Maritz laat Lubbe se ore spits: Kyk mooi na opsies buiten wegbreek, vra Lubbe aan Namibiërs voor sinode in Windhoek

**********

Maritz laat Lubbe se ore spits: Kyk mooi na opsies buiten wegbreek, vra Lubbe aan Namibiërs voor sinode in Windhoek | Kerkbode

Deur Le Roux Schoeman / 11 Maart 2025

’n Opmerking deur ds Johannes Maritz oor ’n moontlikheid om die verhouding met die NG Kerk se Algemene Sinode “te herdefinieer (en) om nuwe verbande aan te gaan,” het ds Jan Lubbe se ore laat spits. “Ek is verlig om te hoor dat julle dink oor ’n herdefiniëring van ’n kerkverband, maar dit sou ook sonder ’n Art 37, uittrede uit kerkverband, kon gebeur. En dit is my pleidooi,” het Lubbe gesê.

“As jy ’n band gesny het, geliefdes, om daardie band ooit te herstel, vat dekades, die kerkgeskiedenis leer ons dit,” het ds Jan Lubbe, die voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) by dié se mees onlangse vergadering in Gauteng gesê.

LEES OOK: NG Kerk in Namibië kyk na opsie om verband met Algemene Sinode ‘te herdefinieer’ wanneer sinode einde Maart plaasvind

In ’n slotwoord aan die sowat 60 afgevaardigdes, maar veral aan die klein Namibiese afvaardiging onder leiding van ds Johannes Maritz, het Lubbe gesê: “Ons Vrystaatse Sinode het drie keer Artikel 37 oorweeg, elke keer wil ek sê, gaan jy deur diep donkertes, dis ’n dal van doodskaduwee. Art 37 sê, wanneer dit ‘in die lig van God se Woord en voor sy aangesig geregverdig kan word, tree ons uit die (kerk)verband,’ en daardie frase het ons elke keer laat huiwer,” het Lubbe verduidelik.

“Daarom is my pleidooi van ASM se kant na Namibië, om diep oor daardie punt te dink.”

Lubbe se opmerkings kom voor Namibië, een van die NG Kerk se tien samestellende streeksinodes, op 20-23 Maart as sinode sal vergader om veral te besluit of dié sinode in verband met die NG Kerk wil bly en of laasgenoemde se “ruim huis”-benadering tot kwessies soos selfdegeslagverbintenisse té ruim vir die meerderheid van die sowat 11 800 Namibiese lidmate is.

LEES OOK: Geen formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse: Afgevaardigdes kam saam deur ‘fokusmomente’ in besluitneming sedert 2019

Maritz het op sy beurt ’n prentjie van konflik geskilder binne die NG Kerk in Namibië, wat verdeeld is en vanaf ’n lae basis in lidmaattal krimp. ’n Opmerking deur Maritz oor ’n moontlikheid om die verhouding met die NG Kerk se Algemene Sinode “te herdefinieer (en) om nuwe verbande aan te gaan,” het Lubbe se ore laat spits.

“Ek is verlig om te hoor dat julle dink oor ’n herdefiniëring van ’n kerkverband, maar dit sou ook sonder ’n Art 37, uittrede uit kerkverband, kon gebeur. En dit is my pleidooi. Ons het diep begrip dat julle in ’n ander land is, julle het ’n ander roeping as ander sinodes en ’n herdefiniëring van daardie verhouding sou moontlik wees, sonder om noodwendig deur ’n Art 37-besluit te gaan. Dis ons hart, dis ons hart,” het Lubbe gesê.

Oor gemeentes wat doleer en uit verband tree met NG Kerk

Hoe gaan dit deesdae met die NG Kerk en spesifiek in terme van kerkverband in elke streeksinode? Een van die gebruike wat by onlangse vergaderings van die ASM goed gevestig is, is ’n geleentheid vir ’n kort, gefokusde terugvoersessie deur verteenwoordigers uit elk van die streeksinodes oor juis hierdie saak, wat sedert 2019 wye belangstelling onder lesers gelok het.

Dr Tom Smith, Hoëveld

“By ons is daar 21 gemeentes wat doleer uit ons 105. Van daai 21 is daar 18 gemeentes wat sinodale bydraes terughou,” aldus Smith. Hy merk op oor die taalgebruik dat dit “lyk soos trappe van vergelyking: ‘doleer’, ‘opskorting’, wat baie keer die woord ‘tydelik’ byvoeg, wat die versugting oordra dat die res van die NG Kerk tot bekering kom. En dan ‘losmaking’.”

Smith verwys meer algemeen ook na die baie werk wat voorlê om weer lewe in ringe te blaas.

Ds Lizl-Louise Schoeman, Noordelike Sinode

“Ons het vir mekaar gesê, ons visie is, ‘Bring hoop, maak ’n verskil’. Dit is ’n tema wat aanhou,” aldus Schoeman. “Daar is nie veel beweging in terme van gemeentes wat doleer nie. Uit ’n groep van 110 gemeentes het ons vyf gemeentes wat doleer. Een het vir ons ’n akte van opskorting gestuur. Daar is ook ’n ander verhaal. ’n Gemeente wat doleer het en toe vir ons laat weet het ’n mens kan ook nou net so lank huil en treur en dan moet jy ophou,” het Schoeman vertel. “Dan het ons ’n ring gehad wat baie sterk oorweeg het om hulle (volgens Art 32) uit ons sinode te skuif. Ons hele moderatuur van sewe het die pad na die noorde gevat en vir twee dae tyd spandeer om hulle storie en konteks te probeer verstaan. En ek dink nogal as ’n mens kan saam eet en vleisbraai, klink die vergadering die volgende dag anders … En hierdie mense het gesê: Ons gaan nêrens heen nie.”

Dr Leon Foot, Vrystaat

Die NG Kerk Vrystaat het altesaam 152 gemeentes waarvan 18 doleer, volgens dr Leon Foot. “Ons het 99 wat sinodale bydraes betaal – insluitende drie dolerendes. Die ander 15 is deel van die 53 gemeentes wat geen sinodale bydraes maak nie, om verskillende redes,” het Foot later ter verheldering aan Kerkbode verduidelik nadat hy in ’n vroeër weergawe van dié berig aangehaal is dat daar 102 gemeentes in dié sinodale streek is.*

Foot het ook aan die vergadering gesê: “Daar is sewe gemeentes wat aangedui het dat hulle uit die (NG Kerkverband) tree … Dan is daar twee dominees wat in die onlangse verlede bedank het uit die NG Kerk en nou voortgaan om die gemeente te bedryf as gemeente wat geen band met die NG Kerk het nie.”

Dr Grant du Plessis, Goudland

“Ons het 142 gemeentes in Goudland en daar is ’n paar wat doleer en geen gemeente het bande losgemaak of opgeskort nie. Daar is ’n rustigheid. Ons kom van ’n moeilike plek … Ons het vier jaar gelede besluit ons gaan die verhouding tussen ons en die ASM gesond maak, en ek dink ons het dit gedoen.”

Dr Tertius Erasmus, Oostelike Sinode

“Dit gaan goed, 84 gemeentes, twee (met wie gesprek) moeilik is,” het Erasmus opgesom. “Daar is een gemeente wat band wil losmaak, en ’n ander wat besig is. Min gemeentes wat doleer. Wat ek wel wil sê, is daar is regtig ’n baie mooi gesindheid binne die sinode. Ons sal aanhou gesels,” het Erasmus gesê.

Dr Barry Tolmay, KwaZulu-Natal

“U weet dat ons ’n toetssaak gehad het, amper soos Tafelberg-gemeente (wat in die Wes-Kaap hulleself wil losmaak van die NG Kerk) … Dit was baie moeilik,” het Tolmay gesê. “Die mooi is dat ons mekaar vashou en ek wil my kollegas bedank vir hoe ons binne KZN funksioneer,” het hy bygevoeg. “Ons het ’n lekker sinodesitting gehad verlede jaar. Ons het wel ’n ernstige probleem in terme van ringkapasiteit.”

Ds Dewald Davel, Oos-Kaapland

“Van leierskapkant is ons uitgangspunt ons gaan nie besluite neem wat ouens in kampe injaag nie,” het Davel gesê. Daar is ’n stuk rustigheid en dit is asof ons vryheid het om aan ’n klomp ander goed aandag te gee,” aldus Davel.

“Ons het twee (uit 102) gemeentes wat (bande) opgeskort het of op ’n manier besig is om eintlik maar uit die verband uit te tree. Die een het uit-en-uit met selfdegeslagverhoudings te doen, by die ander het dit met ander nuanses ook te doen.”

Ds Marais Kluge, Noord-Kaapland

“Daar het sowat 14 gemeentes nie die streeksinodesitting (in Oktober 2024) bygewoon nie, om verskillende redes, nie almal doleer nie,” het Kluge verduidelik. Sommige van die gemeentes is bloot net stukkend, gebrek aan vermoëns,” het hy gesê. “’n Paar weke gelede het ons iets skriftelik gekry van een van ons dolerende gemeentes, waarmee ’n mens kan begin werk.”

Kluge het bygevoeg: “Uiteindelik moet ’n mens mense terugbring in die kring, met liefde.” Hy het klem gelê op die rol wat predikante, in teenstelling met die hele kerkraad, soms speel by die besluit van ’n gemeente om te doleer.

Ds Marinus Theron, Wes-Kaapland

“In die groter prentjie is verhoudings gesond,” het Theron gesê. Ons het meer om voor dankbaar te wees as waaroor ons angstig raak.” Oor gemeentes wat doleer of die “weg van opskorting met kerkverband” kies, het Theron gesê: “Dit is 11 gemeentes, waarvan vyf in Oudtshoorn is, en wat intussen minus een is, want een van die gemeentes het deure toegemaak in 2023.”

“Ons benadering is, ons het nie die keuse of die opsie om te besluit wanneer ’n gesprek eindig nie. Want dit is hoe familie met mekaar werk. Ons bly daarby staan dat ons vir die gemeentes herinner daaraan dat ons hulle as geloofsfamilie beskou, nie omdat ons hulle familie gemaak het nie, maar omdat die Here ons verbind het.”

* Hierdie berig is ná publikasie aangepas.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui