Liberale teologie in die NG Kerk?

In die artikel hieronder, sê Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, nie waarop hy reageer nie. ’n Mens lei egter af dat hy reageer op die artikel Liberale teologie in die NG Kerk.

Kyk my kommentaar in rooi-bruin blokhakies.

**********

Liberale teologie in die NG Kerk? | Kerkbode

21 Oktober 2020

Nelis Janse van Rensburg

Ek kan beslis nie verantwoordelikheid aanvaar vir elke lidmaat van die NG Kerk se teologiese beskouinge nie. Gelowiges het van die vroegste tye verskillende sienings van sake. Maar beweringe dat die NG Kerk haarself skuldig maak aan liberale teologie kan nie sonder reaksie verbygaan nie. Liberale teologie beteken volgens diegene wat gewoonlik hierdie soort beskuldigings maak onder meer dat die Skrif se gesag nie aanvaar word nie, dat sonde as opstand teen God nie meer ernstig geneem word nie, dat die verlossingswerk van Christus dus ook nie meer belangrik is nie, dat die liggaamlike opstanding van Christus nie aanvaar word nie, dat die teenwoordigheid van God in ons lewe misken word en die krag en betekenis van gebed afgeswak word.

[Kommentaar: Natuurlik sal Nelis die bestaan van die duiwel uitlaat omdat die NG Kerk reeds ruimte gemaak het vir mense wat nie aan die duiwel wil glo nie. Dit is egter uit en uit ’n liberale, onbybelse siening. Kyk Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het hoeveel mense is daar (in die NGK) is wat nie aan die duiwel as persoon glo nie. Dit is ’n gruwelike dwaling en direk in stryd met die belydenisskrifte, dus ’n verbreking van ’n predikant se legitimasie-eed.
Verder wonder ’n mens wat Nelis werklik bedoel met “verlossingswerk van Christus”. Louis Jonker, sê byvoorbeeld in RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?: “Daarmee saam sê ek ook dat ek persoonlik as Christen ’n groot sin daarin vind om in Christus my redding te vind, om Christus as ’n verlosser te aanvaar en ook in Christus te leef.” Hy is egter baie duidelik ’n universalis. Net so ook praat Julian Müller in RSG gesprek oor die duiwel en die bose van “die verlossingswerk van Jesus”. Müller verwerp egter feitlik alle Bybelse waarhede. Dus, waarvan moet ’n mens verlos word? Dit is bloot leë woorde.]

Die leiers van die NG Kerk is nie hieraan skuldig nie. Ek ken my kollegas in die Algemene Sinode Moderamen en in die strukture van die samestellende sinodes van die NG Kerk. Hulle is nie liberale teoloë nie. Inteendeel, ek is deeglik bewus van die diepgaande verbintenis van ons kerk se leiers aan die grondwaarhede van die Skrif soos dit binne die gereformeerde tradisie verstaan word.

Ons is ernstig oor die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Dwalinge ontstaan meestal wanneer enigeen van die drie Persone van die Drie-eenheid misken word. Wie die Vader misken, hou nie rekening met die omvattende aard van sy liefde vir die wêreld nie (Joh 3:16). Ons glo in God as Vader. Wie Christus se volledige verlossing deur sy kruisdood en opstanding negeer, is gewoonlik geneig om Jesus te reduseer tot slegs ’n navolgenswaardige voorbeeld ten opsigte van lewenswandel. Ons glo in Jesus as ons Verlosser en Saligmaker. Wie die Heilige Gees misken, is geneig om God se werking tot die verlede te beperk – die aktiewe aanwesigheid van God in die hede word afgewater. Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker.

Ons glo nie net in die Drie-eenheid nie, maar glo dat ons ingeneem is in ’n intieme verhouding met die Vader, Seun en Gees. Ons glo dat die opgestane Christus die Hoof is van die kerk. Ons glo dat die Bybel deur God geïnspireer is en dat die Heilige Gees die Toepasser van die heil is. Ons glo in gebed as ’n gesprek met die lewende God waarin aan ons die geleentheid gebied word om ons menslike gedagtes, belydenisse, versugtinge, lof en dank aan God te bring en deur sy influisteringe beïnvloed te word.

Ons is ernstig oor God se verbondstrou aan mense. Ons is ook ernstig oor die Wet van God wat liefde tot Hom en ons naaste vereis. Ons is ernstig oor die Ou Testament wat ons leer van die vrede, trou en geregtigheid van God.

