Die Evangelie van Markus, een van die drie sinoptiese evangelies, is vernoem na Johannes Markus wat dit vermoedelik geskryf het deur inligting wat Petrus vir hom gegee het.
Omdat “Johannes” so ’n algemene Joodse naam was, word bespiegel dat hy die bynaam “Markus” gekry het om te onderskei tussen byvoorbeeld hom en Johannes, seun van Sebedeus. Of dit kan wees dat Markus sy nie-Joodse naam was.
Hy was die neef van Barnabas (Kol 4:10) wat saam met Paulus ’n sendingreis onderneem het.
Ons lees oor Markus in die volgende dele in die Bybel:
Markus 14:51 : Hy hardloop kaal weg toe Jesus gearresteer word.
Handelinge 12:12 : Nadat Petrus op wonderbaarlike manier uit die tronk losgelaat word, het hy reguit na Markus se ma, Maria se huis gegaan.
Handelinge 12:25 : Barnabas en Paulus neem vir Markus saam op hulle eerste sendingreis.
Handelinge 13:5 : Steeds saam met Barnabas en Paulus op hul eerste sendingreis.
Handelinge 13:13 : Markus verlaat Barnabas en Paulus.
Handelinge 15:37,39 : Paulus stel ’n tweede sendingreis voor. Barnabas voel dat Markus saam moet gaan, maar Paulus verskil. Die meningverskil is so groot dat Barnabas en Paulus se paaie skei. (Kyk ook Handelinge 15 gebruik om homoseksualiteit in die kerk te normaliseer.)
Kolossense 4:10 : Markus was by Paulus in die tronk.
2 Timoteus 4:11 : Paulus vra na Markus omdat hy vir Paulus tot groot diens kan wees.
Filemon 1:24 : Paulus noem hom as een van sy medewerkers.
1 Petrus 5:13 : Markus stuur saam met Petrus, groete aan die verspreide gelowiges in die noordelike streke van Klein-Asië.
Kyk ook
- Markus Johannes (eCKE)
- Mark the Evangelist (Wikipedia)