Kyk ook: |
Maties praat oor die opstanding
18 Februarie 2011
Die opstanding is die hart van die Christelike geloof. Sonder die opstanding kan die Christelike geloof nie bestaan nie. Die Christelike kerk bestaan danksy die opstanding. Alle werksaamhede van die kerk berus op die opstanding.
So het prof Dirkie Smit van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch tydens die jaarlikse teologiese dag gesê. Vanjaar se tema was “die opstanding en die lewe”.
Ds Danie du Toit van die NG Gemeente Waterkloof in Pretoria het gepraat oor die verskillende maniere waarop kunstenaars die opstandingsverhaal deur die eeue uitgebeeld het. Hy het gesê net soos wat die teologie deur die eeue heen gegroei en verander het, het kunstenaars se uitbeelding van Christus ook verander.
Tydens vraetyd het Smit gesê dat Jesus se opstanding volgens die Nuwe Testament nié bloot die terugkeer was van ’n liggaam wat vroeër dood was nie, maar veel méér. Sy opwekking was duidelik anders as dié van Lasarus, met verreikende teologiese implikasies. Sowel die berigte oor die leë graf as die berigte oor die verskillende verskynings van Jesus wys sowel op kontinuïteit as op diskontinuïteit. Dit was inderdaad diesélfde Jesus wat opgewek is, maar ánders as wat hulle Hom voorheen geken het – albei hierdie aspekte moes die dissipels ontdek en albei is van kardinale belang vir die geloof.
Iemand in die gehoor het gesê daar behoort groter duidelikheid te wees oor wat bedoel word as daar gesê word die opstanding is metafories. Prof Smit het gesê dit is nie die opstanding wat metafories is nie, maar ons taal. Die opstanding was werklik, maar soos wat Paulus in 1 Kor 15 verduidelik, beskik ons nie oor die nodige woorde en begrippe om dié werklikheid te verstaan en te verwoord nie, het prof Smit gesê. Die taal waarmee die kerk oor die opstanding van Jesus praat is, soos alle teologiese taal, ook oor die vleeswording, die kruisiging, die nagmaal en die lewende teenwoordigheid van Christus, metaforiese, menslike taal oor ’n geestelike werklikheid. Hy het daarom gemaan tot groot beskeidenheid as gelowiges van mekaar verskil oor die mees geskikte terme om oor geloofswerklikhede te praat, omdat oor dinge gepraat word waarvan ons eintlik niks weet nie, soos Paulus dit ook duidelik maak. Debatte oor die opstanding is gevolglik dikwels onnodig verdelend, het prof Smit gesê. – jean@tydskrifte.co.za