Christus se vryspraak deur sy kruisdood en sy opstanding is die inspirasie van ons lewe. Ons glo dat die koninkryk van God reeds in ons tyd aanbreek en tot in ewigheid strek. Daarom bid ons soos Jesus ons geleer het dat die koninkryk sal kom soos in die hemel, so ook op die aarde. Daarom neem ons nie net die ewige lewe nie, maar ook hierdie lewe ernstig. Ons glo dat Christus van ons vereis om nou reeds sy koninkryk in ontvangs te neem deur ons afhanklikheid van die Vader, ons diepe deernis met die lyding van ons naaste, ons sagmoedigheid, ons reinheid van hart, ons barmhartigheid, ons honger en dors na geregtigheid, ons maak van vrede. Ons verstaan dat sonde onder meer verband hou met ons verset om Christus hierin te volg. Ons is ernstig oor die liefdesgebod en oor God se genade vir sondaars.

[Kommentaar: ’n Mens kan redeneer dat hierdie darem nou ’n baie duidelike belydenis is. ’n Mens het egter alle vertroue in enige sulke belydenisse verloor. Al die mense op die genoemde lys is steeds in die NG Kerk. Hulle is nie aangespreek of getug oor hulle dwalende sieninge nie. En in baie gevalle het hulle so uit twee monde gepraat dat ’n mens wonder of Nelis nie maar dieselfde doen nie.]

Ons verskil soms oor die uitleg van tekste. Ons worstel soms om die werklikhede waarmee ons te doen kry, te verstaan of soms te versoen met ons geloof. Daarom waag ons dit om diepgaande te besin oor moeilike kwessies sodat ons van die wêreld met sy natuurwetenskaplike verskynsels, én sy sosiale bewegings én sy magstryde ’n leefbare en beter plek kan maak.

[Kommentaar: En hier stel Nelis sy ontsnappingsklousule: Ons aanvaar die gesag van die Skrif, maar ons verskil soms oor die uitleg van tekste. Dit is die hele probleem. Die problematiese tekste gaan nie oor die doop, uitverkiesing of wegraping nie. Dit gaan oor dinge wat baie duidelik in die Bybel verkondig word, soos homoseksualiteit, die bestaan van Satan en redding slegs deur Jesus Christus. Daar is aan Julian Müller, wat feitlik alle Bybelse waarhede verwerp, gevra oor Jesus se opstanding. Sy antwoord was: “Ek het vanoggend ’n erediens bygewoon soos wat ek elke oggend ’n erediens bywoon op ’n Sondag. En met groot vrymoedigheid sê ek met die gemeente saam die Apostolicum, want dit is wat ek glo . . . dit beteken nie dat daar nie ruimte vir herinterpretasie is nie.” Kyk ook wat sê Cobus van Wyngaard in Om publiek te bely.]

In die leiersgroepe van die NG Kerk, noem ons mekaar egter nie slegte name nie. Ons hang ook nie die etikette van fundamentalisme of liberale teologie om mekaar se nek om mekaar op oneerlike maniere verdag te maak nie. Nee, ons verskil in liefde van mekaar en dra mekaar se laste deur vir mekaar ruimte te maak. Ons is lief vir mekaar. Ons het juis die afgelope tyd soveel van ons dierbare reisgenote met hartseer moes groet. Dit was pynlik ongeag standpunte waaroor ons kon verskil het. Ons diep verbondheid aan mekaar wat deur God bewerk is, is immers nie net lippetaal nie. As ander mense ons dan met skelname benoem, krimp ons hart weerloos ineen, nie omdat ons bang is nie, maar omdat dit so anders is, so kontra alles waarvan ons met eerlikheid kan getuig, van wat ons self gesien en beleef het in ons eie geledere.

[Kommentaar: Nelis is ewe vroom as hy sê dat ons in liefde verskil. Die verskille is egter hopeloos te groot. Paulus en Johannes leer ons dat ons niks met mense te doen moet hê wat dwaalleringe verkondig nie (kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake, 1 Korintiërs 5:9-12 en 2 Johannes v7-11).]

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

1 thought on “Liberale teologie in die NG Kerk?”

  1. Wat het geword van bekering. Die Bybel roep mense 127 keer om hulle te bekeer, weg te draai van die wêreld af. Verstaan die kerk nie die Here se versoek nie. Hoe verduidelik enige iemand dit wat in die NG Kerk gebeur onder die oproep van bekering. Hoe dien ons twee gode: die Here en die wêreld? Wil die kerk nie net besluit wie hulle God regtig is en opstaan vir Hom nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui