In die strewe om die eerste lewe op aarde te verklaar sonder God het Stanley Miller en Harold Urey in 1952 die Miller-Urey eksperiment gedoen. Dit was ’n eksperiment om die vorming van aminosure, die boublokke van proteïene, in die aarde se vroeë atmosfeer te simuleer. Die idee was dat die eerste aminosure op aarde gevorm het deur weerlig wat ’n gasmengsel getref het.
Tydens die eksperiment het die gasmengsel bestaan uit metaan (CH4), ammoniak (NH3), water (H2O) en waterstof (H2) en die weerlig is gesimuleer deur ’n vonk van 60 000 volt.
Na baie probeerslae en modifikasies aan die eksperiment is baie klein hoeveelhede aminosure gevind.
Carl Sagan, ’n ateïs, het die volgende oor hierdie resultaat gesê:
“Die Miller–Urey eksperiment word nou so wyd erken as die enkele belangrikste stap in die oortuiging van baie wetenskaplikes dat lewe waarskynlik oorvloedig in die kosmos is.”
Daar is egter ’n paar probleme met die eksperiment wat evolusioniste graag miskyk.
Probleme met eksperiment
- Die eksperiment het minder as die helfte van die 20 aminosure geproduseer wat nodig is vir lewe. Om die res te kry vereis veel meer komplekse toestande.
- Aminosure is slegs boublokke van proteïene. Vir eenvoudige lewe word daar ongeveer 400 proteïene benodig (eenvoudige bakterieë het tot 2000 proteïene).
- Tydens die eksperiment is ’n suurstofvrye omgewing aanvaar. Volgens latere sieninge word aanvaar dat die vroeë atmosfeer van die aarde dieselfde hoeveelheid suurstof gehad het as vandag. In so ’n geval sou die suurstof in die atmosfeer met die metaan, ammoniak en waterstof reageer, en daarom nie aminosure vorm nie.
- Tydens die eksperiment het ewe veel links- en regshandige organiese molekules gevorm. Vir lewe moet bykans alle aminosure wat in proteïene gebruik kan word, linkshandig wees, en byna alle koolhidrate en polimere moet regshandig wees. Die teenoorgestelde tipes is nie net nutteloos nie, maar kan ook giftig (selfs dodelik) vir lewe wees. Dit staan bekend as die chiraliteitsprobleem.