Lindie Koorts: Is ons weer terug by verlig en verkramp?

Kyk ook Nie alle waardeverskuiwings is goed (Daniel Louw, 24 Aug 2022) wat op hierdie artikel kommentaar lewer.

*******

Lindie Koorts: Is ons weer terug by verlig en verkramp? | Netwerk24

Lindie Koorts

13 Augustus 2022

Ek is die laaste tyd weer onder die indruk van die polariserende aard van ons openbare debatte. Of dit nou gaan oor kinderboeke of gay-huwelike in die NG Kerk, aan die kern lê die vraag: Wie definieer die norm en hoe het definisies­ van die norm verskuif?

Verskuiwings van die norm het te doen met verskuiwings in samelewingswaardes. Dié begrip, en die storm en drang waarmee dit gepaardgaan, is iets waarmee historici welbekend is. Vanuit ’n historiese perspektief is waardeverskuiwings normaal en etlike voorbeelde in die geskiedenis wys dit.

Slawerny was 400 jaar gelede ’n aanvaarde praktyk, vandag is dit nie meer nie. Die historikus wat dit bestudeer, sal ’n aantal vrae stel: Watter gewaarwordinge en waardeverskuiwings het plaasgevind om die einde van slawerny mee te bring? Hoe het die oorgang verloop? Hoe het ons 400 jaar later die punt bereik waar die wydverspreide koop en verkoop van ’n medemens onaanvaarbaar en mensehandel ’n misdaad is?

Daar is nog voorbeelde: die verbranding van “hekse” of die vervolging van godsdiensgroepe. Dit is nie te sê dié praktyke het nie ander gedaantes aangeneem en nie meer plaasvind nie, maar daar is wêreldwyd ’n konsensus daartéén.

Voorbeelde uit die onlangse verlede wys ons hoe pynlik waardeverskuiwings kan wees: Ons het die afgelope dekade die grond onder ons voete voel skuif met #RhodesMustFall en dekolonisering-debatte hier ter plaatse, en die internasionale bewegings #BlackLivesMatter en #MeToo wat gevestigde – en dikwels onderliggende – denkraamwerke uitgedaag het. Die openbare uitbarstings en polarisasie waarmee dit gepaardgegaan het, wys ons hoeveel wrywing dit teweeg kan bring.

In die debatte wat deur sulke verskuiwings ontlok word, kry ons te doen met ’n botsing tussen gevestigde waardes aan die een kant en ’n nuwe stel waardes, wat veranderende omstandighede weerspieël, aan die ander. Dit ontaard dikwels in ’n stryd om vertolkings van die hede­ en die verlede.

Vanuit die gevestigde oord word daar aangedring op konteks en om nie die verlede vanuit die waardestelsel van die hede­ te beoordeel nie. Dit is inderdaad een van die grondbeginsels van geskiedskrywing en die historikus se suurstof.

Maar vir ’n historikus om sonder oordeel na die verlede in sy konteks te kyk, verg juis ’n ingesteldheid wat waardeverskuiwings kan raaksien en normaliseer, en wat die verskille tussen destyds en vandag kan uitwys en verduidelik.

Dit is dus ewe noodsaaklik om verskuiwings te erken en nie die uitgediende waardes van die verlede op die hede te wil afdwing nie. Respekteer die hede en verlede sonder om een van die twee te wil goedpraat, want elkeen het sy eie problematiek. Dalk moet ons eerder besef dat die oorgangsproses pynlik is en nooit sonder struweling plaasvind nie.

Daarvan het ons ’n ander prominente voorbeeld uit ons eie verlede. Toe Afrikaners in die laat 1960’s en in die vroeë 1970’s kon voel hoe die grond onder hul voete begin skuif, het hulle hulself in twee kampe verskans om oor die toekoms te stry: “verlig” en “verkramp”. Vraagstukke soos gemengde sportspanne of swart diplomate het tóé gedien as weerligafleiers vir ’n groter, onderliggende vraag: Wat is die toekoms van apartheid?

Dalk is dit die ander insig hier ter sprake: Debatte in die kleine (wat vir die deelnemers allesbehalwe klein voel), fokus dalk op ’n bepaalde onderwerp, maar eintlik is dit ’n weerspieëling van groter, onderliggende waardeverskuiwings wat plaasvind. En deurgaanse verskuiwing is die historiese orde.

  • Dr. Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui