Kyk ook:
- Wie is Izak du Plessis?
- Izak du Plessis is ’n teologies verdwaalde gees (Christo Landman, 18 Jun 2010)
- Reis sonder ’n goeie einde (Andries Louw, Beeld, 14 Jun 2010)
Die volgende artikel het in Beeld verskyn.
************
Lus vir ’n loopdop, dominee?
Artikel in Beeld, 8 Junie 2010
Die kerk moet meer soos ’n kroeg word, meen ds. Izak du Plessis, wat pas as predikant bedank het. Neels Jackson het met hom gesels en na sy afskeidsboodskap in die NG gemeente Valleisig in Pretoria gaan luister.
“Izak is wie hy is. Hy is nie in-‘n-blik-drukbaar nie.”
Met dié woorde ná sy afskeidsboodskap (hy beklemtoon dis nie ’n preek nie) word iets gesê van die onopgesmukte, plat-op-die-aarde-mens wat Izak du Plessis is.
Hy is die soort dominee wat soms in ’n kroeg ’n draai sal maak.
Nie omdat hy mense daar wil bekeer nie, maar omdat hy lus is vir ’n bier.
Dan sal hy daar kuier en vriendskappe smee, net omdat dit so ’n menslike ding is om te doen.
En wanneer hy weer sien, sit van daardie kroegvriende in die kerk.
In sy eerste gemeente, in Alberton, het hy soms die kroeg van die Albertonse rugbyklub opgesoek.
In sy afskeidsboodskap vertel hy dat iemand op ’n dag ’n lootjie vir twee toetskaartjies aan hom wou verkoop.
Hulle het geld ingesamel vir die kroegmeisie wie se motor in ’n ongeluk afgeskryf is.
Die aand toe hulle die lootjie trek, was hy toevallig weer daar.
Die wenner het die kaartjies teruggegee om weer opgeveil te word.
Dit het drie keer gebeur totdat daar sowat R15 000 vir haar ingesamel is.
En toe sê die kroegbaas sy kan die geld maar hou. Buite staan daar reeds ’n motor wat hy vir haar gekoop het.
Du Plessis verwys na hoe kerkmense op daardie kroegmense kan neersien: dronkies, alkoholiste…
Maar daardie aand het hy by hulle ’n soort omgee gesien wat die kerk in die kroeg kan gaan leer.
En toe kry hy die beroep na die fatsoenlike ooste van Pretoria toe.
Baie mense in Valleisig het lief geword vir hom, maar daar was ook diegene wat geen vat aan hul nuwe dominee kon kry nie.
In ’n stadium is daar 21 klagtes oor leer en lewe by die ring teen hom aanhangig gemaak, onder meer omdat hy die kerk met ’n kroeg vergelyk het.
Hy is op 19 klagtes onskuldig bevind. Vir die twee waarop hy skuldig bevind is, is hy op die vingers getik en hy kon voortgaan as predikant.
Vandag erken Du Plessis dat die klaers reg was in hul aanvoeling oor sy teologie. Hy is nie kwaad dat hulle hom aangekla het nie. Wel oor die manier waarop hulle dit gedoen het.
Op twee na het nie een van die klaers self met hom kom praat nie.
In sy afskeidsboodskap praat Du Plessis oor sy eie dwaling en hy plaas hom in die skoene van Job, wat aan sy vriende sê: “As ek werklik gedwaal het, is my dwaling my eie saak.”
En as agtergrond tot dié teks verduidelik hy hoe Job se vriende “met hul onversetlike vergeldingsleer” net een verklaring kon sien vir Job se penarie: Job moes gesondig het.
Dis al verklaring wat hul dogma hulle toegelaat het.
Dít, voeg Du Plessis by, is die beste voorbeeld van wat die “verstarring van wysheid” genoem word.
Soos Job is hy “in opstand oor die feit dat God soms die gevangene geword het van menslik uitgedinkte stelsels”.
Voordat hy verder preek/praat, neem hy eers sy kitaar en sing vir die gemeente Kris Kristoffersen se liedjie The Pilgrim – met die reël wat ’n refrein deur sy preek/praatjie word: “There’s a lot of wrong directions on that lonely way back home.”
Dan vertel hy aan die gemeente hoe onvoorwaardelik lief hy sy kinders het, dat hy hulle nog nooit die slegste van die lewe kon toewens nie, al was hulle hoe stout.
Dié gedagte “het die idee van God radikaal anders in my kop kom sit”.
Want, sê Du Plessis, God, soos voorgestel deur die kerk, is nie so lief vir sy kinders nie. Mense word geestelik afgedreig met die hel.
Die vrae oor God het meer geword totdat hy by die punt gekom het dat hy nie meer in dogmatiese terme oor God wil praat nie. Sy gedagte van God het weggeskuif van die netjies verwoorde formulerings van die kerklike leer na die misterie, na wat die gesang besing as “Ewig-onbegryplik Wese”.
“Ek weet niks van God nie. Ek bely niks oor God nie. Ek leef net in God,” verduidelik hy nadat hy ’n gedig voorgelees het waarin hy iets van sy siening oor God probeer verwoord het.
