Kyk ook:
Amos van der Westhuizen se brief “Hierdie strooipop inderdaad ’n Trojaanse perd” verskyn onderaan Pieter de Jager se brief.
*******
Mag Bybel nooit geoffer word vir wêreldvrede | Netwerk24
Ds. Pieter de Jager, Reddersburg
31 Januarie 2024
In sy brief; “Hierdie strooipop inderdaad ’n Trojaanse perd” (25.01) wys Amos van der Westhuizen op die gevaar van “verbeelde strooipoppe” wat gelowiges opstel en voorgee dat hulle ander se geloof respekteer, maar inderdaad “minagtend oor ander se regte loop en demokratiese stelsels oor die wêreld heen bedreig”.
Indringend beskou, blyk die regte soort geloof, vir Van der Westhuizen altans, dié te wees “wat die hand in eie boesem steek ten einde ’n sekere moraliteit te beskerm”.
Maar juis in hierdie vermensliking van geloof verskuil hy homself tog ook binne ’n spreekwoordelike Trojaanse perd wat vandag wêreldwyd opgerig word in talle Protestantse kerke, ook binne die sinodale verband van die tans beleërde NG Kerk in Suid-Afrika.
Van der Westhuizen haal prof. Anton van Niekerk goedkeurend aan dat “godsdiens ’n agent vir vrede kan wees as dit ophou om voor te gee dat dit absolute waarheid verkondig en wegkom van die idee dat een godsdiens ’n monopolie op die waarheid het (“Kan godsdiens ’n oorlog keer?” Netwerk24, 16.01).
Die waarheid moet dus binne ’n sublieme vorm genuanseer word. Skerp snypunte wat grof uitstaan, moet afgeplat en verfyn word. ’n Potpourri van vredeboodskappies gaan dan welwillend uit na dubieuse wêreldgodsdienste. ’n Sambreel van sinkretisme gaan oop. Die uniekheid van Hom wat gesê het: “Ek is die Waarheid”, is prysgegee.
Alles word “betreklik”. Niemand is verkeerd nie. ’n Relatiewe verlossingsleer pas elke sak.
Dit is hierdie soort denke wat verlammend inwerk op die uitdra van die evangelie.
Hieroor treur God se gemeentes. Leiers is daar nie meer om na op te kyk nie. Almal het hulle vasgeloop teen die onverbiddelike Woord. Naarstiglik soek hulle omweë en verskuif die orde: Kernsake word randsake; die nou getuienisweg word onder konstruksie ruimer gemaak; swakkelinge kry regte; en die Bybel se grys verlede word modern, veelkleurig getint.
Mag die Bybel, broos in die waarheid van God se Woord, nooit geoffer word vir wêreldvrede nie!
*******
Hierdie strooipop inderdaad ’n Trojaanse perd | Netwerk24
Amos van der Westhuizen, Bloemfontein
25 Januarie 2024
Wilhelm Jordaan reken in sy Goeiemôre-rubriek “Só kan ateïste en gelowiges sinvol gesels” (24.01) dat ateïste (’n woord wat meer sê van die persoon wat dit gebruik as die een wat beskryf word) met ’n selfopgestelde strooipop veg omdat die verlettering van Bybelverse en fundamentalisme lankal deur gelowiges verwerp is ten gunste van hermeneuties-kritiese geloofsverantwoording.
Ek verdeel gelowiges, oor gelowe en denominasies heen, rofweg in twee klasse.
Die eerste klas: Mense wie se geloof hul hand in eie boesem laat steek ten einde ’n sekere moraliteit na te streef.
Die tweede klas: Mense wie se geloof hulle lei tot morele oordeel oor ander se lewe en só vir hulself relatiewe voordeel bewerkstellig met aansprake op hulpbronne, grondgebied, geleenthede en openbare ruimtes.
Die Christen-huis waarin ek grootgeword het, was tot ’n groot mate vir my ’n voorbeeld van die eerste.
Donald Trump-agtige wit meerderwaardigheid, djihadistiese Moslems en die huidige klaarblyklike oorreaksie van Israel is voorbeelde van die tweede klas.
Dit blyk dat hermeneuties-kritiese gelowiges in alle tale, maar veral Afrikaans, swyg oor diegene wat hul geloofstradisie misbruik vir politieke, ekonomiese of persoonlike gewin.
Die voorbeelde hierbo dui aan dat dié euwels uiters gevaarlik is en nie net verbeelde strooipoppe in die koppe van “ateïste” nie.
Terwyl die hermeneuties-kritiese gelowiges handewringend huiwer tussen stilte en fluister, is hierdie strooipop inderdaad ’n Trojaanse perd wat vra om respek vir geloof en dan minagtend oor ander mense en hul regte loop en demokratiese stelsels oor die wêreld heen bedreig.
Prof. Anton van Niekerk het onlangs geskryf dat godsdiens ’n agent vir vrede kan wees as dit ophou om voor te gee dat dit absolute waarheid verkondig en wegkom van die idee dat een godsdiens ’n monopolie op die waarheid het (“Kan godsdiens ’n oorlog keer?”, Netwerk24, 16.01).
Met hierdie beginsel voorop sal die hoe, waar en wanneer van godsdiensbeoefening vanself in plek val.
Dan sal daar minder snedige, venynige en sarkastiese gesprekke tussen gelowiges en “ateïste” wees.