Liberale teologie in die NG Kerk

Kyk ook Liberale teologie in die NG Kerk? waarin Nelis Janse van Rensburg kommentaar lewer hierop.

En kyk ook die volgende video van Ferdie Mulder.

Liberale Teologie in die NG Kerk. ’n Historiese Agtergrond deur Dr Ferdie Mulder

***********

Liberale teologie in die NG Kerk

Opgestel deur verskillende medewerkers vir Kairos Netwerk.

Augustus 2020

Inleiding

Sedert die ontstaan van die kerk en tot en met die wederkoms, was daar en sal daar pogings wees om die Christelike geloof te ondermyn. Ons lees van hierdie geestelike stryd waarin gelowiges gewikkel is regdeur die Nuwe Testament (Efes. 6:10-20; 1 Pet.1:13). Vandag staan ons steeds binne daardie stryd.

Liberale teologiese strominge het soos ’n spreekwoordelike trojaanse perd ongesiens by die agterdeur ingeglip en een van die dominante spilpunte in die kerk geword. Predikante in gesagsposisies wat bewustelik en onbewustelik deur hierdie liberale teologie gekaap is, verkondig dit aan honger gelowiges wat dit soos soetkoek opeet. Dit alles is natuurlik deel van die vyand se pogings om die kerk te ondermyn en magteloos te laat. En dit in ’n tyd waarin die gemeentes reeds voor enorme uitdagings staan!

Dit is daarom van uiterste belang dat behoudende Christene nie alleen voldoende toegerus sal wees om hierdie dwalinge uit te wys nie, maar ook aktief in hul kerke en gemeentes betrokke sal wees met daadwerklike pogings om hierdie aanslae te help hok slaan. Christene het ’n verantwoordelikheid om daardie idees en sieninge wat direk in stryd met die Christelike wêreldbeskouing en geloofstandpunte staan, te verstaan, onder die soeklig van die Woord van God te plaas en dienooreenkomstig op ’n oortuigende wyse te verwerp (2 Kor 10:3-5; 1 Pet 3:15, Hand 26:24-29). Verder is dit van uiterste belang dat diegene wat as leiers in die gemeente van die Here dien, mense moet wees wat “vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is”, in staat “om die argumente van teenstanders te weerlê” (Tit 1:9).

Dit is uiters hartseer dat daar vandag, net soos in die Bybselse tyd, weereens mense is wat aan valse leringe vashou en die gemeente ongemerk binne gedring het soos ons lees: “Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het…” (Jud 1:3-4).

Hierdie kort skrywe is gemotiveer deur onlangse verwikkelinge in die Nederduitse Gereformeerde Kerk rakende selfdegeslagverhoudinge (SGV). Die afgelope Algemene Sinode besluit van 2019 (soos ander besluite voor dit), het tot groot bekommernis onder behoudende NG kerk lidmate sowel as Christene van ander denominasies gelei. Wat tans voor ons eie oë afspeel, is presies waarteen die Bybelskrywers waarsku. Dit is dus noodsaaklik om die liberale teologie beter te verstaan. Voorts moet ons vra: Wat is die invloed daarvan binne die NG Kerk? Wat is behoudende Christene se antwoord daarop? En wat moet ons doen?

Wat is liberale teologie?

Die term “liberale teologie” het nie een vaste betekenis nie en het verskillende ontwikkelinge en mutasies deur die eeue ondergaan. In geheel gesien, word dit deur bepaalde filosofiese, hermeneutiese en sosiologiese vertrekpunte gekenmerk wat hul oorsprong in die Verligtingsbeweging in Europa gehad het. Aan die een kant is dit begrond in kritiese teologie (Biblical Criticism), wat soms ook “vrysinnige teologie”, “hoër kritiek”, “historiese kritiek” en “radikale Skrifkritiek” genoem word. Aan die ander kant, is daar ook vandag verskeie variasies van die postmodernisme in die dampkring van die liberale teologie opgeneem. Liberale teologie moet onderskei word van behoudende, akademies- gerespekteerde teologie (in beide die gereformeerde en evangeliese tradisies). Die liberale teologie het ontstaan in ’n tyd toe daar gestrewe is om al die akademiese studievelde op ’n streng “wetenskaplike” basis te plaas. Die basiese vertrekpunt, soos in al die ander studievelde, was ’n sekulêre benadering, maar nou tot die Bybelse teks. Hierdie benadering was gegrond op die idée dat die mens homself moet loswikkel van die sogenaamde primitiewe idees van die voorwetenskaplike mens, dat slegs dit wat wetenskaplik bywysbaar is in enige akademiese studie aanvaarbaar is. Daar is gedink dat die “wetenskaplike” mens ’n “objektiewe” hoek op die “waarheid” het en dat die sieninge van die voorwetenskaplike mens gevolglik “primitief” en uitgedien was. In die postmoderne tyd waarin ons lewe, word hierdie sieninge in die sosiale en hermeutiese dissiplines as uitgedien en ongeldig beskou, maar dit het die Bybelse studieveld onherroeplik gevorm tot die akademiese dissipline wat dit vandag is.

Hierdie benaderings tot die Bybelse teks gaan natuurlik teen die basiese vertrekpunt van gelowiges in dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is wat onder leiding van die Heilige Gees vir ons opgeteken is (2 Tim 3:16). Vir baie Bybelse geleerdes is die Bybel nie meer God se Woord nie, dit is gewoon woorde oor God. As ons hierdie sekulêre benadering tot sy logiese gevolgtrekkings neem, is daar geen ruimte vir die heel basiese Christelike aansprake van bonatuurlike Goddelike werking binne die geskiedenis asook vandag nie. Bo en behalwe die feit dat die positivisme van daardie tyd die “betroubaarheid” van die Bybel ondermyn het (daar is geglo Bybelse geleerdes kan niks glo wat in die Bybel staan as dit nie deur argeologiese opgrawings “bewys” kan word nie), doen dit ook weg met alle wonderwerke (selfs die van Jesus) en buitengewone aansprake soos dié van “profesie”. Om die waarheid te sê, streng gesproke kan daar selfs nie in hierdie stroom van denke vir ’n gebeurtenis soos Jesus se liggaamlike opstanding ruimte gemaak word nie, wat verklaar waarom sommige liberale teoloë ’n verskeidenheid alternatiewe verklarings vir die opstanding uitgedink het. Om hierdie punt verder toe te lig, kan twee Bybelse geleerdes aangehaal word. Die Hollandse teoloog, Abraham Keulen, skryf in sy boek Prophets and Prophecy in Israel (1875):

“As soon as we derive a separate part of Israel’s religious life directly from God, and allow the supernatural or immediate revelation to intervene in even one single point, so long also our view of the whole continues to be incorrect… It is the supposition of a natural development alone which accounts for all the phenomena”.

Die Duitse teoloog Eta Linneman, wat ook in hierdie stroom gestaan het (voor haar bekering), skryf weer in haar boek Historical Criticism of the Bible: Methodology or Ideology (1990):

“Research is conducted ut si Deus non daretur (“as if there were no God”). That means the reality of God is excluded from consideration from the start, even if the researcher acknowledges that God could bear witness of himself in his word. The standard by which all is assessed is not God’s word but scientific principle. Statements in Scripture regarding place, time, sequence of events, and persons are accepted only insofar as they fit in with established assumptions and theories.” [1]

Soos reeds genoem, is liberale teologie ook sterk deur postmodernisme beïnvloed. In effek is die sekulêre inslag behou, maar die modernisme met postmodernisme (of neo- modernisme) as oorhoofse filosofiese raamwerk vervang, wat in reaksie op die modernisme ontstaan het (vandaar die benaming). Filosowe het besef dat geen mens, hoe geleerd so iemand ook mag wees, ooit ’n neutrale en “objektiewe” hoek op die wêreld, die geskiedenis of tekste kan hê nie. Almal bring hul eie paradigma, hul eie diepgevestigde uitgangspunte en vooropgestelde idees na die teks. Dit het die pendulum na die ander kant laat swaai. Nou is daar weer geargumenteer dat niemand kan aanspraak maak dat sy siening die enigste “waarheid” is nie.

‘n Belangrike rede waarom hierdie liberale idees ons hele samelewing verander het, kan toegeskryf word aan die “kritiese teorie” van die neo-Marxistiese Frankfort Skool van filosowe in Duitsland wat ’n program van transformasie uitgewerk het waarin baie uiteenlopende groeperinge van vroeër “benadeeldes” by hul projek ingesluit sou word in “die lang pad deur die institusionele instellings”. Die relatiwisering van die waarheid het tot gevolg dat die nuwe norme van die samelewing al meer as maatstaf dien waarbinne die Bybelse teks verstaan word. Op die huidige morele front, is dit veral die kwessie van selfdegeslag verhoudings wat aan die orde is.

Hierdie uitgangspunte het enorme implikasies gehad vir die gesag, verstaanbaarheid en helderheid van die Skrif. Tussen 1987 en 1994, byvoorbeeld, was professore Johan Heyns en Jurie Le Roux van die Teologie Fakultieit in Pretoria in ’n openbare diskussie wat gesentreer het om die uitgangspunte en resultate van die 19de eeuse kritiese teologie. Le Roux het beweer dat NG Kerk teoloë oor die algemeen nooit regtig erns gemaak het met die 19de eeuse kritiese teologie nie en as hulle het sou hulle teologie radikaal ánders gewees het. Heyns – wat die kritiese Nederlandse teologie goed verstaan het – het kort voor sy dood aangevoer dat Le Roux op “‘n gevaarlike weg” is, wat hierdie sake betref. [2]

Tussen 1994 en 2020 is Heyns se waarskuwings geïgnoreer en die liberale teologie het uiteindelik die behoudende, verantwoordelike teologiese opleiding in die NG Kerk vernietig. Le Roux en mede-kollegas het uiteindelik die radikaliteite van die liberale teologie omhels, soos wat die goedkeuring van SGV deur NG teoloë van die fakulteite by Pretoria, Bloemfontein en Stellenbosch illustreer.

‘n Voëlvlug tot by die NG kerk in 2020

Internasionale agtergrondskets

Sonder om in te veel detail in te gaan, kan daar na enkele geleerdes en hul rol in die historiese ontwikkeling van liberale teologie verwys word. Die eerste persoon wat die Bybel in sy historiese dimensie aan “kritiese beoordeling” onderwerp het, was Richard Simon (1638-1712), in sy Critical History of the Old Testament (1678) en Critical History of the New Testament (1689). Die twee belangrike woorde wat in sy werk verskyn, naamlik “histories” en “krities” het die grondslag gelê vir die liberale of kritiese teologie.

J.S. Sempler (1725-1791), wat in 1757 teologiese professor by Halle, Duitsland geword het, word alom as die vader van die histories-kritiese benadering beskou, deurdat hy die goddelike inspirasie van die Skrif verwerp het en ’n streng historiese analise ontwikkel het. ’n Groot sensasie van daardie tyd was H.S. Reimarus (1694-1768) (nie ’n kerklike teoloog nie), wat aangevoer het dat die dissipels Jesus se dooie liggaam gesteel het, sodat hulle kon voorgee dat hy letterlik opgestaan het. Die “ware” Jesus, of “historiese” Jesus, was volgens hom iemand totaal ánders as die verhewe Jesus wat sy volgelinge van hom geskilder het. D.F. Strauss (1808-1874) het in 1835 voortgebou op Reimarus en in baie meer detail aangevoer dat geen wonderwerke plaasgevind het en dat die gebeure wat in die Evangelies beskryf word nooit histories gebeur het nie.

Egter méér belangrik as Reimarus en Strauss, was die ontwaking van ’n slapende reus in die vorm van kerklike Duitse teoloë. Hierdie liberale teoloë het tot ’n groot mate Reimarus en Strauss se historiese skeptisisme oor byvoorbeeld die wonders en opstanding van Jesus gedeel, maar het probeer om geloof deur ’n verskeidenheid subjektiewe strategieë aan die lewe te hou. Hier het ons dus te make met kerklike teoloë wat in effek met die goedkeuring van die kerk aan universiteite toekomstige Lutherse predikante opgelei het!

F. Schleiermacher (1768-1834) staan alombekend as die vader van die moderne liberale teologie. Soos meeste liberale Lutherse teoloë voor hom, het ook hy die wonders en liggaamlike opstanding van Jesus verwerp, maar hy het die geloof probeer “red” deur die romantiek. Afkomstig van die piëtisme, het Schleiermacher deur die subjektiewe individuele ervaring van die individu, die vader van die teologiese hermeneutiek geword. Geloof word dus totaal losgemaak van enige konkrete historiese gebeure.

A. Von Harnack (1851-1930), W. Wrede (1859-1906) en A. Schweitzer se The Quest of the Historical Jesus (1875-1965), het die groot soektog na die sogenaamde “historiese” Jesus, gestroop van dogmas, tot nuwe hoogtes (of laagtes) geneem. Elk het met kontrasterende benaderings Jesus se lewe probeer rekonstrueer in ’n poging om die “ware” Jesus te ontdek en te stroop van vroeë kerklike dogmas wat aan Hom toegedig was.

R. Bultmann (1884-1976), alombekend as die mees invloedryke liberale teoloog van die 20ste eeu, was Lutherse professor by Marburg en het die historiese kritiek gebruik om die historisiteit van die Evangelies te diskrediteer met sy “vorm-kritiek”. Bultmann se historiese werk het probeer bewys dat byna alles wat ons oor Jesus se leer en lewe in die Evangelies vind, nie historiese gebeure is nie. Hy het selfs so vêr gegaan om aan te voer dat ál wat ons van die “historiese” Jesus kan weet is dat hy geleef het. Bultmann is grotendeels beroemd vir die bewering dat die wonders van Jesus en sy opstanding mitologies is, onversoenbaar met die kontemporêre wetenskap, en daarom “ontmitologiseer” moet word. Bultmann was baie invloedryk en het wêreldwyd nuwe generasies Bybelse geleerdes beïnvloed.

Liberale teologie in Suid-Afrika

Stellenbosch kweekskool en Johannes du Plessis (1859-1930)

Die vestiging van teologiese opleiding vir die NG Kerk by die Kweekskool op Stellenbosch (1859) was om die vernietigende gevolge van die liberale teologie wat in Nederland aan die ontwikkel was, in Suid-Afrika op verantwoordelike wyse teologies te weerlê. En aanvanklik was die Kweekskool by Stellenbosch ’n belangrike teenvoeter vir die liberale teologie afkomstig uit Europa. Soortgelyke beweegredes het ook gelei tot die stig van ander kweekskole soos Andover Theological Seminary (1807), Princeton Theological Seminary (1812), New College in Skotland (1843), Kampen (1854), en die Vrije Universiteit Amsterdam (1880). [3]

In 1923 het Johannes Du Plessis (1868-1935), professor in Nuwe Testament by die Kweekskool op Stellenbosch, die nuwe kontroversiële teologiese tydskrif Het Zoeklicht begin waarin hy ’n platform gebied het vir die kritiese Europese teologie van die 19de eeu. Du Plessis was eintlik al sedert 1905 ’n doring in die vlees vir die kerk toe hy redakteur van Die Kerkbode geword het. In effek het hy die vertrekpunte en resultate van die historiese kritiek op ’n genuanseerde wyse binne die NG Kerk gepopulariseer. Du Plessis het hoofsaaklik die historiese kritiek op die Ou Testament toegepas, maar later het hy ook die Nuwe Testament betrek deur onder meer die twee nature, alwetendheid en versoeningsdood van Christus te betwyfel. In Het Zoelicht het Du Plessis aangevoer dat die NG Kerk twyfel oor hierdie waarhede binne die kerk moet akkommodeer, anders sou hulle denkende jong intellektuele mense verloor. Du Plessis is in 1928-30 skuldig bevind aan leerdwaling en in sy amp gestuit, maar nadat hy hom tot die hooggeregshof gewend het, is sy skorsing tersyde gestel.

Meer onlangs, het die liberale teologie weereens die oorhand begin gekry by die teologiese fakulteit op Stellenbosch. Die heroprigting van Du Plessis se standbeeld op die gronde van die kweekskool spreek boekdele.

Fakulteit teologie in Pretoria (1938)

Die totstandkoming van die Teologiese Fakulteit van die NG Kerk by die Universiteit van Pretoria in 1938 moet gesien word teen die agtergrond van die Du Plessis saak (1928-30) in Stellenbosch, asook ’n paar kontekstuele ontwikkelinge. Aanvanklik was daar geen sprake van teologies liberale professore in Pretoria nie. Dit is egter belangrik om te noem dat die Hervormde Kerk in Afrika (HKA) se teologiese opleiding alreeds in 1917 by die Universiteit van Pretoria begin is. Die HKA stam voort uit ’n meer liberale teologiese tradisie vanuit Nederland. Daar was ook in die 1960s ’n leerdwaling ondersoek by Pretoria, toe professor Albert Geyser skuldig bevind was aan leerdwaling. Soos in die Du Plessis saak van 1928-30 in Stellenbosch, het Geyser hom ook tot die hooggeregshof gerig wat hom in sy amp herstel het.

Die interaksie en wisselwerking tussen NGK en HKA teoloë was aanvanklik minimaal, maar het stelselmatig meer geword totdat die twee fakulteite in 2000 saamgesmelt het. Dít het enorme teologiese implikasies vir die NG Kerk se teologiese opleiding ingehou. Uiteindelik het NG professore waaronder Julian Müller, Jurie Le Roux en Daniel Veldsman die liberale teologie omhels (sien die bespreking hieronder) en in beheer van teologiese opleiding gekom.

Teologiese fakulteit by Bloemfontein (1980)

Vanwee ’n verskeidenheid redes het die behoefte aan teologiese opleiding in die Vrystaat uiteindelik daartoe gelei dat daar in 1980 ’n derde teologiese fakulteit in Bloemfontein ontstaan het. Net soos in die geval van Pretoria, was daar aanvanklik geen sprake van liberale teologiese professore in Bloemfontein nie, en tussen 1980-2000 het Bloemfontein alombekend gestaan as teologies die mees konserwatief en konfessioneel gebonde fakulteit in die NG Kerk. Met die aftredes van Jan Du Randt, Sybrand Strauss en Johan Janse Van Rensburg, wil dit egter lyk of die nuwe kritiese agendas in die NG Kerk ook by Bloemfontein ’n prominente staanplek gekry het.

Meer onlangse verwikkelinge in die NG Kerk

Binne die NG Kerk was dit veral Willem Vorster, Ferdinand Deist en Wentzel Van Huyssteen wat in die vroeë 1980s die voortou geneem het om die kritiese teologie binne die NG Kerk te populariseer. Wat die gesprek binne die NG Kerk oor hierdie saak betref, kan daar weereens op die konflik tussen Johan Heyns en Willie Jonker (aan die een kant) en Jurie Le Roux en Danie Veldsman (aan die ander kant) gefokus word. Dit is gevolg deur ’n gesprek oor die “Jesus Seminar” in die VSA (1985) en hulle sister organisasie in Suid-Afrika, die “Nuwe Hervorming” (2002), met veral Julian Müller en Ben du Toit wat aansluiting by hierdie groepe gevind het. [4]

Heyns en Jonker het in die 1950s in Nederland onder G.C. Berkhouwer studeer en konsekwent die gesag van die Skrif en die belydenis van die NG Kerk eerbiedig in hulle dialoog met die kritiese teologie. Daniel Veldsman het sy doktorale studies in sistematiese teologie, wat hy in 1991 voltooi het, by Conrad Wethmar en Walter Schmithals gedoen (Rudolf Bultmann se opvolger in Marburg, Duitsland). In 1993 het Veldsman ’n kontroversiële artikel oor die opstanding van Jesus in HTS gepubliseer waarin hy die werk van Jonker en Heyns gekritiseer het in die lig van die histories-kritiese Duitse teologie. [5] Veldsman het vir Heyns en Jonker daarvan beskuldig dat hulle nooit met die historiese kritiek erns gemaak het nie. Veldsman het die teorieë van onder andere Reimarus, Strauss, Lessing, Bultmann en ander bespreek en uiteindelik gedeeltelik by hulle aangesluit deur te beweer dat die opstandingsverhale in die vier Evangelies ’n “sterk ‘legendariese’ karakter” het. As verklaring vir die leë graf het Veldsman voorgestel dat Jesus se dissipels sy dooie liggaam gesteel het. Veldsman is sedert 2006 NG professor in sistematiese teologie by Tukkies in die leerstoel van Johan Heyns.

Jurie Le Roux het hom reeds in 2003 in die openbaar vereenselwig met die radikale uitsprake van die “Jesus Seminar” en “Nuwe Hervorming” tydens ’n publieke seminaar by Unisa. [6] Hy het ook Andries Van Aarde se boek, Fatherless in Galilee as ’n hoogtepunt in die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap geprys. In Fatherless is onder andere beweer dat Jesus nooit maagdelik verwerk is nie, dat Hy gefantaseer het oor ’n vader figuur waarna God sy “vader” geword het en dat Jesus het ook nie letterlik uit die dood opgestaan nie. [7] Op sy beurt het Julian Müller reeds in die jaar 2000 aansluiting gevind by die “Jesus Seminar” en aangevoer dit maak nie regtig saak of Jesus “letterlik” of “metafories” uit die dood opgestaan het nie! In 2003 het Müller tydens ’n Oostelike Sinode gesprek by Skuilskrans NG Kerk sy twyfel oor die liggaamlike opstanding van Jesus uitgespreek. Veral sedert 2015 het gewone NG Kerk lidmate met ’n skok besef dat ál die NG Kerk se teologiese opleidingsprogramme by Stellenbosch, Bloemfontein en Pretoria deur liberale professore, kuratoria en moderators gekaap is.

Invloed van die teologiese fakulteite op die Algemene Sinode

Die liberale invloed van die teologiese fakutleite op die NG Kerk van vandag kan duidelik gesien word in die beduidende rol wat hulle gespeel het rondom die Algemene Sinode se besluitneming oor selfde geslag verhoudinge.

Algemene Sinode van 2013

‘n Hersieningsvoorstel van 26 lidmate, waaronder 8 Stellenbosch kweekskool dosente, dien voor die Algemene Sinode van 2013.

Daarin word die sanksionering van ’n permanente verhouding tussen persone van dieselfde geslag aangevra, asook ’n ondersoek hoe so ’n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen. [8]

Algemene Sinode van 2015

‘n Beskrywingspunt is deur die kuratorium van Stellenbosch Kweekskool ingedien by die Algemene Sinode van 2015 waarin gevra word dat die selibate eis vir gay predikante in die NG Kerk geskrap word. In die beskrywingspunt word genoem dat die standpunt eenparig ondersteun word deur die NG Kerk se dosente raad. Dit is dus ’n duidelike weerspieëling van die standpunte van die kuratorium van Stellenbosch, asook die dosente raad van die hele NG Kerk. Hier volg ’n kort uittreksel van die motivering en die besluit:

“Ons is oortuig dat die NG Kerk sommige aspekte van die vorige besluite moet heroorweeg – nie slegs weens praktiese oorwegings soos toelating tot die bediening en ordening van afgestudeerdes in gemeentes nie – maar veral op grond van die feit dat die menswaardigheid van homoseksuele afgestudeerdes deur die stel van die selibaatvoorwaarde in gedrang kom, en dat die geldende besluite nie Bybels-hermeneuties verantwoordbaar is nie. Aanbeveling: Dat Besluit 4 van 2007 vervang word met die volgende bewoording: “Die NG Kerk gee amptelike erkenning aan die burgerlike verbintenis tussen homoseksuele pare wat ʼn durende verhouding van liefde en trou aan mekaar wil bevestig, en dat hierdie verbintenisse met die seën van die NG Kerk kan geskied.” [9]

Algemene Sinode 2019

In ’n ope brief gerig aan die Algemene Sinode van 2019 word die goedkeuring van ’n “morele homoseksuele leefwyse” bepleit. Dosente van al drie ons land se kweekskole maak deel uit van die 112 name wat die brief onderskryf. Die brief het in die Kerkbode van 6 Oktober 2019 verskyn. [10] Uit hierdie petisie en die twee beskrywingspunte gerig aan die vorige Algemene Sinodes, soos hierbo genoem, is dit duidelik waar die sentiment van die kweekskole en die dosente korps lê.

Ten spyte daarvan dat daar 72 gravamina ingedien is, waarin gemeentelede, leraars, kerkrade, gemeentes, ringe en streeksinodes verklaar dat die goedkeuring van SGV in stryd met die Skrif is en dat dit ernstige leerdwaling is, het die Algemene Sinode die kompromie- beskrywingspunt van die moderatuur van Wes-Kaapland aanvaar. Buiten hierdie 72 was daar slegs 2 gravamina ingedien wat ten gunste van die SGV saak argumenteer en dit deur André Bartlett en James Kirkpatrick, eersgenoemde ook ’n sleutel rolspeler in teologiese opleiding by die Universiteit Pretoria. Dus, ten spyte van ’n oorweldigende teenstem vanuit die kerk, is die saak deur ’n minderheid in die top struktuur deurgedruk.

