Kyk ook:
- Wat is artikel 37 van die NG Kerk Kerkorde?
- Is die Algemene Sinode se rakleeftyd verby? (Johan van der Merwe, 10 Okt 2022)
Hugo Hendrik Loedolff (1804–1864) was ’n gesiene inwoner, wets- en boedelagent van Malmesbury, maar ook omstrede ouderling wat by die Kaapse sinode van 1862 beswaar maak teen die sittingsreg van alle afgevaardigdes buite die destydse koloniale grense. Volgens hom kon Ordonnansie no 7 van 1843, wat die verhouding tussen kerk en staat gereël het, nie van toepassing gemaak word op onafhanklike state buite die Kaapkolonie nie en daarom het gemeentes van die destydse Vrystaat, Transvaal en Natal nie sittingsreg in die Kaapse sinode gehad nie. Toe die vergadering egter die status quo handhaaf, wend Loedolff hom sonder meer tot die Hooggeregshof, wat ’n uitspraak lewer ten gunste van hom. Afgevaardigdes van gemeentes buite die Kaapkolonie moes daarop die saal verlaat en daarmee is die één sinodale verband van die NG Kerk met gemeentes buite die destydse koloniale grense, eensklaps beëindig.
Die gevolg was dat afsonderlike sinodes ontstaan het op streekgrondslag buite die Kaapkolonie. Dit sou ’n volle eeu duur voordat die een algemene sinodale verband, soos dit tot 1862 bestaan het, weer herstel is met die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962 én eers nadat die gewraakte ordonnansie by wyse van ’n private wetsontwerp deur die volksraad en senaat in 1961 herroep is.
Bronne
- LOEDOLFF, HUGO HENDRIK (eCKE)
- Die Loedolff-saak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862-1962 (PB van der Watt, 1973)