Kyk ook:
- Opsomming van klag van haatspraak teen Chris van Wyk (Okt 2018-Okt 2020)
- André Gaum
*******
MRK beoog steeds stappe teen leraar oor ‘haatspraak’ | Netwerk24
Jana Marx
17 Oktober 2023
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) is van plan om verdere stappe teen dr. Chris van Wyk te doen.
Van Wyk, predikant van die NG kerk Somerstrand in Gqeberha en moderator van die sinode van Oos-Kaapland, het Maandag op die NG Kerk se 18de vergadering van die algemene sinode (AS) in Boksburg gereeld sy stem oor verskeie sake op die agenda laat hoor – onder meer oor ’n voorgestelde sosialemedia-beleid.
Hy het die laaste paar jaar gereeld die nuus gehaal nadat die drukgroep Queers Without Borders hom in 2019 by die MRK verkla het omdat hy na bewering homoseksualiteit met pedofilie vergelyk het.
Dié klagte van haatspraak het gespruit uit Van Wyk se kommentaar in 2018 op die Kerkbode se Facebookblad waar hy onder meer geskryf het as seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, “sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar”.
Hy het gereageer op die bekentenis van ds. Nelis Janse van Rensburg, voormalige NG moderator, dat sy (Nelis se) persoonlike oortuigings nie strook met die kerk se vorige standpunt oor selfdegeslagverhoudings nie. Van Wyk het in sy repliek aan die MRK ontken dat hy pedofilie met homoseksualiteit vergelyk het.
“Die stappe sal aan hom en daarna aan die publiek bekendgemaak word,” het adv. André Gaum, MRK-kommissaris, Maandagaand aan Netwerk24 bevestig.
“Die stappe word gedoen omdat die MRK van mening is dat daar inderdaad ’n saak uitgemaak is waarop dr. Van Wyk moet antwoord.”
Die navraag aan die MRK volg op ’n gesprek oor ’n voorgestelde sosialemedia-beleid vir die NG Kerk. ’n Verslag wat deur Janse van Rensburg namens die AS se moderamen (ASM) voorgehou is, lui: “Die ASM het ongelukkig tydens sy vergadering van 11 November 2019 kennis geneem van die neerhalende wyse waarop sommige ampsdraers van die kerk op sosiale media kommentaar lewer op kollegas en mede-gelowiges se standpunte en optrede.”
Janse van Rensburg het opgemerk dat dit nie ’n vreemde verskynsel is vir organisasies om ’n sosialemedia-beleid te hê nie. Voorgestelde riglyne sluit in dat gelegitimeerdes se gesprekke op sosiale media “altyd kenmerkend (behoort) te wees van ’n Christelike etos wat gedra word deur Bybelse waardes soos respek, liefde, waarheid, eenheid, luister en ’n besef van eie broosheid en feilbaarheid”. Die voorstel sê enige vorm van haatspraak, of dit nou seksisme, rassisme of homofobie is, is taboe.
Die voorstel is egter met heelwat teenkanting begroet.
Van Wyk het sy ongemak oor die formulering van sodanige beleid uitgespreek en na sy eie ervaring met die MRK verwys.
“Ek het ’n slegte ervaring gehad. Wie sê in ’n spesifieke geval wat is haatspraak?” het hy die vergadering gevra. Hy het gesê hy deel sy ervaring “om ander mense dit te spaar”. Hy het voorts genoem die MRK het “besef” hulle het nie ’n saak teen hom nie. Van Wyk se regspan het voorheen aangekondig dat die MRK dié klagte teen hom laat vaar het.
’n Ander afgevaardigde het die vergadering daarop gewys dat die NG Kerk reeds ’n gedragskode het. “Ons kan daarvolgens aangekla word. Hierdie nuwe kode maak dat ons eintlik niks meer kan sê nie.”
Hy het ook daarop gelet dat daar nie duidelikheid is oor “wat rassisme of homofobiese uitsprake is nie”.
Die omstredenheid rakende Van Wyk het in 2021 opnuut nuusopskrifte gehaal toe hierdie uitlatings en reaksie daarop deel was van ’n tugsaak teen dr. André Bartlett, vorige moderator van die Hoëveld-sinode. Bartlett is onder meer oor die kole gehaal nadat hy Van Wyk se kommentaar op Facebook in ’n Rapport-berig as haatspraak bestempel het.
Bartlett het Maandagaand egter saam met Van Wyk gestem oor die formulering van die voorgestelde beleid. “Ek het die stuk deurgelees en was saam met die ASM wat dit geformuleer het, maar soos dit hier geformuleer is, word dit amper gronde vir ’n klagstaat. Ek dink in ’n sekere sin is ons kerklike tugprosedures voldoende vir hierdie soort goed – ’n valse getuienis, in wese haatspraak. Ek dink ons tugproses maak voorsiening.
“Kyk dalk net na herformulering. Ek het self my vingers verbrand en Chris het daarna verwys en ek het opreg verskoning gevra.”
Dr. Frederick Marais, voorsitter van die algemene kuratorium van die NG Kerk, was egter nie so seker van sy kollegas se interpretasie nie. “Ek lees in die voorstel dat dit veral gaan oor sosiale media. Hier is nou betoog dat dit eintlik mense se monde wil snoer om nie met mekaar te praat nie en nie krities met mekaar in gesprek te kan tree nie . . . maar wat misgekyk word, is dat dit gaan oor hoe mense oor mekaar praat,” het hy gesê.
Hy het vertel hoe die kuratorium al deurgeloop het. “Hier is ampsdraers wat in die afgelope termyn oor die werk van die kuratoria, legitimasiegeleenthede, ensovoorts, vals inligting versprei het. Dis iets wat ’n ruk terug gebeur het. Hy het verskoning gevra en dit teruggetrek, maar dis steeds op sosiale media,” het Marais gesê.
Marais het verwys na ’n video deur ds. Stefaan de Jager oor dinge wat tydens ’n legitimasiediens by die Universiteit Stellenbosch gesê is, wat De Jager as afgodery beskryf het. Die video het groot reaksie op sosiale media ontlok. De Jager het ná ’n interne gesprek alles teruggetrek en verskoning gevra, maar die video doen nog van tyd tot tyd die ronde.
“Ons moet verskriklik versigtig wees as ons op sosiale media goed oor mekaar begin sê oor sake wat hier aangeraak word. Dit beteken nie ons moenie in gesprek met mekaar tree nie, maar die gif is gesaai. Ons kan daai gif nie stop nie,” aldus Marais.
Die besluit is uiteindelik terugverwys vir verdere besinning.
Toe Netwerk24 Maandag die jongste nuus van die MRK onder Van Wyk se aandag bring, het hy weer gesê: “Die saak is teruggetrek. Die ‘notice of withdrawal’ is ingehandig deur die MRK by die hof.” Hy het die kennisgewing aan die joernalis gestuur. Gaum het voet by stuk gehou: “Die aangeleentheid is oorgeplaas na ons Wes-Kaapse kantoor, wat dit nou hanteer.”
Haatspraak vs Teregwysing.
Graag wens ek die ondergenoemde vrae te rig tot enige van ons Skrifgeleerdes.
Eerstens: Dit wat Paulus vir ons sê, in 1 Korintiërs: 9 – 10, asook in Galasiërs: 5 – 19/21 (NV 1983) vertolk ek as teregwysing en tweedens: Maak Paulus ‘n onderskeid tussen sondes en/of, lê seksuele losbandigheid op ‘n hoër vlak? volgens 1 Korintiërs: 6 – 18. Paulus waarsku ons dat hulle, wat hulle aan al die genoemde sondes skuldig maak, in 1 Korintiërs: 6 – 9, geen deel sal kry aan die koningkryk van God nie en in Galasiërs: 5 – 19/21, laaste sin: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koningkryk van God as erfenis verkry nie. My vraag dus, as ek ‘n persoon tot hierdie teksverse rig, in antwoord op vrae tov. die genoemde sondes (ek erken my eie sondes en gevalle toestand) – sou ek my daardeur skuldig maak aan haatspraak of sou teregwysing nie eerder die gepaste woord wees nie?