeentes besig is om hulle los te maak van die moederkerk.
Uit dié debatte blyk dit dat daar ’n sug is na “ruimte” en “diversiteit”. Daar word aangedring op diversiteit, maar is dit nie ’n verskoning vir relativisme nie?
Wanneer diversiteit nie meer in ooreenstemming met Bybels verantwoorde verskeidenheid is nie, wanneer daar sprake is van politieke korrektheid, wanneer ’n humanistiese “naasteliefde” en “inklusiwiteit eerder as eksklusiwiteit” gesoek word, dan flikker gevaarligte.
Ses van die sewe gemeentes in Asië word gewaarsku (Openbaring 2 en 3) en die fokus is telkens op toleransie, die akkommodering van en onverskilligheid teenoor die kwade. Word ’n kerk wat so hard probeer om alles vir almal te wees nie op die lang duur niks vir niemand nie?
Tereg laat Jordaan “die kerk” sê: “… keer terug na ontwyfelbare geloof. Dis mos wat God van jou vra.” Vir die meer tradisionele groep (waarin ek my bevind) is dit belangriker om te kyk na wat in God se Woord staan as om na mense se menings te luister.
Sy Woord staan vas, maar watter van miljoene mense se opinies sal ’n mens in ag neem?
Staan op en waak in geloof, NG leiers
(Van Beeld gekopieer.)
deur Jan Vermaak van Faerie Glen skryf:
2012-11-28 22:38
Die hoofonderwerpe van bespreking in die NG Kerk was vanjaar Belhar en die strewe na ’n sagter benadering tot geloofsoortuigings.
Die vraag is: hoekom stuit hierdie nuwe benadering nie die uittog uit die NG Kerk nie? Kan dit wees omdat die meeste kerkgangers nie daarmee akkoord gaan nie?
Die Nederduitsch Hervormde Kerk het hom vanjaar op ’n moeilike terrein bevind met die steedsHervormers wat met sterk teologiese oortuigings die streep getrek het.
Ek was diep geraak deur hul kinderlike opregtheid in die geloof in Jesus Christus as Verlosser. Geen politieke korrektheid as dryfveer nie, maar die geloof in die Verlosser alleen.
Gaan hulle NG mense aantrek na hulle toe? Wat gaan in die komende maande van die NG Kerk word?
Die boodskap aan die NG Kerkleiers is: “Staan op, jy wat slaap, en waak in die geloof.”
Eenheid van geloof gaan ten gronde
deur Alpegro skryf:
2012-11-30 21:31
(Van Beeld gekopieer.)
Die huidige lewendige menings- en briefwisseling oor kerk- en geloofsake in Beeld het betrekking.
Dit is opvallend hoe wyd uiteenlopend – selfs teenstrydig – die menings en oortuigings is wat in die briewe uitgespreek word.
Dié gebrek aan eenstemmigheid, die veelvoudigheid – ’n mens kan selfs praat van verwarring! – is myns insiens op sigself ’n aanduiding van hoe ver die proses van disintegrasie van die geloofseenheid en geloofsekerheid in die Afrikaanse reformatoriese kerktradisie reeds gevorder het.
Terwyl die fokus in die Afrikaanse kerke deesdae baie sterk op die nastreef van sigbare, organisatoriese eenheid in die kerk val, wil dit lyk asof die belangrikste vorm van eenheid, naamlik die eenheid in die geloof, besig is om ten gronde te gaan.
Ware eenheid in die geloof berus uiteindelik uitsluitlik op die erkenning en beoefening van die Bybel as die enigste, betroubare Woord van God, die enigste ware bron van wysheid en die geloofsfeite – en daarmee saam die versigtige beoordeling van, en soos nodig die ferm afwysing van, die velerlei valse buite-Bybelse “nuwe navorsing” en mensgemaakte “nuwe insigte”.
‘Verander bo, maar los ons uit’
2012-12-06 21:35
(Van Beeld gekopieer.)
Julian Müller
Alles in die NG Kerk kan nie op die ou manier voortgaan nie. Die kerk sal haarself moet herontdek en lidmate moet help om hul geloof in heeltemal nuwe taal te verwoord, skryf Julian Müller.
Wilhelm Jordaan skryf op 28 November in Beeld oor die groeiende groep lidmate wat hulself as Christene in “ballingskap” ervaar.
Dit is mense vir wie die tradisionele abstrakte kerkspraak sy eens rigtinggewende betekenis verloor het en wat dit nou beleef as verwarrend, irrelevant en geloofsverskralend.
Volgens hom is diesulkes se “ballingskap” daarin geleë dat hul behoefte aan gesprek oor geloofstwyfel nie in gemeenteverband tereg kom nie; dat hulle as lastig beskou word én nie te welkom in die kerk voel nie.
Hulle het buitestanders geword.
Jordaan is onder die indruk van die probleem dat die kerk nie op ’n sinvolle manier met hierdie twyfelende en skeptiese Christene in gesprek tree nie.
Die boodskap van die kerk is eenvoudig dat hulle moet terugkeer en weer soos kindertjies en met oorgawe glo. Die gaping tussen hierdie mense se geloofsbelewenis en die kerk se boodskap raak al hoe groter.
Die rede waarom die kerk nie met hierdie “ballinge” in ’n sinvolle gesprek tree nie, is natuurlik omdat daardie gesprek so moeilik is.
Die vaste verwysingspunte waarmee die kerk werk, soos geloofsbelydenisse en sinodale besluite, maak vir hierdie mense al hoe minder sin. Hulle het meer vrae as antwoorde en maak vrede met die paradoks en onsekerheid in hul geloofservaring.
Dit is die een kant. Die kerk sit met ’n groep wat wegsyfer en wie se stemme meestal nie verwoord word nie omdat hulle die gevoel het dat hulle en die kerk in elk geval by mekaar verby praat.
Maar dan is daar ook ’n ander kant, ’n teenoorgestelde pool, ’n ander groepering wat verbete vasklou aan die ou gevestigde waarhede en sieninge.
Dit is die groep lidmate wat Sondae behoefte daaraan het om iets van ’n veilige hawe te ervaar. Hulle wil nie uitgedaag word met nuwighede nie. Inteendeel, hulle soek net ’n spirituele ervaring wat in hul eie taal en eksklusiewe kultuur aangebied word.
Hier is ook sprake van ’n gaping, maar nou na die ander kant. Tussen wat hulle op ’n Sondagoggend verlang, aan die een kant, en die dinge waarmee die kerkleiding besig is, aan die ander kant.
Die gaping aan daardie kant is, net soos die ander gaping, besig om in ’n diep identiteitskrisis te ontwikkel.
Dit is asof lidmate op ’n rasionele vlak kennis neem van waarmee die kerk en die kerkleiers besig is.
Hulle aanvaar gelate dat daar op hoër kerklike vlak oor goed soos kerkeenheid en die Belhar-belydenis gepraat word solank dit net nie nader kom en hul eie veilige kerklike belewenis bedreig nie.
In navorsing wat ’n M-student onlangs by ’n gewone plattelandse gemeente naby aan die stad gedoen het, kom hierdie paradoksale verhouding wat mense met die kerk het duidelik na vore.
In gesprekke met ’n aantal lidmate word daar nogal verbasende insig in die groter prosesse getoon, maar ’n net so verbasende verharding as dit kom by hul eie gemeentebelewenis.
Daar is ’n groot openheid vir die verbreding van die konsep “Afrikaner”, met selfs ’n gewilligheid om meer inklusief te dink. Daar is ook ’n begrip en selfs ’n verdraagsaamheid teenoor kerkleiers en teoloë wat met nuwe idees eksperimenteer. Hulle glo dat Afrikaner-Christene en die kerke ’n roeping het in Afrika.
Hierdie roeping is selfs vir sommige die rede waarom die kerk moet bly voortbestaan net soos dit tans is. As die kerk sou verander en verkrummel onder die politieke en ideologiese druk, sal hy nie meer hierdie roeping kan uitleef nie.
Dit sal ongehoorsaamheid aan God beteken. Dit lyk asof kerkeenheid en die Belhar-belydenis as ’n saak vir die groter kerk gesien word, maar dit moet net asseblief nie “afgedwing” word op gemeentes nie.
Die vraag is of die kerk (in hierdie geval die NG Kerk, maar dieselfde geld die ander tradisioneel Afrikaanssprekende kerke) hierdie bipolariteit kan akkommodeer? Hoe reageer die kerk op hierdie uiteenlopende kragte?
Aan die een kant is daar die uitdaging om denkende en vrydenkende lidmate te begelei tot ’n soort post-kerklike Christenskap. Dit is byna onmoontlik vir die kerk wat tradisioneel net een boodskap het, naamlik: Kom in; die heil is binne en die antwoorde is beskikbaar.
Wees net ’n goeie lidmaat.
Terwyl daardie mense nou eintlik hulp nodig het om hul geloof buite die kerk te vind en te beleef. Die kerk moet amper die onmoontlike leer sê, naamlik: Ander kant die kerk is daar ook geloof; kom ons help julle om ook sonder die kerk te bly glo en jul Christenskap uit te leef. As die kerk dit nie kan regkry nie, hou die gesprek met hierdie “ballinge” op en hulle skryf die kerk af.
Daarteenoor word dieselfde kerk gekonfronteer met dié groep wat bereid is om goeie en lojale lidmate te bly, maar met ’n duidelike voorwaarde.
Die voorwaarde is dat húl gemeente onaangetas moet bly. Al verander dinge daar bo rond, moet die kerk vir hulle die hawe bly van ou gevestigde “Afrikaner-waardes”.
En hulle verstaan van daardie “waardes” is ’n voortsetting van ’n eie, eksklusiewe kultuur, met afsonderlikheid soos van ouds.
Die stukkie navorsing in ’n tipiese landelike gemeente bevestig net die indruk wat ’n mens het, naamlik dat die kerk op baie plekke meewerk aan die instandhouding van ’n ongesonde eksklusiewe Afrikanerskap.
In plaas daarvan dat die kerk lidmate help om ’n meer Bybelse verstaan van kerkwees te ontwikkel en ’n blootstelling bewerkstellig, wat taal- en kultuurgrense oorspan, word lidmate toegelaat om telkens weer in die ou gemaksone van die eie groep terug te trek.
Die boodskap oor kerkeenheid en inklusiwiteit word wel in teorie gehoor, maar dit bly op abstrakte vlak sonder dat mense pertinent en konkreet uitgedaag word tot ’n nuwe lewenswyse.
Individuele spiritualiteit sonder sosiaal-etiese implikasie is aan die orde van die dag.
Albei kragte sal deeglik in ag geneem moet word. In plaas daarvan om net toe te gee, sal daar robuuste gesprek met lidmate gevoer moet word oor die korrekte verstaan van die Evangelie van Jesus vir hierdie tyd en die eties-morele implikasie daarvan.
Albei groepe moet gehelp word om te verstaan wat die eise van die Evangelie vir húlle is.
Om net die kerk te verlaat in ’n soort hovaardige beterweterigheid met kritiek op die outydse boodskap is sekerlik nie in ooreenstemming met die verdraagsaamheid en liefde van Jesus nie. Net so kan na die ander kant nie toegelaat word dat die kerk soos ’n eksklusiewe klub funksioneer ter wille van die bevrediging van eie sosiale behoeftes nie.
Een ding is seker: Alles sal nie maar net kan voortgaan op die ou manier nie.
Die kerk sal haarself moet herontdek in ’n nuwe situasie en lidmate sal gehelp moet word om hul geloof in heeltemal nuwe taal te verwoord.
– Prof. Müller het pas afgetree as teoloog aan die Universiteit van Pretoria.
Kerkdebat in twyfel
2012-12-10 21:41
(Van Beeld gekopieer.)
Ja vir tradisie kan ook ja wees vir die nuwe – Wilhelm Jordaan
Julian Müller se artikel “Verander bo, maar los ons uit” bevat heelwat aanknopingspunte vir voortgaande debat oor die spanning tussen tradisie en vernuwing, byvoorbeeld in sy slotparagraaf: “… lidmate sal gehelp moet word om hul geloof in ’n heeltemal nuwe taal te verwoord.”
Wat behels ’n “heeltemal nuwe taal”? Vereis dit die volledige én hovaardige verwerping van tradisiegedrewe geloofstaal, byvoorbeeld die eeue oue Apostoliese Geloofsbelydenis wat mense Sondae in die kerk bely (met bekende frases soos “gebore uit die maagd Maria” en “opgestaan het uit die dood”)?
Baie mense het al die kerk oor dié soort geloofstaal verlaat. Hulle reken dit is vals om dit te bely en ’n kerkganger te bly. Tog, reken ek, dit is ’n fout om te dink ’n “nuwe taal” beteken noodwendig die verwerping van tradisie.
Die behoefte aan ’n nuwe taal behels wesenlik dat die belydenis van ontwyfelbare sekerheid gekwalifiseer word deur ’n “belydenis” van voorlopige begrip en onsekerheid. Hieruit kom die toelaatbaarheid van baie soorte onthutsende vrae.
Ongeveer soos die Katolieke priester monseigneur Quichote dit in Graham Greene se gelyknamige roman sê: “I am sure of nothing, not even the existence of God, but doubt is not treachery… Doubt is human. Oh, I want to believe that it is all true – and that want is the only certain thing I feel…”
Die “versoening” van tradisietaal en nuwe taal eis allereers die bereidwilligheid om saam te leef met teenstrydigheid en dubbelsinnigheid; en met ou tekste se eietydse betekenismoontlikhede. Uit dié bereidwilligheid kom “en-en”- eerder as “óf-óf”-denke, ’n bewussyn van dubbele moontlikhede; ’n “ja” vir tradisie én vernuwing.
Toegepas op die Apostoliese Geloofsbelydenis: Dié belydenis is die geloofstaal van die kerkvaders eeue gelede en dit is ook die taal wat ek van moedersknie af leer ken het. Ek verbly my daarin en sê dit met oortuiging na as ’n kosbare geloofsvormende geskiedenis waarsonder ek nie wil wees nie.
Andersyds, en terselfdertyd: Ek glo die misterie rondom die idee van God is ontvouend. Daarom wil ek met altyd soekende en verantwoordbare verwondering nuwe geloofsinhoude formuleer wat my die troos bring dat ek nie buite geloof staan net omdat die belydenis vir my vreemd geword het nie.
Dít word dan die dryfveer vir ’n nuwe geloofstaal oor jou eiesoortige verlange na Goddelike teenwoordigheid en jy deel dit graag met ander; dat ander die vreemde grammatika van jou diepste sielsverlange sal hoor. Is dit egter haalbaar in kerkgesprek? Müller sê verdraagsaamheid hou die sleutel tot “robuuste gesprek” oor sulke sake.
Gewis, maar daarvoor benodig tradisievastes én vernuwers die Katolieke teoloog Hans Küng se helder insig: “The totality of faith consists in the integrity of commitment, not in completely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time.”
Dit is verdraagsaamheid wat veel meer behels as om hoflik (en heimlik onversetlik) na ander te luister. Egte verdraagsaamheid skep ’n veilige ruimte waarmee jy sê: Terwyl ek ánders as jy dink, dra ek jou geloofstaal saam asof dit mýne is en daardeur verstaan ek beter hoekom jy dink soos jy dink en doen soos jy doen. Juis daarom kan ek nie, wil ek nie, jou geloofstaal geringskat of minag nie.
Prof. Wilhelm Jordaan is buitengewone professor in sielkunde aan Tuks.
Geloof moet verstaan te bowe kan gaan – Jaco Strydom
Wilhelm Jordaan het ’n baie mooi rubriek “Kerkspanning tussen tradisie en vernuwing” geskryf oor die tradisionele kerk se gebrek aan empatie in die gesprek met twyfelaars. Dit is waar. Die kerk moet juis die plek wees waar mense eerlik kan soek. Goeie vrae moet belangriker wees as goedkoop geykte antwoorde. As jy nie eerlik kan wees by die kerk nie, waar dan?
Nou die dag praat ek by ’n geleentheid. Ná die tyd raas ’n erg geestelike vrou met my omdat ek die woord “ongelooflik” gebruik. Christene praat nie so negatief nie, sê sy.
Ek probeer verduidelik dat ek God dikwels in my lewe sien werk, nie as gevolg van my geloof nie, maar ten spyte van my ongeloof!
“Ongelooflik” is eintlik ’n wonderlike woord, veral as ’n mens oor geloofsake praat. Dit sê iets van God wat ons verbaas met sy goedheid. Dit sê: Ek verstaan Hom nie, maar kyk hoe goed is Hy!
Daar word te dikwels vandag in die teologiese gesprek hieroor geneig na een van twee uiterstes: ekstreme fundamentalisme of ekstreme liberalisme.
Dié wat krities is oor geloofsekerheid is byvoorbeeld dikwels voorstanders van ongeloofsekerheid – albei eintlik erg modernistiese beskouings.
Iewers tussen die twee lê ’n ander soort geloof. ’n Ongelooflike, dikwels naïewe geloof. Geloof wat verstaan te bowe gaan, maar wat oop is vir vrae.
Die volgende storie sê iets daarvan:
Verbeel jou Albert Einstein het ’n seuntjie gehad, hy was vyf jaar oud en sy naam was Einie.
Op ’n dag kom Einie in sy pa se studeerkamer. Einstein is besig met die relatiwiteitsteorie.
Einie het baie vrae. Waarmee is sy pa besig? Wat beteken al hierdie somme? Hy wil verstaan.
