Kyk ook:
Die volgende memorandum is opgestel deur Henrietta Klaasing in opdrag van die Kairos Netwerk met die oog op voorlegging aan die algemene sinodale moderamen (ASM) van die NG Kerk.
*********
Memorandum oor die NG Kerk teologiese fakulteite
Deur Henrietta Klaasing
8 April 2021
Inhoudsopgawe
- 1 Inleiding
- 2 Ervarings van teologiese studente
- 2.1 Vertellings van studente self
- 2.2 Vertellings deur ander oor studente se ervarings
- 3 Voorgeskrewe werke vir teologiese studente
- 4 Temas van proponente se tesisse en minitesisse in 2020
- 5 Toesig en tug
- 6 In wie se diens staan die dosente?
- 7 Verandering is nodig
- 8 Samevatting
- 9 Die pad vorentoe
1. Inleiding
Wat is op die oomblik aan die orde van die dag by teologiese fakulteite? Die ommekeer wat daar aangaande Skrifbeskouing geleidelik oor die afgelope 50-60 jaar by die NGK kerk plaasgevind het, het ook sy neerslag by die teologiese fakulteite van die NG kerk gevind en dit vind steeds plaas. Die gereformeerde benadering tot die Bybel was om dít wat daarin geskrywe is, as altyd-geldende en blywende maatstaf vir leer en lewe te aanvaar. Vanuit hierdie gesigspunt het die leiers ná die Hervorming onder andere in die Nederlandse Geloofsbelydenis bely dat die leer van die Bybel “…heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is” (kyk Artikels 3 tot 7). ‘n Belangrike benadering van die gereformeerde hermeneutiek is dat woorde duidelike en voor-die-hand-liggende betekenis het, en dat ons ook vandag nog kan verstaan wat die Heilige Gees deur die Bybelskrywers daarmee bedoel het.
Moderne hermeneutiek, met sy verheerliking van twyfel en onsekerheid, verkies die postmoderne pad van bevraagtekening en twyfel oor dít wat in die Bybel staan. Betreffende die “onsekerhede” wat deesdae verheerlik word, kan uitlatings van prof. Julian Müller as voorbeeld genoem word. Hy skryf in 2008 (in die tyd wat hy dosent was by die teologiese fakulteit van Pretoria) op die teologiese webwerf van die Universiteit van Pretoria oor sy sogenaamde “tussenin-en-duskant”-teologie. Hy definieer sy teologie as duskant sekerheid en tussen-in onsekerheid en twyfel.
In die jaar 2005 het ‘n bom gebars by Tukkies se teologiese fakulteit: Ferdie Mulder is as teologiese student by Tukkies geskors omdat hy sy professore (onder andere Dirk Human, Julian Müller en Jurie le Roux) aangevat het oor hulle siening oor Jesus se opstanding.
Wat met Ferdie Mulder gebeur het, het skokgolwe van reaksie veroorsaak. Onder andere het ds Hanan Viljoen, dr Pieter Pelser en prof Dolf Britz van die Vrystaatse Universiteit hierop gereageer op verskillende wyses – deur die skryf van artikels en/of boeke om te wys op die dwaalleer wat hand oor hand toeneem nie net in die kerk self nie, maar veral by teologiese fakulteite. Sarel van der Merwe het eweneens in daardie tyd DVD’s gemaak en versprei (Nuwe strominge in die teologie). In hierdie DVD’s word op uitsprake van bekende teoloë gewys soos onder meer Julian Müller, Jurie le Roux en Sakkie Spangenberg.
Ook by Tukkies self was daar reaksie: In 2007 het ‘n groep van tien emeriti en afgetrede dosente van UP se teologiese fakulteit ‘n geloofstandpunt uitgereik na aanleiding van gebeure by die UP teologiese fakulteit. Hulle het kennis geneem van videos, persberigte, radio uitsendings en verklarings oor teologiese strominge binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Aangesien die Teologiese Fakulteit van tyd tot tyd daarby betrek word deur direkte of indirekte verwysings en omdat baie lidmate verwar word deur standpunte wat nie in ooreenstemming is met die kerk se leer nie, wou hulle dit stel as hul eie geloofstandpunt wat hulle ook gehandhaaf het gedurende baie jare wat hulle die Fakulteit en die kerk gedien het op vele terreine.