Eintlik, sê hy, het NP van Wyk Louw sy sienings die beste verwoord in die slotstrofe van ’n gedig:
Daar is een heerlikheid: U sien;
daar is een rus: om u te soek;
om nie te weet – dit is u seën;
en om te vind – dit is U vloek.
Du Plessis verklaar: “Ek is ongemaklik met konsepte soos die hemel en die hel. Ek sukkel regtig met begrippe soos maagdelike geboortes, opstandings en hemelvaarte. Kortom: In die lig van die kerk se belydenisskrifte is ek inderdaad besig om te dwaal.”
Hy troos homself egter met die woorde uit die liedjie: “There’s a lot of wrong directions on that lonely way back home.”
By herhaling stel hy dit duidelik dat hy nie ’n nuwe “waarheid” oor God probeer verkondig nie. “Dis maar my idees. Miskien is ek verkeerd.”
Daarom neem hy niemand kwalik wat anders glo nie. Daar is immers “a lot of wrong directions on that lonely way back home”.
Hy vertel selfs hoe hy onlangs, weer in ’n kroeg, met ’n “Angus-fan” kon gesels, hoe hulle, ondanks hul uiteenlopende teologieë, mekaar op ’n manier kon vind en hoe hy vir die man kon bid.
“En,” voeg hy by, “hy het my, die half ongelowige dominee, ’n dissipel van die Here genoem.”
Vir Du Plessis was dit ’n besondere oomblik omdat mense met verskillende sienings ruimte vir mekaar kon maak.
Compassion is die woord wat hy herhaaldelik gebruik.
En in sy boodskap aan die kerk is dit die aanklag en die pleidooi: Te min compassion.
Want, sê hy, die kerk as instelling kry dit nie reg om vir mense om te gee nie. Gaan vra maar elke ongetroude meisie wat tussen 1960 en 1994 swanger geraak het. Gaan vra maar mense wat in daardie tyd geskei het. Gaan vra maar gay mense.
En: Gaan vra maar elke gelowige wat dit gedurf waag het om ander vrae te vra.
Dit is teen dié agtergrond dat Du Plessis sê: “As die kerk wil relevant wees, dan gaan ons moet leer om soos ’n kroeg te wees. ’n Kroeg is die beste vervalsing van die kerk.”
Daar word jy aanvaar soos jy is en ingesluit by die gemeenskap.
Hy haal iemand aan wat gesê het ’n kroeg floreer nie omdat mense alkoholiste is nie, maar omdat God die behoefte in mense geplaas het om te ken en geken te word, om lief te hê en ’n geliefde te wees.
Die TV-kroeg in Cheers se liedjie het gesing: “Everybody needs a place where someone else knows your name.” Dis wat mense in ’n kroeg kry.
‘n Plek waar almal jou naam ken.
Luister ’n mens so na Du Plessis, word dit duidelik waarom hy bedank het. In die kerk was daar vir hom te veel dogma en te min deernis.
Dit was te min soos ’n kroeg, waar dogma laag en deernis hoog is.
Du Plessis se afskeid was ’n emosionele geleentheid.
Die blommerangskikking met ’n groot leë raam dra die boodskap oor: Izak het ons buite die raam leer dink.
‘n Tranerige vrou kom sê: “Skryf mooi oor ons. Ons is lief vir hom.” Met ’n stem wat breek kom sê ’n man dankie vir wat Izak vir hom beteken het.
Die dominee wat deernis uitgeleef het, maar die dogma verloor het.
Du Plessis het nog nie besluit wat hy nou gaan doen nie.
************
Die volgende artikel het in Beeld verskyn in reaksie op die artikel hierbo.
Emerging Church steek nou hier kop uit
2010-06-10
Ben Bron van Pretoria skryf:
Neels Jackson se artikel “Lus vir ’n loopdop, dominee?” (Beeld, 8 Junie) het betrekking.
Die artikel gee ’n mens die gevoel dat dit wat ds. Izak du Plessis sê en glo (kan ons dit glo noem as hy self sê hy is nie seker nie?) ’n nuwe verskynsel is. Ek is egter nie verbaas dat dié soort denkwyse – genoem die Emerging Church – hier begin kop uitsteek nie.
Dit is reeds ou nuus in Amerika en ander ontwikkelde lande.
En ds. Izak, jy pas perfek in die prentjie van die Emerging Church.
As jong musikant en teologiestudent hou ek vas aan die Skrif, die begrippe Hemel en hel, die maagdelike geboorte en die opstanding.
En ek hoef myself nie te troos nie. My troos lê in die woorde van die Heidelbergse Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus behoort, wat met sy dierbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit die heerskappy van die duiwel verlos het, en my so bewaar dat sonder die wil van my Hemelse Vader geen haar van my hoof kan val nie . . .”
Wat ’n wonderlike troos; wat ’n wonderlike waarheid! As jy my vra, is dit heelwat mooier as: “ There’s a lot of wrong directions on that lonely way back home.” Veral as jy nie meer seker weet waar home is nie.
Ds. Izak, my innige simpatie.