Maar sy pa weet sy seun se koppie is te klein. So wat doen hy? Hy tel hom op sy skoot en praat met hom oor ’n paar goed wat hy wel met sy klein breintjie kan verstaan. Goed soos dat Hy hom lief het, dat hy beter weet hoe dinge werk en dat Hy omgee vir hierdie wêreld. Wanneer Einie ná die tyd weer buite met sy draadkar speel, verstaan hy steeds amper niks van sy pa se doen en late nie, maar hy verstaan genoeg.
Dalk is ons koppe kleiner as wat ons dink? Dalk sal ’n klomp kritiese mense ons meer vertrou as ons eerliker is oor ons eie beperkte idees oor God?
Dit is wat Jesus vir my so aanloklik maak. Hy het ’n ander boodskap gehad as die fyn uitgewerkte teologie van die skrifgeleerdes van sy tyd.
Hy het dikwels geantwoord met ’n vraag. Dit is asof Hy kom sê het:Let’s faceit, julle sal God nooit heeltemal verstaan nie, jul koppe is te klein. Maar moet nou nie dink dat as jy nie alles van God kan verstaan nie, dat jy niks van Hom kan verstaan nie. Hier is ’n paar goed, genoeg vir hierdie lewe, om in mensetaal te begryp.
Dikwels in tradisionele kerkkringe word die misterie van God gesien as iets negatiefs. Vir my is die feit dat God ’n misterieuse God is, ’n God wat ons met meer vrae as antwoorde laat, iets wonderliks – iets “ongeloofliks”.
Ds. Jaco Strydom is direkteur van die Echo Jeugontwikkeling in Pretoria en deeltydse predikant in die NG gemeente Villieria.
Vir nuwe geestelike dans kort ’n oop gesprek – Willem Pretorius
Wilhelm Jordaan en Julian Müller se artikels raak ’n sensitiewe saak in die kerk aan. Die verwysing na mense in ballingskap verwys sekerlik nie net na twee groepe nie, maar sluit ook nie-kerkmense, gelowiges, ongelowiges, meerderwaardige, liberale en konserwatiewe gelowiges in. Ballingskap kan alleen deur gesprek verander word tot ’n nuwe geloofsdans.
Wat sal die doel wees van hierdie gesprekke? Is die doel gerig om mekaar oor te wen vir die “regte” standpunte, mense te wen vir die kerk of gaan dit daaroor dat die gesprek mense help om nie net uit hul ballingskap te breek nie, maar ook om ’n nuwe geestelike dans aan te leer. Gaan dit oor die oorlewing van die kerk as instituut of die uitbreiding van die Koninkryk?
Dit is dalk makliker om redes te gee waarom die gesprek nog nie openlik en in die groter arena gevoer is nie as om te erken dat die kerk nie altyd die moed het en eerlik genoeg is om hierdie gesprek te voer nie.
Die dilemma is die gesprekke vind wel plaas, onderling rondom braaivleisvure en gedemp in kerkraadvergaderings.
Ons kan nie ons grootword en kulturele erfenis ontsnap nie. Dis hier waar ballingskap ’n goeie beskrywing is van gelowiges wat nie net kan vrykom van die kulturele voorkeure wanneer die evangelie ter sprake is nie, maar ook nie wil erken dat kultuur kan een van die grootste struikelblokke word in die uitlewing van die evangelie nie.
My manier is reg, jy kan glo as jy glo soos ek. Dit manifesteer soms in ’n geestelike meerderwaardigheid, “as jy nie soos ek glo nie is en bly jy verlore…” tot by ’n geestelike konserwatisme.
Generasiegaping speel ook ’n rol. Die verskil tussen mense wat oor 65 is en dié wat in die ouderdomskategorie 12-18 is, is byvoorbeeld in die gebruik van tegnologie sover soos die ooste en weste van mekaar verwyder is.
Hulle is ook verwyder van mekaar oor verandering en die behoefte om te ervaar en te beleef (veral in die kerk).
Die probleem met die oopmaak van hierdie versluierde gesprek is dat die gespreksgenote baie keer die benadering het van wat is hierin vir my?
Hulle word gevangenes van hul eie voor en afkeure. Hierin is daar bitter min tot geen lojaliteit teenoor ’n instelling soos die kerk.
Ek het die mag om self te kies, ek ry tot by die kerk wat my pas, waar die predikant so preek dat dit my manier van glo bevestig en waar daar van my geen opofferende betrokkenheid gevra word nie.
Die konteks waarbinne ons leef, werk en ook die gemeenskap vra nie meer nie, maar roep na hierdie oop en deursigtige gesprek.
Ons kan nie meer bekostig om in die beeld van ballingskap mekaar in verskillende kampe in te jaag (toe te sluit), mekaar sekere waardes toe te dig en nie meer te praat nie. Die verstaan van die evangelie is mos juis om ons vry te maak van kettings van slawerny.
’n Oop gesprek is noodsaaklik en dat ons saam nuwe (geloofs)ritmes sal aanleer.
Dr. Pretorius is leraar van die NG gemeente Kameeldrift en lid van die moderatuur van die Noordelike sinode.
Kerkdebat – Koos Mouton
Koos Mouton
Ek is 30 jaar in die bediening, eers as leraar in ’n voorstedelike gemeente en die afgelope drie jaar in ’n kleiner plattelandse gemeente.
Baie van vandag se sake is nie nuut nie. Die menswording van God in Christus, die maagdelike geboorte en die opstanding uit die dood is van die vroeë Christelike tyd bevraagteken. Telkens moes gelowiges hulle verantwoord oor hoe en in Wie hulle glo. Met verloop van tyd is dit verwoord in belydenisskrifte. Só het die kerkvader Atanasius sy belydenisskrif opgestel teen die dwaling van Arius in die 4de eeu n.C. oor die Drie-eenheid. Belydenisskrifte het ontstaan waar gelowiges sekere Bybelse waarhede wou stel teenoor dwalings van hul tyd. En dwalings kom telkemale in die kerkgeskiedenis na vore!
Die belydenisskrifte verwoord kernagtig dit wat die Bybel sê oor God se verlossingsplan vir die wêreld. Dit wat in die Bybel staan, is God se Woord in mensetaal, maar nogtans GOD se WOORD. Ten diepste gaan dit oor Skrifgesag en -getuienis. Ek kan dus grootliks aansluiting vind by ds. Jaco Strydom dat geloof in ’n sekere sin verstand te bowe gaan. Nie dat ’n mens jou verstand moet “opoffer” nie, maar dat die aanvaarding van dit wat in die Bybel staan ten diepste ’n geloofsaak is.
’n Paar “moeilike” voorbeelde illustreer dalk wat ek bedoel:
- ’n Donkie kan normaalweg nie praat nie. As God dit nodig ag dat die donkie met Bileam moet praat om Israel te seën en nie te vervloek soos Balak wil nie, dan praat Bileam se donkie. (Num. 22-24) Daarna, wanneer dit nie meer nodig is nie, praat donkies nie;
- Wanneer God Jona na Nineve stuur en hy weghardloop, laat God ’n vis Jona insluk en ná drie dae weer uitspoeg. Om God se Woord te gaan aflewer. Daarna sluk visse nie sommer mense in en spoeg hulle lewend uit nie;
- Die belangrikste: Omdat God dit so wil, laat Hy sy enigste Seun gebore word uit ’n maagd. Omdat die redding van die wêreld nie vanuit die mense (van onder) kan kom nie, maar juis van God. ’n Wonderwerk dus; en
- Hierdie Seun sterf vir die sonde van die wêreld en staan ná drie dae op uit die dood. Mense uit mense gebore staan nie op uit die dood nie. Maar Jesus doen dit. Want Hy is meer as net ’n mens. Hy is inderdaad God wat mens geword het.
Praat oor geloof, ja! Maar jy kan nie die wonder van God se dade uit die geloof haal nie!
Ds. Mouton is ’n leraar in die Gereformeerde kerk Potchefstroom Mooirivier.
Stuur jou bydrae van 500 woorde oor die kerkdebat na gvanrens@beeld.com.
Bydrae tot Kerkdebat
deur Henrietta Klaasing (nie in Beeld geplaas nie)
Die “ballingskap” waarvan Prof. Wilhelm Jordaan praat in sy rubriek “Kerkspanning tussen tradisie en vernuwing” (Beeld, 27 November 2012) is ’n self-opgelegde ballingskap. Hy voel klaarblyklik meer tuis in Dr. Abel Pienaar se Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, waar hy hul toekenning as “voordenker vir 2012” ontvang het.
Hierdie vervreemding spruit waarskynlik voort uit die feit dat hulle nie die meer die volle geloofinhoud van die belydenisskrifte van die Reformasie kan of wil verwoord nie. ’n Denominasie het ’n eie etos, ’n geestesingesteldheid wat eie is aan daardie groep en saam het hulle ’n “gereformeerde” etos, wat eie is aan die groter familie waaraan hulle behoort soos die NG Kerk waarvan ek lidmaat is, deel is van ’n groter gereformeerde familie dwarsoor die wêreld.
As lidmaat is ek bekommerd as die moderator, Prof. Nelus Niemandt in die nuutste Kerkbode Aanlyn ongekwalifiseerd verklaar in 2012 NGK se draaipunt (4 Des 2012): “Ons kry dit goed reg om mense met verskillende spiritualiteite te omhels” en dat daar plek is vir groeiende aantal vernuwende denkers. Volgens hom is die kerk se kernwaardes sterk genoeg om mense met verskillende sienings maar wat dieselfde waardes deel, te akkommodeer. DIT terwyl daar talle stemme opgegaan het teen besluite wat deurgehamer is in die Algemene Sinode in Oktober 2011!
Is daar nie dalk onder die “denkers” na wie hy verwys, mense wat glo dat die eerste drie hoofstukke van die Bybel mites is en dat Jesus nie fisies uit die dood opgewek is nie? Is dit nie so dat sommige van hierdie “vernuwende denkers” meen dat die duiwel nie as ’n (metafisiese) persoon bestaan nie en dat mens maar mag deelneem aan rituele waar voorvaders aanbid word?
Tereg sê Ds Koos Mouton in sy bydrae tot die Kerkdebat (Beeld, 12 Desember 2012) dat dit “ten diepste gaan oor Skrifgesag en –getuienis”. Die ommekeer in Skrifbeskouing wat ongeveer 50 jaar gelede begin het, het sedert 2000 in die NG Kerk in momentum begin toeneem. Dit het ook nie Skrifkritiek en Skrifgebruik onaangetas gelaat het nie. Die liberale aanslag het verdoemende gevolge op vele terreine gehad soos hierbo aangetoon. Daar kan gevra word: Word die hart van die evangelie nie uitgeruk nie?
Charles Spurgeon het gesê: “Discernment isn’t about knowing RIGHT from WRONG, rather it’s about knowing RIGHT from ALMOST RIGHT…” En dit is die dilemma waarmee dikwels gesit word: Baie van hierdie dwalinge is naby aan die waarheid en word verkoop in pakkies wat baie Christelik lyk (soos byvoorbeeld ’n oorbeklemtoning van Jesus se liefde en die ignorering van Sy oordeel), maar die wysheid is om te onderskei tussen die dinge wat werklik reg is en wat baie naby aan reg is.
Is dit nie tyd dat “bannelinge” wat soos Prof. Jordaan voel, hulle opnuut verbind tot die gereformeerde leer en die evangelie waartoe hulle geroep is, en dat die wie dit nie kan doen nie, eerlik sal wees, en hulleself aan die kerklike opsig en tug onderwerp of elders ’n heenkome vind nie?
– Dr Henrietta Klaasing is mede-skrywer van die boek “Die Trojaanse perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme” en woon in Groblersdal
God, nie teoloë, spreek die finale woord
2012-12-13
deur dr Tommie Breitenbach
(Van sy blog, Waters waar rus is gekopieer.)
Lidmate van verskillende kerklike denominasies moet hulself afvra of die kerk waartoe hulle behoort ’n ware of ’n valse kerk is. Dit geld ook lidmate van die NG Kerk (NGB,Art.29). Die lees van Julian Müller, afgetrede teoloog, se artikel, “Nuwe taal vir ou kerk” (DB,12.12), beklemtoon die noodsaaklikheid van dié vraag.
Müller sê die NG Kerk kan nie op die “ou manier” voortgaan nie, moet homself “herontdek”, en sy geloof in “nuwe taal” verwoord. Die huidige voortstuwende en allesverswelgende transformasie-tsoenami oorspoel sowel die teologiese denke as die kerklike lewe van die dag. Die kerklike “ou manier” moet plat gevee word sodat ’n nuwe kerklike “phoenix” uit die modder kan verrys – “herontdekkende” homself en pratende ’n “nuwe taal”.
Müller se kerkbeskouing swyg oor die kerk as die Liggaam/Bruid van Christus as die Hoof daarvan. Aangaande myself kan daar nooit van die kerk gepraat word sonder ’n dankbare afhanklikheidserkenning, eerbied en gehoorsaamheid aan die Goddelike Eienaar daarvan nie. Met ’n Godheid wie se karakter nooit verander nie – en so ook Sy Woord – kom Müller se verwerping van die “ou manier” nie net vreemd, maar ook onoortuigend en verdag voor.
NGK-lidmate moenie deur Müller verwar word nie. Neem eerder ter harte wat Paulus vir Timoteus gesê het: “…bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo (2 Tim.3:14). Soos wat? Soos wat Jesus self gesê het: “…die skape volg hom (die herder) omdat hulle sy stem ken…en nooit ’n vreemde sal volg omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie” (Joh.10:4-5). Ignoreer daarom die “vreemde stemme” in die kerk. God, nie teoloë nie, spreek die finale woord.
Deur T.C. Breitenbach
Kerkdebat – Wynand Louw
(Van Beeld gekopieer)
2012-12-18 23:00
Wynand Louw
Dit is jammer die onderliggende konflik in Beeld se kerkdebat word verswyg. Só word mense meer verwar as ingelig.
Die basiese kerkkonflik vandag gaan oor waarheidsleer, Godsbeskouing en mensbeskouing.
Aan die een kant is dié wat die Bybel en Gereformeerde belydenisskrifte se waarheidsleer, Godsbeskouing en mensbeskouing aanhang, aan die ander kant is dié wat dit verwerp ter wille van ’n postmoderne waarheidsleer, heidense godsbeskouing en ’n heidense mensbeskouing.
Waarheidsleer: Die Bybel stel dat alle kennis begin by God en Sy persoon. Sekere kennis oor God is bekombaar omdat God met sy skepsels kan en wil kommunikeer. Die postmoderne waarheidsleer stel dat daar nie so iets soos seker kennis kan wees nie, dat God nie ’n bron van geldige kennis kan wees nie en dat God dus nie kan of lus is om met skepsels te kommunikeer nie. Hulle verwerp dus dikwels die Bybel as Woord van God en stel dat dit woorde van mense oor God is. Kerkleiers wat hierdie anti-Bybelse waarheidsleer verkondig, is Ben du Toit, Julian Müller en Nelus Niemandt.
Godsbeskouing: Die Bybel stel duidelik God is nie die wese van die skepping nie. God en die skepping deel nie in dieselfde wesensbestaan nie. God is ewig, almagtig, alwetend, alomteenwoordig en Liefde. Hierteenoor stel Julian Müller en Ben du Toit dat God die wese van die skepping is (Du Toit stel dat God die energievelde is waaruit die skepping se materie ontstaan het.) Die mens deel dus in die wesensbestaan van God en is self in wese God.
Mensbeskouing: Die Bybel stel duidelik dat die mens deur die sondeval totaal verdorwe is. Omdat die mens verdorwe is, kan hy homself nie red nie en is ’n Redder (Christus) nodig. Christus het aan die kruis gesterf om die straf vir die mensdom se sonde te dra. Hierteenoor stel Müller en Du Toit dat die sondeval nie plaasgevind het nie, maar dat boosheid die gevolg is daarvan dat die mens “vergeet het hy is God”. Die mens het dus nie ’n verlosser nodig nie, maar iemand (die New Age se Christus) om die pad na vergoddeliking (ekwivalent aan New Age “enlightenment”) aan te dui. Sodra die mens tot die besef van sy eie godheid gekom het, sal hy “verlos” wees. Daar is geen hel nie omdat almal uiteindelik sal teruggroei na God.
Dié is die onderliggende stryd in al die Afrikaanse kerke vandag, die rede waarom die Hervormde Kerk aan die skeur is en die huidige NG leierskorps die NG Kerk na skeuring stuur.
Dit is ’n stryd tussen die ware Bybelse Evangelie en ’n heidense, New Age-filosofie direk uit die hel.
– Louw is lid van ’n NG gemeente
Kerkdebat – Pik Botha
(Van Beeld gekopieer.)
2012-12-17 21:22
Pik Botha
Die son sak nooit weg nie. Dit is die aarde wat om sy eie skewe as draai. Die kerk het kennis meer as duisend jaar versmoor.
’n Sterrekundige wat beweer het dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie, is terreggestel. Ander het die doodstraf rakelings vrygespring, maar is kwaai gestraf.
Calvyn was in sy skik toe ’n man vir ’n godsdiensoortreding op ’n brandstapel moes boet. Hoe dit rym met enige van Christus se leerstellings is nog nooit verduidelik nie.
In Amerika (hopelik nie in ons land nie) verwerp ’n groot aantal mense evolusie steeds. Slegs een besoek aan Sterkfontein is genoeg om die onbetwisbaarheid van evolusie te beaam.
En om gelyktydig die onbepaalbare intellektuele beplanningsmag van die Skepper te erken: om die mens deur middel van ’n betowerende proses van 4 000 miljoen jaar te skep uit eenselligheid.
Seer sekerlik ’n almagtiger God as die Een wat ’n pop uit klei gemaak het en toe lewensasem in sy neus geblaas het.
Niemand weet wat “ewig” beteken nie, want geen mens (of rekenaar wat ons kan skep) sal ooit ’n konsep wat gebaseer is op “geen begin en geen einde” kan begryp nie. Net God weet wie of wat God is.
Sommige wetenskaplikes beweer dat die oerknal “toevallig” ontstaan het om te probeer ontsnap aan ’n aanvaarding dat daar ’n God is wat dit beplan het.
En diegene wat glo dat God dit beplan het, loop hulle weer vas in die tergende vraag: “Hoe het God ontstaan?”
Ons sal eindeloos hieroor stry, want ons weet nie wat “eindeloos” beteken nie. Quo vadis? Ons moet berus in ons onvermoë om ’n antwoord te vind.
God is nie net ’n onoortreflike wiskundige nie. Kunstenaars en komponiste streef al eeue lank om met verf, beitel en musiekmeesterstukke te skep wat nie onderhewig moet wees aan ons kort menslike bestaanstyd nie. Kunstenaars geniet waardering van hul skeppings.
Soms wonder ek of ons Groot Meester nie dalk ’n behoefte gehad het om wesens tot stand te bring om sy meesterwerke te geniet nie.
En om die kroon te span: Christus word bemagtig om vir die mens aan te wys hoe om sy pad te vind na voortbestaan ná sy aardse bestaan in welke vorm ook al en met watter doel ook al.
Die menslike gewete het die instinkmatigheid van die dier vervang. Christus sê vir ons hoe om gewetensvryheid te bekom en uit te leef. Dit is ons grootste uitdaging, maar ons verkies om eerder die uitdagings van ons aardse bestaan aan te durf.
Ons is vasgekeer in politieke, maatskaplike en ekonomiese konflikte. Ons aardse bestaan word erg bedreig deur aardverhitting.
Ons verseg om stappe te doen om dit te stuit. Ons word oorheers deur die tirannie van die onmiddellike.
Ons hou dus aan om Christus te kruisig en ons vier sy geboorte met ’n gekommersialiseerde Kersdag. Quo vadis?
“Wees my, sondaar, genadig!”
Stuur jou bydrae van 500 woorde of minder aan gvanrens@beeld.com.
Kerkdebat: Die waarde van liefde vir ander mense
(Van Beeld gekopieer.)
2012-12-19 23:12
Nelus Niemandt
Al sou ’n mens in kerkdebatte die beste antwoorde hê en selfs direk uit die monde van engele kon vertel wie reg en verkeerd is, en jy het nie liefde nie, help alles niks. Al sou jy presies weet hoe om moderne filosofie en evolusie te versoen met die Bybel, en al sou jy alle filosofie verkeerd kon bewys en evolusie ignoreer, sal dit sonder liefde geen verskil maak nie.
Sê nou maar ’n mens kan hoogs geleerd klink of passievol die leerstellings van kerke verdedig, en sê nou maar jy is selfs wêreldbekend om jou geloof, maar jy het nie ander mense lief nie, is jy vir die Here ’n nul op ’n kontrak.
Om ander lief te hê beteken dat jy nie leuens oor hulle sal vertel nie, maar jou bes doen om die eer van mense wat selfs oor geloof met jou verskil te verdedig.
Liefde glo altyd die beste van ander mense. Liefdevolle kerkdebatte beteken mense geniet dit om met mekaar te verskil in hul soeke na antwoorde. Hulle kry dit reg om ander nuuskierig te maak oor die manier waarop God se dinge werk, want hulle respekteer mekaar. Mens sien sommer raak dat hulle nie toelaat dat verskille die verhouding tussen mense verskeur nie.
Liefde help mens om te sien dat goeie verhoudings die belangrikste waarheid van alles is. Om die waarheid te sê, waarheid is ’n persoon, nie ’n beginsel nie.
In debatte oor waarheid en twyfel is liefde die helder lig wat mens laat sien daar is in God se skema plek vir twyfelaars én mense wat oorversekerd is dat hulle al die waarheid beet het. God het almal lief!
Met Kersfees voor die deur onthou ek dat die diepste waarde van die Christelike boodskap nie kompleks teologiese denkskemas is nie, maar passievolle liefde vir God en medemense. Volgelinge van Jesus dink daaraan dat dit juis liefde is wat die lewe die moeite werd maak – nie om altyd reg te wees of alles te kan bevraagteken nie. Die kern van Jesus se lewensles is dat ’n lewe voor die Vader oor liefde gaan. Ons dien nie ’n God wat ons straf vir ons verkeerde dade en leerstelling of beloon vir ons goeie dade en leersuiwerheid nie. Ons dien ’n God wat liefde is.
Uiteindelik is liefde so ’n oorweldigende idee dat dit ons die heel naaste aan God bring. Ons kan regtig nie alles van God verstaan nie. Ons verstaan eintlik maar net gedeeltelik, maar vertrou dat ons God eendag ten volle sal ken soos God ons heeltemal ken.
In kerkdebatte waar mense mekaar maklik seermaak, selfs lyste byhou van wie hulle dink reg is en dwaal, wie binne en buite is, hou ek vas aan geloof, hoop en liefde. En die grootste hiervan is die liefde!
– Niemandt is professor in godsdiens- en sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria.
(Kyk Reaksie op Nelus Niemandt, deur ds Gideon Aggenbag)
Kerkdebat: Fout as jy nie Bybel ernstig opneem
(Van Beeld gekopieer.)
2012-12-20 23:00
Daniel Louw
Pik Botha skep ’n baie negatiewe prentjie van die kerk (kyk Kerkdebat – Pik Botha – 18 Des 2012). Hy sê dat die kerk kennis meer as 1000 jaar lank versmoor het en verwys na sterrekundiges wat tereggestel is. Hiermee bedoel hy waarskynlik Galileo.
Dit is so dat die kerk, of eerder die pous, Galileo vervolg het, maar die werklike rede daarvoor is baie interessant. Dit is belangrik om te weet dat die kerk in daardie stadium die mening van die meerderheid wetenskaplikes aangehang het, dus was die kerk nie die sondaar nie, maar die meerderheid wetenskaplikes. Galileo se arrogansie het ook nie sy saak gehelp nie: Sommige bronne beweer dat die pous Galileo vervolg het weens Galileo se persoonlike aanvalle op hom.
Kyk gerus http://creation.com/the-galileo-affair-history-or-heroic-hagiography vir meer daaroor.
Botha glo dat ’n besoek aan die Sterkfonteingrotte jou sal oortuig dat evolusie waar is. Dit is net so goed ek sê dat ’n besoek aan ’n skeppingsmuseum enigiemand sal oortuig dat evolusie nie waar is nie.
Evolusie, net soos skeppingsleer (kreasionisme), is nie operasionele wetenskap nie, maar historiese wetenskap: Dit kan nie waargeneem of herhaal word nie en daarom kan dit nie regtig bewys word nie. Daar is vandag ’n groot aantal wetenskaplikes wat nie aan evolusie glo nie en verder bly die oorgangskakels vermis. Evolusie is glad nie ’n feit nie.
Botha impliseer dat ons moet berus in ons onvermoë om ’n antwoord te vind. In ’n mate is hy reg – daar is dinge wat ons nie 100% kan verklaar nie, soos hoekom moet die hele mensdom ly weens die sonde van Adam en Eva en wat gebeur met mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie? Gaan hulle hel toe en indien wel, is dit nie onregverdig nie? En waar God vandaan kom, weet niemand nie.
Daar is egter vandag mense wat hul eie teologie skep omdat die Bybel nie al die antwoorde duidelik gee nie. Deur dit te doen, bevind jy jou in ’n baie groter onsekerheid.
Ons moet leer om die Bybel met nederigheid te lees: As die Bybel pertinent iets sê, moet ons dit glo en as ons dit nie verstaan nie, moet ons daarby berus. Die Bybel bly die Woord van God en daarom maak diegene wat nie die Bybel ernstig opneem nie ’n groot fout.
– Louw is ’n chemiese ingenieur en kerkraadslid van die NG Secunda-moedergemeente.
Reaksie op Pik Botha
deur ds Gideon Aggenbag
Pik Botha is besig met ’n vreemde god. Die God van die Bybel ontken hy ten sterkste. Sy god het deur middel van evolusie “geskep”. Sy god (en hy skryf dit nogal met hoofletters) is “Seer sekerlik ’n almagtiger God as die Een wat ’n pop uit klei gemaak het en toe lewensasem in sy neus geblaas het.” En let wel, die mens wat God geskape het, word smalend beskryf as ’n “pop”.
Botha se god het ook nie lewe geskep, soos die God van die Bybel nie. Sy god het maar net toegelaat dat ’n reeds-bestaande “eenselligheid” ge-evolueer het. En dít noem hy “betowerend”, maar versuim om te verduidelik wie die lewe in dié “eenselligheid” geskep het nie. Dit strook natuurlik ook met die “belydenis” wat die NG Kerk moderatuur gedurende Junie 2009 geformuleer het, (en waaraan hulle hul óók “verwonder”) nl. dat die skeppingsproses verloop het “volgens die ingewikkelde aard van wetmatighede”, en dat dit nog steeds “so funksioneer en ontwikkel”.
Pik probeer ook op twee stoele sit, en val jammerlik daartussendeur. Hy verwerp wat God se Woord leer omtrent die skepping, maar probeer dan ook “om gelyktydig die onbepaalbare intellektuele beplanningsmag van die Skepper te erken” – en daarmee plaas hy sy interpretasie daarvan in ’n konteks wat heeltemal buite die Bybelse konteks lê. Sý god het niks wonderbaarlik gedoen nie – hy het maar net “beplan” – die oerknal sowel as die evolusie van “eenselligheid” – waarvan die die Bybel niks weet nie.
Terwyl Botha gemelde Bybelse uitsprake verwerp, probeer hy tog te kenne gee dat hy ander Bybelse uitsprake (gedeeltelik?) glo – waarmee hy nog verder as die vloer tussen sy twee stoele deur val.
Hy verknies hom daaroor dat “Niemand weet wat “ewig” beteken nie” en die feit dat “Net God weet wie of wat God is”. Gegewe die feit dat hy homself identifiseer as ’n afstammeling van aap-agtige voorouers, kan mens dit seker verstaan. As hy egter die Bybelse uitsprake hieroor geken het, sou hy kon rus vind in die feit dat God in Sy Woord (vir dié wat daarin glo), heeltemal genoeg gegee het om Hom te vertrou met enigiets wat ons nodig het om te weet. Diesulkes berus daarin dat ons nou net ten dele ken en verstaan.
Met sy besondere geloofsbasis sal Pik Botha homself teen sy eie “tergende” vrae bly vasloop: “Wat beteken ‘ewig’?” “Hoe het God ontstaan?”, “Wie of wat is God?”. Het Pik geweet dat hierdie vrae in die Bybel, die betroubare Woord van God, aangespreek word?
Die verbasendste is dat Pik Botha dan nog verklaar dat Christus (ek aanvaar dat hy bedoel die Christus van dié Bybel wat hy nie kan glo nie) “. sê vir ons hoe om gewetensvryheid te bekom en uit te leef.” – wat hy ookal mag bedoel met “gewetensvryheid”(?)
Reaksie op Nelus Niemandt
deur ds Gideon Aggenbag
Daar is veel wat prof. Niemandt oor die liefde sê waarmee ek myself kan vereenselwig (kyk Kerkdebat: Die waarde van liefde vir ander mense). Ek meen egter dat die konteks waarin ons die term gebruik, ’n karikatuur daarvan kan maak.
Liefde vir God beteken dat Sy eer en waarheid ten alle koste verdedig sal word – nie dat ons oogluikend sal toelaat dat Sy evangelie verdraai word en ’n valse evangelie verkondig sal word nie. Terwyl ons wel die beste van ander mense wil glo, beteken dit nie dat ons enige leerstelling sal akkommodeer net omdat dit die betrokkene(s) se gevoelens mag seermaak nie.
Stilswye in die aangesig van verkeerdheid is nie liefde nie, maar ’n karikatuur daarvan. Jesus self het doelgerig ’n sweep gevleg, die geldwisselaars se tafels omgegooi en hulle uitgedryf [kyk ook Die Bybel oor Jesus se houding teenoor die waarheid en verkeerde dinge]. Dit beteken nie dat Hy, self waaragtig God, hulle nie liefgehad het nie. Om iets wat teen God se waarheid en wil indruis, oogluikend te laat aangaan, is juis ’n gebrek aan liefde. Om iemand na ’n afgrond te sien stap (en ander wat hom volg) nie duidelik te waarsku nie, is juis ’n gebrek aan liefde. Christene word ook opgedra om te “weerlê, bestraf, vermaan” – nie verkeerdhede dood te swyg nie.
Dat mense (se gevoelens) in die proses mag seerkry, is te verstane. Dít mag egter nie ’n verskoning wees om verkeerdhede te laat floreer nie. Juis daarom tugtig, bestraf en kasty God ook dié wie Hy liefhet (Spr.3:12; Heb.12:6; Openb.3:19).
Insgelyks mag ons liefde vir ons medemens nie beteken dat ons hulle stilswyend op ’n verkeerde pad sal sien gaan sonder om te bestraf of vermaan nie. Die gelowige word voor ’n onontkombare keuse gestel. Ons lees in Eseg.3:18: “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.”
Ons moet maar noodgedwonge die waarheid op die keper beskou: Leerstellige uitsprake word wyd en syd die wêreld ingestuur d.m.v. die openbare media. Die groot probleem hiermee is dat, waar ’n (gesiene) leiersfiguur dit doen, baie mense hom/haar glo en natuurlik volg. Indien so ’n uitspraak teen Bybelse waarhede indruis, mag dit nie maar net “privaat” of “op persoonlike vlak” aangespreek word nie, maar in dieselfde openbare media waarin dit gepropageer word. Sulke verkondigers moet maar net “besin vóór jy begin” en bereid wees om weerlê te word. Waar hulle hul name by hulle leerstellings voeg, moet hulle bereid wees om by name genoem te word. Dit is maar net regverdig dat hulle volgelinge ook dienooreenkomstig ingelig word.
Ons moet ook in gedagte hou dat ons in ons geskrewe debat nie die luukse van lyftaal, stembuiging ens. het nie, en dat die “skuldige” dit na willekeur as “liefdeloos” kan ervaar – al was dit ook hoe goed bedoel. Daarom sal dit ons baat om maar altyd net by die feite te bly, die bal te speel en nie die man nie, en nie etikette soos “liefdeloos” om die nek te hang nie.
Kerkdebat: Liefde vir almal is waaroor dit gaan
(Van Beeld gekopieer.)
2012-12-27 20:18
Wanneer ek aan die kerk dink, is die woorde wat altyd by my opkom: “Jesus het aan die kruis gehang en gedroom oor hoe God se koninkryk kom. En toe kom die kerk.”
Die Grondwet van die Koninkryk – wat in die Bybel sinoniem met God Self is – is die kerk se oriënteringspunt: ware liefde vir mekaar. Nie leerstellings of belydenisse en die beskerming daarvan, die frekwensie van ons kerkbywoning, driftige gebede, die grootte van ons dankoffers, ons ywer “vir die sending” of “die armes en behoeftiges”, of enigiets anders nie, maar ons liefde vir mekaar is die wesenseienskap van Jesus se volgelinge. Waar daar liefde is – en deernis – dáár is God die Heer.
As gemeenskap van gelowiges is die kerk die ruimte waar die liefde so geleef word dat brose en gebroke mense kan tuiskom.
Nie getalle, groei, gewildheid of ander dinge wat geld laat inkom nie, maar liefde vir en aanvaarding van álle mense, is waaroor dit vir en in die kerk gaan.
Waar die grense tussen tyd en ewigheid stippellyne word en oormekaar skuif, moet die kerk die eeue lange gesprek oor God aan die gang hou. Hiér is die erkenning dat ons oor God nie wéét nie, maar vermoed en gló, asook groter liefde vir die ander as vir my eie oortuigings, woorde en formulerings die sleutel.
Een van die probleme wat ons in ons denke en kommunikasie oor God en die goddelike het, is dat vroeë gelowiges hul geloof bely het en dat latere gelowiges hul belydenisse geglo het, pleks daarvan om self hul geloof opnuut vir hul eie tyd te bely.
Die hemel is in tip-top-kondisie. Ons moet ons eietydse wérklikheid engage: geweldenaars, verdrukking, geldelike en emosionele skuld, honger, sosiale onsekerheid, wanfunksie in die regstelsel en korrupte regters (Matt. 6:9-13).
Ek droom van ’n kerk wat – soos God – méns word en – soos Jesus – met die wérklike nood van ons dag engage.
Vir so ’n kerk beywer ek my.
– Dr. Bothma is predikant in die NG Bendorparkgemeente in Polokwane en buitengewone lektor in die teologiese fakulteit van die Noordwes-Universiteit.
Kronkelpad na genade
(Van Beeld gekopieer.)
2013-01-02 21:53
Izak Oosthuizen
Beeld publiseer vandag die laaste bydraes in die kerkdebat.
Izak Oosthuizen
My kronkelpad op soek na die sin van kerk het in die 1950’s in ’n pragtige kleindorpse NG kerk begin.
Hier het ek vergeefs op elke denkbare manier die verveling van Kinderkrans en Sondagskool probeer ontduik.
Maar die kerkdiens ná die Sondagskool was die grootste nagmerrie van uitgerektheid.
Ons het ons vinnig uit die voete gemaak wanneer ons een van die wit-das-omies padlangs gewaar.
Die padgee het na paniekpas oorgeskakel wanneer jy die hoofouderling, oom Os-oog, sien aankom. Ons was vrek bang vir hom!
Tydens die weke lange katkisasieperiode van 1960 sou daar die Saterdagaand eenmalig ’n fliek in die dorp vertoon.
Geen Elvis Presley-aanhanger kon dit misloop nie! ’n Paar van ons het besluit om stokkies te draai by die kerk en eerder te gaan fliek.
Met die uitkomslag daardie aand het ons as’t ware in oom Os-oog se groot boepens vasgeloop. Hy het ons voor die fliek staan en inwag.
My aversie vir die kerk het gedurende my weermagdae en studentejare in Pretoria hoogty gevier. Die naatlose pret en opwinding was met een word groots.
Dit was ligjare van die kerk en die verlate Bybel as vertoonstuk vir my ouers wat op my bedtafel lê en vergeel het.
Maar die draai in die pad was plotseling! Een Sondagaand in Oktober 1971 het ons ’n onwelkome besoeker met teensin ontvang.
Hy wou glo met ons oor dieper dinge kom praat. Om ’n lang storie kort te maak: Ek het daardie aand my hart in ’n gebed vir die Here gegee.
Soos ’n sagte lentereën het ’n vredevolle sielsbriesie my begin omvou.
Dit was onmiskenbaar metafisies. Ek sou nooit weer dieselfde wees nie. Daardie onverdiende draaipunt in my lewe is vir my tot vandag my heel kosbaarste kleinood.
En beskou die kerk as ’n rots in die samelewing waar Christene Sondae hul blye dankbaarheid teenoor die Here saam kan vier; die instelling wat my meer vertel van my Verlosser; die plek wat die wonderlike opdrag van liefde die wêreld instuur waar geweld, haat, korrupsie en afgryse hoogty vier.
Maar ek sien ook die foute van ’n onvolmaakte kerk. Maar juis dit alles beklemtoon vir my dan weer die genade van God waar hy dan sy hand uitsteek en vergewe.
Oosthuizen is ’n navorsingsprofessor aan die Noordwes-Universiteit se Mafikeng-kampus.
Jesus per slot van sake net mens
Andries Conradie
Pik Botha skryf oor die grootheid van die heelal waarin ons as mense ons bewustelik bevind.
Omdat ons bewustelike wesens is, was daar onder ons mense wat bevind het dat die son nie om die aarde draai nie en later selfs dat die son nie die middelpunt van die heelal is nie.
Vir sulke bevindings is mense as ketters gebrandmerk en selfs tereggestel.
Net so is mense wat nie die leer van die kerk as “liggaam van Christus” aanvaar het nie, gebrandmerk en vele is op onmenslike wyse tereggestel – om nie eens te praat van duisende wat in die Kruistogte en godsdiensoorloë omgekom het nie.
Soos hy dit pragtig stel, kan ons nie langer aanvaar dat die Skepper ’n “pop uit klei gemaak het en toe lewensasem in sy neus geblaas het” nie en dat evolusie oor miljoene van ons jare eintlik ’n meer wonderbare begrip is.
Tot sover is ek, denkende wese soos wat hy is, met hom, maar moet verskil as hy Christus aanvaar as die een wat ons gewys het hoe om “gewetensvryheid te bekom en uit te leef”.
Daarmee wil hy saam met die kerk eintlik beweer dat daar net een Weg en Waarheid is en dat almal – soos Jode, Hindoes, Boeddhiste en Moslems – nog altyd op ’n dwaalspoor was.
Die Jesus wat hy as Christus en Meester aanvaar, was per slot van sake net ’n mens. Wel ’n uitsonderlike mens, selfs ’n gesalfde, soos vele ander uitstaande mense deur die geskiedenis heen.
Hy fouteer dus as hy praat van Christus, want eintlik beteken die Griekse woord “die gesalfde”, wat dui op ’n persoon wat uitverkies is om ’n taak te verrig.
Conradie is ’n historikus van Centurion.
Liefde moenie verdraai
Gideon Aggenbag
Daar is veel wat Nelus Niemandt oor die liefde sê waarmee ek my kan vereenselwig.
Liefde vir God beteken dat Sy eer en waarheid ten alle koste verdedig sal word, nie dat ons oogluikend sal toelaat dat Sy evangelie verdraai en ’n valse evangelie verkondig sal word nie.
Terwyl ons wel die beste van mense wil glo, beteken dit nie dat ons enige leerstelling sal akkommodeer net omdat dit die betrokkene(s) se gevoelens mag seermaak nie.
Stilswye in die aangesig van verkeerdheid is ’n karikatuur van liefde. Jesus self het doelgerig ’n sweep gevleg, die geldwisselaars se tafels omgegooi en hulle uitgedryf.
Dit beteken nie dat Hy, self waaragtig God, hulle nie liefgehad het nie. Om iets wat teen God se waarheid en wil indruis oogluikend te laat aangaan, is juis ’n gebrek aan liefde.
Dis te verstane dat mense in die proses mag seerkry.
Dít mag nie verkeerdhede laat floreer nie. Insgelyks mag ons liefde vir ons medemens nie dat ons hulle op ’n verkeerde pad sal sien gaan sonder om te bestraf of vermaan nie.
Aggenbag was dominee van ’n NG gemeente in Leondale.
Ons moet ruimte en respek hê
Mientjie Lubbe
Julian Müller sê “ … lidmate sal gehelp moet word om hul geloof in ’n heeltemal nuwe taal te verwoord”.
Ek vra: “Hoekom, as hulle nie behoefte daaraan het nie?”
Daar moet in gedagte gehou word dat mense verskil en almal is nie teoloë nie. Elke mens is uniek. Ons moet begrip daarvoor hê.
Boonop maak nuwe gedagtes of sienings baie mense bang, want hul vertroude wêreld word omgekrap, dit voel vir hulle asof die mat (hul vertroostende, standvastige geloofsvertroue) onder hul voete uitgetrek word.
Skielik voel hulle onveilig en hou hulle liewer desperaat vas aan hul gemaksone wat die grensdrade van tradisionele geloofsoortuigings om hulle span.
Probeer ons dit verstaan, eerder as om uit die hoogte te dink mense is darem verstok, of selfs dom?
Almal is nie sterk genoeg vir nuwe idees en drastiese veranderinge nie. Party het langer tyd nodig. Ons moet mekaar probeer ruimte gee en respekteer.
Wilhelm Jordaan en Jaco Strydom raak ook die aspek van die misterie van God aan. Het ons regtig ’n besef van God se grootheid en ons kleinheid in vergelyking?
En vertwyfeling? Onthou Paulus se versugting: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.”
Die groot sendeling, geloofsman bid (dus glo) dat God sy ongeloof te hulp sal kom. Hy praat ook van “ons sien alles nog as ’n raaisel”.
’n Diepe misterie, dus, wat ons nederig behoort te stem.
Volgens my moet ons saggies trap wanneer ons oor God en sy koninkryk ’n opinie het of gee.
Lubbe is lid van die NG gemeente Potchefstroom-Wes.
Wilhelm Jordaan sluit debat dán af
Wilhelm Jordaan, rubriekskrywer van Beeld, het die kerkdebat ontketen met sy rubriek “Kerkspanning tussen tradisie en vernuwing”.
Jordaan, buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, sluit die debat Dinsdag af.
Dra ander se geloofstaal
(Van Beeld gekopieer.)
2013-01-07 23:00
Die debat het begin met ’n stelling dat daar in die kerk nie voldoende oop gesprek oor die spanning tussen tradisie en vernuwing is nie. Opvallend was die debatvoerders se oorwegend eerlike standpuntstelling (in briewe en in kort artikels) eerder as kwetsende verwerping en venyn.
Daarom is dit miskien ironies dat juis ’n koerant ruimte vir sulke gesprekke skep terwyl dit ook in die intimiteit van gemeentes onder rigtinggewende kerkleiding behoort te gebeur. Daar was twee prominente temas: Die gesag van die Bybel en Christus se betekenis.
Wat hieronder volg, is bloot kantaantekeninge oor my eie verstaan van dié sake as iemand wat as ’n onverwoesbare binnestander deel van my kerk en my gemeente wil wees. Ek wil nie ’n buitestander, ’n Christen in “ballingskap”, wees nie. Ek wil, soos ek lank gelede in my “Blydenuus van geloof” geskryf het, vertoef in die gemeenskap van stukkende sondaars wat kniel voor die heiligheid van God; gekoester in die troos dat genade altyd groter is as my sonde en geskiedenis.
