Kyk ook: |
Die volgende nuusbrief is in Junie 2005 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.
**************
My pa het ’n tydjie terug by ons kom kuier. Hy is nou 85 jaar oud. Dit was vir my nogal ’n gewaarwording om te ontdek hoe ’n pa en seun verhouding met die jare verander. Dit is die eerste keer dat my pa nie self kom kuier het nie. Ek het hom van Pretoria af gebring en weer teruggeneem. Ek leer my pa nou ken in die broosheid van die ouderdom. Hy is in ’n sin nie meer wie hy vroeër was nie en ek het natuurlik ook verander. Dit is nogal ’n aanpassing, ek dink vir ons albei. Ek het ontdek ons verhouding is nuut en kosbaarder as ooit tevore.
Ons het in die paar dae saam gekyk na fotos en skyfies van die verlede. Ons het dele van die pad wat ons saam op aarde bewandel het oor ’n tydperk van 56 jaar, herleef. Ek het in my pa se huis groot geword. Ek het in die tuin gewerk. Hy het my geleer om met gereedskap te werk, ek bedoel nou soos met ’n graaf, ’n kruiwa, ’n kwas en skuurpapier. Ons was saam aan die etenstafel. My pa het vir ons huisgodsdiens gehou. Hy het vir my klere gekoop. Ons het saam kerk toe gegaan. Hy het my pakslae gegee. Ons het duisende kilometers saam gereis met vakansie of vir ander redes. Ons het baie kilometers saam gestap, in die berge en sommer vir oefening. Ons het ure se gesprekke gehad. Ek het gesien hoe hy optree teenoor mense en gehoor hoe hy oor dinge dink en ek het hom onbewustelik daarin nagevolg.
Dit was hierdie persoon, aan wie ek so baie verskuldig is, wat by ons kom besoek aflê het. Ek wil nie daarmee sê dat ons ’n ideale verhouding gehad het of dit nou het nie. Soos jy ouer word kry mens meer insig in die tekortkominge van mense, van jouself en van die lewe, maar jy kry ook meer insig in die bydrae wat iemand soos jou pa in jou lewe gehad het.
My pa was altyd ’n gesonde man. Hy het gesond geëet en het gereeld oefening gekry. Hy het nooit medisyne gebruik nie. Hy was selde by die dokter. Hy is nou nog baie geseënd vir ’n man van 85 jaar. Hy gebruik net een pilletjie in die oggend en een in die aand en verder ’n slaappilletjie. Ten spyte van hierdie genade haal die ouderdom my pa ook in. Sy bewegings is stadiger, as in die verlede. Hy is nie meer so behendig met gewone dinge, soos knope en ’n das en ’n mes en vurk as in die verlede nie. Ek moet my pa nou help met dinge waarmee hy homself gehelp het. Op ’n manier bring dit ons nader aan mekaar as ooit tevore.
My pa is vir my ’n voorbeeld in die manier wat hy die ouderdom hanteer. Hy raak vergeetagtig. Hy vergeet name en verlê goeters. Hy het nie al die nodige klere ingepak om vir ons te kom kuier nie. Hy raak egter nie moedeloos en kwaad nie. Hy behou humor. Hy sê: “Ek is bly ek het my pajamas vergeet, want joune slaap baie lekkerder!” Hy stel belang in ons vriende en sonder hom nie af nie, al volg hy die gesprekke moeiliker as in die verlede. Jy hoor hom selde kritiese uitsprake maak oor ander mense. Daar het ’n sagtheid oor hom gekom wat ’n vrug is van ’n jarelange verhouding met die Here. Ek het op hierdie leeftyd nog steeds baie om by hom te leer.
Ek besef dat die tyd dat ons hier op aarde nog pa en seun vir mekaar kan wees, minder word en ons moet die beste daarvan maak. Toe hy hier gekuier het, het my program bietjie stadiger verloop. In die môre het ek vir hom koffie in die bed gevat en nog ’n bietjie in die kamer gekuier. Ek het toe aan my hemelse Vader gedink. Watter rol het Hy nie in my lewe gespeel nie en wat doen Hy nie nog altyd vir my nie? Dit is mos belangrik dat ek by Hom ook ’n tydjie elke dag sal deurbring. Sal ek nie die lewe ’n bietjie stadiger vat om by Hom ook te kan wees nie. ’n Bietjie minder op kantoor. ’n Afspraak minder of later, om te kan kuier by my hemelse Vader. Ek is maar sleg daarmee en dit is ’n skade. Wat het Hy nie alles om vir my te vertel en om my te leer nie! ’n Volmaakte verhouding met Hom is ’n volmaakte lewe.
Ds Jan Louw