Hulle het ook kennis geneem van die verklaring van dienende dosente in daardie tyd wat soos volg lui:
“Ons aanvaar die gesag van die Bybel. Die lewende God praat deur mense met mense. Hy oorreed mense deur sy Woord tot geloof en ’n lewe uit geloof. Geloof beteken onder andere om God met ons hele hart en lewe te vertrou en opreg voor Hom en mekaar te leef. Ons glo in die drie-enige God. God is Skepper, Verlosser en Heelmaker. Jesus Christus het mens geword, vir ons sonde gesterf en uit die dood opgestaan.”
Hulle het hulle geroepe gevoel om in aansluiting daarby en in ooreenstemming met hul legitimasiebeloftes en die Gereformeerde belydenisskrifte, die volgende geloofstandpunt te stel:
Ons aanvaar in die geloof dat die Bybel die Woord van God is wat die weg van saligheid volkome aan mense verduidelik. Dit is geskryf deur mense wat geroep, toegerus en geïnspireer is deur die Heilige Gees. Hulle skryf weliswaar in ’n bepaalde historiese situasie en binne hul eie taal- en kulturele milieu. Dit neem nie weg dat hulle ’n besondere boodskap van God oordra aan die mense van hulle tyd en uiteindelik ook aan die mense van alle tye nie. Aangesien geloof en wetenskap nie teenoor mekaar staan nie, aanvaar ons ook dat die wetenskaplike bestudering van die Skrif, indien die eie aard van geloof en wetenskap gerespekteer word, nie die kernoortuigings van ons geloof bedreig nie, maar ons Skrifverstaan eerder verryk en verdiep.
Ons distansieer ons van die uitgangspunt dat die Bybel woorde van mense oor God is wat voortspruit uit ’n soeke na waarheid en sin. Dit sou die Bybel gelykstel met sakrale boeke van ander religieë en selfs met filosofiese denke van begaafde mense. Hierdie standpunt verander die teologie in filosofie en is niks meer as menslike bespiegelinge nie.So ’n beskouing van die Bybel bring mee dat elkeen kan besluit watter dele aanvaarbaar is en watter nie. So word verval in subjektivisme en humanisme.
Ons verklaar dat God drie-enig as Persoon die Skepper, Verlosser en Onderhouer is en dat Hy buite die skepping staan maar dit deurgaans bestuur en beheers.
Ons distansieer ons van die beskouing van pan-en-teïsme wat God tot alle geskape dinge beperk en Hom gelykstel met die natuurwette of ’n soort kode wat alles volgens ’n bepaalde formule laat ontwikkel.
Ons aanvaar ’n transendente werklikheid wat die bestaansdimensie van God is en in die Bybel as die hemel aangedui word. Dit moet duidelik onderskei word van die onmeetlike ruimtes van die heelal wat deel uitmaak van God se skepping.
Ons distansieer ons van die standpunt dat die heelal met sy materie [atome], tyd en ruimte die enigste werklikheid is en dat God daar binne gesoek moet word. Daar is ’n onsigbare en onbeskryfbare dimensie waar materie, tyd en ruimte nie die bepalende faktore is nie.
Ons aanvaar dat bose magte van buite ’n invloed het op die geskiedenis, op ideologieë en op die denke en dade van indiwidue. Die Bybel praat duidelik van die werking van die Duiwel as vyand van God. Die bose moet bestry word op alle terreine maar kan gelukkig as ’n oorwonne vyand beskou word danksy die kruisdood en opstanding van Christus.
Ons distansieer ons van die standpunt wat die kwaad beperk tot iets in die samestelling van die mens alleen en wat die transendente bestaan van die Bose ontken. Die Duiwel as persoonlike vyand van God kan nie logies verklaar word nie, maar kan in die lig van die getuienis van die Skrif en van ons daaglikse ervaring ook nie ontken word nie.
Ons aanvaar dat God ’n spesifieke verlossingsplan vir die mensdom het wat doelbewus aan alle mense verkondig moet word volgens Christus se opdrag. Dit word duidelik uit God se verlossende handelinge met Israel, uit die boodskap van die profete en uiteindelik deur die woorde en dade van Jesus Christus as Seun van God en Verlosser van die wêreld. Sentraal tot God se verlossingsplan is die Godheid van Jesus [maagdelike geboorte], sy lyding en kruisdood, sy liggaamlike opstanding en die hemelvaart. Dit alles is bevestig deur die uitstorting van die Heilige Gees en deur die getuienis van die apostels.
Ons distansieer ons van die standpunt dat verlossing en vernuwing losgemaak kan word van bogenoemde heilsdade van God in Christus. Dan word Christus slegs ’n profeet wat aan ons ’n voorbeeld stel en sy dood, opstanding en hemelvaart word slegs simbole van geestelike waarhede wat elkeen kan interpreteer soos hy goeddink.
Ons aanvaar dat God in beheer is van die skepping en die geskiedenis en dat Hy dit laat afstuur op die voleinding met die wederkoms van Christus. Die hoop van die gelowige is gevestig op die ewige lewe wat God beloof vir elkeen wat in Christus glo. Ons hoop in ’n gebroke wêreld is ook gevestig op die wederkoms van Christus en op die nuwe hemel en aarde wat God sal skep as woonplek vir die wat in Christus geheilig is.
Ons distansieer ons van die standpunt dat die geskiedenis slegs ’n maaksel is van mense en dat dit sonder sin of bestemming is. Ons verwerp die gedagtegang wat alle hoop op die ewige lewe vernietig en God nie as almagtig genoeg sien om ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde te skep nie.
Ons aanvaar dat die Christelike kerk deur die eeue heen sy geloof in belydenisskrifte geformuleer het. Ten spyte van kleiner verskille in belydenisuitdrukking, is die Apostolicum die universele samevatting van wat Christene glo. Ons onderskryf die artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis op die wyse waarop die Kerk dit deur eeue heen verstaan en verklaar het.
Ons distansieer ons van afwykings en herinterpretasies van enige artikel van die Apostolicum aangesien dit die wese van die Christelike geloof verander en iets anders skep as wat die universele kerk oor al die eeue heen as die kern van sy geloof bely het en nog steeds bely.
Die Teologiese Fakulteit van Die Universiteit van Pretoria het in die verlede gefunksioneer op die basis van belygenisgetrouheid en toegewyde en verantwoordelike wetenskaplikheid in die bestudering van die Bybel en die teologie. Hulle glo en vertrou dat dit ook vorentoe die geval sal wees.
Onderteken deur:
- Prof. Attie Barnard
- Prof. Carel Boshoff
- Prof. Dionne Crafford
- Prof. Andrie du Toit
- Prof. Hoffie Hofmeyr
- Dr. Cas Jackson
- Prof. Dons Kritzinger
- Prof. Albertus Smuts
- Prof. Flip van der Watt
- Prof. Wil Vosloo
(Januarie 2007).
In teenstelling daarmee bestempel DP Veldsman, D Human, N Niemandt, G Steyn ,W Fourie, S Meyer, J Meylahn, C Wepener, G de Villiers, A Groenewald en H Janse van Rensburg (teologiedosente van die NG Kerk aan die Universiteit van Pretoria) die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag as “‘n besonder goeie en verantwoordelike besluinemingsmoment” op die NG Kerk se reis met die Bybel en die vertolking daarvan. Die datum van hulle verklaring is 26 Oktober 2016.
In die laaste paragraaf van hulle verklaring skryf hulle:
“Ons vertrou dat die buitengewone Algemene Sinode in November 2016 die NG Kerk se tradisie van Skrifhantering sal voortsit, die gees van die NG Kerk se missionale openheid gestand sal doen en die standpunt sal handhaaf dat alle mense met hulle volle menswees deel is van die liggaam van Christus. Verder: Ons onderstreep die belang van eenheid in die kerk van Jesus Christus en ook in die NG Kerk. Daar is geen twyfel oor Jesus Christus se opdrag aan sy volgelinge om een te wees nie, en daarom pleit ons by ons broers en susters in die NG Kerk om dwarsdeur die onderskeidinsgprosesse oor selfdegeslagverhoudings eenheid na te streef. Ons is tewens oortuig dat die Skrif en die tye waar in ons leef, ons aanspoor om met nuwe ywer eenheid in die NG Kerkfamilie na te jaag.”
In reaksie op hierdie verklaring het Dr Johann Ernst aan die voorsitter van die Kuratorium asook die volle Kuratorium ‘n brief gestuur vir behandeling en optrede tydens die vergadering wat gehou sou word op Donderdag 17 November 2016. Dit het gehandel oor die “Verklaring” van die elf “teologiedosente van die NG Kerk aan die Universiteit van Pretoria” wat op 26 Oktober 2016 op die webblad van Kerkbode verskyn het. In hierdie brief is onder andere gewys op moontlike aanklagte van dwaalleer en verdraaiing van die waarheid. Ook die gebrek aan respek vir die kerk en kerklike bepalinge is aangespreek. Daar is ook gewys op die moontlike gevolg: dat sinodes dringend na ander opsies vir teologiese opleiding sal moet kyk. Die brief was reeds op 3 November 2016 by wyse van ‘n persoonlike brief aan prof Nelus Niemandt onder die aandag van al die NG dosente gebring. Daar was geen reaksie op hierdie briewe nie.
2. Ervarings van teologiese studente
2.1 Vertellings van studente self
Ferdie Mulder se boek Opgestaan is waarskynlik die breedvoerigste werk die afgelope 20 jaar waarin persoonlike getuienisse van homself en medestudente opgeteken staan.
Daar is ook onderhoude gevoer met jong behoudende leraars en studente. Die studente met wie gesprek gevoer is het hulle harte oopgemaak aangaande hulle ervarings met dosente, op voorwaarde dat hulle anoniem sal bly. Hulle het ook gevra dat daar nie detail gegee sal word van hulle ervarings nie, uit vrees dat daar afleidings gemaak kan word en hulle geviktimiseer kan word.
Daar is niemand in wie hulle, hulle vertroue kan stel om hulle te beskerm nie. Selfs die leraars wat aangestel is oor studenteopleiding skaar hulle eerder by die dosentekorps as by die nood van die studente. Die verhale wat hulle vir ons vertel het is werklik skrikwekkend!
Die morele lewe van teologiese dosente en studente is in baie gevalle skokkend onchristelik.
Die studente ervaar dat dosente self ongelowig is en hulle ten doel stel om die studente van hulle geloof te stroop in die eerste twee jaar. Daarna begin hulle om te bou aan ‘n nuwe postmoderne gedagtegang waarmee die studente die kerk ingestuur word.
Die getuienis van die studente word bevestig deur prof Cas Wepener as hy aan die begin van die akademiese jaar oor teologiese opleiding in die koerant skryf (9 Februarie 2019):
“Vir ’n klompie tref dít wat hulle in die lesinglokale kry soos ’n landmyn. Hulle word uit hul bestaande sekerhede losgeruk. Dié wat ’n paar van die stukke kan optel, registreer ná ’n tyd vir ’n ander kursus, en dié wat nie kan nie, staak hul studies.”
Hierdie studente is sinies oor die kerk. Hulle vertrou niemand nie. Hulle is selfs bang om by Kairos Netwerk betrokke te raak omdat hulle dalk daaroor geviktimiseer sal word. In verdere gesprekke met studente kom die volgende ook na vore: Byna niks in die studietyd is Bybels gefundeerd nie, bedoelende Skrifgetrou nie. Hulle leer niks oor gereformeerdheid of die Belydenis van die kerk nie. Die kerk word as ’n voortgaande veranderende entiteit geteken. Om te glo is om naïef te wees. Alle sieninge is geldig en word geduld – behalwe die behoudende sieninge. Daar word oor en oor vertel dat hulle geviktimiseer word. Legitimasievrae verloop soos ’n inkwisisie. Hulle voel onveilig, bedreig en word aggresief behandel. Hulle is oortuig dat talle dosente nie meer glo nie. Die eenheid van die kerk word gedryf omdat dit die magsbasis vir die afwykendes verseker. Daarsonder is hulle werkloos. Gesprekke oor byvoorbeeld die Moslems word verbied. Die dosente en fakulteite en hulle kerklike “back-up”, “play the long game” (in ‘n student se eie woorde). Die dosente erken dit openlik.
Hier is ook die wedervarings van ‘n jong dominee (tans in sy eerste gemeente) van wat hulle in sy studiejare ervaar het:
- dat hulle beheer word (afrigting eerder as opleiding met steun van net een bepaalde teologiese denkwyse);
- dat hulle geviktimiseer word;
- dat van hulle verwag word om bo en behalwe die standaard legitimasie-eed, ook nog ander verklarings te onderteken;
- onder andere word hulle daarvan beskuldig dat hulle “fundamenteel” is, “liefdeloos” is en dat hulle nie “die hart van die evangelie verstaan nie”.
2.2 Vertellings deur ander oor studente se ervarings
Ferdie Mulder se boek wemel van vertellings van hul belewenisse in sy tyd.
Daar word deur ander vertel dat:
- professore ’n damesstudent getraumatiseer het in die klas deur te sê: “jy sê dis die Bybel – dis net ’n boek, dis ’n boek wat mense geskryf het!” Natuurlik is dit om hulle uit te daag om teologies daaroor te besin. Maar as ‘n kind van 18-19 jaar oud in haar eerste jaar, kon sy dit glad nie hanteer nie;
- ‘n teologiese student het ‘n leier by ’n sataniste-groep geword;
- ‘n eerste jaar by die teologiese skool wat sy kursus halfpad voltooi het, het sy geloof verloor – hy is vandag iewers aan die ooskus waar hy hom besig hou as ’n surfer.
3. Voorgeskrewe werke vir teologiese studente
Hierdie drie boeke is vir 2021 se finale jaar by Tukkies voorgeskryf:
- Marcus Borg: Speaking Christian: Why Christian Words Have Lost Their Meaning and Power – And How They Can Be Restored.
- Thomas Römer: The dark God
- David M. Carr: Holy resilience: the Bible’s traumatic origins
Doen gerus internetsoektogte van resensies oor die boeke en ook wie die skrywers is. Hier is ’n baie kort opsomming van elkeen:
- Borg word beskou as iemand wat die teologiese liberalisme aangeneem en verder ontwikkel het en die weg gebaan het vir wat bekend geword het as Progressiewe Christendom.
- Römer is ‘n liberale teoloog van Frankryk (hy is oorspronklik van Duitse oorsprong). In sy boeke skryf hy “god” met ’n kleinletter en glo dat God ’n menslike uitvindsel is. Hy glo nie dat een van die Ou Testament karakters voor die 6de eeu geleef het nie. Hy is verskeie kere uitgenooi na Tukkies se teologiese fakulteit.
- Carr is ‘n “Quaker” en ’n toegewyde pasifis, en voer aan dat die Ou Testament deur die Jode in ballingskap in Babilonië saamgestel is en hul lyding as ’n verbanne en onderdrukte minderheidsgroep weerspieël.
4. Temas van proponente se tesisse en minitesisse in 2020
Op 24 November 2020 stel Kerkbode die nuwe proponente voor in drie artikels (artikel 1, artikel 2 en artikel 3). Die redakteur se opskrifte meld die onderwerpe as die volgende: natuur, menswaardigheid, Skrifgetrouheid, trauma, sosiale media, kerkreg, toeps en pastoraat.
Baie van die onderwerpe het net die naam “kerk” by anders sou dit net sowel by ander fakulteite aan die orde kon kom. Omdat die skripsies self nie gelees is nie, bemoeilik dit kritiek. Mens kan wel afleidings maak: Kanarie handel oor ‘n film waar n jong man sy homoseksuele identiteit ontdek. Volgens die temas van die skripsies, is hulle op die vlak van Bybelkritiek, humanisme en sosiale geregtigheid op praktiese vlak.
Hier is ‘n lys van die temas van die skripsies van proponente van 2020.
- “Die digotomie tussen Bybelse geweld en troos deur die lens van ‘Kanarie’.”
- “A man’s got to do … A rhetorical-critical reading of Romans 1:18-32 in discussion with Pauline and ancient Roman masculinity.”
- “Van barmhartigheid na ontwikkeling: Vaardigheidintervensie van gemeenteleiers in die konteks van die NG Kerk”.
- “Herinterpretasie binne die Bybel met betrekking tot Esegiël 44 en Numeri 16 – 18: ’n Eksegetiese en hermeneutiese studie”.
- “White man in Mamelodi: Afrikaner nationalism and religion as seen in the life of Nico Smith”.
- “Pastorale versorging aan volwasse individue met ADHD: ’n Prakties-teologiese ondersoek”.
- “Evangelisasie vir ons tydgees met verwysing na sosiale media.”
- “Die voorgeskiedenis van die Nuwe Calvinisme en ’n dogmatiese beoordeling van hierdie kontemporêre denke”.
- “Die Triniteit en perichorese (die onderlinge verband van die Persone van die Drie-eenheid): Praktiese implikasies.”
- “Trauma? Verkennende prakties-teologiese perspektiewe vir pastorale betrokkenheid.”
- “Church leaders with physical disabilities: A practical theological approach”.
- “A model for quality management, planning and resource allocation at South African universities”.