…
Tradisie sê die Bybel is letterlik God se onfeilbare Woord; die resultaat van God se direkte “ingewing” aan mense wat as “werktuie” vertel en geskryf het; as’t ware gedikteer deur die Gees. Kerklike leerstellings en geloofsbelydenisse, en dan sekerlik ook Sondae se preke, is op dié Woord gegrond en het daarom afgeleide gesag.
Daarteenoor ’n vernuwende standpunt. Die “Bybelskrywers” is deur hul geloof in God geïnspireer om te vertel wat hulle gehoor en gesien het en om neer te pen wat hulle beleef het. Dié vertellings – byvoorbeeld verhale, geskiedenisse, profesieë, wysheidspreuke, psalms en poësie – is eg menslike belewenisse en voorstellings van hoe God is. En dit kom uit die verlange na God se teenwoordigheid in die wêreld en in jou lewe.
Die Bybel verteenwoordig dus mense se verstaan van God in bepaalde kultuurhistoriese tye; met aantoonbare beïnvloeding deur die destydse omramende kulture se verhale en godsdienste.
Die teoloog Ferdinand Deist was glashelder oor dié saak. Hy moes op ’n Sondag preek en merk toe die kanselkleedjie wat lui op: So spreek die Here. Hy klim toe van die kansel af, gaan staan op die “grondvloer” en sê: “Wie nou hier spreek, is ek, Ferdinand Deist. Maar ek glo dat ek as kind van die Here deur my geloof, toewyding en voorbereiding iets het om te sê wat geïnspireerd is en wat ander kan inspireer.”
Dié benadering bevestig die Bybel se belangrikheid as ’n steeds voedende grondteks wat terselfdertyd kritiese herinterpretasie vra om aan te sluit by hedendaagse behoeftes aan singewing by mense met ’n (post)moderne wêreldbeeld. Net soos wat fliekregisseurs telkens nuwe vertolkingsmoontlikhede in Shakespeare se dramas raaksien en verbeeld, so kan teoloë, predikante en ander gelowiges steeds uitgebreide en opwindende lewenstoepassings in die Bybel vind.
Soos die Nederlandse predikant Nico Ter Linden dit doen in sy boek Het verhaal gaat… Die boektitel se onvoltooide sin is veelseggend; met die implikasie dat die menslike verstaan van God nimmereindigend, soekend voortduur.
God is dus ’n ontvouende misterie. Soos ’n bekende Bybelverhaal te kenne gee – waar God op ’n vraag van Moses sy naam verskaf: “Ek is wat Ek is.”
In die antieke Hebreeus is die werkwoordvorm in die onvoltooid teenwoordige tyd (in Engels die veelseggende “present continuous tense”). Waarmee die Eksodus-skrywer(s) en redakteurs dalk wou sê: God was, is en sal wees; immer ontvouend in die tyd.
Wat ook sê: Ons weeg, laat weg, voeg by en brei uit op bestaande Bybelgedeeltes. Dít is opwindende geloofswerk. Daaruit kom, soos die Nederlandse priester-digter Huub Oosterhuis reken, “een nieuwe taal die je spreekt om niet heeltemal te hoeven zwijgen”.
Wat só gedoen word, kan verstaan word as aanvullende, voorlopige maniere om sin aan jou geloof in God te gee in die hedendaagse wêreld. En wat versoenbaar is met jou lewensondervinding, kennis, opleiding en die lees van baie soorte letterkundige, wetenskaplike en godsdienstekste.
…
Christus se betekenis, die tweede prominente debatstema, is dikwels die hart van die spanning tussen tradisie en vernuwing.
Tradisie se standpunt oor Christus staan vas: Hy is die Seun van God, gebore uit die maagd Maria. Hy het uit die dood opgestaan (die “graf wás leeg”); en het opgevaar na die hemel … ; soos dit byvoorbeeld aangeteken staan in die eeue oue Apostoliese Geloofsbelydenis. Vir tradisievastes is dit ’n ontwyfelbare (ook ononderhandelbare) sekerheid. Daarsonder is geloof leeg en is jou Christenskap verdag.
Baie mense het al die kerk verlaat en hul geloof verloor omdat ’n belydenis soos dié vir hulle onaanvaarbaar is.
Nog ander vernuwers beleef dié belydenis as lewensvreemd en tog wil hulle die “saak van geloof” nie versaak nie. En sommige doen dit deur die “versoening” van tradisietaal en ’n nuwe taal.
Dit behels byvoorbeeld die bereidwilligheid om saam te leef met teenstrydigheid en dubbelsinnigheid; en met ou tekste se eietydse betekenismoontlikhede. Daaruit kom “en-en” eerder as “óf-óf”-denke – ’n bewussyn van dubbele moontlikhede; “ja” vir tradisie en vernuwing.
Toegepas op die Apostoliese Geloofsbelydenis: Dié belydenis is die geloofstaal van die kerkvaders eeue gelede en dit is ook die taal wat jy van moedersknie af leer ken het. Jy verbly jou daarin en sê dit met oortuiging na as ’n kosbare geloofsvormende geskiedenis waarsonder jy nie wil wees nie.
Andersyds, en terselfdertyd: Die misterie rondom die idee van God dwing jou tot ’n altyd soekende en verantwoordbare verwondering om nuwe geloofsinhoude te formuleer wat jou die troos bring dat jy nie buite geloof staan nie.
Vir sommige vernuwers is twee van Jesus se vrae aan sy dissipels deurslaggewend. Eers vra Hy: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord hom. En net daarna: “Maar julle,?…wie, sê julle, is Ek?”
Jesus, wat homself nooit direk Seun van God genoem het nie, gee nie ’n antwoord nie, maar loof Petrus vir sy antwoord. Dit kan verstaan word as Jesus se oop uitnodiging wat verby al die eeue steeds geld.
En daaruit kom baie soorte toelaatbare antwoorde wanneer mense bemoeienis maak met Christus se betekenis in hul lewe?–?hetsy in ’n sukkelende gebed; ’n biddende stameling; ’n verblindende oomblik van verwondering; in ’n historiese studie oor Jesus sonder pa in Galilea; in ’n twyfelvraag; ’n gedig, in ’n fliek, musiek of skildery; met trane in donker nagte vol angs; in ’n kerkdebat; deur ’n ou of nuwe belydenisskrif enso(bemoeiend)voort.
Vir nog baie ander vernuwers is die belydenisse en leerstellighede se korrektheid van veel minder belang as die vraag of jou lewe op Jesus se prediking en leefwyse gegrond is. Hulle doen iets vir mense in nood eerder as om te hard oor fyn teologie en korrekte geloofswoorde te dink.
…
Die laaste weke se debat het bevestig geloof kom in baie gestaltes en genres. Wat moet ons dan maak met die verskille én geskille tussen tradisievastes en vernuwers?
Die Katolieke teoloog Hans Küng se segging is betekenisvol: “The totality of faith consists in the integrity of commitment and not in completely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time.”
Geloofstoewyding bring dié vraag: Is geloof, hoe seker of wankelend ook al, sentraal in jou lewe; ’n opeisende lewenskrag wat neerslag vind in alles wat jy is en doen? Leef jy die liefdesevangelie van Christus uit in die ryk skakerings daarvan?
Verdraagsaamheid is die hart van die “integriteit van toewyding”. Want juis jóú toewyding se integriteit moet ’n ánder se integriteit van toewyding moontlik maak, waarborg en laat gedy. Maar ons gaan gevaarlik, ’n bietjie liefdeloos, met verdraagsaamheid om.
Verdraagsaamheid se betekenis is inderdaad dunnerig in Afrikaans. Dit beteken dinge soos “duld” en “uitstaan”, wat verstaan kan word as lydsame, passiewe aanvaarding in die trant van: Ek laat jou maar praat en begaan, maar eintlik hoor ek jou nie.
Die Latynse oorsprong van verdraagsaamheid (“toleransie”) suggereer drie eienskappe van verdraagsaamheid: “om te verduur”; “om op te tel” en “om te dra”. Alles saam geneem, skep verdraagsaamheid ’n veilige ruimte waarmee jy sê: Terwyl ek ánders as jy dink, dra ek jou geloofstaal saam asof dit mýne is, en daardeur verstaan ek beter hoekom jy dink soos jy dink en doen soos jy doen. Juis daarom kan ek nie, wil ek nie, jou geloofstaal geringskat of minag nie. En ek let eerder op die integriteit van jou toewyding as op die vraag of jou geloofstaal so “korrek” soos myne klink.
Sulke verdraagsaamheid bring mee dat tradisievastes en vernuwers geborge en verwonderd voor die geheim van God kan staan – langs mekaar en nie teenoor mekaar nie; met geboë hoofde, nie met gebalde vuiste nie.