Kyk ook: |
Müller moet verduidelik oor sy opstanding-boekie
(Van Beeld argief gekopieer.)
Adrio König
18 Mei 2006
Julian Müller is een van die leidende teoloë in die NG Kerk oor wie se beskouings daar al geruime tyd onrus bestaan. Dit gaan veral oor die opstanding van Christus.
Nou het hy sy siening gepubliseer in die boekie Opstanding (Lux Verbi, 2006). Müller gooi die debat sterk oor die boeg van post-modernisme teenoor fundamentalisme.
Die fundamentaliste wil alles beheer, alles met fyn formulerings vaslê en dan alle ander gelowiges onder die hiel van hul heerskappy plaas: Glo soos ons, of jy is uit. Dit sou dan nog uit die ou modernisme met sy vaste sekerhede kom.
Daarteenoor staan die post-modernisme wat ruimte het vir verskillende oortuigings, wat weet ons het nie alles onder beheer nie, wat nie alles haarfyn definieer nie, wat eerder beleef en ervaar as dink en formuleer.
In dié konteks sou die debat oor die opstanding dan volgens Müller staan. Daarom is daar volgens hom kerkmense (die fundamentaliste) wat die opstanding haarfyn definieer as ’n historiese, letterlike, fisieke, liggaamlike opstanding. Dié groep word in die boek baie skerp negatief beskryf. Woorde wat vryelik gebruik word, is “letterknegtery”, “slimstreke”, “ten diepste ’n verwerping van die opstanding” en ’n “oogklapbenadering wat aan die letterlike verstaan van die Bybel vasklou”.
Dit verhef die eie interpretasie tot die enigste en word ’n nuwe wettisisme: “Die eie geloof slaag die toets; die ander s’n word as ketters afgemaak.” Die skerpste negatiewe beoordeling kom reeds in die eerste hoofstuk waarin Müller dié teologie sonder meer vereenselwig met die “teologie” van die Satan en van Job se vriende.
Hy het sterk bedenkings oor die fundamentaliste se motiewe. In werklikheid sou dit volgens hom glad nie vir hulle gaan oor die opstanding nie. “Die opstanding van Christus word misbruik om ander dinge te sê en ander dinge te bereik.”
Dit word egter nooit duidelik wat hy hiermee bedoel nie.
Daarteenoor beleef Müller homself as martelaar. Hy herken homself in Job wat soos ’n gekrenkte kind by sy ouer huil en skree omdat hy veroordeel is. Hy vereenselwig hom met ’n groep wat verleë staan teenoor die slim Skrifgeleerdes wat op alles antwoorde het.
Sy groep word dikwels verag en uitgeskel. Maar dit troos hom “om te weet dat Job ook eenmaal van dwaalteologie beskuldig was”.
Teenoor dié skynbaar volkome onaanvaarbare teologie stel hy dan sy eie. Dít is die teologie wat volgens hom ruimte het vir die grootheid van God, wat eerder ervaar as definieer. En wat die opstanding betref, is dit duidelik dat ons hier te doen het met die groot misterie. Die verhale in die Evangelies oor Jesus se verskynings is die sleutel om dit te verstaan. Jesus tree volkome vreemd op. Hy verskyn en verdwyn onbeheerbaar; sy volgelinge herken Hom nie voordat Hy Homself aan hulle prysgee nie; Hy beweeg skynbaar deur toe deure, maar kan saam met hulle vis eet.
Müller praat graag van ’n onsêbare, onbeheerbare misterie, en daarin is hy sekerlik reg.
Wat gaan hier aan? Volgens Müller is die opstanding die nuwe begin wat God maak, die begin van ’n nuwe beweging wat die eeue sou ingaan. Dit getuig van die vryheid van God wat in geen sisteme vasgevang kan word nie, nie in kerklike of teologiese formulerings nie.
En: Die opstanding is die grootste dekonstruksie van alle tye. Dit breek elke godsdienstige sisteem oop.
Dit skep die ruimte vir verwondering. Gelowiges het geen vaste maniere waarop hulle God/Jesus ontmoet nie. Hy verskyn skielik in die glimlag van ’n kind, in ’n bedelaar, in ’n MIV-pasiënt. En Hy verdwyn net so skielik en onbeheerbaar.
Die kerk se belydenis sou inderdaad die ruimte laat vir ’n veelheid van interpretasies van die opstanding, soos ook in die algemeen van God en die geloof. Niks oor die opstanding sou vaslê in die belydenis nie. Net die absolute minimum is ingeskryf, net: “Ek glo dat Jesus op die derde dag uit die dood opgestaan het”, niks meer nie.
Ons sou dan so min bely omdat die opstanding die groot misterie is, God se groot nuwe begin waaroor ons eerder moet dans as redeneer. Die opstanding bring blydskap en hoop in ons lewe, in elke toegevalde situasie. Die opstanding maak ons bewus van die wrakke van die lewe om ons. In hulle sal God ewe skielik aan ons verskyn. Ná hulle moet ons op pad wees.
Wat het ons in Müller se boek?
’n Besonder interessante kyk op die evangelie deur die bril van die verskyningsverhale ná Jesus se opstanding. Daar is ongetwyfeld ’n oorspronklikheid in sy denke.
Maar dit wat daar nié is nie, is ontstellend. ’n Uitsluitlike gebruik van die verskyningsverhale, sonder enige sinvolle verwysing na die apostels wat ná die opstanding dié misterieuse gebeurtenis verduidelik het. Petrus en Paulus het verniet gepreek en geskryf.
Van die ongelooflike interpretasies wat hulle van die opstanding gegee het, is geen spoor in Müller se boekie nie. En in 128 bladsye kon daar tog seker darem iets gestaan het.
Van die asemrowende interpretasies dat die opstanding van Jesus die begin van die eindopstanding is, dat die dood, die aartsvyand vir die gelowiges in die Ou Testament, oorwin is, dat ons die sonde kan oorwin en ons lewe volkome aan die Here wy – ook in die hantering van MIV/vigspa- siënte – is geen sprake nie.
Trouens, Müller bied geen perspektief op enige betekenis van die opstanding wat die grense van ons “aardse” lewe oorskry nie.
En miskien is dit ook nie vreemd nie.
Hy kan immers nie ja antwoord op die eenvoudige vraag: “Het Jesus liggaamlik opgestaan, dit beteken dat die graf leeg was?” nie. (Sy weergawe van die vraag op Oop Gesprek kom nie ooreen met die bandopname van die gesprek nie.) Müller skuld die geloofsgemeenskap ’n verduideliking waarom hy ’n boek oor die opstanding skryf – en dít in ’n tyd waarin daar al lank ernstige vrae oor sy eie oortuigings is – sonder om enige aandag te gee aan die apostels se duidelike getuienis oor die werklike misterieuse betekenis van die opstanding, wat die getuienis oor die leë graf insluit.
– Prof. Adrio König is ’n bekende teoloog.