Alhoewel die besluit van die Algemene Sinode verwarrend en teenstrydig is, het dit die bevestiging van burgerlike verbintenisse goedgekeur en die algemene taakspan van leer en aktuele sake opdrag gegee om ’n formulier daarvoor te ontwikkel. Die doel van die formulier is om mense van dieselfde geslag met die sanksie van die kerk en met die seën van God aan mekaar te verbind. Hiermee het die kerk haarself dus amptelik geposisioneer as ’n liggaam wat mense van dieselfde geslag in die eg verbind en ook sy amptenare daartoe bemagtig, in direkte teespraak met o.a. Matt 19:4-6, Rom 1:21-27, en 1 Kor 6:9.

Kritiese beoordering van liberale teologie

Alhoewel geleerdes uit die geledere van die liberale teologie daarvan oortuig is dat hulle benadering tot die Bybel geloofwaardig en legitiem is, is daar natuurlik goeie redes waarom behoudende Christen geleerdes asook gewone gelowiges dit verwerp. Hierdie verwerping is nie net op geloofsgronde gebaseer nie; dit is in stryd met die geloofsbelydenis van die kerk van die Here regdeur die eeue én daar is goeie metodologiese, filosofiese, hermeneutiese asook ander gronde waarop liberale teologie afgewys moet word. Slegs enkeles daarvan kan kortliks hier genoem word.

1. Voorveronderstellings. Die basiese sekulêre vertrekpunt van die liberale teologie staan met sekere basiese voorveronderstellings oor die werklikheid in verband, naamlik dat daar slegs ’n materiële werklikheid bestaan. Dit is natuurlik dieselfde werklikheid wat binne die raamwerk van die empiriese wetenskaplike ondersoek val. Maar is dit die slotsom van die werklikheid? Sedert die koms van kwantum fisika weet ons dat daar ’n groot deel van ons heelal is wat nie direk vir ons empiriese meetinstrumente toeganklik is nie! Alle sieninge oor die essensie van ons werklikheid is uiteindelik metafisiese beskouings. Wanneer die liberale of kritiese teologie dus sulke gereduseerde metafisiese beskouings (wat bowenal deur ateïste omhels word) as vertrekpunt neem, dan is dit geen wonder dat hulle uiteindelik by gevolgtrekkings uitkom wat in lyn met hul eie voorveronderstellings is nie (soos dat wonderwerke en die liggaamlike opstanding van Jesus nie werklik plaasgevind het nie).

2. Die betroubaarheid van die Bybelse teks. In die liberale teologie word die betroubaarheid van die Bybelse verhale van meet af bevraagteken. Dit volg uit die wantroue wat die Europese Verligtingsmens in tradisie, maar veral Bybelse tradisie, gehad het. Die positivistiese inslag van die vroeë pioniers en hul uitsluitlike fokus op empiriese bewyse, weerspieël (soos ’n mens verwag vanweë hul historiese konteks) ’n totale onkunde rakende die beperkte aard van die empiriese rykwydte van argeologie as ’n vakgebied. Dieselfde kritiek wat die groot filosoof Immanuel Kant destyds in sy Critique of Pure Reason teen die absolute vertroue in die menslike rede ingebring het, geld alle studievelde.

Vandag weet wetenskapsfilosowe dat argeologie as ’n studieveld nie werklik ’n empiriese “wetenskap” in die ware sin van die woord is nie, gewoon omdat argeoloë nie onbetwisbaar kan aantoon dat dit wat hulle in hul opgrawings vind verteenwoordigend van die destydse wêreld is wat hulle ondersoek nie. Vandag weet ons dat empiriese “bewyse” slegs maar ’n beperkte prentjie deurgee (wat ook die rede is waarom argeoloë sulke uiteenlopende interpretasies van dinge het) en dat die betroubaarheid van die Bybelse teks nie op grond daarvan betwyfel kan word nie. Tog het daardie vroeë positivistiese wortels die kritiese teologie in sy diepste wese gevorm en in effek (vanuit ons huidige hoek) gediskrediteer, hoofsaaklik omdat daar onkrities tot vandag op daardie basis voortgebou word. Wanneer ons die plek van argeologie in ons ondersoek verstaan, dan word dit gou duidelik waarom daar ’n besondere sterk saak vir die betroubaarheid van die Bybelse verhaling gemaak kan word. Alhoewel behoudende teoloë steeds gemarginaliseer word in sekere kritiese kringe, was daar veral oor die afgelope dertig jaar verstommende deurbrake gemaak op o.a. argeologiese, histories-kritiese, literêre, resepsie navorsing oor die Bybel. Behoudende teoloë het op die hoogste vlakke aan akademiese navorsing deelgeneem, en kritiese benaderings tot die Skrif gebruik om by teenoorgestelde resultate as hulle teologies liberale kollegas uit te kom.

3. Hermeneutiek. In die stryd om die interpretasie van die Bybel gaan dit uiteindelik primêr oor die hermeneutiese vertrekpunte wat die verskillende akademiese strome gebruik. Aangesien ons weet dat niemand ’n “objektiewe” hoek op enige teks of die verlede kan hê nie, is diegene in die postmoderne kader gou om te sê dat dit ook vir die Bybelse teks geld. Enige aansprake op ’n meer “korrekte” verstaan van die teks deur behoudende geleerdes op grond van hul geloofsoortuigings is dus gedoem tot gewoon nog ’n stem tussen al die ander. Alhoewel die postmodernisme populêr by liberale teologiese fakulteite is en vernietigend inwerk op die Skrif en ons belydenis, is daar natuurlik die groot hermeneutiese filosowe, Hans-Georg Gadamer en Paul Ricoeur (en teoloë soos NT Wright, Kevin Vanhoozer en Anthony Thiselton), wie se insigte vrugbaar ingespan kan word om legitimiteit en geloofwaardigheid aan die Skrif te gee. Daar is beslis sekere interpretasies wat beter as ander met die historiese werklikheid ooreenkom.

Die sleutel is om te besef dat alle interpretasie uiteindelik ’n “gesprek” is, ’n gesprek tussen die leser (en baie ander lesers) en die skrywer. [11] In beide die modernisme sowel as die postmodernisme word die stem van die skrywer en die tradisie waaruit hulle kom (in tipies koloniale styl!) gewoon as minderwaardig beskou, laasgenoemde verklaar selfs die skrywer “dood”. Net soos wat gesprek slegs kan plaasvind as daar wedersydse respek is, so is goeie interpretasie gegrond op ’n ware luister (veral ook vir die Ander se aansprake). In die geval van Bybelse interpretasie, moet daar dus met respek na die Bybelse skrywers geluister word, veral omdat ons boonop glo dat hulle onder die inspirasie van God se Gees geskryf het. Die liberale teoloog kan vergelyk word met iemand wat heeltyd praat (omdat hy dink dat net hy iets weet), wat glad nie belangstel in die ander (i.e. die Bybelse skrywers) se standpunt nie en uiteindelik gewoon sy eie siening opsom! [12]

4. Die verwerping van Bybelse morele waardes. Die wesenskenmerk van liberale teologie is dat dit in stryd is met die leer van die Skrif en die belydenisskrifte van die kerk en in die geval van SGV is dit ook nie anders nie. Verbinding van mense van dieselfde geslag in die eg, word nêrens in die Skrif goedgepraat nie. God se skeppingsorde en skeppingsdoel ken net die verbinding van een man en een vrou en ook net húlle kan natuurlik ’n nageslag voortbring (in lyn met God se skeppingsorde). Die Skrif praat wel sterk téén enige seksuele verbintenis tussen mense van dieselfde geslag.

Daar kan min twyfel daaroor bestaan dat die liberale teoloë in die NG Kerk wat die kritiese teologie probeer inspan het om hulle onskriftuurlike herinterpretasies van die Bybel se sieninge oor SGV te regverdig, die eksegetiese, sosio-historiese en literêre debat verloor het. Een vir een het hulle argumente misluk, soveel so dat een van die wêreld se voorste liberale teoloë, Bill Loader, toegegee het dat Paulus inderdaad selfdegeslag verhoudings in enige vorm verwerp het, maar dat ons basies vandag vir Paulus kan kritiseer en sê dat ons dit moet goedkeur.

Wat die NG Kerk betref, kan die volgende oorsig gegee word. Vir die liberale teoloë is die Skrif gewoon ’n historiese dokument wat nie meer goddelike gesag dra vir heedendaagse lewe nie. Dan is daar ook die draadsitters wat onseker is wat hulle oor die saak moet dink (soms beïnvloed deur liberale predikante en teoloë). Daar is ook diegene wat lojaal is aan die sinode al kan hulle nie sien hoe die Bybel die saak goedpraat nie. Onder hulle is daar ook die tipiese herders wat uit medelye vir die gay-persoon die waarheid kompromitteer. Daar is ook verskeie x-gays wat hulle stryd vir die Here gegee het en vir hulp gegaan het en ’n mooi getuienis van verandering het, maar selde die vrymoedigheid het om dit aan die groot klok te hang. Daar is ook behoudende geestelike leiers wat geïsoleer word en wonder of hulle nog in die kerk moet aanbly. Verskeie behoudende lidmate het reeds die kerk verlaat en is hartseer oor die dwaalweg wat die kerk ingeslaan het.

Wat die uitwerking van die liberal teologie op die kerk betref kan baie gesê word. Nie alleen het dit ontelbaar hoeveelhede teologiese studente laat struikel (Markus 9:42; Matteus 18:6; Lukas 17:1) en worstellaars se geloof omgekeer nie (2 Tim 2:16-18), wêreldwyd kan met onbetwisbare statistieke aangetoon word hoe veral die hoofstroom Protestantse kerke in Europa en Noord Amerika wat die liberale teologie eers geakkommodeer en omhels het, al vir geruimte tyd ’n eksistensiele krisis beleef. [13]

Hoe vorentoe?

Uit hierdie skrywe is dit duidelik dat die kern van die probleem met die NG Kerk se verhouding met die teologiese fakulteite verband hou. Kommer heers dat studente in eietydse morele en intellektuele standpunte van die liberale teologie onderrig word. Verskeie hartseer verhale van teologiese studente is in die laaste jare aangehoor. [14] Ongelukkig het die behoudende stemme oor die afgelope dekades al hoe stiller geword.

1. Kerke en gemeentes sal self vir hulle teologiese opleiding verantwoordelikheid moet aanvaar as hulle hoogstaande akademiese navorsing en die gesag van die Skrif in die toekoms wil handhaaf (instede daarvan om hierdie taak aan die staat oor te laat). Daardie NG gemeentes, ringe en bedieningsgroepe wat behoudend is, sal moet saamwerk om ’n alternatiewe opleidingstruktuur – ook wat die voorgesette opleiding in die NG Kerk betref – op die been te bring.

2. Daar is duidelik ’n dringende noodsaaklikheid dat ’n teologiese fakulteit wat uitmuntende akademiese navorsing en behoudende teologie dosseer, opgerig moet word, ’n fakulteit wat ook goeie en gesonde filosofie intrek. Net soos Paulus goed onderlê was in beide die teologiese en die filosofiese denke van sy tyd en hy dit kon benut in sy uitleg en verdediging van die evangelie, so moet ons doen (Hand 17:16-34). Deur die eeue het goeie filosofie die gemeente van die Here gedien en dit is sekerlik ook vandag waar. Dr. Norman Geisler skryf in sy artikel Beware of Philosophy: A Warning to Biblical Scholars:

“Unless either philosophers become biblical exegetes in our schools or those who we now call biblical exegetes take to the pursuit of philosophy seriously and adequately, and there is a conjunction of these two things, biblical exegesis and philosophical intelligence, there can be no cessation of theological troubles for our schools, nor I fancy for the Christian church either.”

Gesonde filosofie help ons om die oorhoofse denkraamwerke, heersende ideologië en nuwe strominge in ons wêreld uit te ken en te verstaan.

3. Behoudende NG gemeentes moet dit ook oorweeg om behoudende gemeentes uit ander denominasies by projekte te betrek.

Soli Deo Gloria – God hou self Sy kerk instand!

Voetnotas

[1] Soortgelyk, sien die onderhoud met Ulrich Wilckens, “Testimony of a German Lutheran Bishop and New Testament Scholar: ‘Easter is the central theme of my life’, in Robert W. Yarborough, Clash of Visions (Christian Focus: Ross-shire, 2019): 85-92.

[2] Johan Heyns, “Weerwoord”, Skrif en Kerk 15/1 (1994):156-163.

[3] Dit is tragies maar waar dat van hierdie kweekskole later opgeneem is in universiteite met staatssubsidies, en dat die meeste mettertyd teologies liberaal geword het.

[4] Julian Müller, Opgestaan (Lux Verbi: Kaapstad, 2006); Om Te Mag Twyfel. ’n Gelowige se reis (Tafelberg: Kaapstad, 2011). Ben du Toit, God? Geloof in ’n postmoderne tyd (CLF-Uitgewers: Bloemfontein, 2000).

[5] “Die opstanding van Jesus: God se naderkomende en steeds naderkomende protes en liefde” HTS 49/4 (1993): 987-1008.

[6] Jurie le Roux openbare bydrae tydens bespreking. Izak Spangenberg, “Die Nuwe Hervorming”, 14 Oktober 2003, CP Powell Lesing, Teologie gebou, UNISA.

[7] Jurie le Roux, “Andries van Aarde se vaderlose Jesus” HTS 58/1 (2002):77-99 (97).

[8] Algemene Sinode 2013 Agenda p305-308 www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_2013.pdf

[9] Aanvullende Agenda Algemene Sinode 2015 p98-99. www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda2_2015.pdf

[10] Kyk https://kerkbode.christians.co.za/2019/10/06/ope-brief-aan-die-algemene-sinode-van-die-ng-kerk-oktober-2019/

[11] Gesprek is ’n goeie metafoor om hermeneutiek te verstaan (Hans-Georg Gadamer, Truth and Method, Crossroad: New York 1994:355).

[12] Wat die sg. kloof tussen ons en die antieke mens betref, skryf Gadamer “[T]he important thing is to recognize temporal distance as a positive and productive condition enabling understanding. It is not a yawning abyss but is filled with the continuity of custom and tradition, in the light of which everything handed down presents itself to us. Here it is not too much to speak of the genuine productivity of the course of events.” (Truth and Method, Crossroad: New York 1994:297)

[13] Sien bv. Tim Keller, The Reason for God (Dutton, 2008), ibid., Making Sense of God (Viking, 2016).

[14] Teologiestudente verloor geloof by NG Kerk fakulteite – Briewekolom Kerkbode, 16 November 2001; Opgestaan – Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001-2006 Ferdie Mulder 2010 ISBN; Student sê: “Ek is moedeloos” Kerkbode 12 November 2019;

1 thought on “Liberale teologie in die NG Kerk”

  1. Baie dankie vir hierdie baie goeie sinopsis van hoe ons “hier” gekom het.
    Dit was onlangs vir my weer goed om Ferdie Mulder se video oor Andrew Murray (tydgenoot van Johannes du Plessis) te kyk en te sien hoe hy toe al gewaarsku het oor die liberale teologie. Dié dwaling het inderdaad ’n lang geskiedenis.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui