Kyk ook:
Omdat die kwessie van Jesus se liggaamlike opstanding ‘n besprekingspunt in die NG Kerk was, is Chris van Wyk gevra om ‘n standpunt te formuleer vir die jaarlikse moderatorsgesprek in Wildernis in Mei 2009. Hierdie moderatorsgesprek het bestaan uit die moderators van die tien streeksinodes en die moderator van die algemene sinode (Piet Strauss). Hier volg die standpunt:
Gesprek oor die opstanding
Verskil van mening in die kerk is ‘n goeie ding. Dit help ons om die kaf van die koring te skei. Ons onderskei daarom ook tussen menings veral deur met mekaar in gesprek te tree. Ons doen dit onder andere deur briewe, artikels, boeke en toesprake. Sonder so ‘n robuuste onderskeidende gesprek kan ‘n kerk nie werklik teologie bedryf nie. Dit help ons met oorleg saam aan die Here gehoorsaam te wees.
Ons dink dat die gesprek oor die opstanding van Jesus Christus die afgelope paar jaar ongelukkig soms uitgerafel en baie persoonlik geraak het. Dit is jammer en pas nie by ‘n kerk wat veronderstel dat die geloof in Jesus Christus, die belydenis van ons kerk en die Woord van God ons aan mekaar bind nie. Daardeur word verwarring gesaai en kom die boodskap van Jesus Christus in diskrediet.
Ons roep dus alle partye in die teologiese gesprek op om met deernis, leerbaarheid en openheid met mekaar te praat. Anders hoor ons mekaar nie goed nie en gee ons mekaar se standpunte nie billik weer nie. Dan raak die gesprek maklik verkleinerend en selfs kwaadwillig en bedreig dit die geloofseenheid tussen ons.
Die verwarring en gebrek aan eenheid oor so ‘n kern teologiese saak bring ons by die oortuiging dat ons die NG Kerk wil oproep om saam met ons die volgende oor die opstanding van Jesus Christus te bely:
- Dat Jesus Christus liggaamlik uit die dood opgestaan het op die derde dag na sy kruisiging (Luk 24);
- Dat sy fisieke liggaam opgeneem is in die opstandingsliggaam op ‘n wyse wat ons begrip te bowe gaan (1 Kor 15);
- Dat ons liggame ook uit die dood sal opstaan, soos Hy ons belowe het (Joh 11; 1 Kor 15).
Dit is die kern-belydenis van die Skrif en ook ons belydenisskrifte. Dit is ook wat ons as Christene ten diepste aan mekaar verbind. En dit is wat ons graag saam met alle gespreksgenote wil glo en bely.
Die moderators van al die sinodes van die NG Kerk
Die standpunt is goedgekeur tydens die vergadering, maar na die tyd het een van die moderators vir Chris gekontak en gesê dat hy nie saamstem met die goedkeuring hiervan nie omdat hy gevoel het dat daar eerder ruimte gelaat moes word vir ander standpunte oor die opstanding.