- “Hospitality in the first-century Mediterranean world: A social convention affirmed”.
- “Missional perspective of ‘Helpende Hand’: ‘Helpende Hand’ as model of community-based mission within the South African context”.
- “Versoening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1994-2010: ’n Historiese terugblik oor 25 jaar”
- “An aesthetical hamartiology: A hermeneutical study”.
- “Joga as sleutel tot ’n mistieke ervaring van God: ’n Bydrae tot Christelike spiritualiteit”.
- “’n Teologies-etiese interpretasie van die kerkorde van die NG Kerk in ’n sosiaal-juridiese konteks”.
- “’n Helse probleem: Die herontdekking van ’n verantwoordbare verstaan van ’n Christelike soteriologie binne ’n postmoderne samelewing”.
- “Ecotheology: A missional perspective”.
5. Toesig en tug
Deur die jare is verskeie dosente van leerdwaling aangekla maar geen stappe is teen enige van hulle geneem nie. Louis Jonker is in die 1990’s deur Dr Pieter Pelser van die gemeente waar hy toe predikant was, aangekla van kettery nadat hy ’n reeks oor Genesis 1-11 by hulle aanddienste aangebied het. Dr Pelser het gemeen dat Jonker kettery gepleeg het deur nie toe te gee dat daar wel ’n wêreldwye vloed was, of dat Noag noodwendig ’n historiese persoon was nie. Hy was oortuig dat ’n mens wel die historisiteit van die inligting in die Bybel moes bevestig, anders verloën ’n mens dit as Woord van God. Die Ring van Stellenbosch het hom onskuldig bevind, maar die aanklaer het toe na die Wes-Kaapse Sinode geappelleer. Uiteindelik het die sinode besluit om nie die appèl te handhaaf nie, en is Jonker ook daardeur vrygespreek.
Ferdie Mulder het in 2006 klagtes by die kuratorium gelê Dirk Human, Julian Müller en Jurie le Roux maar daar het niks van gekom nie.
In die tyd toe dr Ben du Toit die redakteur van die elektroniese kommunikasie van die Algemene Sinode was en ook die NG Kerk se Parlementêre Lessenaar vir die Algemene Sinode was, is hy van leerdwaling aangekla deur Dr Wynand Louw van Melkbosstrand in die Kaap. Die klag volg op ’n uitlating wat dr Du Toit sou gemaak het aangaande die bestaan van die duiwel.
Du Toit is deur ’n ringskommissie onskuldig bevind maar Louw het egter appèl aangeteken teen die Ring van Kuilsrivier se uitspraak. In April 2013 is Dr du Toit onskuldig bevind. Die hewige en voortgaande debat na die verskyning van Ben du Toit se boek God: Is daar ’n ander antwoord? waarin hy sy postteïstiese oortuigings uitspreek kan ook hier dien as verwysing.
Kyk ook Lys van leerdwaling aanklagtes.
6. In wie se diens staan die dosente?
Dit is belangrik om te noem dat teologiese dosente van die NG Kerk nie in diens van die NG Kerk is nie, maar in diens van die staat. Daar is ’n Nederlandse spreekwoord wat lui:
“Wiens brood men eet, diens woord men spreekt”
Dit kom daarop neer dat ‘n mens die voorskrifte uitvoer van die een deur wie ‘n mens betaal word. Feit van die saak is: wanneer dosente in diens van die staat is, begin dinge verkeerd loop.
In die Youtube video, Teologiese opleiding kopskuif (6 Feb 2021), wys Ferdie Mulder dat so ’n opset inherent verdoem is om tot dwaalleer te lei.
7. Verandering is nodig
Die leraars en kerkrade wat hulle met die Kairos groep identifiseer het op ‘n punt gekom dat hulle onder geen omstandighede ons jongmense wil aanbeveel om by die NG Kerk se amptelike opleidingsinstellings opleiding te kry nie. Daar is oorvloedige getuienis dat ‘n groot aantal dosente by al drie fakulteite nie eerlik is in hulle onderskrywing van hulle legitimasie verklaring nie. Die basiese leerstellings van ons geloof aangaande ons Verlosser Jesus Christus word geminag.
Ons kan ook nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat die verskillende kuratoria van die sinodes en in die besonder die Algemene Kuratorium, die dosente in werklikheid ondersteun in die afvallige leringe wat gedoseer word. Die rol wat die kuratoria en die dosente gespeel het om die afvallige besluite oor seksuele verhoudinge, gevestig te kry veral by die 2015 Sinode, is ‘n goeie aanduiding van die gevolgtrekking waartoe ons gekom het.
Daar is ‘n omvattende Reglement vir Tug en Vermaning in die Kerkorde (Regl. 22). Wat ons betref het dit in ‘n klug ontaard omdat alle pogings om dwaalleer in die kerk onder die aandag te bring, deur verantwoordelike mense in die kerk gedwarsboom is.
Ons het glad nie meer vertroue in die bestaande strukture waarmee die Algemene Sinode beheer wil uitoefen oor teologiese opleiding in die kerk nie. Die legitimasie dokument wat uiteindelik aan proponente uitgereik word, is nie meer ‘n waarborg van die regsinnigheid van die leraars wat aan die kerk voorgestel word nie.
8. Samevatting
In die inleiding is daar geskryf oor die gereformeerde benadering tot die Bybel en oor gereformeerde hermeneutiek. “Daar ís ernstige probleme met teologiese opleiding: nie noodwendig met die wetenskaplike gehalte nie, maar met ongereformeerde standpunte. Diegene wat nie met die vrysinnige teologie saamstem nie, word as moedswillig en ongeloofwaardig afgemaak. Gereformeerde teologie is belangrik, want dit is in die naam en Kerkorde van die NG Kerk ingeskryf. Dit is ’n saak van integriteit, “ volgens prof Johan Janse van Rensburg, wat verbonde was aan die Vrystaatse Teologiese Fakulteit.
As hulle vir nog 20 jaar met hierdie program van “mind control”/manipulasie, geestelike manipulasie kan voortgaan, sal alle weerstand in die kerk verdwyn het en sal die kerk volledig gesekulariseerd wees. Dit is waarom die huidige leierskap so hoog opgee om die eenheid te bewaar. Dit het weinig te doen met Bybelse eenheid, maar is eerder die vestiging en instandhouding van hulle magsbasis. Tweedejaars kry reeds klas in transgenderisme. Studente aanvaar die “liberale” sieninge, veral ook betreffende menslike seksualiteit sodat hulle seksueel vry kan wees sonder skuldgevoelens (praktyke onder teologiese studente is skokkend). Hulle word soos outomate afgerig en die teologiese “bandspeler” van die fakulteite word maar net oor en oor in gemeentes gespeel wat oor tyd alles vir die waarheid opslurp. Studente se gewetens word toegeskroei. Uiteindelik het hulle geen skuldgevoelens nie.
Dit is van kardinale belang dat by teologiese opleiding, die uiteindelike doel daarvan in gedagte hou word. Die doel bepaal die inhoud, en die inhoud dien die doel. Die indruk wat gelaat word, is dat die meeste dosente meer gerig is daarop om te werk met idees en konsepte as op die geestelike vorming van teologiese studente. Daar moet gewerk word met die drie “h’s”: die hoof, die hart en die hand – met ander woorde, die persoon as geheel is betrokke. Christelike opleiding gaan in wese nie oor die oordra van kennis nie; dit gaan eerder oor mense en hul verhouding met God. Om hierdie rede is akademiese vermoëns nie die belangrikste kwalifikasie nie. Dit is ’n persoonlike ontmoeting met die Waarheid, die Woord van God, en dit word gedoen met die krag van die Heilige Gees.
Dat kennis geneem word van wat aangaan by teologiese fakulteite, is van kritiese belang. Die teologiese student van vandag is die predikante en dosente van more. Soos dit by die teologiese fakulteite gaan, so sal dit in die res van die kerk ook gaan, daarom is dit belangrik om die aard en doel van teologiese opleiding te herstel.
9. Die pad vorentoe
Die NG Kerk se bestaande drie teologiese opleidingsplekke, wat lankal nie meer betroubare sentra vir gesonde en gebalanseerde teologiese opleiding is nie, en waar die kerkeie opleiding en die verdere bedieningsopleiding nie meer tot voordeel van die NG Kerk as geheel strek, en wat broeiplekke geword het van vreemde en valse leringe, kan nie verder ondersteun word nie. Studente kan nie meer aangemoedig word om by enige van hierdie sentra vir die bediening opgelei of heropgelei te word nie, en daarom word daar na alternatiewe plekke en wyses van opleiding gekyk.