Liewe Parys-gemeente, wie gaan die eerste klip gooi?

Kyk Parys se ‘ou mense’ veg vir Waarheid – ek eer hulle (Bernhard Ficker, 2 Mrt 2025), wat op hierdie brief reageer.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Liewe Parys-gemeente, wie gaan die eerste klip gooi? | Rapport

Sondag, 22 Februarie 2025

Dr. Piet Bernard, Lynnwood, skryf:

Uit ’n berig in Rapport blyk dit dat die NG gemeente Parys-Suid aansoek gedoen het om by ’n “teologies-kategoriale ring” (groot woord) in te skakel. Dit volg op ’n besluit van die gemeente om ’n dispuut met sowel die Vrystaatse sinode as die algemene sinode te verklaar oor die standpunt oor selfdegeslagverhoudings.

Ek het opgegroei in Parys (1941-1959). Parys was altyd bekend as die dorp waar mense gaan uittree op pensioen. Die Parys-Suid-gemeente het 111 lidmate (luidens die berig). Ongetwyfeld lewer nie al die lidmate ’n noemenswaardige finansiële bydrae tot die gemeente nie, want die meeste is pensioenarisse en almal is nie alleenlopend nie. Die vraag wat by my opduik, is: Hoe is dit moontlik dat die gemeente sy finansiële verpligtinge kan nakom, byvoorbeeld die leraar se salaris betaal? Verstommend egter is dat hulle hulle besig hou met dolering teen die siening dat homoseksualiteit nie sonde is nie.

Wat verder onrusbarend is, is dat die groep ou mense in werklikheid ’n dispuut teen homoseksuele verklaar, nou ná al die jare. Volgens hul Bybel is homoseksualiteit ’n sonde. Wat van al die ander sondes wat die Bybel lys? Volg julle al die “moenies” van die Ou Testament. Byvoorbeeld in Lev 11:4-19 word daar sekere voorskrifte gegee wat jy mag en nie mag eet nie. Onder meer mag jy nie varkvleis eet nie. So hierdie gemeentelede eet nie varkvleis nie, want dit is mos sonde? Sonde bly sonde. Daar is nie so iets soos groot en klein sondes nie.

Is die predikant en sy gemeente daarvan bewus dat homoseksualiteit nie net onder mense nie, maar ook onder diere voorkom? Navorsing het getoon dat homoseksualiteit onder 10% van menslike gemeenskappe voorkom; onder hoenders en voëls 12% en onder skape en beeste 8%. Liewe Parys-Suid-gemeentelede, julle eet beslis nie varkvleis nie, want dit is mos sonde! Julle kan tog ook nie die kans vat om hoendervleis te eet nie, want net dalk is dit ’n homoseksuele hoender! En dan nog skaap- en beesvleis ook? Julle sit in ’n groot sondepenarie.

Julle en jul predikant kom so Bybelvas voor. Julle ken sekerlik die verhaal in die Bybel oor die vrou wat owerspel gepleeg het en deur die Fariseërs veroordeel is en haar wou stenig. Jesus vra hulle: Wie van julle sal die eerste klip gooi? Daar is sekerlik in Parys homoseksuele mense?

Liewe broers en susters: Wie van julle gaan die eerste klip gooi?

briewe@rapport.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Piet Barnard se argumente is ongeldig en onkundig. Dit grens selfs aan moedswilligheid.

Barnard verwys na Levitikus 11:4-19 wat ’n lys gee van diere wat die volk kon en eet en wat hulle nie kon eet nie. Hierdie is duidelik deel van die seremoniële wette wat Jesus in die Nuwe Testament vervul het. Dit word ook duidelik in die Nuwe Testament gesê. Kyk Die Bybel oor onrein kos.

Barnard wil redeneer dat omdat homoseksualiteit ook onder diere voorkom, dit ’n natuurlike ding is en daarom nie sonde kan wees nie.

Selfs al is dit waar, kan die mens nie by die diere gaan leer oor morele waardes nie. Diere loop kaal rond, het seks in die openbaar en ook met meer as een verskillende dier.

In Romeine 1:27 praat Paulus van mans wat die natuurlike omgang met die vrou verlaat het en skandelikhede gepleeg het met mans. Hy verwys daarna as “perversiteit”. Dus was homoseksualiteit in Paulus se oë onnatuurlik.

Verder, as homoseksualiteit ’n natuurlike ding was, hoekom het God self daarna verwys as ’n afstootlike en afskuwelike sonde (Lev 18:22 en Lev 20:13)?

Laastens verwys Barnard na Johannes 8:1-11 waar die Fariseërs ’n vrou wou stenig wat owerspel gepleeg het. Jesus het egter vir die vrou gesê: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.“. Vir meer hieroor, kyk Johannes 8:1-11 (vrou op owerspel betrap).

 

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui