Die volgende nuusbrief is in September 2005 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.
**************
Ek en Amor was vir ’n paar weke in Mosselbaai met vakansie. Ons het mense daar teëgekom oor wie ek my verwonder het oor hulle moedige ingesteldheid te midde van moeilike omstandighede. Miskien is daar van julle wat vir Ida Visagie ken. Sy was vroeër van Secunda. Haar man is oorlede en toe het sy so op haar eie ’n nuwe begin gemaak in Mosselbaai. Sy het vol sprankel vertel van al haar nuwe vriende en die Bybelstudie en die stapklub. So tussendeur laat val sy van haar swaarkry, bv. dat sy ’n groot operasie gehad het en dat sy deur die bouer van haar huis in die steek gelaat is, maar dit het nie haar entoesiasme gedemp nie. Haar laaste woorde was: Sê groete vir die mense in Secunda.
Die persoon van wie ek eintlik wil vertel is ’n ou vriendin van ons wat ek Ria sal noem. Sy bly nou in ’n aftreeoord ’n ent van Mosselbaai af. Toe sy haar kamerdeur vir ons oopmaak kon ek haar nouliks herken, soos die ouderdom en die beproewinge haar mishandel het. Toe sy egter begin praat, was sy dadelik die ou sprankelende Ria wat ons altyd geken het. Sy het gesê: “Sit julle daar oorkant my, dat ek julle goed kan sien.” Ons wou nog uitvra oor haar omstandighede, maar sy het gesê: “Nee vertel eers van julle – ek wil alles weet. Wat het van die kinders geword? Het julle al kleinkinders?” Sy het vir ons tee en koffie gemaak en vir ons koek voorgesit. Sy het net vertel van die goedheid van die Here. Sy het in die week verjaar en daar was seker omtrent 30 mense by haar vir haar verjaarsdag. Sy het gesê: “Wat kan ek meer wil hê op hierdie leeftyd?”
Ons het nie lank gesit nie, of daar was ’n klop aan die deur. Dit was een van die inwoners met die naam Corrie. Corrie het ’n klagte kom oordra van ’n buurvrou. Daar het glo ’n plastiese potplantpotjie buite rondgelê en Ria het ’n plantjie daarin geplant en dit voor haar deur neergesit. Die eienaar van die potjie het dit gesien en was ongelukkig daaroor. Ria het ewe entoesiasties gereageer: “Weet jy wat. Ek sal vanaand as my gaste weg is, die potjie vir Sannie vat en dan kry sy sommer ’n plantjie ook. Ek glo nie daar sal verder moeilikheid wees nie.”
Uiteindelik het ons ’n tydjie vir onsself gekry toe ek gevra het dat ons ’n entjie gaan ry om na die see te gaan kyk. Terwyl ons die Sondagmiddag elkeen ’n roomys eet en oor die see uitkyk, kon ons rustig gesels. Ria se treurige verhaal waarvan die mense by die oord nie weet nie, het stuk-stuk uitgekom.
Ria het ’n mooi gelowige dogter met die naam Sunette. Sunette het onderwys gestudeer en het getrou met ’n briljante teologiese student met die naam Riaan. Riaan het uiteindelik die teologie vaarwel geroep en ’n onderwyser geword. Na ’n tyd het Riaan bedank as onderwyser om by YWAM, ’n Christelike Jeugorganisasie te gaan werk. Hy het ’n pakket by die onderwys geneem en dit op die beurs belê, maar alles verloor. Ria en haar man, oom Fanie wat intussen oorlede is, moes maar finansieel instaan.
Riaan en Sunette is toe Engeland toe om daar vir YWAM te gaan werk. In Engeland het Riaan en Sunette ernstige huweliksprobleme begin kry. Dit het algaande duidelik geword dat Ria se skoonseun ’n verskriklike probleem het. Haar dogter se man is verslaaf aan pornografie! Hy bestee sy geld in die geheim aan pornografie op die internet en – ja, aan besoeke by prostitute! Dit het uitgekom dat Riaan in sy kinderjare gemolesteer is en nou manifesteer dit op die manier in sy volwasse lewe.
Sunette en haar baie intelligente hoërskooldogter het ’n tyd lank by Ria in SA kom bly. Die situasie was vir almal ewe pynlik. Die dogter is baie lief vir haar pa en wou na hom toe teruggaan. Hulle het gebid om genade en uiteindelik is Sunette maar weer terug Engeland toe. Ria kon hulle in elk geval nie meer verder finansieel dra nie.
Teen skemeraand het ons teruggekom by die aftreeoord. Ek het gekyk na Ria se karretjie. Dit was ’n ou Golfie wat defnitief sy beste jare gehad het. Ek het in my geestesoog gesien hoe Ria en oom Fanie vroeërjare met hulle Mercedes by die kerk aangekom het. Hulle was altyd gesiene mense van die gemeenskap. Hoe moedig gedra Ria haar nie in die omstandighede nie. Toe ons deur die gang met sy oumensreuk stap het sy gesê: “Kom laat ek julle die eetsaal wys. Hulle het dit alles baie gerieflik vir ons ingerig.” Ek het plekke raakgesien wat vir my na swak bouwerk gelyk het, maar Ria wat veel beter in haar lewe gewoond was, het dit skynbaar nie raakgesien nie. Sy was met groter dinge besig. Sy het vertel van die pragtige boeke wat sy lees en vir my titels gegee wat ek moes onthou. Sy het vertel van die traktaatjies wat sy uitdeel vir die werkers by die oord. Sy het my uitgevra oor ons gemeente en my kosbare raad gegee oor die behoeftes van gemeentelede, wat ek graag wil opvolg. Amor het haar gevra: “Hoe gaan dit met die arm wat laas so pynlik was?” Sy het geantwoord: “O, die arm. Ek het nou ’n rugoperasie gehad. As mens groter moeilikheid kry, vergeet mens van die kleintjies.” Ria vertrou dat die Here haar binne 5 jaar sal kom haal, want dan sal haar geld op wees en sal sy nie meer verder haar woonstel kan bekostig nie.
Op pad uit, sien ek die woorde op die hoeksteen van die gebou. Jesaja 46:4 : “Tot die ouderdom toe is Ek dieselfde, ja tot die grysheid toe sal ek julle dra.” Ek het by myself gedink: “Vandag het die Here op baie maniere met my gepraat.”
Jan Louw