Middelgrond-kerk, ook vir twyfelaars

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Middelgrond-kerk, ook vir twyfelaars | Netwerk24

Jana Marx

03 November 2023

Ds. Jan Lubbe, die nuwe moderator van die NG Kerk, erken dat hy nie van konflik hou nie. Maar hy deins nie terug van gesprekke oor moeilike onderwerpe nie. Pleks van polariseer, kan gelowiges mekaar eerder deur gesprekvoering probeer vind, het hy gesê.

Lubbe (59) sou in die volgende paar jaar van sy moderatorskap graag die NG Kerk “met geloofwaardigheid wil sien leef sodat dié Kerk hoop kan gee”.

Lubbe, predikant verbonde aan die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein met ’n voorliefde vir kerkgeskiedenis, is verlede maand in die sitting van die algemene sinode tot die NG Kerk se nuwe moderator verkies.

Oomblikke ná sy verkiesing moes dié man van min woorde en ’n skalkse glimlag as voorsitter die vergadering, wat weer allerlei omstrede onderwerpe soos die debat oor homoseksualiteit op die agenda gehad het, oorneem. Maar waar hy nou hier sit en gesels, is hy net so gemoedelik en gemaklik soos agter die voorsitter se mikrofoon.

“Ek sal baie graag wil sien dat die NG Kerk regtig ’n ligdraer is deur wat ons sê en wat ons doen,” sê Lubbe op die vraag wat hy graag in sy nuwe rol sou wou bereik.

“As ons dit kan regkry om met mekaar saam te loop . . . ek hou nie van konflik nie. Ek sal wil vrede maak of ruimte skep vir vrede sodat ons ’n kerk kan wees wat regtig kan sê: Hier leef geloof, hoop en liefde – ook omdat ek oortuig is dis waartoe ons deur die Here geroep word.”

Kollegas beskryf Lubbe, wat voor sy verkiesing reeds die moderator van die Vrystaatse sinode en lid van die dagbestuur van die algemene sinode se moderamen was, as ’n “middelgrond-ou” en iemand wat eerder met sy dade as met woorde lei. Praat jy met sy gemeentelede, het hulle hom “diep lief” en tokkelokke het hoë agting vir hom. Sy omgee vir mense en liefde vir die Kerk het sterk deurgeslaan toe hy soms plofbare situasies in die afgelope sinodesitting met ’n kalm woord of selfs ’n skerp grappie ontlont het.

Spiritualiteit

Hy vertel hierdie liefde vir die bediening het as kind langs die ou Moffat-sendingstasie buite Kuruman begin – in die dae toe hy sommer in die rietdak-kerkie kon gaan sit het.

“Ek het op ’n manier in die kerk grootgeword sonder spanning en frustrasies. Ek was in daardie opsig naïef – ’n gewone kind,” onthou hy. Sy ma was ’n orrelis en sy pa het in die kerkraad gedien.

Dan sit hy sy kerkgeskiedenishoed op wanneer hy vertel dat dié sendingstasie uit die 1800’s kom.

“Die klipkerkie is in 1838 ingewy en was toe al die oudste klipkerk noord van die Gariep­rivier,” sê hy trots.

“My kontemplatiewe spiritualiteit, dink ek, kom ook in ’n groot mate daarvandaan.”

Spiritualiteit is die manier waarop ’n gelowige God aanbid en God se stem hoor. ’n Kontemplatiewe spiritualiteit loop hand aan hand met gevoel, musiek en meditasie. Die eerste Christenkerke het só kerk gehou.

Getrou aan die kerkgeskiedenis hou Lubbe een maal per maand “Taizé-dienste” (meditatiewe dienste) in sy gemeente, waar hy al sedert 1997 werk. Taizé is ’n kloostergemeenskap in Frankryk met wortels in die ou Protestantse Kerk. Mense van oor die wêreld heen kan vandag nog hierdie Franse dorpie besoek en saam met die monnike aanbid. Lubbe was al ’n paar keer in Taizé en het self ook al van die monnike in sy gemeente ontvang.

“My belewenis in Taizé het drie goed gedoen: Eerstens leer jy ’n vaste ritme van gebed – oggend, middag, aand – en in daardie gebed leer jy ruimte vir ontmoeting – deur stilte en musiek. Tweedens word jy geleer om te vra: ‘Wat beteken my geloof in die wêreld waarin ek leef?’ sodat godsdiens na buite kan lewe kry. En derdens doen besoekers handwerkies soos tuinwerk of was skottelgoed om die gemeenskappie aan die lewe te hou.”

Dis ’n “hoof, hart, hand”-spiritualiteit, sê hy.

“Johannes Calvyn (gereformeerde kerkvader) het voor in sy Psalmboek in daardie inleiding geskryf dat as hy kon kies, sou hy God in die stilte wou ontmoet. Hy het dit gereeld gedoen ook, en hy sê die Psalms maak ruimte vir al die emosies van sy gees.

“Ek dink ’n kontemplatiewe spiritualiteit kan dit alles integreer. En ek vind dit nie vreemd aan die gereformeerde tradisie waarin ek en ook die NG Kerk haarself bevind nie. Daar is nie ’n engheid nie, daar is ’n geïntegreerdheid.”

Opleiding-brandpunt

Lubbe het teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer. Gedurende sy navorsing as student het hy ook draaie gemaak by die Universiteit Stellenbosch, asook twee Nederlandse universiteite. Maar selfs sy nagraadse studie in filosofie het hom bly terugbring na sy groot liefde: kerkgeskiedenis. Dié doseer hy deeltyds aan die UV se fakulteit teologie en religie.

Met een voet in die bediening en een in die akademie is hy ook voorsitter van die NG Kerk Vrystaat se kuratorium en hy dien in die algemene sinode se algemene kuratorium, wat toesig oor NG predikante se opleiding hou.

Teologiese opleiding is tans een van die brandpunte in die meer behoudende “kamp” se betoog dat die NG Kerk die pad byster geraak het. Behoudendes voer graag aan dat teologiese opleiding nie op peil is nie en dat die NG Kerk moet begin kyk na aparte seminariums wat losstaan van universiteite.

Maar Lubbe stem nie saam nie. “Op die oomblik is die beste wat ons kan doen hierdie vennootskapsbenadering tussen Kerk en akademie. Ons het ons vennote aan die akademiese kant, maar ons (as Kerk) neem al hoe meer verantwoordelikheid oor vir die kerklike begeleiding van studente. Dis gestruktureerd,” sê hy.

“Dit sal jammer wees – en die NG Kerk kies dit nie – om die opleiding te onttrek uit die omgewing waar ons lidmate se kinders opgelei word om dokters en onderwysers te wees, regsberoepe te beklee, ensovoorts.

“Waarom sal ons nou, waar dit oor teologiese opleiding gaan, sê nee, nou onttrek ons? Lei eerder predikante op waar die res van ons kinders en lidmate ook opgelei word. Dís die universitas-beginsel wat ons kies.

“Die druk is groot en dis nie maklik nie. Maar tans kies die NG Kerk dit.”

Beteken groter inklusiwiteit dan dat Afrikaans ter wille van ’n groter eenheid van gelowiges afgeskaal sal moet word?

“Nee,” sê hy vinnig, en wys daarop dat gesprekke oor taal nie net in die NG Kerk plaasvind nie.

“Ons is ’n kerk wat nie net histories nie, maar ook teologies onsself in Afrikaans uitdruk. In gemeentes in die gesamentlike aanbidding, en in ons bedienings en werksaamhede, is Afrikaans ons taal.

“Maar dit mag wees – en dis nodig en dis die realiteit – dat die oomblik wanneer ons tussen gemeentes, tussen programme, uitreike en veral in meerdere vergaderings in ringe en sinodes is, daar ’n sensitiwiteit is oor taal en oor die diversiteit van tale. En dan soek ’n mens maniere waarop jy met mekaar kan praat, in tale wat almal insluit.”

Dis ook nie net Engels nie, voeg hy by. “Dis ook Afrikaans.”

En waarom dan die spanning oor homoseksualiteit as daar soveel groter dinge in die wêreld is waarop die NG Kerk kan fokus?

Die gay-debat

Daar is ’n paar redes waarom die sogenaamde gay-debat so hoog op die Kerk se agenda is, sê hy. Een daarvan is dat die NG Kerk, weens apartheid en gepaardgaande sensuur eers taamlik onlangs toegetree het tot dié gesprek, wat al ’n eeu lank in ander lande en kontekste plaasvind.

“Ons is eintlik regtig eers daarmee gekonfronteer in die 1980’s of in die tweede helfte van die 1980’s, 1990’s. En wat ons toe ontdek het, is dat hierdie gesprekke lank­al daar buite aan die gang is.

“As jy byvoorbeeld die nou verhouding tussen die NG Kerk en die Gereformeerde Kerk in Nederland sou vat, sou jy agterkom dat hierdie skuiwe (oor homoseksualiteit) daar by hulle in die 1950’s of 1960’s plaasgevind het.

“Ons is laat, en daarom word ons nou daarmee gekonfronteer.”

Maar wat dan hiermee saamval en die situasie vererger, is ’n groeiende kloof tussen sogenaamde “konserwatiewe” en “liberale” oortuigings, sê hy.

“Daardie groeiende polarisasie en spanning loop oor alle kwessies heen. Dit maak die oomblik waarin ons as NG Kerk hierdie spesifieke kwessie moet hanteer, besonder moeilik en brandend.”

Dít ‘jaag die temperatuur op’

Wat dit verder bemoeilik “en die temperatuur opjaag”, is die rol van sosiale media, sê Lubbe. Sosiale media en hoe dominees met mekaar op hierdie digitale platforms praat, was ook ’n belangrike punt op vanjaar se agenda.

“Sosiale media maak eintlik die ruimtes oop vir polarisasie. Dis ontsettend moeilik om in so ’n klimaat te probeer luister: Wat sê die middelgrond? Wat sê die stil stemme?”

Oor of dit moontlik is om die diep teologiese verskille te oorbrug, is Lubbe positief.

“Ek dink as ons eerlik en rustig met daardie teologiese verskille sou omgaan – engage in Engels – is dit nie onmoontlik om wel daardie teologiese verskille vas te kan vat of om met teenstellende perspektiewe te kan saamleef nie. Want hierdie teenstellende perspektiewe leef ook in gemeentes, in lidmate. As jy met lidmate praat, sal jy dit agterkom,” merk hy op.

“Ek dink wanneer ons praat oor seksualiteit moet ons versigtig wees om eenvoudige definisies te probeer gee. En dis dieselfde met teologiese oortuigings.

“Wat ons moet regkry, is om te sê: ‘Goed, in plaas daarvan om ’n saak te polariseer, moet ons eerder vir mekaar sê ons gaan op ’n weg saam met mekaar, waar ons erkenning gee aan die verskeidenheid van belewenisse, Godsbelewenisse.

“Ek dink as jy belydenisse en die Skrif hermeneuties verantwoord, is dit moontlik om binne die NG Kerk (want ons is nie aartskonserwatief of vrysinnig liberaal nie; ons is ’n Kerk in die middel) ’n weg saam met mekaar te vind.”

Gesprekke oor gender kan egter nie losstaan van ander kwessies soos geslagsgegronde geweld en rassisme nie, benadruk hy.

“Eintlik moet ons hieroor praat in dieselfde milieu waarin ons praat oor versoening, oor regstellende geregtigheid, ensovoorts.”

Nie Mbeki se woorde nie

Hy onthou ’n huldeblyk wat Etienne Britz in 2005 ná die afsterwe van pous Johannes Paulus II in Die Burger geskryf het.

“Etienne het gesê hy sou vir die pous wou dankie sê dat hy ’n pous vir die ongelowiges was.

“Ek is nie ’n pous nie. Glad nie. Maar dit voel vir my die Kerk moet ook oop wees vir mense wat diep twyfel, by die deur staan, dalk nog vir oulaas oor hul skouer binnetoe kyk of selfs vir dié wat reeds gegroet het,” sê hy.

“Die Kerk moet hoop gee en van Lig getuig in al daardie kontekste.”

Dis ook dié dat hy op die hoogte bly van die nuus en gereelde rubrieke skryf vir Volksblad, wat ook op Netwerk24 gelees kan word. “Ek lees aktief koerant,” sê hy.

Maar selfs sy leeswerk neig altyd nog terug na die geskiedenis. Lubbe is immers ook die voorsitter van die Vrystaat-sinode se argiefkomitee.

“Ek lees graag biografieë en selfs wanneer ek Afrikaanse romans lees, neig ek na die historiese kant toe. Ons eie skatte, soos die skrywer Karel Schoeman, met wie ek die laaste tyd weer doenig is, asook boeke uit ons argief.”

En dan natuurlik teologie – wat hy selfs in Nederlands lees.

Al is hy lief vir reis, is hy steeds liewer vir Suid-Afrika en dís ook hoekom hy hier bly.

“Ek is van Afrika. I am an African. En dis nie Thabo Mbeki wat dit die eerste keer gesê het nie, die eerste een wat dit gesê het, is Robert Moffat van die Moffat-sendingstasie toe hy ná 50 jaar terug is in Engeland.”

Lubbe is getroud met Hanneke. Hy is die pa van Foster, ’n ingenieur in Leuven, België, en Hannelore, ’n mediese verteenwoordiger wat met Daniel getroud is en in die Kaap woon, en Greta, nou 17.

Hy ontspan deur in die tuin te werk en tyd saam met sy familie, honde, katte en lêhoenders, “wat eiers van alle groottes lê”, te bestee. “Ek het ’n ouer batch en ’n batch van ses wat onlangs uitgebroei het,” sê hy trots. Terwyl hy by die sinodesitting was, is instruksies oor die versorging van daardie kuikens die hele tyd huis toe gestuur. “Maar hulle leef nog almal! So, enigiemand wat by my wil eiers koop – laat my weet!”

• Marx is ’n vryskutjoernalis en skrywer van Johannesburg.

Kommentaar

Daniel Louw

Jan Lubbe voel steeds dat daar ‘n oplossing mag wees in die NG Kerk vir verskillende teologiese sieninge:

“Ek dink as ons eerlik en rustig met daardie teologiese verskille sou omgaan … is dit nie onmoontlik om wel daardie teologiese verskille vas te kan vat of om met teenstellende perspektiewe te kan saamleef nie.”

Ek verstaan dit nie. Hy moet tog sekerlik homself in behoudendes se skoene kan plaas en besef dat die verskille te groot is.

Ek ervaar dat behoudendes en die res van die NG Kerk in ‘n pokerspel is: Nie een van die twee partye wil die eerste een wees om kerkskeuring op die tafel te sit nie.

Soms moet skeuring plaasvind om eenheid te bewerkstellig (kyk Kerkeenheid).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui